Hermann Giliomee en Die laaste Afrikanerleiers

  • 0

Buite die ingang na ’n saal op Oude Libertas buite Stellenbosch wag Hermann Giliomee geduldig. Vanaand vind die bekendstelling van sy sestiende boek, Die laaste Afrikanerleiers, in dié lokaal plaas. Rustig glimlag hy, regterhand uitgestrek om die nuuskieriges, die bekendes en dié met notaboeke en spertye welkom te heet soos hulle in hul getalle arriveer.

Daar is reeds omstredenheid oor die inhoud van dié boek – vernaam oor die "herinterpretasie" van Hendrik Verwoerd wat beklemtoon word en die gewraakte stelsel van sogenaamde Bantoe-onderwys wat hy daargestel het.

Die wyn vloei en die skril geklink van glase slaan uit bo die gemoedelike rumoer van die teenwoordiges. Gou is dit tyd om sitplek in te neem. Elke stoel is volgesit. ’n Goeie persentasie van die gehoor sou reeds klaar gewees het met hul skoolopvoeding teen die tyd dat Verwoerd in 1958 as eerste minister van Suid-Afrika aan bewind gekom het.

"I still don't understand Verwoerd," beken Giliomee aan sy gespreksgenoot op die verhoog, die oud-DA-leier Tony Leon. "He keeps eluding me."


Foto: Henry Cloete

Leon verwys na die sluipmoord op Verwoerd en die man wat die leisels oorgeneem het: John Vorster, wat ook in die boek bespreek word. "Vorster had 12 years, according to you, to do something, yet he actually did very little," merk Leon op.

"Ja, it's a great disappointment ... He's almost the most likeable of the four [NP leaders discussed in the book]. He was ..." ’n Oomblik oorweeg Giliomee oënskynlik sy opsies. Die bekende stryder teen onder meer die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid huiwer nie lank nie. " ... ’n vlees-en-bloed mens," voltooi hy die opmerking.

*

Die oggend voor die bekendstelling sit Giliomee in ’n gemakstoel in die sitkamer van sy huis in die woonbuurt Dalsig op dieselfde dorp. ’n Klipgooi in die een rigting lê die gebou van die NG Gemeente Welgelegen. In die ander rigting, af met die bult, die Engelse Rhenish Primary.


Giliomee in sy tuin. Foto: Henry Cloete

Die ooreenkoms tussen Solidariteit, TLU-SA en die ANC wat bereik is dat die lied “Dubhula Ibhunu” (“Skiet die boer”) nie meer gesing sal word nie, oorheers vanmôre Die Burger se voorblad. "Dit is ’n goeie ooreenkoms," merk Giliomee op. "Daar moet nie toegelaat word dat daar sulke goed oor jou gesê word nie ... Woorde het gevolge."

Hy's nie seker waarom daar soms sulke skerp kritiek voorkom teen verenigings soos Solidariteit en die take waarmee hulle hul bemoei nie.

Wel, waag ek, my portuurgroep identifiseer grootliks nie met die ideologie wat groepe soos Solidariteit, Afriforum en die VF+ aanhang nie. Ons ingroepe lyk anders.

Hy knik en glimlag – nie instemmend nie, eerder met die aanduiding dat dié sentiment nie vir hom onbekend is nie. "Die Afrikaners woon in twee lande," sê hy. "Die noorde en die suide ..."

Oor dié stelling sal daar uitgebrei word. Maar eers die trotse erkenning: "Ek is darem vir die WP, nie die Bulle nie! Ek het vir drie jaar in Pretoria rugby gespeel ... Dit is vreesaanjaend as jy nie aan die skare se kant is nie, as jy aan die verkeerde kant van ’n losskrum beland." Sy rugbyloopbaan in die eerste liga in Pretoria was tot die jaar 1964 beperk. Haker was sy posisie, "al was ek eintlik te lank vir ’n haker, te stadig vir ’n flank en te kort vir ’n slot."

Dít was bykans 50 jaar gelede. Nou is hy die geskiedenisprofessor met die kenmerkende deurmekaar, wit hare, alombekend vir veral sy gevierde boek Die Afrikaners – ’n biografie, welbewus dat sy jongste boek nie sonder omstredenheid sal wees nie.

"Van my béste akademiese vriende sê vir my: 'Waarom lol jy nou met Verwoerd'!" lag hy. Dan, meer ernstig, ’n aanhaling wat hy later sal herhaal: "Om om verskoning te vra, is makliker as om te verduidelik."


Die jong Stellenbosse dosent Hendrik Verwoerd en sy vrou, Betsie, in 1928.
Foto: Verwoerd-familie-argief

Dít was die doel met hierdie boek, beklemtoon hy. ’n Herinterpretasie. Op die agterblad van die boek staan die woorde immers: "Eerder as om te veroordeel probeer Giliomee verstaan waarom die laaste Afrikanerleiers opgetree het soos hulle het, en hoekom hul eie beleid hulle uiteindelik in die steek gelaat het."

"Hy het geglo dat indien hy reg beplan, kan hy etniese konflik vermy," sê hy oor Verwoerd. "Toe hy ’n professor was by Stellenbosch, het hy reeds betrokke geraak by die armblanke-kwessie. In Johannesburg het hy armoede en die misdaadprobleem aangespreek – groot getalle verhongerde mense het na Johannesburg gestroom. Hy het gesê hulle moet teruggaan na die tuislande en dat werk dáár vir hulle geskep moet word.

"Hy het ook gesê Suid-Afrika is besig om ’n moderne ekonomie te word en dat die staat ’n onderrigstelsel moes instel sodat die swart werkers ten minste kon tel. Binne enkele jare het die getal swartes op skool van driekwartmiljoen tot oor die twee miljoen gestyg. Dit was die sogenaamde Bantoe-onderwys wat die Anglofiliese ANC-elite so gehaat het.

"Ons in Suid-Afrika is die laaste veertig, vyftig jaar in ’n helse propagandastryd. Die ANC was baie goed met propaganda ... Bantoe-onderwys is beskou as ’n manier om swartes te onderdruk, maar die leerplanne was basies dieselfde. Die geloof is steeds dat Bantoe-onderwys die boosste ding is wat Verwoerd gedoen het."

Terwyl hy praat, begin ek wonder of die grens tussen verduideliking en verdediging nie aan't vervaag is nie. Tog, ’n oomblik later: "Dit is een van die groot tragedies van Suid-Afrika – as daar gepraat is oor wit en swart en verstedeliking, is die swart bevolking in die stede politiesuitgesluit. Dit was ’n absurde, dom besluit!


’n Skare ANC-ondersteuners betoog by Boipatong net ná 17 Junie 1992 toe
Inkatha-gesinde hostelbewoners 45 mense in die township vermoor het.
Nelson Mandela het die regering van moord beskuldig en die ANC uit van die
onderhandelinge onttrek. Dit het egter agterna geblyk dat die polisie nie betrokke
was nie en dat die ANC reeds in die eerste of tweede week van Mei besluit het om van die
Kodesa-onderhandelinge te onttrek omdat hy ingehok gevoel het.
Foto: Greg Marinovich/Sygma/Corbis

"Die NP kon nooit buite hulself staan en sê: 'Maar hierdie ding kán mos nie werk nie' ... Die tuislandbeleid laat my wonder hoe kon die party so lank hieraan vasgeklou het."

Volgens Giliomee het baie Afrikaners al in die vroeë 1970's besef apartheid soos dit uitgespel is, kan nie werk nie. Dit was Afrikaner-elite (professionele mense, senior staatsamptenare en akademici), eerder as die gewone mense, wat die tuislandbeleid bly aanhang het.

"Maar daar was hoegenaamd geen steun, ook onder die Engelse, daarvoor dat al die mag in ’n meerderheidsregeringaan die swart bevolking gegee word nie. In 1994 was seker 90 persent van wit mense daarteen.

“Hoe het dit [die oordrag van mag] dan gebeur?"


4 Augustus 1985. Die Suid-Afrikaanse president, PW Botha, net ná die belangwekkende
Ou Sterrewag-vergadering waar sy kabinet onder die indruk was dat hy ingestem het
tot radikale hervormings, en twaalf dae voor sy rampspoedige Rubikon-toespraak.
Foto: Gallo Images/Media24-argief

Hy tel ’n kopie van die boek op en slaan dit oop by die middelblaaie, waar enkele foto's gepubliseer is. By die relevante gedeelte is twee foto's op die bladsy links: FW de Klerk en Pik Botha bo, FW de Klerk en Nelson Mandela onder. Op regterhand is ’n afdruk van ’n advertensie wat die NP op 16 Maart 1992 in die Afrikaanse pers geplaas het. "As jy bang is vir meerderheidsregering stem 'Ja'," lui die opskrif van die advertensie. Vlugtige, enkele besonderhede is geplaas oor onderhandelinge tydens Kodesa. "Ons opponente het geëis ..."; " ... kan ons doen wat die Rhodesiërs [Rhodesië is toe lankal herdoop tot Zimbabwe] nie gedoen het nie – uit ’n posisie van krag onderhandel ..."; "ons en andere was onwrikbaar" is die soort terminologie wat gebruik is. Dit is dié advertensie waarna hy wys. "Die NP het nie oop kaarte met die kiesers gespeel in 1992 nie. Nóg die NP se kieserskorps, nóg die ANC s’n het geweet presies wat die skikkings is."

Volgens Giliomee het Tertius Delport, destyds hoofonderhandelaar by Kodesa 2, in die laaste dae van onderhandelings vir FW de Klerk "aan die lapelle" gegryp. "Wat het jy gedoen! Jy het die land weggegee!" het Delport glo vir De Klerk toegesnou. Die storie is al in Patti Waldmeir se boek The Anatomy of a Miracle (1997) opgeneem, maar Tertius Delport het onlangs dié verhaal weer self aan Giliomee oorgedra tydens laasgenoemde se navorsing vir die boek. Dit is glad aan die breë publiek bekend nie en hy vertel dit met kwalik bedekte opgewondenheid.

“FW en Roelf was so na aan mekaar ... Mense vra soms, waarom is Pik nie gebruik nie?"

Hy lag. "Pik sou waarskynlik nie al dieinstruksies van FW gevat het nie ..."

In ’n artikel op Politicsweb het Giliomee onlangs opgemerk: "There is an eerie parallel between the NP and the ANC government: the people in power believed that the system on top of which they sat was working and needed only minor modifications. As in the case of the NP after the mid-1980s the ANC leadership will soon find the ground under their feet shifting and crumbling."

Kan hy uitbrei oor die parallelle tussen die NP- en ANC-regering?

"Dit was sommer ’n throwaway comment," lag hy dit eers af. "Maar daar's ’n morele appèl vir ’n goeie balans tussen die meerderheid en die minderheid. Wanneer sekere groepeuit die politieke mag gelaat word, word daar nie na hul belange omgesien nie." Hy wys op ’n sêding wat die ronde gedoen het vóór 1994 en volgens hom nou weer van toepassing is: "Suid-Afrika sal tot rasionaliteit kom ná ons alles anders probeer het."

Hy is van mening dat die eerste stap vir ’n alternatief tot die huidige situasie ("Die land is in ’n ernstige krisis en gaan nie ditself korrigeer nie") is vir die regering om opposisiepartye se verteenwoordigers in die kabinet te kry. "Daar moet dringend teruggekeer word na ’n regering van nasionale eenheid." Hy plaas sy hande agter sy kop, leun terug. "Maar nou is ek way out!"

Is die teenwoordigheid van Pieter Mulder van die VF+ in die kabinet as adjunkminister van landbou moontlik só ’n voorbeeld? Hy knik. "Dit is ’n goeie ding wat Zuma gedoen het. Mulder kritiseer die ANC wanneer dit nodig is, veral wat landbou betref."

Is Mulder egter werklik die vergestalting van die verteenwoordiging van Afrikaners in die kabinet waarmee die breër bevolking gemaklik sou wees? wonder ek hardop. Selfs van binne die VF+ was daar plek-plek ongelukkigheid oor sy aanvaarding van die pos, vernaam onder die jeug (die destydse jeugleier van die VF+, Cornelius Jansen van Rensburg, is immers geskors weens sy kritiek op dié verwikkeling).

Noord en suid, word daar weer op gewys. Die Afrikaners is ’n "moeilike klomp om te lei," merk Giliomee op. "President Steyn het in 1911 gesê om die Afrikaners te lei, is soos om ’n klomp hoenders aan te jaag."

Veral die Afrikaners in die weste is "totaal ongeorganiseerd", meen hy. "Die noorde is baie meer republikeins in terme van verteenwoordiging van die gemeenskap, omdat die Afrikaners daar ’n kleiner, opvallende minderheid is. In die Kaap is daar die selfingenome gedagte van 'having arrived' ... Hier smelt almal saam, maar staan nie regtig sterk vir enigiets nie."

Die kwessie van Stellenbosch en die taaldebat duik weer op, soos ’n refrein. Dit is ’n simptoom van daardie "selfingenome" gedagte wat in die Kaap heers, meen hy. "Die US kyk eerste na die behoeftes van dosente, dán na studente. Die kliënte se behoeftes moet tog eerste kom. Wat met Stellenbosch gebeur ... is taalkundig en opvoedkundigtotaal ondeurdag."

*

In die saal op Oude Libertas klets Leon en Giliomee steeds oor Vorster. "Hy was iemand wat graag skaak gespeel het," vertel Giliomee, "maar die interessante ding is dat hy nooit gespeel het om te wen nie; hy wou net nooit in skaak gesit word nie."

Die stories vloei so gemaklik soos dit moontlik kan in ’n uur lange gesprek tussen ’n geskiedkundige en ’n politikus. Die rampspoedige Rubikon-toespraak van PW Botha is voorafgegaan deur ’n beroerte en dié nuus is toegesmeer, vertel Giliomee. Einste PW "was die ou wat aangedring het dat ons die kommuniste op hul plek moet gaan sit. Hy het ’n klomp mense gestuur om glo waterstasies te gaan beveilig – dit was net ’n voorwendsel om in die suide van Angola in te kom ...Maar dit was ook PW wat in 1984 twee topmanne van Nasionale Intelligensie gestuur het om in Europa met die Russe te onderhandel oor ’n skikking tussen Pretoria en Moskou oor hul belange in Suider-Afrika."

In die middel van een van dié stories onderbreek Giliomee homself. Hy lag effens en haal ’n stukkie Jan Smuts-wysheid uit 1948 aan: " In South Africa the best, or the worst, never happens."


Hermann Giliomee, Tony Leon en die uitgewer Erika Oosthuysen by die
boekbekendstelling op Oude Libertas. Foto: Henry Cloete

Klik hier om Die Laaste Afrikanerleiers te koop by Kalahari.com.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top