Hoe die ander kant lewe

  • 22

Fads. Modes. Giere. Noem dit wat jy wil, elke paar jaar sak dit soos ’n koors oor die mensdom neer.

Noem maar op. In kos was daar al die Atkins-dieet, die Noakes-dieet, toe skielik Banting almal. Eers was mans skoongeskeer, toe kom die Magnum-snor; deesdae is sulke woeste Jopie Adam-baarde die in ding. Dan is daar die hare. Kort, lank, kaalkop; deesdae is die man-bun hoogmode. Safaripakke, kort broeke met lang kouse, sandale met sokkies, kaalvoet, Crocs, krokodilleerskoene. Fads. Volgende seisoen is daar iets anders waaroor almal gaande is, en hierdie seisoen se gewildste look is nou iets om oor te cringe. En dis maar net die mans.

Op sosiale media is daar ook fads. Eers was die blote konsep van sosiale media op sigself die fad. Dit was cool om op Facebook en Twitter te wees. Tot Instagram en Pinterest hulle van die map afgehaal het. Die volgende fad is alreeds op die horison.

Natuurlik is dit belangrik om reg te kies wanneer jy jou foto’s plaas. Kos is altyd ’n wenner, geneem by die laaste in restaurant, natuurlik. Mooi foto’s van ou geboue, verkieslik in ’n ander land om te wys watse berese en belese mens jy is. Foto’s van jouself, maar so gestileerd en geposeer dat net jou naaste vriende en familie jou sal kan herken. Politieke statements en slogans is deesdae gewild, met foto’s van politieke optogte wat oral opduik. Maar net die sexy issues, asseblief. HIV/Vigs is nie meer sexy nie – niemand gaan aan ’n optog daaroor deelneem nie. Ditto armoede, behalwe as mens dit kan haak aan ’n sexy issue, soos korrupsie.

Vroueregte is die laaste jaar of wat weer sexy, soos wat dit in die sestigs van die vorige eeu laas was. ’n Foto van jou in jou pussyhat, omring deur ’n massa vroue gewapen met plakkate, is Instagram-goud werd.

Dan is daar die verskynsel wat, sover ek kan agterkom, uniek Suid-Afrikaans en wit is, en wat die laaste paar jaar so gewild geword het: die foto van jou met die bruin/swart nanny wat jou grootgemaak het. As erkenning van die twee ma’s wat jy gehad het. Om te wys hoe woke jy is. Soms is die nanny voor, terwyl jou hand liefderik op haar skouer rus. Soms is die nanny effens agter jou, met jou kroos liefdevol om jou gerangskik.

Selde langs mekaar. Nooit by die nanny se huis nie. Nege uit die tien keer is die nanny in haar pienk/geblomde/blou overall, met doek netjies op die kop.

Sulke foto’s laat my kots.

Nie in een enkele van daai foto’s met hulle cutesy onderskrifte is daar erkenning vir die feit dat terwyl hierdie vrou jou grootgemaak het, moes haar eie kinders by iemand anders grootword nie. Of het julle gedink dis nou maar net hoe bruin mense is, dat die ouma die kind grootmaak? Nee, my liewe lesers, dis omdat sy jou moes grootmaak dat haar kinders nie die voorreg gehad het om hul ma by hulle te hê nie.

Ek sou nog respek kon hê vir iemand wat erken dat die vrou wat hulle grootmaak, nie net ’n edele taak verrig het nie. Sy het opgeoffer, en haar eie gesin laat skade ly, en vir wat? ’n Loon wat skaars liggaam en siel bymekaar kon hou. “Goeie” wit mense het hulle ou klere, en half stukkende meubels wat hulle eintlik wil weggooi, vir die nanny gegee. Dalk selfs toegelaat dat sy ’n bordjie van die kos wat sy vir julle moes maak, kon eet.

Vir die inslaap-huishulp was dit erger, want sy’s nooit regtig van diens af nie. Die kinders kom na haar kamer toe, dieselles wat nou so van foto tot foto pose. Julle het dalk sepia-herinneringe van goeie tye waar julle in haar kamer kon speel. Vir haar is dit net nog tyd, van die bitter min privaattyd wat sy gehad het, wat deur wit demands in beslag geneem is. Want vir wat wil sy privaattyd hê? Om wit behoeftes te bevredig is mos maar haar doel in die lewe. Dis nie asof sy behoeftes, begeertes, drome en teleurstellings van haar eie het nie. Dis nie asof sy kinders van haar eie het wat sy graag sou wou sien nie. In stede daarvan sit sy opgeskeep met jou.

Daar is niks woke aan die geposeerde foto’s met jou nanny nie.

Wat ek sien wanneer ek daai foto’s kyk, is die verhaal van ’n vrou wat nie by haar eie gesin kon wees nie. Dis die verhaal van ’n vrou wie se eie behoeftes as tweederangs, ondergeskik aan joune, gestel is. Dis die verhaal van net nog ’n gesin, maak nie saak hoe woke jy probeer voorgee julle is nie, wat van goedkoop arbeid misbruik gemaak het in apartheid. Dis die verhaal van ’n vrou wat geveg het om ’n lewe te probeer maak in omstandighede waar die regering doelbewus haar opvoedingsopsies beperk het sodat sy huishulp-wees vir “goeie” wit mense as een van haar min opsies gesien het. Dis die verhaal van ’n vrou wat waarskynlik haar eie kinders se gesigte voor haar gesien het terwyl sy jou neus afvee, jou skrape gesond maak, jou borde kos skep, jou tantrums hanteer, jou klere optel, jou kamer skoonmaak. Dis die verhaal van ’n vrou wat, as sy ’n keuse gehad het, veel eerder daai goed vir haar eie kinders wou doen as vir jou.

Dis die verhaal van ’n vrou wat waarskynlik meer as een dag moes spring om onder jou pa se vatterige hande uit te kom, en jou ma se eise kop onderstebo en so nederig as moontlik moes hanteer want sy wil nie weggejaag word nie. Of het jy gedink die vatterige wit man is net ander kinders se pa’s, nie joune nie? Of o, wag, jy’t gedink sy’s altyd ’n gewillige meedoener. Cute. Dis die verhaal van ’n vrou wat goed geweet het daar is geen wette wat haar beskerm teen die wreedheid van haar werkgewer nie. Dis die verhaal van ’n vrou wat oorgelewer is aan die nukke en grille van die baas en die nooi.

Wat my bring by die volgende vraag. Toe jy klein was, het sy jou op jou naam genoem. Wat van toe jy jou nukkerige tienerjare ingaan? Was jy toe “kleinnooi” genoem deur hierdie tweede “ma” van jou? En toe jy ouer word en verder swot en trou en jou eie gesin kry, het jy kontak gehou met hierdie tweede “ma” van jou? Het sy by die hooftafel gesit by jou troue? Sit sy Sondae saam met jou gesin aan tafel?

Los maar die verskoning van “Almal het dit gedoen, en ons het nie van beter geweet nie.” Dit het nie toe oortuig nie, en dit oortuig nie nou nie. So los dit maar.

Ek sien nie woke wanneer jy so poseer met die vrou wat jou grootgemaak het nie. Ek sien onderdrukte verlange na die ou dae, toe jou behoeftes al was wat saak gemaak het.

Gee my enige dag eerder die rassis wat die verhouding met sy huishulp sien as presies wat dit is: nie net ’n werksverhouding nie, maar ook ’n ongelyke magsverhouding waar hy/sy al die kaarte vashou. Dis ten minste eerlik.

As jy regtig eerlik wil wees, en woke wil wees, gaan na daai tweede “ma” toe, en gaan vra haar verskoning vir wat jy en jou gesin haar laat deurmaak het. Gaan na haar kinders toe, en vra verskoning dat jy hulle ontneem het van die geleentheid om deur hul ma grootgemaak te word. Vra jouself of haar kinders jou susters en broers is. Ken jy hulle lewens, hulle gesinne? Nee? Maar julle deel dan ’n ma? Word jy uitgenooi as hulle troues en aannemings en twenty-firsts het? Weet jy hoe hulle lewe? Nooi jy hulle uit na jou geleenthede, of is hulle net hierdie skimme in die agtergrond?

En hierdie “ma” van jou. Kom ons toets bietjie die verhouding. Gaan sit in haar huis, gaan drink uit haar koppies, gaan eet uit haar potte, gaan kruip in haar bed agter haar rug in. Dis mos wat mens met ’n ma doen, nie waar nie? En as jy nie die vrymoedigheid het om dit te doen nie, hou dan op lieg vir jouself.

Jy ken haar nie. Jy weet nie wat haar lewe is nie. Jou kennis van haar is beperk tot hoe sy jou tot voordeel kan wees, of tot voordeel was. Jy weet nie hoe die ander kant, haar kant, lewe nie. Jy ken haar net in die konteks van jou kombuis en jou huis en jou omgewing. Nooit haar eie omgewing nie.

Sy’s nie ’n tweede ma nie, sy’s ’n bediende, en jy gebruik haar nog steeds om jou wit skuldgevoelens te probeer besweer deur ’n nuwe verhaal van idilliese saambestaan te vertel. Newsflash. Dit was waarskynlik nie idillies vir haar nie. Dit was beslis nie idillies vir haar kinders nie.

Vergewe my as ek maar verby scroll en nie jou cutesy foto like nie. Ek onderdruk die behoefte om die porseleingod te aanbid.

 

  • 22

Kommentaar

  • Chris Erasmus

    Sjoe, het jy darem nie hangups nie. Al raad wat ek vir jou het soos ek al vir my pelle gesê het: "get a life" en "get over it".

  • Dankie Bettina.

    Het my sommer weer aan die dink gesit.
    Ek het nie Elizabeth se familie werklik geken nie.

  • Eugene van Rooyen

    Eerstens wil ek vir Chris Erasmus se dit het niks met hang-ups te doen nie. Dit het alles te doen met die valsheid, selfgesentreerdheid, die wit mense wat absoluut hulleself die reg toe-eien om 'n mens se reg om te bestaan oor te neem. Oor te neem deur besluitneming weg te vat en hulle afhanklikheid uit te buit ten volle, en dan die vermetelheid het om daaroor te spog soos bo geskryf. Enige iemand wat dit nie besef in vandag se lewe nie het 'n moerse hang-up anyway. Dis soos die kollekte wat vir die armes gehou word in die kerk terwyl die honger kinders aan die kerk se heininggdraad hang en wag vir 'n aalmoes.

  • Sjoe ... ek kan maar net sê ja dit is hoe dit was en ek het nooit daaroor gewonder nie. Ek sê dikwels “ek het nie van beter geweet nie”, en erger nog, ek het nooit daaroor nagedink nie. Ek voel gestroop van verskonings en voel so ontsettend spyt dat ek so blind kon lewe. Woorde maak nie reg nie ...

  • Deon du Plessis

    Bettina, ek geniet altyd jou stukke. Hulle is weldeurdag, goed geskryf, en raak gereeld aan onderwerpe wat ons gerieflikheidshalwe maar eerder onder die mat invee.
    Ek wil nie nou dieselfde speletjie speel as die "woke" witmense waarvan jy praat nie, MAAR die volgende: Ek kom uit 'n huis waar ons nooit 'n huishulp gehad het nie. Nie vir een dag nie. My ma het die skoonmaak, kos maak, ens behartig en, toe ons oud genoeg was, moes die kinders uithelp. My pa sou soms 'n tuinwerker se hulp inspan, maar dan het hy altyd ewe hard saam met hom gewerk.
    Ons is ook geleer om hierdie mense altyd respekvol te hanteer, meer as "minimum wage" te betaal, en eenvoudig hulle as mense te sien (dit is immers wat hulle is!).
    Ek weet in baie ander huise was dit nie die geval nie, en is jou beskrywing baie raak, maar in die woorde van Jeanne Goosen, "ons is nie almal so nie".
    My skoonma het haar man vroeg verloor - my vrou was net een jaar oud toe dit gebeur het - my vrou se tweede ouer (en my eie tweede skoonma) is toe Christina. Sy het self haar lewensmaat te vroeg verloor. Sy is nietemin 'n dierbare siel wat jaarliks die kerk se vrouebyeenkomste bywoon, sekerlik harder werk as wat ek in my lewe sal, en die toonbeeld van integriteit is.
    Ek twyfel nie dat sy by tye haar eie kinders moes afskeep om my tweede skoonma te wees nie, maar sy het dit gedoen beide uit pligsbesef teenoor hulle (ter wille van die inkomste) én liefde teenoor my skoonma, my vrou, en haar sibbes.
    Sy het onlangs (in Oktober) 60 geword – toe vra ek nou wanneer sy beoog om af te tree. Toe sê sy nee, sy gaan aanhou, want haar werk is oefening en (as sy ophou) sal sy siek raak en sterf. (Haar eie woorde, let wel.)
    Sy was by ons troue, sy is genooi na my skoonsuster se troue, maar kon dit weens omstandighede nie bywoon nie. Sy was by beide my skoonma se ouers se begrafnisse. Sy is baie meer as welkom by ons familie "events". Ek was al by haar huis – ek het meubels daar ingedra wat te swaar was vir haar en 'n koppie tee geniet by ander geleenthede.
    Ek het al vir haar broerskind (never mind haar eie kinders, wat ek ook al uitgehelp het) 'n fiets gegee. Ons is betrokke by haar en haar mense – want hulle is ons mense!
    By herhaling, daar is mense wat presiés is soos jy beskryf, maar "ons is nie almal so nie". Ek is jammer vir die seer en hartseer wat mense al moes beleef, maar kan ongelukkig niks daaraan doen nie. Ek is nie by magte om 'n gebroke hart of gekrenkte siel te genees nie. Ja, daar is ook bloed aan my hande en my k@k stink net soveel soos die volgende ou s'n. Ek wil nie klink soos daai "woke" mense wat net hulle eie gewetens probeer sus nie.
    Al wat ons nou kan doen, is om te probeer aanbeweeg na 'n beter toekoms.
    En ek kan jou nou sê, Christina IS 'n tweede ma vir my vrou en sy IS 'n tweede skoonma vir my. Daar is wel mense wat lief is vir swartmense bloot om in die mode te wees, maar dis nie altyd die geval nie.

  • Dankie vir hierdie rubriek, Bettina. Jy laat my dink ... ook oor party van ons se geneigdheid om te praat van "die goeie ou soort".

  • Ek kan heeltemal verstaan waarvan jy praat Bettina ... het dit al so baie gesien en beleef. In my jongjare het die "huishulp" net 'n naam gehad... iets soos Gloria of Beauty. Niemand het haar van geken nie. Niemand het haar lewe geken nie. Dis hoe dit was ... en dit was sad. xxx

  • Chris,so eenvoudig is dit nou nie. Baie ondankbare, ondergewaardeerde werk. Dan nog eie lewe op agtergrond lewe. Ai, waar is jou empatie/mede-menslikheid?

  • Dorothy Badenhorst.

    Ek het my eie kinders groot gemaak, my eie huiswerk gedoen , saam in die tuin gewerk. Ek ken die omstandighede, baie moes werk, almal het geld nodig om 'n bestaan te maak.

  • Nou kom ek uit 'n geslag waar skolevoeding nog in was. Daar was geen sportveld by die laerskool was nie. Rugby is geoefen tussen dorings en miskoeke op 'n kleinhoewe aangrensend aan die skool. Daar waar meisies en beeste ywerige toeskouers was.
    Kon ook nie nader nie, met sewe kinders in die huis, was daar nie geld vir bediendes nie. Het ma self khakibroekies en hempies gemaak en vir die dogters geruite klere.
    Daar was nie geld vir nuwe rugbyskoene nie en is “studs” sommer uit ou stukkies leer gemaak en was Pa se lees gebruik om spykertjies om te klink.
    Op 'n dag staan ons by 'n laagwaterbrug naby die Vaaldambrug. Die Vaaldam se sluise was oopgetrek. Terwyl ons nog sou staan en kyk, kom daar 'n motor verby met drie meisies, nie wit nie, op die agterste bank.
    Met een hand hou hul hul hoedjies vas en bekyk ons spulletjie so op en af. Die een naaste aan ons vra toe: “Who are they?” Die oordeel kom vinnig van die middelste een. “Poor whites”.
    Ja mense vergeet dat daar soos vandag 'n wit-armoedeprobleem was en dat baie min wittes hul skoolloopbane voltooi het en baie die skool in graad 10 moes verlaat om 'n ambag te volg om 'n bydrae tot die gesin se inkomste te maak.
    Die les is dus moenie almal oor dieselfde kam skeer nie. Baie van ons het nie gekom waar ons vandag is deur op ons “agtervoete te lê” nie.

  • Eugene van Rooyen

    Riaan en FC. Dit is nie veralgemenings nie. Indien dit wel so was, was dit die uitsondering. Die goed waaroor gepraat word was die norm.

  • Wat 'n eng opinie vol veralgmenings en swak taalgebruik! Die vertaling van 'n 'fad' is 'n geit. Die growwe veralgemenings is so erg, dis verstommend. Al gehoor van werkskepping en werkgeleenthede? Al ooit gepraat met van die wit bediendes in Londen? Daar gaan dit veel erger!

  • Beste Eugene
    Jy het seker in 'n ander tyd groot geword. Uit https://www.litnet.co.za/van-armblankes-tot-voorheen-bevoordeeldes-2005/ "Van armblankes tot voorheen bevoordeeldes 2005" se slot kan jy lees:
    “Daar word soms gesê dat die Afrikaners met rasse skrede bemagtig geraak het. Dit is miskien so as ons kyk na die posisie in 1948, toe die Afrikaners hoofsaaklik bestaan het uit werkers en minder gegoede boere, en 1990, toe die Afrikaners hoofsaaklik 'n middestand was. As ons egter na die langer tydperk van 1900 tot 1990 kyk, is die vordering stadig. In 'n boek deur die Amerikaanse skrywer Francis Fukyama word daar verbasing uitgespreek oor die feit dat die Afrikaners eers teen 1975 'n deurbraak in die private sektor begin maak het. Die groot rede is dat die Afrikaners lank nie self met hul geld wou woeker nie en ook nie iemand buite die familie wou vertrou om met hul geld te woeker nie. In die arbeidsmark het glad te veel die veilige hawe van die staatsdiens opgesoek. Maar die staatsdiens is nou feitlik geslote en dié Afrikaners wat wil oorleef, sal moet woeker met hul geld en hul talente."

  • Eugene van Rooyen

    Wat het swak taalgebruik en mense in Londen met hierdie onderwerp te doen Doktor? Daar word soos gewoonlik weggeskram van die punt wat bespreek word.

  • Oupagrootjie Kreool Petrus Erdvark *1928 †Nognie

    Me Wyngaard, 'n uitstekende rubriek. Pitkos vir selfondersoek en verbetering.
    'n Oplossing is 'n wet wat die stelsel van huishulpe en tuinhulp eenvoudig heeltemal verbied.
    Elke gesin, ongeag identiteit, moet dan sy eie tuin versorg en kinders self grootmaak.
    Hopelik sal Suid-Afrikaners se kinders dan die nodige oueraandag kry vir behoorlike opvoeding om behoorlike landsburgers te wees wat verstaan waarvoor hulle in verkiesings stem en die impak van hul stemkeuses. En meer huise sal 'n vader tuis hê, 'n vader as rolmodel van waardestelsels, dissipline en selfrespek.
    En hopelik sal oupas en oumas ook deel van die gesinskern wees. Ouma kan dan by die jonge kinders 'n voorliefde vir lees kweek. En oupa kan hulle onderlê in hul familiegeskiedenis en wat te lere is uit die suksesse en foute van die verlede. En so kan die kinders ook leer om in gesagstrukture in te pas en werkstrots en eie inisiatief aanleer.
    En so kan die Suid-Afrikaanse nasie nuwe fondamente bou vir 'n beter Suid-Afrika en 'n rooskleurige toekoms vir alle Suid-Afrikaanse jeug. Wat is nou so moeilik aan gesonde gesinslewens?

  • Eugene jy sê dit self. Dit “was die norm” met beklemtoning op dit wat in die verlede gebeur het. So waarom dan 'n hele relaas skryf oor iets wat 'n norm was maar duidelik nie meer nie?

  • Navorsing in 2015 het getoon dat daar ongeveer 1 Miljoen huishulpe in Suid Afrika was. Dit was toe ongeveer 8 % van die totale arbeidsmag. Onlangs het ongeveer 30 000 weens die verslegtende ekonomiese omstandighede hul werk verloor.
    Jou oplossing is dus om werkloosheid verder te verhoog. As jy in ag neem dat elke huishulp ook afhanklikes het dan is jou oplossing nie werklik 'n oplossing nie, want die mense sal dan 'n verdere las op die staat plaas.
    Die oplossing is dus om die mense se werksomstandighede te verbeter en elkeen wat dit kan bekostig 'n beter loon as voorgeskryf te betaal.

  • Chris Erasmus

    Dit is deesdae ongelukkig die norm om almal en alles te blameer vir jou eie mislukkings en tekortkomings. Ek was knorrig oor die nuwe bedeling. Ek het ook op 'n stadium jammergat kwaad houding ingeslaan. Ek het na deeglike selfondersoek, hand in eigere boesem gesteek en tot die harde besef gekom ek is besig om myself te na te kom. Ek gaan nie Regstellende Aksie, BBE of wat ook al blameer vir my eie PMS nie. Ek trek my vinger uit my oor en begin 'n onderneming wat in die land in die aanvraag is. Dit het my niks gehelp om die nuwe regering te blameer nie. Dit het my trouens 'n moerse guns gedoen. Het geen gemoedsbekakking oor die nuwe bedeling nie. Om in en oor die verlede derms te ryg gaan niks help nie. Jy maak jouself siek. Jy ontneem die vreugde van die dag. Die mense wat hul eie tekortkomings en geite wil verdoesel wil my laat kots. Terloops ek is vies vir wit mense wat huishuple het. Is julle te flippen lui om jul eie werk te doen? Ons het nog nooit ‘n huishulp gehad nie. Ons deel ons take in en om die huis. Kinders inkluis het geweet wat van hul verwag word. Deesdae is dit seker kinderarbeid. Die mense moet bykom.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top