
“Hier is Lisa” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
Hier is Lisa
My vriende het besluit dit is tyd om die gerug in die ope te bring. ’n Naam te gee.
Dit is tyd vir ’n behoorlike kuier, is ek laat weet. Niks ongewoon aan die versoek nie. Hoipolloi, in Waterkloof net ’n paar strate van my huis, is ons groepie se kuierplek. Waar ’n tafel met die beste uitsig oor die ooste van Pretoria vir ons gereserveer word en die-gewone-asseblief beteken twee bottels Chenin Blanc, nie yskoud nie, altyd van dieselfde kelder, dikwels ’n derde bottel en beslis ’n vierde tydens verjaardae. ’n Verskeidenheid van slaaie rond die ete af. Olywe en olyfolie eenkant. Wyn is die voor- en nagereg. Die kelner vra nie eens nie. Al vier van ons uber soontoe. Om verstaanbare redes.
Ons is bly om mekaar te sien. Komplimenteer mekaar. Jy lyk so goed, het gewoonlik iets met gewigsverlies te doen.
Sofia se lang salonwimpers rus op haar wange terwyl sy haar glas vir ’n tweede keer vul. Sy skraap haar keel om almal se aandag te kry en sê skielik ernstig: Ons wil vir jou sê, Lisa, dat ons bekommerd is oor jou. Die ander twee kyk af na hulle slaaiborde. Dit wil voorkom of alkohol jou kruk geword het, sê Sue vernaam terwyl sy haar nuwe diamantring al in die rondte draai. Cora, my vriendin sedert universiteit, sluk swaar. Die trane maak slote in haar grimering. Die ander plaas hulle lang reënboognaels paaiend op haar arm. Sy ken my die beste, verklaar sy intiem terwyl sy haar oë klad. ’n Wit servet met swart besmeerde maskara word eenkant neergesit. Daarom is sy die een wat wéét wat die oorsaak van my probleem is. Niks anders as leënessindroom nie.
Dus: aandadig, maar nie skuldig nie. Dis die kinders wat die huis verlaat het. Hoe durf hulle?
Ek is uitgevang. En skaam. Uiteraard die motief van ’n intervensie. En die gevolg daarvan.
Ek sal ’n plan maak, prewel ek instemmend. Grotendeels om die konfrontasie te beëindig.
Sofia vul almal se glase, myne inkluis. Lig haar glas: op vriendskap. Almal klink. Kyk mekaar in die oë. (Ter wille van goeie seks.) Asof niks dit voorafgegaan het nie.
Ek wurg aan die hoenderslaai. Dop die bottel olyfolie daarop om.
My glas met die pienk lipstiffiemerk soos ’n klad op my naam, staan eenkant onaangeraak gelaat. Die onderlangse blikke na mekaar ontgaan my nie. Sue se tweeling, hulle gradeplegtigheid en die koste van die spysenier vir die onthaal daarna stuur die gesprek in ’n veilige rigting. En verbloem die ongemak. Ek is stom. Terug in my natuurlike staat.
Die afskeid by die motors is innig. Vertederend. Sterkte vriendin, sê hulle met diep besorgde stemme en druk my styf vas teen hulle volronde buuste.
Net soos destyds met Cora, na die nuus dat sy met borskanker gediagnoseer is.
Later die dag plaas Cora die besonderhede van ’n rehabilitasiesentrum in Johannesburg op ’n WhatsApp-groep, Ondersteun vir Lisa. Ek kyk verleë daarna. ’n Omgee-groepie met my as begunstigde. ’n Duim-omhoog-emoji is my antwoord.
’n Week gaan verby. Ek wag vir die regte oomblik.
Gerrit is nie beïndruk nie. Komende van sogenaamde vriende wat self nie hulle perke met drank ken nie. Pure projeksie. Mense wat van ’n wyntjie praat, behoort nie ernstig opgeneem te word nie, tier hy.
As hulle verkeerd was, sou ek nie al self in die verlede probeer het om minder te drink nie. Ek antwoord verskonend.
Gerrit staan van die stoepstoel op. Sy skouer ruk. Sy liggaam vertoon die mengelmoes van gevoelens waarvoor daar nie ’n woordeskat in sy wetenskapbrein bestaan nie. Irritasie, kwaad, frustrasie, veragting. Hy verdwyn in die huis en kom met twee glase whisky terug en plak een op die lae tafel voor my neer. Ons het nie ’n koffietafel nie, wel ’n dranktafel, is die naaste wat Gerrit aan ’n grappie kom.
Drink! Weergalm die woordlose bevel.
Ek gaan nie toelaat dat jy ’n klomp verveelde wedergebore vroue wat skielik ’n gewete ontwikkel het, glo nie. Fok hulle.
Daar is ’n plek in Johannesburg wat blykbaar goeie resultate lewer. Ek soek vervaard na die naam op Google.
Hy gryp my selfoon en gooi dit op ’n ander stoel.
Lisa, het jy al gesien hoe lyk die mense wat hulle na sulke instansies wend? Jy hoort nie daar nie. Dis benede jou. Oor my dooie liggaam sal jy voor ’n klomp laegraadse vreemdelinge staan en verklaar dat jy ’n drankprobleem het. En dan seker van my verwag ook om een van die geforseerde familiesessies by te woon.
Gerrit, antwoord my eerlik. Dink jy nie ek het ’n probleem nie?
Die enigste probleem is dat daar altyd ’n nuwe probleem is. Mens sal sweer jy kry nie genoeg aandag nie. Jy hét probleme, Lisa. Maar alkohol is nie een daarvan nie.
Ek wil net graag beter raak. (Dis nie jy nie, dis ek. Sê ek sonder om te sê.)
Hoekom wil jy aan jouself torring? Selfs in jou vyftigs is jy die mooiste vrou in Waterkloof. Jou sogenaamde vriendinne is net jaloers omdat hulle mans hulle oë nie van jou kan hou nie. Ek wil jou nie anders hê nie. Sien jy dan nie hoe ver het ons gekom nie? Kyk rondom jou. Jy kom niks kort nie.
Ek is jammer, Gerrit. Vergeet dat ek daaroor gepraat het.
Volgende keer voordat jy ’n onderonsie beplan, dink wat jy aan my doen. Onthou waar ek was en sien waar ek nou is. En jy. Hoogs suksesvolle kunstenaar. Wat maak dit saak as jy dit nou en dan bietjie oordoen met die wyn? Ons doen dit almal.
Behou die status quo. Ek vra jou mooi, sê hy, staan op, sluk die whisky met een teug weg en stap na sy kantoor toe. Monoloog op ’n einde. Saak afgehandel.
Hy wen. Want hy moet. Altyd.
Die nag is lank. ’n Slaappil op sy eie is al jare nie meer genoeg nie. Saam met alkohol, ja. Whisky of wyn. Meestal albei. Ons slaap die laaste jaar apart. Vanweë my rusteloosheid. En ter wille van Gerrit. My tyd behoort aan my. Syne aan studente en ’n laboratorium. En ’n PhD-student wat sy aandag opeis. Tydig en meestal ontydig.
Wat glo mens as jy met twee teenstrydige sienings uitgedaag word? Eggenoot se oortuiging versus vriende se bemoeienis. Wetenskap teenoor medemenslikheid. Feite versus fantasie. Die duiwel en die diep blou see.
Die nag is nugter. Die transformasie saam met Gerrit se loopbaan en ambisie speel voor my oë af. Laboratoriumassistent tot dosent. Doktor tot professor. Middelklas tot vernaam. Gewoon tot geagte. Nuwe huis. Bure met wagte. Vriende met titels. Gerekende sjefs by huisdinees. Veelgeprese wyne. Reise.
Niets tot iets.
Die motor en drieslaapkamerhuis in die gemiddelde woonbuurt was nie meer goed genoeg nie. Ek ook nie. Daarna was dit my beurt om oorgedoen te word.
Deur Die Metodiek van Eindelose Berisping.
Jy is te stil. As jy kon praat, wat sou jy sê? Maak kontak. Gesels saam. Ek wil trots wees op jou. Ons het ’n nuwe lewenstyl wat pas by my posisie. Jy is die verlenging van my – dit is ’n belangrike verantwoordelikheid. Introverte sukkel in ’n sosiale opset. Ek weet nie hoe om anders te wees nie. Absolute twak. As ek kan, kan jy ook.
Daar was ’n dinee by die universiteit met die rektor en uitgelese buitelandse gaste.
Gerrit het ons uitrustings gekies. My persoonlikheid kan hy ongelukkig niks aan doen nie, het hy gesê. Dis my verantwoordelikheid. Hy wil hom nie vir my skaam nie. In dié geselskap word asosiale mense beskou as dom.
Die kuur het gekom in die vorm van ’n bottel wyn. Dit is eintlik so eenvoudig. Met elke glas het die angs verflou. Lug kon verby die versperring in die keel en my longe bereik. Ek was bevry van ’n selfbewustheid. Mense se siening oor my was hulle saak en nie meer my fobie nie.
Gerrit se hande het daardie nag tussen die lakens my telkens vasgegryp. Jy was fantasties, het sy asem geblaas. My weerstand afgebreek. Sy oorgawe vurig.
Ek was nuut bemin. Bewonder. In die hemel.
Alkohol het die middel geword. Gerrit, die dienswillige verskaffer. Ek, die gedienstige begunstigde. Dit was ’n geleidelike proses. Twee of drie glase wyn tydens ete. ’n Bottel met sosiale geleenthede. Later ’n bottel tydens ete. Whisky het die aand afgerond. Die effek het langer geneem. ’n Bottel was nie meer genoeg nie. Drink-fiks, het Gerrit my toestand goediglik opgesom.
Ek wonder of ek nie moet minder drink nie? Sou ek soms die vraag in die wind gooi om enigeen teenwoordig se reaksie te toets. Menigmaal is dit hewig teengestaan. Alkohol is so algemeen soos kos. Iemand wat nie drink nie, kan nie vertrou word nie.
Die voordele was volop. Ek kon myself vir die eerste maal sonder ’n verlammende vrees in ’n sosiale omgewing handhaaf. Tot my verwondering, selfs mense laat lag met ’n nuutontdekte komiese trek. Die nuwe ek het my aangestaan. Die een wat ek in die goedkeurende oë van my man se kollegas en nuwe vername vriende gelees het. Mens kan aan bewondering ook verslaaf raak. Gerrit se dekaan het een aand sy arm besitlik om my middel geplaas en ’n onsmaaklike, nat soen in my nek geplant. Gerrit het gesê ek moet dit ignoreer. Dit is tot sy voordeel dat die dekaan van my hou.
Ek was nie onskuldig nie. Wanneer flirtasie jou beloon met openlike bewondering, kan mens nie meer onderskei wat jou aandeel aan nat soene of grypende hande is nie.
Ek het begin uitsien na drinktyd. Die horlosie dopgehou. Wanneer Gerrit van die werk af kom, het alkohol reeds alle beheer afgebreek. Die slaapkamer was sy laboratorium waar hy vrywillig op my kon eksperimenteer. Ek, bedwelm en gedeeltelik onbewus. Sonder verset.
Om begeer te word was wat saak maak.
Hoekom dink jy bring ek nie meer my vriende huis toe nie? Dié woorde het aanleiding gegee tot die eerste poging om op die waterkar te klim. Ons woedende tienerdogter het my in die sitkamer gevind. In ’n toestand wat ek nie kan herroep nie.
Mejuffrou Joolkoningin tot Mevrou Alkoholis. Ek was trots op my ma. Nou is ek net skaam.
Dit was die eerste keer dat iemand openlik oor my alkoholgebruik (-misbruik) gepraat het.
Sy oordryf, was Gerrit se reaksie. Moenie jou aan haar steur nie. Hormone speel die hoofrol.
Ek wou haar wys dat sy verkeerd is oor my. Dis nie so erg as wat sy dink nie.
Dit was makliker om op te hou drink as wat ek verwag het. Skielik was die lewe opgehelder in kleur. Elke ervaring, eerstehands. Die wasigheid skoonveld. Iemand met funksionele sintuie was aan die stuur.
My dogter het my weer in die studio opgesoek. Geïnteresseerd in die nuwe beelde – bedoel vir ’n uitstalling. Trots haar arms om my geslaan. Ons stil studentseun het sy wasgoed huis toe gebring. Saans later gekuier. My in die oë gekyk. Ek het kos gemaak, gevries en saamgestuur na sy woonstel toe. Soos ’n ma gevoel. Pynlik bewus van die afwesigheid van dié rol vir ’n baie lang tyd.
Daar was egter ook ’n prys te betaal. Soberheid het mettertyd soos ’n opoffering begin voel. Die verlies aan kreatiwiteit was die moeilikste. ’n Afwesigheid van die konneksie tussen hande en metaal. Die kritikus in my kop terug op sy troon. Selfsensuur wat perfektheid nastreef om negatiewe publieke kommentaar te voorkom, selfs sterker as voorheen. Ek het begin verlang na die kunstenaar wat met bottels wyn in haar studio verdwyn en vrylik skeppings voortbring. Vreesloos. Dan agterna (wanneer sober) daarna kyk en oorstelp is oor haar werk.
Stilte het teruggekruip. Die angs verlammend. Slaaploosheid. Nuwe selfvertroue uitgewis.
Gedagtes oor alkohol het oorheers. Soos ’n virus wat my brein infiltreer het. Hunkerend na dit wat alles beter maak. Mý beter maak. Om nugter te wees het ’n stryd geword.
Niemand kan met jou saamleef nie. Drink tog asseblief weer sodat jy kan mens word.
Ek het nie weerstand gehad teen Gerrit se aanbod nie. Soberheid aksentueer die hardheid van die lewe. Ek is te sensitief daarvoor, het ek myself oortuig.
Vergewe my onmag.
Net enetjie. Ek sal dit beheer. Een glas tydens ete. Vonkelwyn met ontbyt.
Na twee weke het ek nie meer getel nie. Almal doen dit tog.
In my dogter se hartseer oë het ek die aanklag gelees. Haar ma is ’n mislukking. My seun het weggekyk. Skaamte en skuld het permanente metgeselle geword. Die skandvlek moes gesmoor word. Alkohol was die antwoord op alles. Drink om te vergeet van kinders wat die huis verlaat en vermy. Van Gerrit wat nie meer my teenwoordigheid verlang by funksies of sosiale geleenthede nie. Ook nie meer in die kamer nie. Toenadering en hande wat vasgryp, my liggaam ontneem. Geen gesprekke op die stoep meer nie. Tye weg van die huis.
’n Welwillende kredietkaart en permanent gevulde drankkabinet het die plek van hom ingeneem.
Die antwoord kom tussen die onbeskrewe plek waar die nag groet en die nuwe dag sy koms aankondig. Waar niemand nog ’n naam het nie. En die waarheid regeer.
Ek weet eintlik al lankal.
Jy het niks gewen nie. Net verloor, vermaan ’n stem in my kop.
Van alles is die verlies aan tyd die ondraaglikste.
Jy verdrink in isolasie.
Ek kan nie meer kies om nie te drink nie.
Die gang se teëls is koel onder my voete. Die spaarkamerdeur gesluit. Ek klop sag. Na ’n paar minute weer. Roep sy naam.
Hy maak die deur op ’n skrefie oop. Kom uit die kamer. Maak die deur toe. Vou die wit kamerjas styf om sy lyf. Die senuagtige bewegings is waarskynlik my verbeelding. Ek weet nie meer hoe om hom te lees nie. Dis nie sy skuld nie.
Hy vryf sy oë. Frons.
Jy hoef my nie meer te beskerm teen die waarheid nie, Gerrit. Die klad is op mý naam. Nie op joune nie. Ek besef ek het hulp nodig.
Ons kan later daaroor praat. Dis vroeg. Gaan terug bed toe. Gerrit se stem is bevelend. Ek draai gehoorsaam om.
Maak die deur oop, daag die stem my uit.
’n Gesig in die bed kyk my uitdagend aan. Die PhD-student.
Wat het jy verwag? Jy is dan permanent dronk, sê Gerrit.
My naam is Lisa.
Ek is ’n alkoholis.
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

