Robin Williams is dood – en Naomi Meyer vra vir Louis Awerbuck om te gesels oor die onderwerp waaroor baie mense dink, maar min mense praat.
Louis, Robin Williams het selfmoord gepleeg en die sosiale media gons hieroor. Waarom het spesifiek sý dood soveel aandag getrek?
Hy is bekend daarvoor dat hý óns gelukkig gemaak het, en skielik tref dit ons dat hý nie gelukkig was nie. Mens voel half skuldig! Robin Williams het regoor die wêreld 'n vorm van menslikheid, humor en deernis verteenwoordig wat ons almal graag in onsself of andere wil herken. Vir my was dit nie soseer sy humor nie, maar die hartseer in sy oë ten tye van sy humor wat my knaend sal bybly.
Tog ... hy het selfmoord gepleeg. En dis nie ’n onderwerp waaroor mense graag praat nie – of is dit net so as jy self ter sprake is dat die onderwerp doodgeswyg word? Wat dink jy?
Die samelewing is nie gemaklik daarmee om te aanvaar dat selfdood 'n wesenlike opsie is nie, en ons hou nie daarvan om kort-kort daaraan herinner te word dat hierdie ontkenning deur die realiteit weerlê word nie. Wat egter bly staan, is die feite oor hoeveel mense eintlik selfdood pleeg, of dit ten minste oorweeg. In Suid-Afrika is 11% van alle onnatuurlike sterftes in die land weens selfdood. Dit is letterlik een selfdood elke uur of uur en ’n half by ons. Die syfers weerspieël dus dat ons baie meer die dood bedink as wat ons van hou om te erken. Ek dink die kern van die ongemaklikheid lê in die implikasie dat mens self kontrole oor jou "lot" kan uitoefen, en die morele en filosofiese implikasies wat dit in effek inhou.
Jy het toegang tot baie mense se binnewêrelde. Hoe algemeen duik die onderwerp selfmoord in gesprekke op as kliënte met jou kom gesels?
Gereeld. Maar hou in gedagte dat daar 'n hoë persentasie van kliënte in privaat praktyk is met diagnoses van major depressie, en dat daar 'n sterk verband tussen depressie en selfdood is. Afgesien hiervan is dit nie abnormaal vir "normaal"-funksionerende persone om soms die dood te bedink nie, al is dit net filosofies. Kulturele en godsdienstige filters het verder sterk invloed op hoe gemaklik mense oor selfdood wil gesels, sodat kliënte soms gedagtes oor selfdood met groot huiwering en slegs in streng vertroulikheid aan my noem.
Die dood is so deel van almal van ons soos die lewe – dis onafwendbaar – maar vir die meeste van ons nie iets wat ons kies nie. Ís selfmoord egter wel ’n keuse?
Natuurlik is dit 'n keuse, omdat dit 'n opsie is net soos enigiets anders. Wat meer is, ek is oortuig daarvan dat die meeste van ons wel onder sekere omstandighede selfdood as 'n opsie sou uitoefen. Die meeste mense het grense wat hulle nie bereid is om oor te steek indien hulle 'n keuse sou hê nie. Die meeste van ons eien die stelling: "Ek sal eerder dood wees as wat ek uit eie keuse X of Y sal deurgaan of moet deurleef."
Die feit dat selfdood dan wel 'n opsie is, maak dit nie noodwendig 'n effektiewe opsie in die meeste gevalle nie. Die meeste mense wend pogings tot selfdood aan omdat hulle die persepsie het dat dit die beste of enigste opsie is wat oor is. Dit is egter selde die geval, omdat daar gewoonlik darem ander opsies is wat meer voordelig vir mens kan wees as om net stomp jou lewe te beëindig.
Wat is van die redes waarom mense oor selfmoord praat?
Deel van ons evolusie as homo sapiens behels om oor onsself te kan reflekteer, amper asof ons 'n toeskouer van onsself kan wees. Een van ons mees basiese instinkte is egter oorlewing, en ek dink ons vind dit onwerklik, onnatuurlik, maar ook fassinerend, dat ons in staat kan wees om daardie instink met 'n wilsbesluit te veto.
Dis iets anders om daaroor te praat en iets anders om dit uit te voer. Wat is van die redes waarom mense inderdaad selfmoord pleeg?
Mens moet versigtig wees om hier nie te veralgemeen nie. Wesenlik pleeg iemand gewoonlik nie selfdood omdat hy of sy wil doodgaan nie, maar eerder omdat hy of sy nie meer wil lewe nie. Daar is 'n beduidende verskil tussen die twee motiverings, wat impliseer dat mense oor die algemeen selfdood as 'n opsie kies as daar (na hulle mening) geen beter opsies meer oor is nie. Hierdie persepsie kan natuurlik deur verskeie faktore beïnvloed word, waarvan gemoedsversteurings een van die sterkste faktore is.
As hier ’n leser is wat weet daar is iemand naby aan hom/haar wat ’n moeilike tyd beleef, wat is ware selfmoord-gevaartekens? En wat kan jy as vriend(in) doen om te verhoed dat iemand selfmoord pleeg?
Swaar simptome van gemoedsversteurings, veral depressie, kan 'n goeie begin van bekommernis wees. Dit beteken natuurlik nie dat mense wat sukkel met depressie noodwendig selfdood sal aanpak nie, maar die meeste mense wat selfdood oorweeg, sukkel wel met een of ander vorm van depressie. Tekens om voor uit te kyk is individue wat onttrek van die samelewing, nie meer belangstel in genotvolle aktiwiteite nie, gereelde gedagtes het oor selfdood en die dood, en veral diegene wat al begin planne maak oor hoe om selfdood te pleeg. As mense sonder enige rede skielik hulle “aangeleenthede” of “sake” begin uitsorteer sonder enige praktiese rede, bv testamente, polisse, ens, kan dit ook aanduidend wees van risikogevalle. Ek ervaar ook dat mense wat met erge vorme van depressie sukkel, se risiko vir selfdood-gedrag toeneem in die vensterperiode wanneer hulle gemoed dalk begin ligter raak, omdat daar dan meer energie is om dit fisies te doen.
Mense wat oor die algemeen die hoogste risiko loop om selfdood te oorweeg, sluit in:
• Ouer mense wat ’n eggenoot deur die dood of egskeiding verloor het
• Mense wat voorheen selfdood probeer het
• Mense met ’n familiegeskiedenis van selfdood
• Mense wie se vriend of medewerker selfdood gepleeg het
• Mense met ’n geskiedenis van seksuele, psigiese of emosionele mishandeling
• Mense wat ongetroud, ongeletterd of werkloos is
• Mense wat weens hul werk aan geweld en trauma blootgestel word
• Mense met ’n afhanklikheidsprobleem.
Dit beteken natuurlik nie dat as iemand in bogenoemde kategorieë val, hulle selfdood sál oorweeg of pleeg nie, maar dit kan dien as aanwysings om tekens van selfdood by ons geliefdes en kennisse te kan raaksien.
Indien iets omtrent iemand se gemoed gedoen kan word, en/of daar ander, aanvaarbare opsies uitgedink kan word, kán mense terugkeer van die rand van hierdie afgrond. Ongelukkig is daar ’n sekere punt waar daar nie meer terugkeer van is nie, en dan is dit baie moeilik om iemand te keer, wat nog te sê van agterkom dat iemand op pad is om dit te doen. In sekere gevalle kan mens eintlik niks doen nie, want vele mense wat regtig wil selfdood pleeg, doen dit eenvoudig net, en agtergeblewenes kan dit dan nie sien kom nie. Die meer effektiewe manier is om nou saam te leef met mens se geliefdes en hulle eerder voorkomend te ondersteun as net in tye van krisis.
Mense bedoel dit gewoonlik goed, maar dit is belangrik om te besef dat “logiese” argumente nie vir iemand gaan help wat ernstig selfdood oorweeg nie. Ter ondersteuning gee mense gewoonlik redes waarom iemand dit nie moet doen nie, bv “jy is talentvol, het mense wat vir jou omgee”, ens. Dit mag waar wees, maar onthou dat selfdood hoofsaaklik ’n onlogiese daad is, en dus nie sommer net weggeredeneer kan word nie. Dit is goed om erkenning te gee dat selfdood wel ’n opsie is, maar dat dit tog nie kan skade doen om ander opsies te ondersoek wat nog nie vantevore bedink is nie.
As dit moontlik is vir jou as vriend(in) om die persoon by professionele hulp te kry, sou dit ideaal wees, sodat iemand se gemoed ook dadelik aandag kan kry. Sodoende kan mens iemand eers fisies stabiliseer, sodat daar energie gebruik kan word vir meer “helder” denke, of om ander opsies te bedink. Ondersteuning van familie en/of naby vriende is kernnoodsaaklik in krisistye, en die blote wete dat jy as vriend(in) beskikbaar is, kan veel meer beteken as wat mens soms besef.
My boodskap aan iemand wat selfdood wil pleeg: Dit is jou volste reg, maar sekerlik die grootste besluit wat jy tot nou toe nog bedink het. Ek is seker dat jy in die verlede belangrike besluite (bv trou, finansieel, ens) deeglik oorweeg en deurdink het, of wens dat jy het. Maak dus baie seker dat hierdie die enigste opsie is vir jou wat oorbly. Hou ook in gedagte dat jou gemoed waarskynlik baie laag is, en dat jou emosies nie stabiel is nie. Jy sou normaalweg niemand aanraai om so ’n ernstige besluit onder sulke omstandighede te neem nie, en jy hoef ook nie so haastig te wees nie – op dié stadium kan dit tog nie veel slegter gaan nie. Jy weet goed dat niemand jou eintlik kan keer as jy regtig wil nie, so wat van gee dit 'n kans met iets of iemand wat jy nog nie probeer het nie? Miskien professionele hulp? Jy het tog nie veel meer om te verloor nie.
Luister ook na die radioprogram hieronder:
Lees nog 'n onderhoud met Louis Awerbuck en Lise Swart, waar oor angs gesels word.
Kommentaar
Toe ek die derde, vierde keer die woord "selfmoord" sien, het ek opgehou lees. "Selfmoord" is 'n woord wat gerus uit Afrikaans geweer kan word en "selfmoord pleeg" laat dit klink asof iemand wat sy/haar eie lewe neem, 'n misdaad pleeg. Robin Williams het aan depressie gely. Hy was siek, nie 'n misdadiger nie.
-Volgens die jongste TV-nuusberigte het Robin Williams aan die begin van Parkinsons-siekte gely.
Die refleksie-konsep, van elke mens wat na hom/haarself kan kyk – en dis tog ‘n goeie ding, want diegene wat nie introspeksie doen nie, is gewoonlik uiters selfgesentreerd, soos kleuters wat niks wil deel nie, en hoe lyk so ‘n samelewing? – is interessant, want refleksie dui ook op elke individu as refeleksie (voorbeeld) van ‘n samelewing. Williams is ook ‘n refleksie van sy samelewing. Die Griekwastad-moordenaar is ‘n refleksie van/op sy gemeenskap daar. Pallo Jordan is ook, van sy groep teruggekeerde exiles en hulle waardes.
Goeie bespreking van gedagtegang insake selfdood, die uiterste waartoe iemand kan dryf. En raad vir die wat dit oorweeg, en die wat agterbly.