Hoe goed lyk die toekoms vir die Good-party?

  • 2

Die ondergang van die DA en opkoms van Good het ʼn direkte verband met mekaar en kan die politieke landskap na die verkiesing onherroeplik verander.

In Junie verlede jaar het ek in dié rubriek geskryf dat dit ʼn gegewe is dat Patricia de Lille, toe nog Kaapstadse burgemeester, in die afsienbare toekoms die DA sal moet verlaat omdat haar verhouding met dié party en ook met die partyleier, Mmusi Maimane, onherstelbaar verbrokkel het.

Einde Oktober 2018 het sy as burgemeester en ook as DA-lid bedank. Die te stigte party Good is ʼn paar dae later deur De Lille aangekondig. Dié party gaan glo binnekort amptelik op ʼn groot partybyeenkoms gestig word.

Die stigting van Good is voorafgegaan deur die verwagting van sommige bruin mense, veral in die Wes- en Noord-Kaap, dat De Lille weer ʼn politieke party moet stig om – soos hulle dit stel – “ons mense se belange en aspirasies te verteenwoordig”.

Veral onder werkersklas-bruines word geglo dat daar nog baie politieke skop in De Lille oor is en gevolglik word daar oproepe op sosiale media en in koerantbriewe gedoen dat die eertydse Onafhanklike Demokrate (OD) moet herleef.

Die ongelukkigheid met die DA onder sommige bruines spruit nie net uit die manier waarop die DA De Lille behandel het nie, maar ook uit dié party se besluit in 2016 dat al sy strukture met hoofsaaklik etniese swart mense gevul moet word.

Die “verswarting” van die DA strook met die uitslag van die 2014-verkiesing. Voor dié verkiesing was die Wes-Kaap as die DA se bakermat beskou omdat dié party altyd meer stemme daar getrek het. Dié provinsie – met sy hoofsaaklik wit en bruin konserwatiewes uit die geledere van die nou gestorwe Nasionale Party – was dus ʼn veilige hawe vir die DA.

Nie meer nie, want die DA het in dié verkiesing meer stemme in Gauteng gekry. Die magsbalans in die party het dus na die noorde verskuif en het dus ʼn plafon met sy wit en bruin steun bereik.

Reeds daarom word daar gewag van gemaak onder (sommige) bruines dat die DA hulle klaar misbruik het en nou nie meer nodig het nie. Die De Lille-geval word as ʼn tipiese voorbeeld voorgehou.

Daar word ook geglo dat die ander bestaande politieke partye liewer vergeet moet word, omdat hul gevestigde belange elders is.

Ipsos se jongste meningspeilinguitslae waarin die DA na verwagting slegs 14% van die nasionale stemme in die komende verkiesing – wat na verwagting in Mei gehou gaan word – op hom gaan verenig, was te verwagte, maar nie die dramatiese afname van nagenoeg 8% steun in vergelyking met die 22,23% wat hy in 2014 gekry het nie.

Dit is skokkend (of vertroostend?) en staan in skrille kontras met politieke ontleders se aanvanklike voorspelling dat die DA se steun tot slegs 19 of 20 persent terug sal sak. Die DA is natuurlik verdedigend op die agtervoet en arrogant soos gewoonlik en maak dit af deur te sê dat Ipsos gewoonlik die party se steun in verkiesings sedert 2009 onderskat.

Die DA se uitval met De Lille is natuurlik nie die enigste faktor wat tot die dramatiese afname van die DA se steun gelei het nie, maar dat dit ʼn deurslaggewende faktor is, is gewis.

Uit die reaksie op sosiale media, in koerantbriewe en op ander platforms is dit duidelik dat die steun van Good uit die geledere van hoofsaaklik bruin mense uit die Wes- en Noord-Kaap gaan kom. Die party het ook aansienlike steun in die Oos-Kaap.

Die oorhoofse mening is dat indien De Lille en haar party hul kaarte reg speel, hulle ʼn stem vir bruin mense kan wees sonder om dit te sê of om as ʼn “bruin party” bekend te staan.

Of dit gaan werk, sal net die toekoms leer.

Die bekendstelling van Good se verkiesingsmanifes binne die volgende weke sal sekerlik fokus op ruimtelike geregtigheid of apartheidsontwikkeling, wat kyk na hoe die uitwerking van rasseskeiding steeds gesien en gevoel kan word.

Die integrasie van voorheen benadeelde gebiede met voorheen bevoordeelde gebiede in Kaapstad was glo een van die redes waarom ʼn wit liberale kliek onder leiding van die Kaapstadse burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, JP Smith, De Lille uit die DA uitgewerk het.

Hoe Good se verkiesingsmanifes tot die armes se behoeftes sal spreek en hoe die armes daarmee sal kan assosieer en daarby aanklank sal vind, sal heel interessant wees in die hele ondergang van Maimane as DA-leier en die opkoms van Good en De Lille as partyleier sedert sy in 2003 die eerste vrou was wat ʼn politieke party, die OD, in Suid-Afrika gestig het.

Die politieke landskap kan na die verkiesing heel anders lyk indien Good goed by die stembus – veral in die Wes- en Noord-Kaap – vaar en so die koningmaker tussen al die groot partye, soos die ANC, EFF en DA, in die parlement en in provinsiale wetgewers van die Wes- en Noord-Kaap word.

  • 2

Kommentaar

  • Ou Kreool Vlakvark

    Die mens is nou maar eenmaal 'n groepsdier wat hom by sy soort skaar of diegene skaar wat sy kans op oorlewing verhoog en waardeur hy uiting aan sy lewenssieninge, belange en aspirasies kan gee.
    Dit is tyd dat die bruinmense opstaan, saamstaan en hul gesamentlike politieke en kulturele en ekonomiese stem eenduidig en duidelik laat hoor MAAR ook self hul daad by hul woord sit. Alliansiepolitiek stroomaf is moontlik. Ons gaan toenemend spesifiek groepsbelange-partye versus "open church"-partye sien.
    "Open church"-partye en party-alliansies is oor die langtermyn gedoem weens interne konflikte.
    Wat interessant gaan wees is om te sien van welke ideologie enige bruin-party 'n slaaf gaan wees, indien wel. En wie as bruinmens gereken word. Immers, oor eeue was daar in Suider-Afrika baie oor kleurgrense "gekuier".
    Gelukkig gaan daar in die hiernamaals nie politieke partye wees nie, ongeag kleur.
    My beste wense aan die bruin gemeenskap in die uitlewing van hul belange en aspirasies.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top