Hoe lyk jou stad-kompetisie: goudstad

  • 0

jy lok ons nader op straathoeke
met uitspattige klere, geverfde gesig
bates wat hulle onbeskaamd aan ons oë opdring
jou glimlag terg, jou tande skitter klatergoud
in jou oë wink die belofte van opwinding

van oral kom ons agter jou aangetros
verken jou breë snelweë
die vuil, nou straatjies
wittes swartes, bruines, geles
is nie kieskeurig nie
jy floreer op almal se sweet

ons raak vreemd verlief op jou
jou misterie hou ons gevange
jou milddadige materialistiese gawes en orgieë
terwyl ons kinders iewers honger ly
en ons vroue ver en eensaam agterbly

jy nooi ons telkens om by jou te slaap
waar jou ervare hande ons opwerk tot ekstatiese orgasmes
sodat ons onsself in jou verloor in die natrillings
wat deur jou liggaam sidder, ons oomblikke
asemloos laat

maar soggens staan jy moeg op
met diep kepe om jou mond
en in die vaalte van die môrelig
lê jou neon-oë dof gebreek

Klik hier vir inligting oor hierdie kompetisie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top