’n Welkome Damaskus-ervaring het die regerende party onlangs gedwing om die verslegtende onderwystoestand te probeer omkeer.
Groot was die vreugdevure onder diegene wat bekommerd is oor die stand van onderwys nadat die ANC aangekondig het dat die onderwys moontlik binnekort tot ’n noodsaaklike diens verklaar gaan word.
Nou blyk dit egter dat die wil om die plan deur te voer, by die regerende party ontbreek nadat vakbonde soos Sadou en Cosatu gesê het so ’n besluit druis in teen die Grondwet.
Hulle sê onderwys pas nie in by die aanvaarbare definisie van ’n noodsaaklike diens nie.
Dié definisie behels dat die staking van so ’n diens lewensverlies tot gevolg kan hê. Daar word ook gesê grondwetlike probleme kan ontstaan as die onderwys tot ’n noodsaaklike diens verklaar word.
Die vakbonde meen met onderwys as ’n noodsaaklike word onderwysers die reg ontneem om te staak.
Die ANC sê hy’t nooit bedoel om onderwysers dié reg te ontsê nie. “Dit was eerder ’n kwessie van terminologie. Onderwys as ’n noodsaaklike diens beteken eintlik net dat ons almal onderwys moet ernstig opneem.”
Lesers moet self raai hoekom die ANC nou van deuntjie verander.
Die vakbonde is egter heeltemal reg. Om te staak is elke onderwyser se grondwetlike reg. Reëls kan egter verander word, want die grondwet is g’n heilige koei nie.
Om die grondwet te verander het die ANC 75% steun in die parlement nodig
Dit is nie so vêrgesog nie – selfs die DA en ander partye steun die onderwyskwessie.
Met die talle uitdagings in die onderwys bied dié kwessie reeds die geleentheid vir politieke partye om oor grense heen oplossings te vind om ons verslegtende onderwysstelsel reg te ruk.
Ons onderwysstelsel is van die swakste ter wêreld en vereis buitengewone ingryping van alle rolspelers – die staat, politici, die privaatsektor, die burgerlike samelewing, nieregeringsorganisasies, onderwysers en ouers.
Aanhoudende stakings in die onderwys “bedreig die groei en oorlewing van die samelewing,” sê Gwede Mantashe van die ANC.
Mantashe is reg.
Om dit te stop, moet die grondwet gewysig word om die onderwys tot noodsaaklike diens te verklaar. So nie, moet ander moontlikhede oorweeg word.
Die regering se aankondiging dat hy alle skole met biometriese inklokstelsels gaan toerus, kan die chroniese afwesigheid van onderwysers doeltreffend aanvat.
Middelklas-ouers in bruin en swart gebiede skryf hul kinders sedert 1994 by privaat- of voormalige model C-skole in wit gebiede in. Dus kan arm ouers in dié gebiede nie die finansiële las van skole en kinders dra nie. Die staat se steun het ook gekrimp en sosiale euwels en ’n gebrek aan dissipline het oorgeneem.
Ons kan dié probleem die hoof bied deur politieke ampsbekleërs te dwing om staatskole te gebruik, soos wat die norm is met die Amerikaanse president. Stel weer skoolinspekteurs aan wat ’n sterk inspeksie-funksie kan verrig.
Eers dan sal Suid-Afrikaners weer rustiger kan slaap oor ons vrot onderwysstelsel.


Kommentaar
Dankie Jason vir 'n baie insigewende artikel. Jy raak aan 'n aantal waarhede hier en kom ons wees eerlik. Unies voel niks vir die gewone mense nie, want die is mos eintlik hulle targets. Die's wie geboelie word. Unies hoort nie in die onderwys en die regering nie! Ja, onderwys is 'n baie belangrike en noodsaaklike diens. Die beskawingspeil van enige volk word gemeet aan die standaard wat in sy onderwys handhaaf word. Ons onderwys gaan nooit regkom as die unies en die regering in dieselfde bed slaap nie. Hulle moet geskei word - nie net van bed en tafel nie. Al is kolektiewe onderhandeling 'n reg moet die onderwys anders hanteer word want hy is in wese ANDERS! - 'N ROEPING!
Jason. Ek stem volmondig saam. Was die Suid-Afrikaanse openbare onderwys vandag 'n pasiënt, sou ons dit in 'n hoësorgeenheid van 'n hospitaal vind, gekoppel aan 'n asemhalingsapparaat wat dit kunsmatig aan die lewe hou. Dís hoe erg die toestand van onderwys in Suid-Afrika in 2013 is, ten spyte daarvan dat die grootste deel van die nasionale begroting aan onderwys toegesê word. Suid-Afrika bestee meer as enige Afrika-land aan onderwys, maar vaar die swak met armer lande soos Mosambiek, Botswans, Kenia en selfs Zimbabwe.