Retoer Pretoria–Provence
Marita van der Vyver
LAPA
ISBN: 9780799384796
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.
Marita van der Vyver se nuutste roman, Retoer Pretoria–Provence (2018), is die leser se retoerkaartjie na Marita se verlede in Pretoria tot haar hede in Provence. Die leser word op ’n reis geneem na haar herinneringe, opinies, drome, vrese en ervarings. Heel gepas sluit die voorblad van die roman ook aan by die tema: ’n kleurvolle foto van ’n netjies-gepakte tas, boeke en kamera opmekaar gestapel.
Jy reis saam met Van der Vyver na waar sy grootgeword het. Tot by “’n ou huis met ’n stoep en ’n heining naby die befaamde Voortrekkerweg in Boston” en waar sy skoolgegaan het “in Van der Graaffstraat, Welgemoed”. Daar waar sy onthou hoe sy in teerstrate gespeel en blikkieskos geëet het. Waar hulle “smiddae gesnyde witbrood en Chappies-kougom in die kafee op die hoek” gaan koop het (13).
Sy vertel van plekke waarheen sy as kind in Suid-Afrika gereis het. Hoe sy dinge of plekke onthou en hoe plekke verander het. In een van haar hoofstukke, “Stellenbosch is nie ’n idee nie”, beskryf sy hoe die dorp verander het sedert sy daar geswot het:
... my Stellenbosch is ’n spookdorp, ’n plek van winkeltjies en sake-ondernemings wat nie meer bestaan nie, van bouvallige studentehuise wat nou deftige hotelle geword het, van vrolike jongmense wat intussen in verdrietige oumense verander het. (25)
Haar ervarings in Provence (Frankryk) word ook telkens met tipies Suid-Afrikaanse verskynsels vergelyk. So word die leser verras met die verskynsels wat anders is, maar soms tog dieselfde:
Dit is ’n mite dat alle Franse vroue plankdun en sjiek is ... Sommige is skraal soos stokbroodjies, sommige plomp soos boerbrode. Party trek stylvol aan ... terwyl ander rondslof in wat ook al gemaklik voel. Trouens, elke keer wat ek hier op ’n dorpfees beland, tref dit my dat daar meer ooreenkomste as verskille is tussen Franse plattelanders en my eie Suid-Afrikaanse familie is. (33)
Voorbeelde van die verskille wat wel voorkom is dat die “Franse boere nie in bakkies rondry soos in Suid-Afrika nie” en dat die Franse plattelandse kinders nie weet hoe dit voel om agter op ’n bakkie te ry met jou hare in die wind nie. Volgens Van der Vyver is daar selfs ook niemand wat kaalvoet loop nie. (35)
Daar word ook geskryf en vertel oor andershede wat sy liefs dieselfde as Suid-Afrika sou verkies het. Die ongerief van kragonderbrekings sonder beurtkrag, stakings in Provence, die onbekostigbaarheid van pampoene, tot petrol en die afwesigheid van gradeplegthede en matriekafskeide (37, 42–3). Oor hierdie andershede word daar wel nie gekla nie, maar met ’n Suid-Afrikaanse humorsin aan die leser oorvertel.
Ander verskynsels wat jy in die roman sal vind, is ’n brief wat Van der Vyver aan haar dogter vir haar 16de verjaarsdag geskryf het. Van prinse wat kom of nie kom nie (59). Die leser sal ook lees van haar kinders en hul maats se vreemde dog interessante eetgewoontes en van ’n keer wat sy wasmasjiengeld gebruik het om eerder ’n skildery tydens Woordfees te koop: “Jy kan maar sê my naam was op daardie skildery geskryf. Die aand bel ek my man om beskaamd te bieg dat ek skoonheid bo skoon klere gekies het” (99–100).
Van der Vyver se roman bestaan uit vele meer soortgelyke en ander kortverhale, meestal net twee bladsye, soms langer. Geskryf in die eerste persoon, die taalgebruik lewendig en aktief. Elke nou en dan syfer daar tog ook elemente van sprokies deur, iets waarvoor Van der Vyver goed bekend is.
Ten slotte, alhoewel Marita van der Vyver se roman as haar memoires misverstaan kan word, verseker sy die leser dat dit beslis nie dit is nie. “Daarvoor voel ek steeds te jonk,” skryf sy (7). Dit lyk wel of ons haar outobiografie tog in die toekoms, eendag, te wagte kan wees. Tot dan sal ons in spanning wag.