Herinneringe aan doktor PG

  • 1

Ek het “dr Du Plessis” vir die eerste keer ontmoet toe ek in 1971 as verwilderde vlugteling uit die onderwys, met my nuutverowerde Kovsies BA Honneursgraad onder my arm, vir ’n werksonderhoud opgedaag het by die RGN se destydse Instituut vir Taal, Lettere en Kuns, waarvan hy op daardie stadium nog die direkteur was.

Die skrywer PG du Plessis was op daardie stadium nog nie die alombeminde TV-persoonlikheid van later nie, maar hy was reeds ’n gerekende dramaturg in die Transvaal en flink besig om ons teater te help plooi en tot nuwe wasdom te bring met sy aangrypende verhoogwerke. Met sy fyn empatie met sy mense, sy geniale vertelvermoëns en sy groeiende praktiese insig in die vereistes van gehore en die verhoog was hy in vele opsigte die regte man op die regte tyd. Om die waarheid te sê, die felle debatte rondom die Hertzogprys vir drama was toe reeds aan die opbou en sy naam het al meer voor op die lys begin staan, al het nie almal mooi verstaan waar om hom te plaas nie. Daardie populêre styl en die “kru” taal byvoorbeeld het erg gepla.

Daar is in die afgelope rukkie al baie oor hom gesê en daar is uit talle hoeke geskryf oor sy skryfwerk. Ek self het onlangs weer met groot waardering gepraat oor die mate waarin ’n teks soos Siener in die suburbs die Afrikaanse teater byna eensklaps uit die relatief stille, amper gemeenplasige, waters van die 1950’s en die soekende 1960’s geruk het tot midde in die openbare oog en dit terselfdertyd reggekry het om die aard van ons verhoogtaal onmeetbaar te verruim en te bevry. Sy gewilde werke het die verhoog aangebied as ʼn vermaaklike, aangrypende wyse van byderwetse storievertelling en besinning oor die lewe – nes sy Koöperasiestories ’n wyle later met TV sou maak.

Maar my huidige gevoel is om iets meer persoonliks te wil sê, iets oor die charismatiese mens wat ek tydens daardie vreemde, eiesoortige onderhoud in die SA Landbou-Unie-gebou in Pretoria ontmoet het en met wie ek vir so ’n aantal jare saam gewerk en gekuier het, ook as nabye bure in die oostelike voorstede van Pretoria. Ek self was natuurlik op daardie stadium totaal onbewus van bogenoemde feite, want ek het niks van die skrywer PG geweet nie (van die Vrystaat sien ... en het boonop Engels en Latyn geswot) en my fokus was dus suiwer op die komende onderhoud met twee persone wat ek as mnr Prinsloo en dr Du Plessis geken het. Dit vir ’n pos as navorser in taal by die RGN. Terwyl ek daar so snaargespanne sit en wag het om ondervra te word, val my oog egter op drie groot plakkate wat teen die mure van sy kantoor pryk: Nag van Legio, Mattewis en Meraai en Siener in die Suburbs ... al drie geskryf deur “PG du Plessis” – en my asem slaan weg soos die skokbesef gaandeweg op my neerdaal: ons het pas ’n tyd gelede juis Mattewis en Meraai in die Bloemfonteinse Stadskouburg gehad – ek was nog voorhuisbestuurder vir die opvoering – en hier sit ek by die skrywer.

My kop in ’n war het ek dit op een of ander manier reggekry om die man in die oë te kon kyk en deur die onderhoud te strompel. Eintlik was dit ’n uiters gemoedelike proses, al was die prosedure soos geen ander wat ek nog ooit beleef het nie – want dit was eintlik maar net ’n wydlopende gesprek oor verskeie sake – insluitend dr Du Plessis se aankoop van ’n nuwe motor – en ’n paar kort los vrae wat gou genoeg my beperkings as voornemende sosiolinguis blootgestel het (byvoorbeeld: “Weet jy iets van sosiolionguistiek?” Nee. “Is jy bereid om te leer?” Ja). Kort daarna is ek tot my totale verstomming aangestel .

En so begin vir my ’n genotvolle en langtermyn mentorsverhouding met een van die interessantste mense wat ek nog ooit mee te doen gehad het – ’n verhouding wat my lewe indringend sou verander en help rigting gee oor al die jare. Dit het op vele vlakke gefunksioneer – van basiese lesse in skryn- en bouwerk in sy werkswinkel (hoe om ’n klipmuur te bou, hoe om ’n hek te sweis en hang), raad oor huiskoop, die genot van ’n lekker maaltyd optower, die skryf (en voltooi!) van ’n tesis of ’n opvoerbare drama, tot die bekoring van die geskiedenis, die aanloklikheid van die mistieke en die vreemde weë van die akademie. Sulke gesprekke het in brokstukke plaasgevind, en op vreemde plekke soms – soos in sy werkswinkel terwyl ek hom met ’n houtwerkprojek gehelp het, wanneer ek en Karina by hom en Marie ingeloer het na ons aandwandeling langs die Moreletta-spruit, tydens teetye in die instituut wanneer almal hulle stoele nader getrek het om te luister wat PG nou weer te vertelle het, met ons periodieke koffiegesprekke oor middagete in die Pretoria-middestad, of terwyl ons die halfuur lange rit uit na Meyerspark deurmaak , die kere wat hy my die busrit gespaar en ’n geleentheid huis toe aangebied het. Almal prikkelende gesprekke wat losweg oor al die vermaaklike en onverklaarbare dinge van ons ou wêreld gaan: oor skryf, oor sport, oor romans, oor menslike verhoudings, oor die teater en teatermakers, oor sy idees vir werk in wording wat hy so liggies op my uittoets, oor my donker vertwyfelinge oor my eie werk, wat hy nie verwerp nie maar probeer rigting gee het. En so deel hy enkele van sy unieke insigte en idees oor die lewe, in al sy skakerings van goed en sleg, mooi en minder mooi, tragies en snaaks met my, mededelings wat my deurgaans verstom en geïnspireer het.

Dit is al menigmaal genoem, maar PG se kenmerkendste eienskappe het gespruit uit ’n merkwaardige positiewe geestesinstelling: sy diepe deernis vir mense, sy liefde vir Afrikaans, sy asemrowende kommunikasievaardighede (beide wat luister en gesels betref) en veral daardie wonderbaarlike slag om sy idees om te wentel tot ’n boeiende narratief, om dit as ’n storie te aan jou oor te dra. Want in alles wat hy gedoen het, was die vertelling immers die kern van sy kunstenaarskap – dít was sy groot oorkoepelende talent: om ’n storie te kan formuleer en dan self onderhoudend te kan vertel. En, anders as by soveel ander kreatiewe mense, maak dit regtig nie saak wat die betrokke tema of medium was nie – hy het hulle almal met gemak bemeester en op een of ander unieke wyse sy eie gemaak.

By die RGN het ek gou agtergekom dat die rol van ’n direkteur van ’n formeelgesinde staatsgekoppelde instituut nie gemaklik op sy skouers gerus het nie, en dat hy werklik nie gemaak was vir die soort staatsdiensmentaliteit wat toe vry algemeen voorgekom het in die nuutgestigte RGN nie. Sy aanslag as administratiewe hoof van die instituut was dus buitengewoon informeel, warm en verwelkomend, al het daardie soort laissez-faire-benadering baie van die ouer werknemers uit die burodae ’n bietjie onthuts. Maar dit het ons jongeres, wat, nes hy, van buite die staatsbestel aangekom het, geweldig bemagtig laat voel. Daardie was ander tye, natuurlik ... tye van kreatiewe vryheid, selfs in die wetenskap , voor die akademie geregimenteer is en ons almal so onverbiddelik in vandag se publiseer-of-vrek-drukgang ingeprop is. Maar vir hom was dit ook die tyd van ’n aantal nuwe dramas (Plaston: DNS Kind, ’n Seder val in Waterkloof, Vereeniging, Vereeniging) en die groot stappe na nasionale faam wat mettertyd met die TV-aanbiedings PG gesels met … en Spies en Plessie edm sou volg. En so beweeg hy aan, pers toe, TV toe, filmwêreld toe, en uiteindelik plaas toe ... terwyl ek Stellenbosch se kant toe trek om my aan die akademie, die Kaapse teater en die verbysterende omvang van ons teatergeskiedenis te wy.

Ons ontmoet daarna, soos die wêreld nou maar eenmaal is, slegs van tyd tot tyd, by openingsaande, feeste en ander soortgelyke geleenthede – en natuurlik, soos die res van die land se mense, beleef ek hom indirek, in sy menigte gedaantes: op skrif, op die verhoog, radio en TV. Maar méér nog, ’n fluisterende teenwoordigheid in my gees, oral waar ek in my doen en late met woorde en vertolkings omgaan.

 Op ’n dag toe ek, hy en ons vriend Jan Vorster nogeens koffiewinkel toe stap vir ’n lafenissie, het ’n glimlaggende man hom sommer daar op straat luidrugtig gegroet met ’n “Haai daar, Ou PG!” Met daardie skewe, skalkse glimlag van hom merk hy toe op dat dit nou maar een ding van TV is: mense sien jou op die skerm, daar by hulle in hulle voorhuis, en so dink hulle aan jou as hulle boesemvriend. Dit het hom nie verbaas of gepla nie, net besonderlik geïnteresseer ...

Pieter, ons het sekerlik almal ons eie persoonlike redes waarom ons onse “Ou PG” geweldig gaan mis, maar die verlies word miskien net so effens versag deur die wete dat ons die skatte van herinnering, klein en groot, en van die kosbare nalatenskap van vertellings, steeds by ons sal hê.

  • Foto van PG du Plessis deur Annemarie Wichmann
  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Johan Esterhuizen

    Pragtig gestel, Temple. Net een slag self ontmoet - tydens 'n ''Sederval''-repitisie - maar onthou hoe lekker PG, Pieter Fourie en die nimlike Nerina saam gekuier't ... wie sou nie! Dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top