
ErikaWittlieb op Pixabay
Sedert die speelgoedvervaardiger Mattel in 1959 die eerste Barbie-pop bekendgestel het, het dié modepop ’n ikoon geword met haar groeiende entourage en bykomstighede. Barbie en haar kêrel, Ken, se huis en kar het nou plek gemaak vir ’n magdom toebehore, meubels en versierings wat as milieukleding dien in die fantasiewêreld van kinders. Om al die Barbies met hulle rekwisiete oor ’n tydperk van 64 jaar te versamel, sou meer as een pakhuis in beslag neem. Barbie se beroepe wissel van lewensredder, skooljuffrou, ruimtereisiger en sjef tot modeontwerper, musikus, presidentskandidaat en nog wat, en sy het ont-pop as ’n ikoon wat selfs spog met haar eie volwaardige film, vervaardig deur Warner Bros Pictures. Barbie word op 21 Julie 2023 in die VSA vrygestel met Margot Robbie in die rol as Barbie, ’n mylpaal vir enige pop.
Volg ’n mens die tydlyn sedert 1959, blyk dit duidelik dat Mattel weet hoe om die popkultuur (woordspeling bloot toevallig!) en eietydse ideologiese invloede in die leefwêreld van ’n pop te inkorporeer. Want poppe speel immers die heersende gedragspatrone, sosiale waardes en projeksies uit. Die eerste Barbie met Downsindroom is onlangs geloods as deel van Barbie se Fashionistas-stel, maar Mattel het rééds ’n klomp Barbies met gestremdhede die lig laat sien. Die Downsindroom-Barbie het die liggaamsbou en voorkoms van ’n “regte” Downsindroom-persoon – kompleet met die een simiaanse vou (palmvou), kenmerkend van hierdie chromosoonversteuring. Die nuwe, ongeskrewe narratief in die vervaardiging van poppe is ’n oordrewe woke-heid en deugvertoon [my ietwat spontane voorlopige voorstel - skrywer het “waardesein” gehad] (virtue signalling), alles in die naam van verdraagsaamheid, diversiteit en inklusiwiteit.
...........
Die nuwe, ongeskrewe narratief in die vervaardiging van poppe is ’n oordrewe woke-heid en deugvertoon [my ietwat spontane voorlopige voorstel - skrywer het “waardesein” gehad] (virtue signalling), alles in die naam van verdraagsaamheid, diversiteit en inklusiwiteit.
...........
Die vervaardiging van speelgoed was egter nog nooit onskuldig nie. ’n Jong kind word ingeburger in ’n sosiale stelsel en speelgoed weerspieël hierdie tydsgees. Voor woke-heid was speelgoed geleiers van propaganda. Die beste – waarskynlik mees ekstreme – voorbeeld hiervan was die vervaardiging van speelgoed tydens die Nazi-regime. In die 1930’s–’40’s in Duitsland is kinders se speelgoed deur milisiebeelde oorheers: Figuurtjies soos die Bruinhemde, met ’n swastika op die mou, was algemeen. Joseph Goebbels, die ryksminister van volksvoorligting en propaganda, het sy veld geken – gee die duiwel wat hom toekom. Tydens die bose Nazi-regime is kinders reeds op ’n baie jong ouderdom in die heersende nasionaal-sosialisme gebreinspoel. Bordspeletjies waarin die Ariese ras as superieur voorgestel word, strokiesprente met Duitse volkshelde (natuurlik met blonde hare en blou oë) en miniatuur- Duitse duikbote is slegs enkele voorbeelde van hierdie speelgoed. Legkaarte en bordspeletjies het die Jode en Geallieerdes gedemoniseer; en toe ’n Hitler-pop (met ’n fascistiese saluut) te koop was as ‘n Kersfeesornament, het Hitler sélf die pop van die mark onttrek en dit afgemaak as kitsch (lees: dit het waarskynlik sy waardigheid aangetas). En ná die onttrekking van hierdie pop het die Führer in 1934 ’n nuwe wet uitgevaardig, nl die antikitschwet op die evaluering van alle produkte voor dit verkoop word. Die vreemdste artefak van hierdie magjagse Nazi’s was waarskynlik ’n koekiedrukker in die vorm van ’n swastika! Hiervan gepraat: Adolf Hitler het met Operasie Borghild opdrag gegee dat soldate sekspoppe (opblaaspoppe) kry om hulle te vrywaar van geslagsiektes soos sifilis, of dat die Ariese bloedlyn nie vermeng word met byvoorbeeld dié van die Franse nie. Die soldate het uiteindelik ontslae geraak van hierdie opvoupoppe, want dit sou ’n verleentheid gewees het as die vyand hulle met hierdie bisarre “metgeselle” in hulle besit sou betrap.
........
Oor die rol van poppe in oorlog en propaganda is daar nog baie stories in omloop. Die mikrokolpop (microdot doll) is gebruik om mikrofilms in te versteek – wie sou daaraan dink om binne-in ’n onskuldige pop te kyk?
...........
Oor die rol van poppe in oorlog en propaganda is daar nog baie stories in omloop. Die mikrokolpop (microdot doll) is gebruik om mikrofilms in te versteek – wie sou daaraan dink om binne-in ’n onskuldige pop te kyk? Tog was dié pop ’n kragtige vervoermiddel in spioenasiehandel. In die Tweede Wêreldoorlog het spioene mikrofotografie gebruik om foto’s van die vyand se doen en late te neem, dit in miniatuurformaat verpak en dan in die mikrokolpoppe versteek.
Hier ter plaatse het speelgoed ’n rol gespeel in die behoud van Afrikanernasionalisme. Baie van ons onthou daardie groen soldaatjies – plastiekfiguurtjies – waarmee seuns gespeel het en wat volop te koop was tydens die Grensoorlog in Suid-Afrika. Temas soos militêre heldhaftigheid en patriotisme is met dié speelgoed aangevuur, en in kinders se verbeeldingswêreld het Suid-Afrikaanse soldate teen die gedugte “terries” oorlog gevoer.
Ná die Tweede Wêreldoorlog het poppe vir dekades lank die Amerikaanse verbruikerskultuur weerspieël. Met die oplewing in gestremdheidstudies wat die afgelope 10 jaar gestremdheid of inperking as sosiale verskynsel bestudeer in die geskiedenis, wetgewing, etiek en kunste, kan ’n mens seker redeneer dat die enorme mark vir poppe met gestremdhede ’n logiese uitvloeisel van dié studieveld is. Die oogmerk van gestremdheidstudies is om die kwaliteit van die lewe van gestremdes te verbeter, en as inter- en multidissiplinêre benadering waak die talle etiese waghondorganisasies vandag oor die regte van gestremde persone. En nee, enige vorm van diskriminasie – of poging daartoe – is taboe.
Maar voor ek uitbrei op die speelgoedmark vir poppe met gestremdhede, is dit seker logies om eers te begin by die geskiedenis en oorsprong van poppe as sodanig.
Sedert die begin van tyd het die mens vir hom ’n deelgenoot, ’n speelmaat in die gedaante van ’n pop gemaak. Poppe is figure wat oor die voorkoms van diere of mense (antropomorfe eienskappe) beskik. Hierdie humanoïede figure is gemaak uit klip, hout, ivoor, been, leer of lap. Argeoloë het Japannese poppe, die Hina-, Daroema- en Kokesji-poppe, opgegrawe wat in sowat 8 000 vC in omloop was. Poppe het ’n lang geskiedenis as religieuse ikone, ritueelvoorwerpe en esoteriese artefakte. Hierdie kultuurgebonde poppe het kwansuis oor beskermende magie beskik wat bose geeste kon afweer. Uiteraard is kinders se poppe vergesel van oorlewering: verhale waarin die betrokke volkskuns en mitologie ’n rol gespeel en só deel gevorm het van ’n kind se opvoedingstaak. Poppe fasiliteer rolspel waarmee kinders hulle fantasieë uitleef en die volwasse lewe leer verken. In antieke Egipte en Rome het meisies hulle poppe op hulle troudag aan die godin van vrugbaarheid geoffer. ’n Pop het dus gedui op ’n liminale gebeurtenis, die oorgang van ’n kind tot ’n vrugbare getroude vrou.
Poppe was dus nie net speelgoed nie – ’n pop was geassosieer met volksmagie en towery, byvoorbeeld die voedoepoppe wat gebruik is (en steeds gebruik word) tydens die rites van die Suid-Amerikaanse hoodoo-volksmagie.
..........
Poppe was dus nie net speelgoed nie – ’n pop was geassosieer met volksmagie en towery, byvoorbeeld die voedoepoppe wat gebruik is (en steeds gebruik word) tydens die rites van die Suid-Amerikaanse hoodoo-volksmagie.
...........
Gesogte versamelstukke is op hul beurt die Russiese matrjosjkapoppe (skilpoppe) – nie ‘n sagte, vertroostende keuse nie! Kleipoppe het mettertyd die weg gebaan vir gestoffeerde poppe: In die 17de eeu het Franse en Engelse poppemakers poppe met regte menshare gemaak, en blou oë was die voorkeurkeuse (nie bruin nie). Ongelukkig kon slegs die aristokrasie hierdie “sagte” en luukse poppe bekostig – die gepeupel se poppe was van lap en hout gemaak. Eers in die 19de eeu het porseleinpoppe hulle opwagting gemaak, poppe wat swaar gedra het aan die Victoriaanse tradisie, kompleet met hoë en stywe toerygboordjies en voorskote.
Die 20ste eeu het die goeie nuus van goedkoper massavervaardigde poppe ingelui. Selluloïed, plastiek en viniel het gesorg dat bykans elke huishouding ’n meer werklikheidsgetroue pop kon bekostig.
Elke kultuur het sy eie oortuigings en legendes wat weerspieël word in mense se verhoudings met hulle poppe. Tydens die inperking van 2020 het “oumas” (soos die media hulle gedoop het) begin om Geloftelappoppe te maak. Ek moet bieg: Ons almal was tydens Covid so ‘n bietjie die kluts kwyt. Hierdie lappoppe het kappies gedra soos die vroue in die Anglo-Boereoorlog en hulle gesigte is sorgvuldig met die hand geborduur. Die FAK het hulle gewig by hierdie poppeprojek ingegooi en die oumas kon skaars voorbly om in die vraag te voorsien. (Wat mense nie alles vir vryetydsbesteding sal doen nie ...). En wat vir die een kultuurerfenis is, is vir die ánder weer kultuurergernis.
Van kultuur gepraat: Ingrid Jonker se gedig “My pop val stukkend” asook “Lied van die lappop” is bekende en geliefde verse in ons Afrikaanse poësieskat. Die sprekers in dié gedigte projekteer pyn en ’n drang tot selfvernietiging, maar daar is ook elemente van uncanniness in die gedigte. Het jy al na ’n pop gekyk en ’n gevoel van vrees, weersin of ongemak ervaar omdat die pop te “menslik” oorkom?
Daar is inderdaad al navorsing oor hierdie onderwerp gedoen. Die term uncanny valley dui op die hipotetiese verhouding tussen ’n mens en die emosionele effek wat humanoïede objekte, soos poppe, robotte, 3D-animasiebeelde, prostetiese ledemate, ens op die mens het. Die uncanny valley-effek is in 1970 deur die robotikaprofessor Masahiro Mori, geskep. Die negatiewe helling verwys na die gevoelens van weersin, ongemak of grillerigheid wat mens ervaar wanneer ’n wese te veel soos ’n mens lyk; wanneer dit te ná aan antropomorfisme beweeg. Wanneer mens na ’n werklikheidsgetroue voorstelling van die mens kyk, koester jy emosies van empatie – maar lg kan maklik omskakel in emosies van vrees of onheil. Freud het in 1919 reeds na hierdie konsep as die Unheimliche verwys. Die gevoelens van ongemak moet egter nie verwar word met ’n fobie vir poppe – pediofobie – nie. Dink mens aan die Chuckie-films, dan blyk dit duidelik dat die filmvervaardigers die konsep van die uncanny valley doelbewus gemanipuleer het om kykers se vreesrespons te ontgin, daaruit munt te slaan.
Binne die Gotiese subkultuur versamel aanhangers graag Gotiese poppe: Hulle is besonder bleek, in swart geklee, huil bloedtrane en kom in die gedaantes van hekse, zombies en vampiere voor. Alhoewel hierdie poppe bloot onskuldige versamelitems kan wees vir mense wat met hulle skadukant kan saamleef, kan dit weer vir ander nagmerries gee. Die rekwisiete vir Gotiese poppe is tipies artefakte soos kruise en doodskiste.
Nou ja, ek vermoed my belewenis van die uncanny valley-effek is redelik intens. Poppe is nie onskuldig nie. Een van die eerste anekdotes wat by my opgekom het met die skryf van hierdie rubriek, was ’n verwysing in BJF Laubscher se boek oor die paranormale, Die raaisel hiernamaals (1967). Laubscher was ’n psigiater en die Kübler-Ross van Afrikaans. Volgens Laubscher projekteer kinders hulle eie animo op dinge in hulle gedagtewêreld. ‘n Sekere mev Barnes van Barberton het in die sestigerjare haar twee dogters kort na mekaar aan die dood afgestaan. Die kinders het ’n groot pop gehad waarvoor hulle baie lief was, en mev Barnes het die pop ná die tragiese afsterwe van die twee op ’n bed onder ’n deken neergelê. En toe begin die poppe dans. Mev Barnes moes toekyk hoe die pop se lyf op en af beweeg soos dit asemhaal ... en per geleentheid het die pop ’n paar keer regop probeer beur, maar mev Barnes net met stom blou oë aangestaar. Dit klink na iets uit ’n gruweldraaiboek, maar Laubscher was ten volle compos mentis en ’n gerekende wetenskaplike. Dalk wou een of beide van die dogtertjies “kontak maak” met mev Barnes via die pop as ‘n soort medium – wie sal ooit weet?
Daar bestaan poppemakers wat wel poppe vervaardig wat, om die minste te sê, weersinswekkend is. ’n Voorbeeld is die Japannese poppemaker Midori Hayashi, wat ’n doelbewuste estetiese demonisering gebruik om jou rughare te laat rys. Hy is bekend vir sy gruwelpoppe soos die Momo-pop met haar uitpeuloë, snedige grimas en reptielvoete. Kuberkrakers het egter die beeld van die Momo-pop gekaap, en skakels na die pop se bisarre uitdagings aan die jeug het opgeduik in kinders se videospeletjies en WhatsApp-groepe. Wanneer daar op hierdie skakels geklik is, het Momo ’n rits verskriklike uitdagings aan die persoon gerig, waarvan een was om selfmoord te pleeg. Ongelukkig het ’n paar kinders wél die uitdaging aanvaar en deur selfdood gesterf. Die Momo-uitdaging, wat in 2019 soos ’n veldbrand versprei het, is ondertussen beëindig nadat aanlyn groepe ’n verklaring uitgereik het dat hierdie selfmoordspeletjies teen hulle gedragskodes indruis en dat dit voortaan verbied sou word.
...........
Opvoedkundiges erken die belangrike opvoedkundige waarde van speelterapie met poppe vir kinders. Maar onder speel word baie dinge verstaan. Die miljardêr Aristoteles Onassis se dogter Christina het voltydse professionele modeontwerpers vir haar poppe se klere en bykomstighede gehad; tog was klein Christina nie ’n gelukkige kind nie.
............
Opvoedkundiges erken die belangrike opvoedkundige waarde van speelterapie met poppe vir kinders. Maar onder speel word baie dinge verstaan. Die miljardêr Aristoteles Onassis se dogter Christina het voltydse professionele modeontwerpers vir haar poppe se klere en bykomstighede gehad; tog was klein Christina nie ’n gelukkige kind nie. Dogtertjies met skatryk ouers kan hulle poppe se ontwerpersklere bestel by gtGdollwear – enige iets van onderklere, sonbrille en aandrokke tot ontspanningsdrag – die hele repertoire wat ’n welgestelde dame sal aantrek. En weer eens bevestig poppe die projeksie van gedragspatrone by die mens.
Inklusiwiteit is egter die wagwoord vir Mattel, die speelgoedreus wat die Barbie-poppe vervaardig. Daar het reeds Barbies met 35 verskillende velkleure asook 97 verskillende haarstyle en -teksture die lig gesien. Barbie het sedert 1959 175 verskillende baadjies aangetrek, en met woke-heid het Barbie, afgesien van ’n rolstoel, ook verskyn met krukke en ’n prostetiese been, ’n sonbril en stok vir ’n blinde, asook ’n gehoorapparaat. Daar is Barbies wat aan erge obesiteit ly, en die transgender-neutrale Barbie is afgestem op die LGBTQIA-mark, en dié poppe verteenwoordig ’n niebinêre genderidentiteit. Hierdie Barbies is se hare en klere kan verander of afgewissel word, en die kind kan die pop se voorkoms plooi na manlik of vroulik, of al die genders tussenin. Die speelgoedvervaardigers American Girl het ook nie op hulle laat wag nie, en poppe met diabetes, kompleet met insulienpompe, glukosetablette en bloedsuikermonitors, is vervaardig. Clare Tawell, ’n besorgde ma wat inklusiewe speelgoed maak, se poppe het gesplete verhemeltes, of hulle dra stomas en kolonsakkies. Die kompetisie vir die poppemark met gestremdhede het haas skaars begin. Walmart se My life as autism advocate doll het die lig gesien, terwyl die reeks ook My life as survivor doll, oor ’n pop wat kanker voorstel, het.
Natuurlik het mens simpatie met sake (of causes) soos hierdie, maar dit is ook waar dat kapitalisme aanhoudend nuwe behoeftes skep. Afgesien van woke-heid bestaan daar ’n magdom inperkings en mediese toestande wat speelgoedvervaardigers al die pad bank toe laat lag. Alles in die naam van verdraagsaamheid, inklusiwiteit en diversiteit. Kritiek téén die poppe met inperkings is dat hulle duur is – só byvoorbeeld kos ’n Downsindroom-pop drie maal soveel as ’n “gewone” Barbie.
En nou moet ek my woorde tel, want met woke-heid trap ek perdalks op iemand se tone. Durf mens eerder praat van poppe sonder gestremdhede, want die woord “normaal” mog aanstoot gee? Al wil mens uitbasuin dat dit hier oor poppe gaan?
Nou ja, laat ek probeer: Daardie ouers wat graag poppe vir hulle kinders wil aankoop, beweer dat die inklusiewe mark ironies op uitsluiting gebaseer is: ’n Hoofstroompop is nie meer koel nie en raak nou ’n randfiguur.
En of dit die teater van die verbeelding of van die absurde, of moraliteitsteater is: Dogtertjies is dekades lank reeds ingeburger in Barbie se leefstyl. Die swanger Barbie dra kraamrokke en mens kan die dekseltjie oor haar “maag” afhaal en die baba besigtig of uithaal. Tog is dit waarskynlik die Barbie Funeral Play Set, met die motto “All the fun of a real funeral, in a take home play set!” wat die wenkbroue laat lig. Barbie en haar vriendinne, geklee in swart, vergader rondom ’n wit doodskissie (ouma Roberts se oorskot). ’n Grafsteen is ingesluit in die stel. (Ek kon nie anders as om te wonder of daar nie klein Dexters-in-wording daar buite is wat hierdie speletjie besonder genotvol mag vind nie.) Klagtes teen die begrafnisstel is dat kinders die kissie opgrawe om te kyk of die pop hemel toe gegaan het. Die Autopsy Barbie (“really bleeds!”) word vergesel van ’n skalpel, pakke kunsbloed en ’n outopsieverslag, en is waarskynlik afgestem op dogtertjies wat daarvan hou om kadawers/poppe te dissekteer.
Máár ... ek loop nou op eiers en moet my woorde tel, want woke-heid het geen sin vir humor nie. Ek lees elders dat daar stemme opgaan dat die Disney-prinsesse ook gestremdhede moet hê – hulle is kwansuis te normaal...
Ek wonder wat ’n filosoof soos Michel Foucault in sy beskouing rondom atipiese liggame (deviant bodies) van al hierdie tendense sou gesê het. Daar is kenners wat reken dat hierdie poppe met gestremdhede aan kinders ’n eendimensionele prentjie van mense skets, óf dat dit trauma, geassosieer met mediese prosedures, heraktiveer. Hierdie poppe kan in stede van empatie die teenoorgestelde respons uitlok: Kinders mag dalk juis mense met gestremdhede spot, want die nare waarheid is dat kinders wel ánder kinders met inperkings spot. Empatie is ’n eienskap wat geassosieer word met volwassenheid en dit kan nie ryp gedruk word nie. Na my mening lei poppe met gestremdhede ironies tot die objektivering van gestremdhede. Hou in gedagte dat hierdie poppe in ’n kind se verbeelding, ’n fiksie of fantasiewêreld “optree”, maar sal ’n kind die paradigmaskuif na ’n werklike persoon met gestremdhede kan maak? In ’n studie wat Sian Jones aan die Universiteit van Londen onderneem het, het sy vasgestel dat kinders, wanneer hulle ’n vrye keuse het, die poppe sonder gestremdhede kies om mee te speel. Maar, beweer sy, die diversiteit van poppe is belangrik in die bewusmaking van die dialoog rondom gestremdhede en inperkings.


Kommentaar
Wat 'n wonderlike en insiggewende bespreking oor poppe, Nini Bennet! Boeiende leesstof regdeur.