Hoe lyk jou stad-kompetisie: Brooklyn-paaie

  • 0

Studentetye
kon ek nog met my jas
(tweedehands uit Duitsland
vir arm Afrika)
op ’n Brooklyn-laataand
hand in hand met die tonnels strate
van Murray en Roper loop.

Een jakarandaboom se lenteblare
het soos wolke met my gespeel:
met my die draak gesteek
met ’n straatlamp wat vuur spoeg.

’n Week later,
toe ek dit kinds vir twee meisies wou wys
(een het later my vrou geword)
was dit klaar weg -
seker terug na die wolke
of die verbeelding van ’n kinderhoekie.

Ek stap daardie paaie
nie meer met my voete nie.
Maar soms luister ek nog in die winter
alleen op my stoep in Pretoria-Wes
(ons het later geskei)
na Neil Diamond se “Beautiful Noise”.

Dan hoor ek nog die treine
wat stadiger as die Gautrein ry.

 

Klik hier vir inligting oor hierdie kompetisie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top