Miskien sou dit veilig wees om te sê dat die voorstel om voortaan studente toe te laat om self te kies in hoeveel jaar hulle ’n eerste graad wil verwerf, simptomaties is van die vervlakking van standaarde op bykans alle vlakke van ons Suid-Afrikaanse samelewing.
Wat nog meer skokkend is, is dat dié voorstel afkomstig is van die Raad op Hoër Onderwys (RHO). Skokkend, omdat dit reeds die RHO is wat veronderstel is om universiteite as instellings van uitnemendheid uit te bou en dit vir toekomstige geslagte te bewaar.
Gesaghebbende wetenskaplike studies bewys nou al vir jare dat ons skoolstelsel voornemende studente nie regtig vir tersiêre studies voorberei nie. Wat sou gebeur as ’n student byvoorbeeld besluit om sy of haar studies in net 12 maande af te handel? Of miskien om ’n gewone driejaar-BA-graad in sewe jaar te voltooi?
Dit gaan nie net ramspoedige gevolge vir die opvoedingsvlakke van toekomstige geslagte inhou nie, maar dit gaan die meerderheid mense buite die hoofstroom-ekonomie hou. ’n Algehele armsaligheid gaan soos reëndruppels op ons reën.
Die afplatting van dissipline in ons onderwysstelsel is nog ’n kopseer. G’n wonder twee onderwysers is onlangs by verskillende skole in afsonderlike voorvalle deur leerders aangeval en met ’n mes gesteek nie.
Die vinnige opkoms van sosiale media dreig ook om die liefde vir boeke en lees by veral die jeugdiges dood te maak. Vermoedelik moet ons nie net die sosiale media vir ons algehele gebrek aan lees blameer nie, maar ook ons “nommer een”.
Baie van ons het lekker gelag omdat dit soos net ’n grap geklink het toe die politieke ontleder Richard Calland pres Jacob Zuma daarvan beskuldig dat hy nie wyd genoeg lees nie. Hy lees blykbaar glad nie eens beleidsdokumente en kabinetsnotules nie.
Die President lees net boeke oor spoghuise, bruide, babas en kleuters, het ’n Sondagkoerant se spotprent uitgebasuin. ’n Dagblad se spotprent het die presidensiële woordvoerder, Mac Maharaj, gelyk gegee dat Zuma wel lees, maar ongelukkig hou die President sy leesstof onderstebo.
“Ja, dit is nogal skreeusnaaks, maar dit is kommerwekkend dat die President nie lees nie. Nee, dit kan nie waar wees nie, het meniges op sosiale media geskryf. “Dit is ’n leuen. Hoe bekom Calland sy inligting,” het van die gesprekke gelui.
In wat vermoedelik as ’n antwoord op dié gesprekke gereken kan word, het Calland in ’n Sondagkoerant geskryf: “(A)ccording to my sources in Cabinet and the presidency, he fails to read what he should.”
Die vervlakking van kennis lei ook tot die afplatting van alledaagse dissipline. ’n Paar weke gelede gee ek ’n dame ’n rygeleentheid. Met haar bene gevou en voete op die voorste sitplek van my motor het sy haar sit gekry. Daarna het sy vir my gesê ek moet vinniger ry, want sy is laat vir werk. Ek het maar niks gesê nie.


Kommentaar
Dankie Jason die artikel is BAIE waar. Daar is 'n vervlakking en verswakking in bykans alles. Jy kan nie hier ook kinders die regte voorsê en dan hulle nie verantwoordelikheid leer nie. Wat het geword daarvan dat Universiteite 'n plek vir die skrander sudent is? Finish en Klaar! As jy op universiteit is WEET ons jy IS slim! Heerlikheid DIT kannie ook nog gedemokratiseer word nie! Jy verdien immers die reg om daar te wees! Dit is nie ALMAL beskore nie!