Kleinplaas-nedersetting Estoire by Bloemfontein
As ek kon loop in jare terug
na waar ek was as kind,
die hoewe waar die potblou lug
teer met die potklei bind,
sal ek jou vind, sal ek jou vind,
ou windpomp in die vlaktewind?
As ek moet spit in akkers net
waar ek as seun kon hurk,
sal kluite, klam en moddervet,
weer krummel voor my vurk
en sal ek weer die ryp voel knel
om kaalvoetknaap se wintervel?
As ek sou teruggryp na die son
of na die reën van welbehae,
na wat kon wees en wat sou kon,
na winterdrome, somerdae
sal jy dit nog kan gee, my oord,
wat my kon voed en waar ek hoort?

