Hoe jou Babalela hierdie Kersfees 'n verskil kan maak

  • 0

Babalela

Amanda de Stadler, hoof van die Vriende van Afrikaans, vertel vir Naomi Meyer hoe 'n Babalela hierdie Kersfees 'n groot verskil kan maak. Sy deel ook foto's van die Vriende van Afrikaans se boekprojekte dwarsdeur die jaar.

Hallo Amanda, ek sien mense kan teen R120 ‘n Babalela-boek en -pop vir Kersfees skenk. Hoe werk hierdie projek van julle?

Dis heel eenvoudig en maklik. As jy wil deelneem, betaal jy R120 (of 'n gedeelte of 'n veelvoud daarvan) in ons bankrekening in met Babalela as verwysing. (ABSA Bank 0170166728. Vir buitelandse inbetalings gebruik die swift code ABSA ZA JJ. 'n Afskrif van die inbetalingsbewys sal ons baie help! Stuur dit asb na chareldinev@vva.atkv.org.za. Daarvoor kry 'n kind dan 'n Babalela-boek, 'n Babalela-poppie en 'n mooi blou rugsakkie met ons logo op.

babalela2

Joice George, Marné Pienaar en Joyce Rubushe in Kayamandi tydens een van die VVA se weeklikse leesondersteuningsklasse

Hoe besluit julle watter kinders die boekgeskenke gaan ontvang?

Dit gaan om 'n geskenk aan 'n kind wat nog nooit 'n boek van sy eie gehad het nie en dalk ook nie 'n Kersgeskenk gaan kry nie.

Ons boektrommelprojek bring ons by baie kleuterskole en laerskole landwyd, dus weet ons waar die nood die grootste is en waar die geskenkie die grootste impak gaan maak.

babalela3

Noord-Kaap: McTakkerskamp se kinders

Die Babalela-boeke het, lyk my, 'n positiewe invloed op die kinders se selfbeeldontwikkeling. Kan jy ons meer van die boek se waarde vertel?

Babalela is 'n tawwe denkbeeldige karaktertjie wat skrik vir niks en sy maatjies leer om nee te sê. Kinders hoor by herhaling frases soos “Los ons uit! Los my uit! Ek is 'n babalela!”

Hy leer kinders om probleemoplossend te dink en om hulle man te staan en dat hulle nee mag sê. Maar hy lyk nie vreesaanjaend nie - sy groot oë laat hom vriendelik en sagmoedig lyk en dan het hy nog vlerkies ook! En hy is pers.

En as Kersfees verby is – is die Vriende vir Afrikaans besig met nog ander boekprojekte en kinders se leesontwikkeling dwarsdeur die res van die jaar?

Een van ons groot projekte is ons boektrommelprojek. Ons fokus op die oomblik op die voorskoolse kind. In die eerste ses lewensjare van 'n kind leer  en ontwikkel hy geweldig, of dan nie, indien hy nie die nodige aandag en stimulering kry nie.

Ons is veral besorg oor die feit dat baie van ons land se kinders sonder boeke, en dus sonder woorde, grootword. Met ons boektrommelprojek probeer ons om by soveel kleuterskole en graad R-klasse as moontlik toesluittrommels te skenk met genoeg van die regte boeke om van kinders lewenslange lesers te maak.

Daarmee saam doen ons boekopvoeding met hulle, want as mens nie met boeke grootword nie, weet jy nie noodwendig hoe om hulle te hanteer nie. Ek het 'n boek geskryf (Die Nagbibloteek) met 'n leeukaraktertjie, Loukie, wat vir kinders leer hoe om boeke te hanteer. Dié boekie kom in elke trommel.

Verder praat ons ook met die ouers en verduidelik dat hulle van geboorte af vir hulle kinders moet voorlees en eintlik vir baie jare daarmee kan volhou. Ons doen ook planne aan die hand wanneer daar nie eintlik geld vir voorleesboeke is nie. Ons het 'n hele handleiding hieroor aan die ontwikkel, pasgemaak vir ons gemeenskappe.

Verder verskaf ons ook leesondersteuning aan kinders wat net 'n hupstootjie nodig het om beter te kan lees. Ons lei ook werklose vroue, helpers by kleuterskole en ander belangstellendes hierin op, aan die hand van 'n baie geskikte program (Doen-en-leer).

babalela4

Kinders by VisionAfrika Primêr lees in drie tale: Afrikaans, Engels en isiXhosa

Daar is mense wat oneindig swaar kry in die land. Tog draai ons almal ons die sente op ons eie maniere om. Hoe gemaak as jy hierdie Kersfees mooi moet dink oor hoeveel jy spandeer en nie ‘n ekstra R120 het nie? Kan ‘n mens dalk iets anders vir behoeftige kinders skenk?

  • Baie mense het nie geld om te skenk nie, maar wel tyd, kreatiwiteit en kundigheid. Span dit in. (Kinders wat niks het nie, waardeer selfs net die aandag wat hulle kry.)
  • Maak storieboekies met prente wat jy uit tydskrifte knip. Dit hoef nie woorde by te hê nie – jy en die kinders dink dit uit soos wat julle omblaai.
  • Maak 'n handpop uit oorskietmateriaal. Dit kan ure se vreugde verskaf en die verbeelding prikkel.
  • 'n Toiletrolkartonnetjie kan omskep word in 'n oulike vingerpoppie, met wol en ander oorskietmateriaal.
  • like_litnet_op_facebookBegin 'n voorlees-uur by jou huis of by die plaaslike biblioteek in die nuwe jaar. As jy dan nog boonop vyf ander vrywilligers kry om saam te lees, kry jy net elke vyfde week 'n beurt om vir een uur te gaan voorlees.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top