Hoe gaan die DA hom strategies posisioneer teenoor die ANC?

  • 1

Die groot vraag is: hoe gaan die DA hom strategies posisioneer om verlore steun terug te wen en ook hoe om nuwe steun by te kry om ’n werklike alternatief vir die ANC in die 2024- algemene verkiesing te wees?

Dié vraag is veral relevant nadat die Kaapstadse burgemeester Dan Plato gesê het die DA het veld verloor. Hy het dit beklemtoon tydens sy bekendmaking van sy kandidatuur vir die voorsitterskap van die DA se Kaapse metro.

Plato het ondermeer gesê die DA het ’n tree agtertoe gegee in die 2019-verkiesing en moet in die komende 2021-munisipale verkiesings weer veld wen.

Die voormalige DA-leier, Mmusi Maimane, moes reeds na verlede jaar se algemene verkiesing bedank, nadat die DA se steun teruggesak het en gevolglik slegter gevaar het as in die 2014-algemene verkiesing.

Maimane is onder meer ervaar as jonk, dinamies, welsprekend en intelligent, maar sy intellektuele vermoëns moes volgens politieke ontleders aangevul gewees het met politieke ervaring. Hy was egter onervare met min of geen parlementêre ondervinding nie, het ’n politieke ontleder destyds gesê.

Volgens Pieter Labuschagne, emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa, was die verwagtinge vir die DA groot.

“Die verwagting was dat die DA sy nasionale steun tot bo 30% sou opstoot en die meeste in Gauteng sou kry. Nie een van die twee belangrike mikpunte het gerealiseer nie, inteendeel, die DA se landwye stem het met 1,36% gedaal. Die kernvraag na vanjaar se verkiesing is wat die toekoms vir die DA inhou?”

Labuschagne sê die DA kan selfs tot ’n Wes-Kaapse streekparty gereduseer word, mits hy nog sy meerderheid in dié provinsie kan behou.  

Die huidige waarnemende DA-leier, John Steenhuisen, wat onder Maimane as hoofsweep in die parlement gedien het, het verder gegaan en gesê die DA was in die 2019-verkiesing ’n bietjie soos ’n groot drillende jellie en moet nou ’n “ystervesting” word.  

Steenhuisen het die grootste DA-probleem belig deur te sê dié party het verskillende boodskappe tydens die verkiesing gehad.  

“In die Wes-Kaap was dit ‘Hou die ANC en EFF uit’ en in Gauteng was ons in koalisie met die party en het ons ’n verskeidenheid boodskappe gehad: professionele polisie, regverdige toegang tot werk, ensovoorts. En ek dink mense het nie geweet waarvoor ons staan nie.

“So, dit is vir my baie, baie duidelik dat ons in die afsienbare toekoms met die grootste moontlike helderheid moet uitstippel waarvoor ons staan en waarteen ons staan.”

Sê Steenhuisen verder: “die tweede fout wat ons kan begaan, is om na regs te swaai in die hoop dat ons van die meer konserwatiewe kiesers wat nie vir ons gestem het nie, sal terugwen. Ek dink as ons dit doen, gaan ons onsself plaas op die terrein van minderheidspartye en dan sal ons nooit weer kan sê ons daag die nasionale regering op ’n outentieke wyse uit nie.”

Steenhuisen sê die derde fout sal wees om na links te swaai. “Daar is diegene wat sê wat die DA nodig het, is om meer sosialisties te word; meer van ’n sosiaal-demokratiese party. As ons dit doen, sal ons deel word van ’n wedloop om wie die grootste welsynstaat kan voorsien. Ons moet baie duidelik wees oor die feit dat dit nie is waarvoor ons staan nie. Ek meen as die DA suksesvol wil wees, moet hy die nasionale sentrum van Suid-Afrikaanse politiek oorheers. En ons moet ons saak veel beter stel.”

Volgens Steenhuisen dink hy as die DA sy saak beter kan stel “en daardie vertroue herwin, sal daardie kiesers na die DA terugkeer. Kiesers gaan besef om in ’n laer van kultuur, taal of een of ander vorm van nasionalisme terug te trek gaan nie hond haaraf maak nie.

“Ons moet meer moeite doen om vir minderhede te wys ons is ’n party vir hulle; en ons moet vir swart Suid-Afrikaners wys ons is ’n party vir hulle.”

Die DA het vroeër vanjaar drie konsepbeleidsdokumente uitgereik wat betoog dat jou ras nie behoort te bepaal of jy ’n bevoordeelde van bemagtigingsbeleid mag wees nie.

Die party se beleidshoof, Gwen Ngwenya, het toe verduidelik die DA wil wegbeweeg van die ANC se beleid oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB) omdat dit “voordelig is vir rykes, mense met politieke bande en tenderpreneurs.”

Ngwenya sê een van die groot probleme met SEB is dat dit jou sal aanhou bemagtig net omdat jy swart is, selfs al het jy dit nie meer nodig nie.

“Jou ras verander nie, ongeag hoe bemagtig jy op die ou end is. SEB het mense wat nie hulp nodig het nie in staat gestel om voordeel te trek op grond van hul ras ten koste van die wat wel hulp benodig. Hierdie beleid sal verseker dat benadeeldes by regstelling sal baatvind.”

Dirk Kotzé, politieke wetenskaplike verbonde aan Unisa, het egter in Rapport geskryf die DA se beleidsdokumente probeer ’n debat oor ras sover moontlik vermy.  

“Die beleidsimplikasies vir die DA om sy ideaal van gelyke geleenthede te verwesenlik, is dat in een of ander stadium vergoeding of regstellende optrede sal moet plaasvind om die ongelykhede die hoof te bied waarin ras onvermydelik nog steeds ’n faktor is, maar nie noodwendig die bepalende kriterium vir beleidsoptrede nie. Regstellende optrede om sosiaal-ekonomiese ongelykhede aan te spreek is dus onvermydelik, maar hoe pas dit by die DA se gelyke geleenthede in?” 

Volgens Kotzé spel die DA se beleidsdokument dit nie duidelik uit nie.

“Dit is moontlik dalk bedoel om ’n debat oor ras so ver moontlik te probeer vermy. Een moontlike manier om dit te interpreteer, is om te aanvaar dat regstellende optrede in die beginfase nodig is om gelyke geleenthede (en nie regstellende aksie nie) in die eindfase moontlik te maak.

“Dit veronderstel dat regstellende aksie in skoolopleiding, primêre gesondheidsdienste, gratis universiteitsonderrig en soortgelyke inset-inisiatiewe geïmplementeer moet word. Aan die uitset-kant, wanneer mense meeding vir aanstellings en kontrakte, behoort hulle dan reeds in ’n situasie van gelyke geleenthede te wees, wat beleidsingryping onnodig sal maak.”

Intussen maak die DA hom tans gereed om sy eerste virtuele federale kongres op 31 Oktober en 1 November te hou. Die bekragtiging deur die party se federale raad – die hoogste besluitnemende liggaam tussen federale kongresse – om ’n virtuele kongres te hou, volg nadat die party se federale uitvoerende komitee (Fedex) vroeër so ’n besluit geneem het.  

Dié besluit vlieg in die gesig van Mbali Ntuli (32) wat saam met Steenhuisen en John Moodey kandidate vir die DA se leierskap is. Sy is gekant teen ’n virtuele federale kongres omdat sy van mening is dat minderbevoorregte afgevaardigdes in plattelandse en verafgeleë gebiede nie ten volle aan die kongres sal kan deelneem nie.

Wat as teenvoeter teen Mbali se argument aangewend kan word, het die DA besluit die party se professionele personeel moet ’n oudit doen van elke afgevaardigde om seker te maak dat elke afgevaardigde optimaal kan deelneem ingevolge die regulasies wat dan sal mag geld.

Terwyl die DA alles in rat probeer kry vir hul eerste historiese virtuele federale kongres, kan hulle gerus ook van die advies van die politieke joernalis Jan de Lange kennis neem. Dit sou hulle miskien net kon help in die bepaling van hul beleid en hoe om die ANC te troef.

Volgens De Lange, soos hy in Rapprt geskryf het, moet die DA die ANC se swakste punt, naamlik swak munisipale bestuur, tot die uiterste uitbuit.

“Munisipale bestuur is die ANC se swakste punt, maar die DA se sterkpunt. Julle het dit immers al oor en oor bewys. As julle slaag, gaan julle deur die bank ’n werklike en opbouende verskil aan Suid-Afrikaners se lewens maak. Die kieser, wit en swart, smag daarna en sal julle daarvoor beloon. Ook op nasionale vlak.”

Volgens De Lange moet die DA vergeet van propaganda-foefies soos aanvalle op regstellende aksie en SEB. “Dit werk vir Solidariteit, maar hulle is ’n vakbond wat op heeltemal ander beginsels opereer.”  

Is die tafel nou behoorlik met verskillende beleidsopsies vir die DA gedek om hulle daadwerklik so strategies te posisioneer om ’n tasbare alternatief vir die ANC te kan wees?

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top