Herbesoek aan Afrikaanse klemtoon: Is dit (nog) ’n inisiëleklemtoontaal?

  • 0

Herbesoek aan Afrikaanse klemtoon: Is dit (nog) ’n inisiëleklemtoontaal?

Daan Wissing, Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT®), Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus)

LitNet Akademies Jaargang 16(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Afrikaans word soms nog getipeer as ’n inisiëleklemtoontaal, soos wat die geval was met Oudgermaans, en trouens vandag nog tot ’n groot mate met Engels. De Stadler (1981) en Combrink en De Stadler (1987) verdedig hierdie siening, terwyl Wissing (1987, 1988, 1989) ’n saak daarvoor uitmaak dat die posisie van klemtoon van agter af in woorde gesoek moet word. In hierdie artikel word ’n verfynde hoofklemtoonreël ontwikkel en aan die hand van meer uitgebreide spraakdata gemotiveer dat hierdie tipering, van Afrikaans as inisiëleklemtoontaal, onvanpas is. Spesiale klem word gelê op ’n reeks multisillabiese woorde; iets wat tot dusver nog nie gedoen is nie.

Nadat linguistiese klemtoon, en die akoestiese eienskappe daarvan, belig is, is ’n hoofklemtoonreël (HKR) geformuleer. Uitgaande hiervan is die affiniteit vir klemtoon vir eindposisie in simplekse woorde ten koste van historiese beginklemtoon geïllustreer. ’n Tipiese voorbeeld hiervan is hóspitaal wat in Afrikaans besig is om hospitáál te word. In hierdie kategorie word ook die sterk neiging uitgewys om die agtervoegsel -us te beklemtoon, soos in tégnikus wat tans meestal tegnikús word. Voorts word dié voorkeur vir klemtoon so na moontlik aan agter in woorde uitgewys. Plekname vorm ’n interessante tipe woord wat klemtoonposisie betref. In sommige Afrikaanse plekname, soos Postmasburg, is ’n duidelike neiging gevind dat die klem ook na agter verskuif. Dit gebeur kennelik in baie gevalle waar sodanige samegestelde woorde of name hulle aanvanklike status as samestellings verloor, sodat dié finale stuk nie (meer) ’n letterlike betekenis het nie, maar deel vorm van ’n nuwe simplekse woord. Tweedens bied die plek- en persoonsname uit Suid-Afrikaanse Afrikatale materiaal waaraan die HKR getoets kan word. Hierdie eiename is dikwels langer as twee sillabes, en bied dus ’n ryke bron van simplekse woorde waaraan toetsing gedoen kan word. Omdat hierdie tale nie gekenmerk word deur linguistiese klemtoon nie (vgl. Cole 1955), kan dit nie gesê word dat klemplasing in eiename wat deur Afrikaanssprekendes uitgespreek word, direk oorgeneem word nie. Gevolglik is dit duidelik dat die bestaande Afrikaanse klemtoonpatrone in sulke gevalle toegepas moet word. Dit word duidelik aangetoon dat die HKR oorheers, wat neerkom op ’n trogeïese metriese patroon. Tensy dit spesifiek nodig is, word verderaan na hierdie patroon bloot as [ / ∪ ] verwys.

In ’n reeks ander gevalle word aangetoon dat die trogeïese verstekpatroon óf gehandhaaf word óf geskep word. Sulke gevalle sluit in die uitbreiding van eiename, reduplikasies, die vorming van meervoude, morfologiese uitbreiding, asook die spesiale kategorie van nonleksikale vorme, soos nonsensvorme, asook syfer- en lettername.

Waar doenlik is gebruik gemaak van spraakdatabasisse, soos veral uit uitsendings van die RSG-radiostasie saamgestel.

Trefwoorde: eiename; hoofklemtoonreël; klemverskuiwing; lettername; meervoudsvorme; morfologiese uitbreiding; nonsensvorme; reduplikasies; RSG-spraakdata; simplekse; syfername; trogeïese metrum

 

Abstract

Revisiting stress in Afrikaans: is it (still) a stress-initial language?

In this article the claim is made, on the basis of an extensive investigation of the nature and appearance of primary stress, that Afrikaans cannot, contrary to what is often claimed elsewhere, be characterised as a stress-initial language. There is thus a clear move away from typical Germanic, of which English is a good example. In English, primary stress, in words such as minister and general, falls on the first syllable, while this is not the case in Afrikaans: in Afrikaans minister the stress falls on the second syllable, while in generaal it falls on the final syllable. In support of this general claim, and on the basis of extensive speech data and in relation to different kinds of words, a more accurate primary-stress rule for Afrikaans is developed.

The data sets used were collected through recordings of a number of RSG (Radio Sonder Grense, the Afrikaans channel of the South African Broadcasting Corporation, or SABC) broadcasts. In total there were more than 14 hours of news bulletins, read by 33 male and 21 female speakers. These recordings were collected over two time periods: 2000–2006 and 2017. In addition, a smaller set of weather reports was also recorded, in this case consisting of approximately a half-hour of data, read by six male and three female presenters. Afterwards, the collected data was first annotated and segmented in terms of phonetic segments, using a program developed by D.R. van Niekerk (also see Van Niekerk and Barnard 2009). The output was then analysed in Praat (Boersma and Weenink 2017). Using a specially designed search engine, all relevant words were easily isolated and closely examined in terms of those visual and acoustic characteristics relevant to primary stress. These characteristics were basic pitch (F0), intensity (decibel) and duration (the length of the vowel). Less important, but still relevant, was the quality of the relevant vowel (vowel-formant frequencies). Generally, an investigation of a combination of these characteristics provided a reasonable indication of primary stress.

The category of proper nouns – more specifically, here, place names and personal names – forms an interesting focus concerning the determination of stress position. With Afrikaans place names such as Postmasburg we find an increased tendency for stress to occur towards the end of the word. This occurs particularly in those many cases where the relevant word has lost its original status as a compound, as a result of which the final component has lost its original literal meaning and, instead, forms an integral part of a new simplex word. Furthermore, place names and personal names originating from South African African languages provide a unique data set for testing the stress rule of Afrikaans. Proper nouns provide fertile ground for the study of stress placement, regardless of whether they are genuine Afrikaans words or borrowed from indigenous African languages, e.g. names from the Sotho and Nguni languages. The manner in which the pronunciation of personal names is adapted to the stress patterns of the relevant language, especially those names which are multisyllabic, can often serve as a valuable form of support for establishing the correctness of proposed stress rules, as confirmed, for example, by Neijt & Zonneveld (1982) and Kager (1989). These personal names are generally longer than two syllables and therefore serve as a unique sources of simplex words for this purpose. Because the African languages are not characterised by lexical stress (see Cole 1995), it cannot be said that the placement of stress in Afrikaans has been taken over directly from the African languages concerned when the names are used by speakers of Afrikaans. Accordingly, it is clear that in such cases it is the Afrikaans stress pattern that is being applied. The results indicate clearly that in such cases the new stress rule applies, which comes down to the use of a trochaic pattern ([ / ∪ ]). In proper nouns of an African-language origin, such as the personal names Madonséla and Ramaphósa, as well as in place names such as Amanzimtóti, we find a clear preference for the trochaic pattern. Other examples which belong in this category – and many more could easily be provided – are Bophuthatswána, Dikholólo, Ekhuruléni, Thabazímbi and Umbongintwíni – all of which, independently of word length or syllable structure, display penultimate stress.

Thus in many constructed place names we find a strong tendency to place the stress towards the end of the word. In such cases we could make the more general claim that initial position is, in fact, avoided. In normal compounds the initial segment is stressed, as in bádwater, driéhoek and vérekussing. When, on the other hand, we find that in place names the final segment appropriates stress, we can reasonably ascribe this to the fact that the original constituent segments have lost (or have begun to lose) their original meanings and thus also their status as separate constituents, as part of the more general process of the compound’s gaining, or having gained, monomorphemic status. Such examples include Bettiesbaai, Soutpansberg, Postmasburg, Vredendal, Krugersdorp, Ventersdorp, Olifantshoek, Aasvoëlkop, Daniëlskuil, Barberspan, Vanderbylpark, Maselspoort, Witwatersrand, Odendaalsrus, Bronkhorstspruit, Tarkastad and Potchefstroom. A few examples also exist where the final constituent is multisyllabic, such as in Putsonderwater. Here we generally find penultimate stress, mainly because the final syllable -er is in theory unstressable due to the presence of the reduced schwa. An interesting and probably quite recent shift towards word-final position is also found in derived words such as akademikús, medikús and tegnikús. While most reference sources still indicate non-final stress for these words – thus médikus and akadémikus – this pattern is seldom found in the standard speech databases or in contemporary normal, conversational Afrikaans.

Keywords: letter names; morphological extension; nonsense forms; number names; plural forms; primary-stress rule; proper nouns; reduplications; RSG speech data; simplex words; stress-shift; trochaic meter

 

1. Inleiding

Die posisie van hoofklem in Afrikaanse simplekse1 woorde is al uitvoerig binne verskillende teoretiese raamwerke ondersoek en beskryf, byvoorbeeld deur Le Roux en Pienaar (1927); Lee (1963); Wissing (1971); De Stadler (1981); Combrink en De Stadler (1987); De Villiers en Ponelis (1987); Wissing (1987); Lubbe (1993); Wissing (1988, 1989, 1991, 2017). Sodanige raamwerke sluit in dié van die tradisionele taksonomies-beskrywende taalkunde (hoofsaaklik tot 1965), asook die generatiewe en die metriese fonologie, eersgenoemde veral in Wissing (1971), en laasgenoemde in die geskrifte van Lubbe. Die uitvoerige aanlyn beskrywing in die Taalportaalprojek (www.taalportaal.org) is ’n oorsigtelike beskrywing van klemtoon van simplekse Afrikaanse woorde. Daardie projek het as doel die konstruksie van ’n omvattende en gesaghebbende wetenskaplike grammatika van Nederlands, Fries en Afrikaans, en word nie streng binne ’n bepaalde teoretiese raamwerk aangebied nie. In soverre verwys word na die jambiese en veral trogeïese versvoete, is daar wel raakpunte met die metriese fonologie.

Voordat oorgegaan word tot ’n oorsig van die hoofklemreël, wat ’n noodsaaklike agtergrond is hiervoor, word kortliks ingegaan op die akoestiese en persepsie-eienskappe van die verskynsel klemtoon oor die algemeen. Eers word die metode uiteengesit wat in hierdie ondersoek gebruik is.

 

2. Metode

Afgesien van literatuurondersoeke wat betref ’n oorsig oor die tema en versameling van voorbeelde is hier hoofsaaklik gebruik gemaak van ’n datagebaseerde metode. Die datastelle wat gebruik is, is versamel deur opnames van RSG- (Radio Sonder Grense-) uitsendings te maak. In totaal was meer as 14 uur (14:26:22) van nuusberigte, gelees deur 33 manlike en 21 vroulike sprekers, beskikbaar. Hierdie opnames is in twee tydperke versamel (2000–2006; 2017). Verder is ’n kleiner stel weerberigte ook opgeneem, bestaande uit ongeveer ’n halfuur (0:31:47), gelees deur ses manlike en drie vroulike aanbieders. Daarna is die versamelde woorde eers per klanksegment geannoteer en gesegmenteer, en wel deur gebruik te maak van ’n program wat ontwikkel is deur D.R. van Niekerk (vgl. ook Van Niekerk en Barnard 2009). Die resultaat is toe ingetrek in Praat (Boersma en Weenink 2017). Met behulp van ’n spesiale soekenjin kon alle toepaslike woorde gemaklik hieruit onttrek word, waarna dit noukeurig ondersoek kon word ten opsigte van die visuele en akoestiese eienskappe wat relevant is vir hoofklemtoon. Hierdie eienskappe is grondtoon (F0), intensiteit (desibel) en ook duur (die lengte van vokale). In ’n mindere mate is die kwaliteit van vokale ook van belang (vokaalformantfrekwensies). Meestal gee ’n kombinasie van hierdie faktore ’n redelike aanduiding van hoofklemtoon. Meer hieroor word in die volgende afdeling gesê.

 

3. Linguistiese klemtoon

Klemtoon is ’n strukturele linguistiese eienskap van woorde wat spesifiseer watter sillabe binne multisillabiese woorde die mees prominente is, gewoonlik deur die luisteraar waarneembaar. Dit moet onderskei word van sinsaksent, waar ook enkelsillabige woorde die nadruk kan ontvang; in dié sin het dit ’n kommunikatiewe funksie: dit trek byvoorbeeld die fokus op nuwe inligting aan; dit kan in enige posisie in sinne voorkom, byvoorbeeld Jan het gister vertrek (maar Piet nie), of Jan het gister vertrek (nie eergister nie). Klemtoon het ’n vaste posisie in woorde bestaande uit meer as een sillabe, wat tot ’n sekere hoogte voorspel kan word. Dit geld veral simplekse woorde. In die geval van ander soorte grammatiese strukture (soos veral afleidings of samestellende afleidings) is dit ingewikkelder. Normaalweg word die hoofklemtoon van samestellings geplaas op die eerste lid daarvan, en wel volgens die reëls wat vir simplekse geld. So word primêre klem op die tweede sillabe van die samestelling versámelingstuk geplaas, en sekondêre klem dan op -stùk.

Prominensie word moontlik gemaak deur veral vier klemtoonparameters: duur, (uitgedruk in terme van sekondes (s) of millisekondes (ms)), grondfrekwensie (Hertz (Hz)), intensiteit (desibel (Db)) en formantfrekwensie (F1, F2, F3). Rietveld en Van Heuven (1997:255 e.v.) gee ’n volledige oorsig van die algemene akoestiese kenmerke van klemtoon; Wissing (2007) doen dit met betrekking tot Afrikaans. In terme van die persepsie daarvan korrespondeer hierdie vier akoestiese parameters met die meer algemene eienskappe van respektiewelik lengte van die sillabe (met die vokaal as kern), toonhoogte, luidheid en vokaalkwaliteit. Saam vorm hierdie vier korrelate meestal ’n duidelike beeld op grond waarvan die hoorder kan aflei dat ’n betrokke vokaal in ’n multisillabige woord meer beklemtoon is as die ander in dieselfde woord. ’n Verteenwoordigende voorbeeld word hier as illustrasie gegee:


Figuur 1. Ossillogram en spektrogram van die gedeelte aan-, uitgespreek in die woorde aanhou (links) en aanhoudend (regs)

Die klem lê op aan- in aanhou, maar op -hou- in aanhoudend. Die akoestiese korrelate van klem word in die onderste venster aangedui. Dit is duidelik dat die <aa> in eersgenoemde veel langer duur, die intensiteit waarteen dit uitgespreek is, veel hoër is, en dit teen ’n beduidend hoër grondfrekwensie geproduseer is. Die prominente aard van die beklemtoonde sillabes in dié twee gevalle kan in die volgende klankgreep gehoor word:

Die afsonderlike akoestiese eienskappe van beklemde sillabes is nie altyd so duidelik as wat hier die geval is nie; tog word beklemtoning meestal duidelik waargeneem, omdat ’n kombinasie van dié parameters vir voldoende perseptuele prominensie sorg.

In enkele gevalle waar hoofklemtoon vasgestel moet word, word in hierdie artikel gebruik gemaak van akoestiese inligting soos dié wat in Figuur 1 aangedui is. Dit word meestal aangevul deur noukeurige visuele en ouditiewe inspeksie.

 

4. Die hoofklemtoonreël (HKR) van Afrikaanse simplekse

Uit wat in die inleiding gesê is, vloei die gegewe voort dat daar in Afrikaanse simplekse van agter af “gesoek” word na watter sillabe beklemtoon word. Dit is in teenspraak van die siening van De Stadler (1981), en later ook Combrink en De Stadler (1987), wat juis van voor af in woorde werk, natuurlik met as vertrekpunt die historiese agtergrond van Afrikaans as Germaanse taal. Oudgermaans word gekenmerk as ’n taal met inisiële klemtoon, wat hoofsaaklik nog in Engels gesien kan word. In hierdie bydrae word vanuit ’n verskeidenheid hoeke geargumenteer, en bewyse daarvoor verskaf, dat Afrikaans sterk wegbeweeg (het) van ’n kenmerkend inisiëleklemtoontaal, soos Neijt en Zonneveld (1982) ook ten opsigte van Nederlands doen.

Die volgende werksbeskrywing van die Afrikaanse HKR kan as uitgangspunt geneem word:

Die hoofklem in simplekse woorde lê op die voorlaaste sillabe wanneer die finale sillabe nie beklemtoonbaar2 is nie, andersins op die finale sillabe indien ander faktore dit vereis.

Dié reël kom neer op, waar moontlik, die handhawing of skep van die trogeïese metriese patroon [ / ∪ ].3 Ander faktore sluit in die situasie waar die finale sillabe sterk is, hoofsaaklik omdat dit geslote is en ’n lang vokaal of diftong as kern bevat. Illustrasies word laer af in die vorm van blokdiagramme en klankopnames verskaf. Soos in bykans alle gevalle is hier ook subkategorieë en uitsonderings ter sprake. Lees hiervoor Wissing (2018a).

Onbeklemtoonbare woordeindsillabes kom ook in komplekse woorde voor; hoofsaaklik dié met een of meer schwas as kern. Dit geld hoofsaaklik agtervoegsels, soos -e, -ig, -lik en -nis, wat normaalweg in afleidings voorkom, byvoorbeeld in wyse, goedig, menslik en kennis, en natuurlik ook verboë vorme van sulke woorde, soos menslike, goedige, geestelike of gebeurtenisse.

Hoofklem lê oorwegend op finale sillabes van simplekse woorde met as kern lang vokale of diftonge, of die sillabe oop of geslote is. Geslote sillabes met kort vokale dra ook soms die klem, en feitlik altyd in die geval van /i/, /y/ en /u/. Hierdie is ’n oorvereenvoudigde bereëling. Meer besonderhede kan gevind word in Wissing (2018b).

In die volgende onderafdeling word ’n stel figure en klankopnames ter illustrasie hiervan gebied.

4.1 Illustrasies

Beklemtoonde sillabes word deur die blou blokke aangedui. Die onbeklemtoonde vokale kom in die leë kolomme voor. Sekondêre klem word nie hier aangetoon nie.

In A hier onder word voorbeelde gegee van woorde met ’n uitgebreide trogeïese metriese patroon [X / ∪ #].4 Soos wat blyk uit die HKR hier bo, is laasgenoemde die basiese patroon. ’n Jambiese patroon dek gevalle waar die trogeïese nie van toepassing is nie (B – F), dit wil sê [ ∪ / #]. In die hieropvolgende afdelings word die argumentasie beperk tot eersgenoemde. Ter wille van volledigheid word daar in die volgende stelle diagramme en meegaande klankgrepe wel ook voorbeelde van woorde met slotklem gegee.

A. Finale sillabe: kort en oop


Figuur 2. Twee- en driesillabige simplekse woorde waarvan die voorfinale sillabes oop en beklemtoon is

B. Finale sillabe: kort en geslote


Figuur 3. Twee- en driesillabige simplekse woorde waarvan die voorfinale sillabes geslote en beklemtoon is

C. Finale sillabe: lank en oop


Figuur 4. Twee- en driesillabige simplekse woorde waarvan die finale sillabes oop en beklemtoon is

D. Finale sillabe: lank en geslote


Figuur 5. Twee- en driesillabige simplekse woorde waarvan die voorfinale sillabes geslote en beklemtoon is

E. Finale sillabe: diftonge; oop


Figuur 6. Twee- en driesillabige simplekse woorde waarvan die finale sillabes oop is en beklemtoonde sillabes diftonge bevat

F. Finale sillabe: diftonge, geslote


Figuur 7. Twee- en driesillabige simplekse woorde waarvan die voorfinale sillabes geslote is en beklemtoonde sillabes diftonge bevat

Die voorgaande opsomming geld kennelik ook langer woorde as driesillabiges. Dit blyk uit die simplekse woorde met kort vokale in dié posisie, soos abrakadábra en koekemakránka. Eiename van Afrikatale-oorsprong, die persoonsname Madonséla en Ramaphósa, of plekname soos Amanzimtóti toon soortgelyke klemtoonpatrone. Sodanige klempatroon in leenwoorde sou tot ’n mate versterk kon word op grond van die indruk van beklemtoning in die geval van alleenstaande woorde in al die Afrikatale, waarin verlengde voorfinale sillabes normaalweg verleng word. Hierdie verskynsel, in Engels algemeen bekend as “penultimate lengthening”, of, breër geneem “pre-boundary lengthening”, word nie uitsluitlik in alleenstaande woorde gevind nie maar ook voor frase- en sinsgrense (Doke en Mofokeng 1957). Let egter daarop dat duur (lengte) slegs één van vier akoestiese parameters van linguistiese klemtoon in Afrikaans is. Dit is nie die geval met Afrikatale nie – dit word algemeen aanvaar dat linguistiese klemtoon afwesig is in hierdie tale. Zerbian en Barnard (2008) wys ook daarop dat die konsep van klemtoon kontroversieel is in die geval van Bantoe-toontale.

Gevalle soos munisipalitéit en temperatúúr, waar lang vokale in geslote woordeindposisie staan, toon die algemene woordfinale klemtoonpatroon, soos in die voorgaande voorbeelde.

Teen hierdie agtergrond word in die volgende afdelings onafhanklike bewyse aangevoer ter ondersteuning van die gestelde HKR. Die fokus is op voorfinale klemtoon, dit wil sê gevalle soos in A. hier bo. Let wel daarop dat die voorbeelde in A. beperk is tot twee- en driesillabige woorde, terwyl woorde langer as driesillabiges ook hier betrek word. Later word dit gedoen deur aan te toon dat woorde wat oorspronklik nié gekenmerk is deur finale of voorfinale klemtoon nie, wél dusdanige klempatroon begin volg het. Daar word ook aangetoon dat nuutskeppinge, of eiename wat oorgeneem is uit ander tale, ook hierdie patroon aanneem. Hier kan genoem word dat Afrikaanse persoonsname nog hoofsaaklik die oorspronklike Germaanse beginklempatroon bly volg. Voorname wat uit Oudgermaans stam, en vandag steeds in Afrikaans dié patroon bly volg, sluit onder meer in: Adelbert, Adele, Albert, Alfred, Alphonse, Anso, Bertha, Emma, Eberhard, Edward, Egbert, Erik, Ferdinand, Gerald, Gerard, Gerhard, Gotfried, Gunther, Heinrich, Helmut, Herbert, Herman, Hildebrand, Hildegard, Ida, Isa, Konrad, Linda, Luther, Oswald, Otto, Robert, Roger, Siegfried, Volker. Sommige hiervan is natuurlik meer algemeen as ander. Die meeste van hierdie name is tweesillabig, en vertoon die verstekpatroon [/ ∪ ]. Soos laer af gesien sal word, word die basiese patroon [/ ∪ ] behou in uitbreidings deur middel van suffikse, waar die klem na agter skuif.

In die volgende afdelings word eers ingegaan op gevalle waar klemtoon in simplekse woorde lê wat aanvanklik beginklem gehad het, maar waarin die klem na agter (begin) skuif het. Dit sluit ook in gevalle wat hulle samestellingskarakter verloor het, as simplekse geïnterpreteer word, en dus ook klemtoonpatrone aanneem. Hierna word aandag gegee aan ander gevalle waarin eindklem die verstekvorm is. Hier word eers gekyk na grammatiese vorme (soos reduplikasies, meervoudsvorme en morfologiese uitbreiding) en daarna na ’n spesiale kategorie van nonleksikale vorme, soos nonsensvorme en syfer- en lettername. Die uitbreiding van eiename deur middel van agtervoegsels kry ook kortliks aandag. In al hierdie gevalle word aangetoon dat die trogeïese verstekpatroon óf gehandhaaf word óf geskep word. Dit geld ook eiename wat oorgeneem is uit Afrikatale, wat ook toegelig word.

Die beweeg van hoofklemtoon na woordeinde toe

’n Duidelike verteenwoordigende voorbeeld van ’n skuif-in-proses van inisiële na finale klem is die woord hospitáál. In Nederlands word, soos in die Engels hóspital, slegs die eerste sillabe beklemtoon. Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (VAW) gee ook slegs hóspitaal, maar die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) gee weer slegs eindklem: hospitáál, terwyl die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) en die Uitspraakwoordeboek van Afrikaans (UWA) albei moontlikhede erken. In ’n stel nuusbulletins van Radio Sonder Grense (RSG) (2000–2017) kom hospitaal en hospitale 106 keer voor, gelees deur 19 verskillende persone. 27 gevalle hiervan het klem op die eerste sillabe; die res (79) op die finale sillabe, ’n sterk aanduiding dat finale klem besig is om veld te wen.

Dieselfde proses van verskuiwing na agter is teenwoordig in ’n aantal duidelike gevalle, wat in Tabel 1 opgeneem is.

Tabel 1. Klemtoonposisies in Afrikaanse woorde

Die volgende algemene opmerkings is hier toepaslik:

  1. Eie waarnemings of aanvoeling by al hierdie woorde is aanduidend van slotklem. Sommige hiervan is bevestig deur ’n soektog op RSG se nuusbulletins, wat hoër op genoem is, soos die genoemde geval van hospitaal, en baie pertinent ook medikus en tegnikus, en ander woorde op -us. Sien ook verderaan ’n behandeling hiervan.
  2. Celex is ’n Nederlandse databasis (Baayen, Piepenbrock en Gulikers 1995). Dit bevat
    124 136 Nederlandse lemmas en 381 292 woordvorme.
  3. Die afkortings HAT, WAT, AVW en UWA word in die teks verklaar.
  4. Omdat die WAT tot op hede nog onvoltooid is, is sommige selle daarvan leeg. Leë selle in die geval van Nederlands beteken dat ekwivalente woorde nie bestaan nie.
  5. Party woordeboeke gee twee moontlike klemtoonposisies vir dieselfde woord aan (soos HAT: akkusatief en karnaval; UWA: nominatief en notule).
  6. ’n Aantal woorde is van oorsprong samestellings, maar het met verloop van tyd tot simplekse gegroei, en dus ook die klempatroon van simplekse aangeneem (soos alleryl, spaansvlieg, turksvy, waatlemoen (water+meloen), wederdoper.
  7. Onderwys5 (s.nw.) word deesdae al hoe meer met slotklem gehoor.

Woorde soos akkusatief en nominatief in Tabel 1, met klem op -ief, toon ’n duidelike neiging na slotklem, soos in definitief en ’n hele aantal woorde van Romaanse oorsprong uitgaande op -ief, soos aktief, perspektief, relatief en ander. Dit geld nie net akkusatief en nominatief in hierdie tabel nie, maar ook ander, veral grammatiese terme, soos ablatief, adverbatief, genitief, infinitief, kousatief, nominatief en substantief. In die Nederlandse fonologie (vgl. Booij 1995, Kager 1989; Trommelen en Zonneveld 1989) word ’n sogenaamde driesillabevensterbeginsel (three-syllable window principle) ondersteun, waarvolgens primêre klem op slegs een van drie woordfinale sillabes in simplekse kan val. Gevolglik word enkele simplekse langer as drie sillabes, soos akkusatief, infinitief en nominatief, wat klem op die eerste sillabe het, as uitsonderings getipeer, iets wat nie problematies is in die geval van Afrikaans nie, omdat klem op die finale sillabe val.

Punt 6 is van spesiale belang, omdat dit tekenend is van die feit dat samestellings tipies klem neem op die eerste stuk, terwyl simplekse, in navolging van die HKR, klemtoon op woordeinde vereis. Woordeinde kan, maar hoef nie altyd nie, die finale sillabe van ’n woord wees, byvoorbeeld lanterfánter.

4.2 Die geval -us

Soos gesien kan word in Tabel 1, plaas al die bronne klem op die eerste sillabe van die woord medikus (dus médikus). Dit geld trouens, volgens die geraadpleegde woordeboeke, ook ander woorde eindigend op -ikus, soortgelyk aan die posisie in Nederlands, naamlik dat -us nié hoofklem dra nie. Afrikaanse woorde van hierdie tipe is akademikus, biokinetikus, chemikus, dramatikus, erotikus, fisikus, grammatikus, heraldikus, historikus, klinikus, logikus, meganikus, optikus, politikus, retorikus, stilistikus, tegnikus. Op grond van enkele bevestigde gevalle waar die klem in woorde eindigend op -us op dié sillabe rus, kan veralgemeen word dat dit ook hierdie woorde sal geld. In die RSG-nuusbulletin-databasis waarna hoër op verwys is, is dit in die geval van akademikus, politikus en tegnikus gevind. Uitgebreide informele toetsings van moedertaalsprekers bevestig dit. Die feit dat nie al hierdie woorde sonder twyfel sinchronies gesproke simplekse vorme is nie, verander nie aan die gegewe van die skuif na agter in
-us-woorde nie.

Hierdie skuif na agter in sodanige -us-woorde dien as sterk bewysvoering ten gunste van die hipotese dat Afrikaans tans ’n proses ondergaan waarby klempatroon ook van nonsimplekse woorde die HKR groeiend volg. Terselfdertyd is dit natuurlik ondersteunend vir die juistheid, en ook kragtigheid, asook die uitbreiding van dié reëlmaat in Afrikaans, dus weg van die karakterisering van Afrikaans as inisiëleklemtoontaal.

4.3 Reduplikasies

’n Eenheidsklemtoonpatroon vir die twee lede van ’n reduplikasievorm word deurgaans in die literatuur aanvaar (Botha 1988; Combrink 1990; Conradie 2004; Kempen 1962, 1969; Ponelis 1993; Raidt 1981; Scholtz 1963). Hiervolgens word beide lede van ’n reduplikasievorm soos net-net ewe sterk beklemtoon. Van Huyssteen en Wissing (2007) toon egter op grond van uitvoerige foneties-akoestiese eksperimente aan dat die eerste lid van reduplikasievorme soos agt-agt, bal-bal, lag-lag, vat-vat, en ander oorwegend groter klem dra, soos ook gehoor kan word in die volgende klankgreep:

Die ouditiewe waarnemings dat die eerste lid van hierdie reduplikasievorme, weliswaar effens maar tog wel, hoofklem dra, word ondersteun deur akoestiese metings van die vokale daarvan. Die grondtoon van die eerste lid van agt-agt is hoër as dié van die tweede: F0 276 Hz > 240 Hz; die luidheid ook: 76 dB > 70,8 dB. Dieselfde geld vat-vat: F0 253 Hz > 225 Hz, respektiewelik 74,8 dB > 73,8 dB. Hierdie bevindinge, wat op grond van ’n enkele lesing deur een spreker gedoen is, kom besonder sterk ooreen met die resultate van ’n volledige eksperiment (Van Huyssteen en Wissing 2007). Die reduplikasies lag-lag en vat-vat is deur onder meer drie lesers elk twee maal gelees, een maal teen normale tempo, en een maal vinnig. Die gemiddelde grondtoon van die eerste lid van dié twee woorde is 258 Hz, teenoor 227 Hz van die tweede lid; die luidheid is respektiewelik gemeet as 77,8 dB teenoor 75 dB van die tweede lid. In statistiese terme verskil beide pare hoogs beduidend (d > 0,75). Die geheelindruk van dié twee akoestiese korrelate van klemtoon sorg, soos gehoor kan word, duidelik vir die indruk van groter klem op die eerste lid.

Hierdie bevindinge is van belang vir die huidige argument, omdat voorfinale klemtoon (dus die verkieslike metriese patroon [ / ∪ ]) ook in die geval van reduplikasievorme duidelik uitgewys word, dus ’n onderskrywing is van die trogeïese patroon.

Op ’n hoër vlak word die patroon / ∪ ook in reduplikasies gehandhaaf. Wanneer elke lid daarvan uit meer as een sillabe bestaan, verskuif die klemtoon na die finale lid, waar die voorfinale sillabe daarvan beklem word, soos in die naam van die nasionale sokkerspanne Bafana Bafána en Banyana Banyána, asook die pleknaam Bela-Béla, of die persoonsnaam Thladi-Thládi. Dit geld ook die name van radiostasies soos Ligwalagwála, Ikwekwézi, Phalaphála. Dieselfde word gehoor in Afrikaanse woorde soos amper-ámper en bietjies-biétjies. Onvolledige reduplikasievorme soos holderstebólder, lanferfánter en wieliewálie toon dieselfde neiging. Hierdie fasette van reduplikasies moet nog grondig ondersoek word.

4.4 Meervoudsvorming

’n Sterk neiging tot die behoud van die trogeïese metrumpatroon [ / ∪ ] word gevind by die keuse van die meervoudsmorfeem in hoofsaaklik multisillabige simplekse selfstandige naamwoorde wat op sonorante klanke (konsonante én vokale) eindig. Dit beteken dat die voorkeur vir voorfinalesillabeklemtoon ook geld in die geval van meervoudsvorming, oftewel dat sover moontlik van inisiële klemtoon weg beweeg word. Hierdie patroon word ook gehandhaaf in gevalle van twee moontlike meervoudsvorme, spesifiek by woorde eindigend op -tor. Meer hieroor volg laer af.

Die normale wyse waarop selfstandige naamwoorde se meervoudsvorme geskep word, is deur toevoeging van één van die twee morfeme -e of -s. Wat hier van belang is met betrekking tot die Afrikaanse klempatroon oor die algemeen, en meer in besonder die ondersteuning vir die HKR, is dat die -e-meervoudsmorfeem ’n afsonderlike sillabe uitmaak, maar -s nie. Die metriese patroon word dus sover moontlik bewaar. Dit geld eerstens in die geval van enkelvoudsvorme wat slegs uit één sillabe bestaan, byvoorbeeld kan, rak, see, kraai, waarvan die meervoud die
-e-sillabeskeppende morfeem is, dus kan-(n)e, rak-(k)e, se-ë, kraai-e – deurgaans [ / ∪ ]. Anders gestel: die patroon [ ∪ / ] word vermy. In multisillabige woorde word die optimale patroon [ / ∪ ] gehandhaaf, byvoorbeeld in kánon-s en in kanón-ne, of in áppels en appélle (natuurlik appèlle gespel). Dieselfde geld ook woorde eindigend op vokale, soos blyk uit die volgende meervoude: pádda-s, kóédoe-s, of miélie-s, teenoor drié-e of kráái-e. Twee meervoudsvorme, soos fobié-e ~ fóbie-s, en orgié-e ~ órgie-s, ondersteun hierdie patroon.

’n Klein aantal simplekse naamwoorde, waarvan sommige oorspronklik leenwoorde uit Engels is, en wat almal op obstruente konsonante eindig, het, téén hierdie patroon in, -s as meervoudsvorm: tjek, fliek, kiosk, sjef, tenk, tjop, flat, lift en trust is die mees algemeen bekendes. In die algemene omgangstaal word die meeste hiervan se meervoude wél ook met -e gehoor, dus ’n herstelling van die [ / ∪ ]-patroon, en openbaar ’n neiging tot konformering met die hoof-meervoudsreël, soos hierbo uiteengesit.

Die volgende reekse simplekse se meervoude, almal met slotklemtoon in die enkelvoud daarvan, volg ook dié patroon, en is dus in ooreenstemming met die HKR, en weer eens in ooreenstemming met die neiging tot handhawing van die [ / ∪ ]-patroon:

/ɔ/ in die slotsillabe van die enkelvoudsvorm: barón, balkón, gallón, kartón, kolóm, kokón.

/ɛ/ in die slotsillabe van die enkelvoudsvorm: appèl, bakatél, forél, frikkadél, hotél, kapél, kartél, kokkerél, lapél, modél, motél, naturél.

/ə/ in die slotsillabe van die enkelvoudsvorm: affodíl, Apríl, basíl, geskíl, kodisíl, krokodíl, pastíl, verskíl.

/u/ in die slotsillabe van die enkelvoudsvorm: fatsóén, festóén, galjóén, garnisóén, griffióén, kalkóén, kampióén, legióén, lemóén, pampóén, pawiljóén, pensióén, perlemóén, seisóén, sitróén, spióén, visióén; tambóér; karakóél, spanjóél.

/i/ in die slotsillabe van die enkelvoudsvorm: reptiél, ventiél, imbesiél, profiél, projektiél, reptiél; akroniém, ensiém, pseudoniém, septiém, sinoniém, kantién, masjién, vitamién; angeliér, papiér, populiér, skarniér.

In enkele gevalle kry sodanige woorde naas die amptelike -s-meervoudsmorfeem ook soms -e, naamlik in barbiér, kantién, pandóér, offisiér, outomobiél, dus dié met -e as ondersteunend van die gewone [ / ∪ ]-patroon. Dit blyk veral ’n jonger ontwikkeling te wees.

’n Spesiale kategorie woorde, dié eindigend op -tor, het in baie gevalle ’n alternatiewe meervoudsvorm, naamlik of -tore, of -tors. Dit gebeur in byvoorbeeld die naamwoorde dóktor, fáktor, indikátor, léktor, literátor, méntor, réktor, reséptor, séktor, senátor. In beide gevalle word die voorkeurpatroon [ / ∪ ] behou.

4.5 Morfologiese uitbreiding

By ’n aantal agtervoegsels, wat self nie beklemtoon word nie, word die trogeïese metrumpatroon [ / ∪ ] optimaal gehandhaaf. Hierdie agtervoegsels, almal van Germaanse oorsprong, is -baar,
-end, -ig, -lik en -saam. Dit kan gesien word in die volgende voorbeelde: óórdra ~ oordráágbaar; áfwag ~ afwágtend; dríéhoek ~ driehóékig; ópmerk ~ opmérklik; árbeid ~ arbéídsaam. In al die gevalle van woorduitbreiding deur middel van die genoemde morfeme word die basisvorme se metriese patroon [/ ∪ ] steeds behou. Hierdie verskynsel geld grootliks in die geval van Nederlands (Booij 1995), hoewel dit nie in terme van metriese patrone uitgewys word nie, maar bloot as gevalle van klemtoonverskuiwing getipeer word.

Teenoor hierdie neiging van die aantrekking na agter in woorde deur agtervoegsels van die klemtoonplasing in gevalle soos bogenoemde gebeur dieselfde nie met voorvoegsels nie. Die naaste wat hieraan gekom word, is met her- in die betekenis van “weer”, byvoorbeeld in herinterpreteer, waarin die hoofklem van die finale sillabe terugskuif na die eerste sillabe. Maar dit is nie ’n geval van die klem náder aan die voegsel, soos gebeur met -baar en die ander agtervoegsels nie, maar dat die voorvoegsel sélf hoofklem kry.

4.6 Die voorkoms van die trogeïese patroon in eiename

Eiename, dit wil sê in hierdie geval persoons- en plekname, bied vrugbare grond vir die studie van klemtoonplasing, hetsy in egte Afrikaanse name of in oorgeneemdes uit in dié huidige geval inheemse Afrikatale, met name dié uit die Sotho- en die Ngunitale. Die manier waarop eiename in ’n taal aanpas by die bestaande klemtoonpatrone, met name dié van multisillabiges, dien dikwels as belangrike ondersteunende bewysvoering van die korrektheid van die reëls daarvan, soos uitgewys word deur Neijt en Zonneveld (1982), en ook deur Kager (1989). In die volgende twee afdelings word dit geïllustreer, eers aan die hand van meerledige Afrikaanse plekname, en daarna ten opsigte van oorgeneemde plekname van Afrikale-oorsprong. Hierdie twee aspekte word vervolgens van naderby ondersoek.

4.7 Saamgestelde Afrikaanse plekname

Dit is ’n baie algemene verskynsel in Afrikaans dat plekname gevorm word deur die samestelling van twee of meer stukke waarvan die finale stuk selfstandige naamwoorde is soos baai, berg, burg, dal, dam, dorp, fontein, hoek, kop, kloof, krans, kroon, kuil, pan, park, poort, rand, rus, spruit, stad, strand, stroom, vallei, vlei en water. Enkele voorbeelde hiervan is Bettiesbaai, Soutpansberg, Postmasburg, Vredendal, Krugersdorp, Ventersdorp, Mooimeisiesfontein, Olifantshoek, Aasvoëlkop, Daniëlskuil, Barberspan, Vanderbijlpark, Maselspoort, Witwatersrand, Odendaalsrus, Bronkhorstspruit, Tarkastad, Potchefstroom, Katriviervallei, Biesiesvlei en Putsonderwater.

Normaalweg dra sodanige woordfinale stukke nie die hoofklem nie; wel meestal sekondêre klem. Dit is waarskynlik in navolging van die algemene reël dat klem op die eerste, dus die nonfinale, stuk van ’n samestelling val (bv. driéhoek, bádwater). Wanneer dit wel in plekname gebeur, is dit moontlik daaraan toe te skryf dat sodanige woorde hulle oorspronklike betekenis, en dus ook status as samestellings (begin) verloor na gelang dit as eenheidsvorme ingeburger raak, waarvan die oorspronklike betekenis van die finale stuk verlore raak. Dit gebeur makliker met sulke stukke waarby die letterlike betekenis daarvan nie terug gevind kan word nie, of ondeursigtig is, of nie letterlik geneem kan word nie. Krugersdorp is heel waarskynlik so genoem met die naam van die toenmalige president Kruger in gedagte; Katriviervallei lê in ’n vallei(-agtige) gebied; en daar loop wel ’n stroom (die Mooirivier) deur Potchefstroom. In die tweede kategorie val plekname soos Venterskroon, Steynsrust, Postmasburg, wat nie een op ’n deursigtige betekenis slaan nie; Soekmekaar kon moontlik oorspronklik ’n letterlike betekenis gehad het. In die geval van talle soortgelykes vervaag en verdwyn die oorspronklike betekenis daarvan dikwels mettertyd, sodat dit die status van simplekse woorde (begin) aanneem. Dat hier ander kragte ter sprake sou kon wees, is nie onwaarskynlik nie. Feit is dat die slotlede van name soos hierdie wel somtyds, sy dit in mindere of meerdere mate, as beklemtoon gehoor word, iets wat nooit by egte samestellings gebeur nie. Die woord kleuterpark sal byvoorbeeld nie klem op park kry nie, tensy in uitsonderlike gevalle van kontrasskepping, soos in “Dis ’n kleuterpárk dié, nie ’n kleuterskóól nie.” Soos wat met vrywel alle fonologiese prosesse die geval is, word ook hier ’n mate van variasie aangetref, nie net by verskillende sprekers nie, maar selfs ook by een en dieselfde spreker. So is in die RSG-databasis gevind dat in 16 van die 23 name met -park dit wel klem dra, soos in die name Ellispark, Vanderbijlpark en Weltevredenpark, anders as in met die name Olifantpark en Elarduspark, waar -park nie as primêr beklemtoond gehoor word nie. Plekname met beklemtoonde -park word veelal in die daaglikse omgang gehoor.

Die volgende stelle voorbeelde waarin die klem afwisselend aan die einde en aan die begin van plekname val, kan gehoor kan word in Klankgreep 10. Dit is gevind in RSG-nuusbulletins:

Dit lyk taamlik seker dat beklemtoonde finale woordstukke in saamgestelde plekname byna altyd beperk is tot woorde wat multisillabige eerste stukke bevat. Dit is daarom nie te verwagte dat
-dorp in byvoorbeeld Klerksdorp beklemtoon sal word nie, maar wel in Krugersdorp of Ventersdorp – wat ’n skepping van ’n jambiese patroon bewerkstellig, soos met al die ander soortgelyke gevalle. ’n Enkele uitsondering is Langklóóf, wat veral by inwoners van dié streek gehoor word.

In die volgende afdeling word ’n spraakdatastel gebruik aan die hand waarvan in nadere besonderhede gewys word op die aard en omvang van klemtoon wat op die laaste stuk van saamgestelde plekname soos wat hier bo gelys is, val.

4.8 Saamgestelde plekname in RSG-weervoorspellings

RSG lewer elke weeksdag ’n diens waartydens onder meer die verwagte temperature per weerstasie per provinsie gelees word. Die name (en temperature) wat vir die doeleindes van hierdie artikel versamel en ondersoek is, is deur drie manlike en ses vroulike aanbieders gelees; almal bekende en erkende radiopersoonlikhede. Hierdie versameling opnames is om verskeie redes waardevol. Dié aanbieders is opgeleide sprekers, almal van hulle sprekers van ruweg dieselfde standaardvariant van Afrikaans. Die opnames is deurgaans teen dieselfde formele spreekstyl en tempo gedoen. Dit alles werk mee tot ’n eenvormige en konsekwente spraakdatastel wat sorg vir ’n optimale beeld van die uitspraak van die betrokke plekname. Dieselfde opmerking geld die opnames van die plekname van Afrikatale-oorsprong verder op.

Die volgende 21 plekname is ondersoek, omdat hulle hier relevant is vir die belangstelling in ’n moontlike verskuiwing van klemtoon na die laaste stuk daarvan:

Johannesburg, Nelspruit, Klerksdorp, Potchefstroom, Rustenburg, Vryburg, Bloemfontein, Welkom, Kroonstad, Ficksburg, Sasolburg, Postmasburg, Alexanderbaai, Springbok, Sutherland, Kaapstad, Vredendal, Riversdal, Oudtshoorn,6 Richardsbaai, Pietermaritzburg.

Die lesings van nege verskillende aanbieders, drie manlik en ses vroulik, is versamel en ondersoek. Nie almal het ewe veel bulletins gelees nie; dit reik van twee keer tot tien keer elk. In totaal was 854 (met ’n reikwydte van 33–50) opnames van plekname beskikbaar.

4.8.1 Saamgestelde plekname bestaande uit twee sillabes

Wissing (1989) wys terloops daarop dat die klem op die finale sillabe nie voorkom in die geval van tweesillabige name nie. In die tweesillabige name Nelspruit, Klerksdorp, Vryburg, Welkom, Kroonstad, Ficksburg, Springbok en Kaapstad word hierdie waarneming bevestig deur ’n intensiewe akoestiese ondersoek. In die uitspraak van sommige vroulike lesers word ’n verhoogde grondtoon aan die einde van sommige name wel gehoor, maar dit moet nie verwar word met klemtoon op daardie gedeeltes nie. Sodanige hoë toon op frasefinale strukture is tipies frasefinale merkers.7 In die onderstreepte dele in die sin Sy gebruik ’n eier, ’n wortel, en twee aartappels in dié resep kan toonverhoging dus voorkom. Tesame met ’n mate van rekking, ook tipies van frase-eindes, gee dit wel die indruk van beklemtoning, maar die schwa, [ə], is natuurlik onbeklemtoonbaar in affikse, soos ook hier in die agtervoegsels -er en -el. Dieselfde effek word dikwels aangetref in geleeste woordelyste; ook in die laaste nommer in telefoonnommers wanneer dit in groepe van twee of drie gelees word.

4.8.2 Saamgestelde plekname bestaande uit meerdere sillabes

Die plekname van hierdie soort wat in die RSG-weerberigte voorkom, is die ander 12 in die lys hier bo: Johannesburg, Potchefstroom, Rustenburg, Bloemfontein, Sasolburg, Postmasburg, Alexanderbaai, Sutherland, Vredendal, Riversdal, Richardsbaai en Pietermaritzburg. Almal is driesillabig, behalwe Johannesburg (viersillabig) en Alexanderbaai en Pietermaritzburg (vyf sillabes).

’n Groot variasie ten opsigte van die verskuiwing na agter in die klemtoonposisie word hier aangetref. As voorbeeld kan die volgende geneem word. In Potchefstroom word die slotstuk oorheersend beklemtoon (85%); in Postmasburg word -burg 75% beklemtoon. In Vredendal en Richardsbaai is dit byna die helfte van die kere opgemerk (47,5%). In die ander name wat ook ondersoek is, blyk dit dat dit in die minderheid gevalle gebeur: Alexanderbaai (17%), Johannesburg en Riversdal (12,5%), Sasolburg (12,5%). Enkeles toon geen verskuiwing nie.

Die volgende klankgreep laat voorbeelde van duidelike gevalle van finale klem hoor:

En in die volgende klankgreep word die finale stuk nié beklemtoon nie:

Hoewel klemposisiewisseling in hierdie gevalle dus teenwoordig is, is dit nie so in die meerderheid van gevalle in die totale datastel nie. Blote waarneming van soortgelyke plekname in die omgangstaal bevestig wel die duidelike aanwesigheid van hierdie verskynsel. Daar kan op hierdie stadium slegs gespekuleer word dat dit ’n groeiende neiging is in navolging van die oorhoofse patroon van ’n verskuiwing na agter in woorde. Dié neiging is byna voltrek in o.a. Potchefstroom en Postmasburg, maar dis nie deurgaans so opvallend nie; waarom dit so is, is nie duidelik nie. ’n Semanties verwante verklaring kan miskien opgaan in die geval van -stroom, maar met -burg is dit anders gesteld, anders sou ’n soortgelyke persentasie gevalle as by Postmasburg ook by die ander -burg-gevalle aanwesig gewees het. Stellenbosch is interessant in hierdie verband. Dis nie aanwesig in hierdie stel weerberigte nie. Persoonlike waarneming gee die indruk dat inwoners self geneig is om die klem op die eerste sillabe te handhaaf, anders as wat elders die geval is. Dit is moontlik dat hulle dié naam steeds ervaar as ’n samestelling, met Stellen- ’n bewuste verwysing na Simon van der Stel, na wie Stellenbosch vernoem is.

Oorhoofs is die aangebode gegewens wel ’n ondersteunende bewysvoering ten gunste van die argument dat klemtoonverskuiwing na agter in Afrikaanse plekname wel aanwesig is, en wel omdat dit die voorkeurposisie van klem in Afrikaans is. Dit moet vir seker wyer en dieper ondersoek word.

4.9 Inheemse plekname

Hier gaan dit nie soseer om ’n verskuiwing van klem nie, maar om die feit dat Afrikaanssprekendes kennelik die HKR toepas wanneer hulle plekname wat uit een van die Afrikatale oorgeneem is uitspreek. Meer in die besonder word voorfinale klem sterk verkies, wat in navolging is van A. (4.1) hier bo, oftewel met implementering van die verstekpatroon [/ ∪ ].

Daar bestaan ’n hele groep plekname van inheemse8 herkoms in Suid-Afrika. Sedert die nuwe politieke bestel in Suid-Afrika vanaf 1994 is ’n aantal oorspronklik Afrikaanse name vervang met name uit die Suid-Afrikaanse Afrikatale, soos Pietersburg > Polokwane, Potgietersrus > Mokopane, Ellisras > Lephalale en Witbank > Emalahleni, almal simplekse woorde, altans kennelik volgens Afrikaans-kennis. Hierdie name verskyn ook in die weerberigte van die RSG, waarop later ingegaan word. Ander, soortgelykes, is Amanzimtoti, Bela-Bela, Bophuthatswana, Dikhololo, Ekhuruleni, Emakhazeni, Emalahleni, Ga-Rankuwa, Hlanganani, Isipingo, Khayalami, Lebombo, Lephalale, Lusikisiki, Mbombela, Mabopane, Mahlabatini, Modimolle, Mokopane, Mpumalanga, Nongoma, Phuthaditjhaba, Polokwane, Soshanguve, Thabazimbi, Umbongintwini, Umtentweni en Zwelitsha. Enkele van hierdie name het wel reeds voor 1994 bestaan, byvoorbeeld Amanzimtoti, Bophuthatswana, Isipingo, Khayalami, Lebombo, Mpumalanga, Phuthaditjhaba en Thabazimbi.

Name soos hierdie is om ’n belangrike rede waardevol vir die huidige ondersoek, soos deur Kager (1989) en ook Neijt en Zonneveld (1982) ten opsigte van Nederlands uitgewys word. Volgens Kager (1989) is suiwer multisillabige simplekse woorde van Germaanse herkoms met meer as twee volvokale nie beskikbaar vir ontledings van klemtoonpatrone nie. Hy vermeld in dié verband dus die dwang om woorde van nie-Germaanse oorsprong te gebruik, soos Ashurbanipal, Carvancevitam, Demosthenes, Erechtheion, Melanchton. Afrikaans is in die gelukkige posisie dat sulke lang, bekende hedendaagse plekname van Afrikatale-oorsprong, soos bogenoemdes, geredelik aangetref word. Sodanige woorde bevat wel meerdere volvokale.

Hier moet opgemerk word dat die Afrikatale nie gekenmerk word deur linguistiese klemtoon nie. Cole (1955) benadruk hierdie feit ten opsigte van Tswana: “[T]here is no indication that stress has any significant function whatsoever in this language”, wat ook die ander Suider-Afrikaanse Afrikatale geld. Afwesigheid van linguistiese klemtoon is een van die kenmerke van die sogenaamde sillabe-isochrone (“syllable-timed”)9 tale, waarby die Sotho- en Ngunigroepe ook gereken word. Ander kenmerke van hierdie tipe tale is ’n tipiese KV- (konsonant-vokaal-) sillabestruktuur, die afwesigheid van vokaalreduksie, en geen vokaalduurkontras nie (Dauer 1983; Rietveld en Van Heuven 1997; Arvaniti 2006). Hierdie gegewe is van belang vir die huidige argument. Soos hoër op (in 4.1) reeds aangedui, besit die Afrikatale waarvan plek- en persoonsname oorgeneem is, nie vaste leksikale klemtoon nie, daarom kan daar nie sprake wees van ’n direkte ontlening of oorname na Afrikaans toe nie, maar is dit dus so dat klemposisie volgens die Afrikaanse klemtoonsisteem bepaal sal moet word. Sou sodanige toegekende klemtoon ooreenstem met dié van die normale Afrikaanse HKR, soos in die inleidende gedeelte uiteengesit is, kan dit uiteraard dien as versterkende, ondersteunende bewysvoering vir die juistheid van hierdie gepostuleerde klemtoonreël. Dit word in die volgende afdelings geïllustreer.

4.9.1 Inheemse plekname in RSG-weervoorspellings

’n Oorheersende voorkeur vir voorfinale sillabe as klemtoonposisie, dus met [/ ∪ ] as metriese vorm, word gevind in die inheemse name wat in die RSG-weerberigte voorkom, naamlik Mpumalanga, Mbombela, Emalahleni, Lephalale, Limpopo, Skukuza, Polokwane, Phalaborwa en Mokopane, gelees per provinsie, in dié volgorde. In drie van hierdie name word ’n sterk sekondêre klem op die eerste sillabe gevind, naamlik in Emalahleni (2x), Lephalale (16x) en Mokopane (3x). Andersins word die voorfinale sillabe deurgaans beklemtoon, wat in ooreenstemming is met die verstekpatroon. Tien van die 16 gevalle van Lephalale is deur dieselfde leser met sekondêre klem op die eerste sillabe gelees; die ander ses deur ’n enkele ander leser. Dis opvallend dat een van hierdie lesers die klem wel in twee gevalle tog wel op die voorfinale posisie plaas.

Die volgende klankgrepe, gelees deur een manlike aanbieder (FC), is verteenwoordigend van die totale aantal lesings waarin die voorfinale sillabe beklemtoon is.

Wat betref die sillabestruktuur is die gegewe dat die lengte van die naam, die struktuur van die sillabes en die spesifieke vokale nie dieselfde is in al die gevalle nie. Dit is kontra die opvatting van De Stadler (1981) en Combrink en De Stadler (1987) dat klemtoonposisie van vóór af in woorde toegeken word afhangende van faktore soos hierdie. Hiervolgens word klem toegeken op die eerste sillabe van voor af in ’n woord wat sterker of minstens ewe sterk is as dié wat daarop volg, en sterker is as dié wat dit voorafgaan.

4.9.2 Inheemse persoonsname

Dieselfde beginsel van voorfinale klemtoon as wat by plekname gesien word, dus met handhawing van die metriese patroon [ / ∪ ], geld in die geval van persoonsname van Afrika-oorsprong ook hier, soos geïllustreer kan word aan die hand van enkele familiename van bekende swart Suid-Afrikaanse persoonlikhede: Holomisa, Kganyago, Komphela, Madonsela, Madiba, Magashule, Mahumapelo, Makwetla, Malema, Mandela, Ramaphosa, Tshabalala,10 Zwelinzima. Hoewel die voorname en/of vanne van die huidige kabinetsministers van Suid-Afrika nie daagliks gehoor word nie, kan dit tog dien as verdere voorbeelde van waarskynlike beklemtoning van die voorfinale sillabes. Almal is minstens drie sillabes lank (oop en geslote) en bevat al die vokale. Ayanda, Bathabile, Dipuo, Dlamini, Gugile, Kubayi, Letsatsi, Lindiwe, Mabusa, Maite, Maphisa, Mashabane, Mboweni, Mfeketo, Mokonyane, Mothekga, Motsoaledi, Naledi, Ndabeni, Ngubane, Nkhensani, Nkoana, Nkosazana, Nomaindia, Nomvula, Nosiviwe, Nqakula, Nzimande, Senzeni, Shabangu, Sisulu, Siyabonga, Tokozile, Zokwana. Let op dat hierdie name almal op ’n kort oop sillabe eindig, soos wat die geval is met Afrikaanse name met dieselfde slotsillabestruktuur.

 

5. Enkele gevalle van nieleksikale aard

Teenoor voorgaande strukture aan die hand waarvan die HKR getoets is, is daar ook ’n aantal tipes van nieleksikale aard: dis strukture wat nie in ’n woordeboek of woordelyste (soos dié van plek- en selfs persoonsname) nageslaan kan word nie. Hier word kortliks gekyk na strukture wat vir ’n spesifieke eksperimentele doel ontwerp is – ook genoem nonsenswoorde, asook syfer- en lettername.

5.1 Nonsenswoorde

Die resultate van ’n papier-en-potlood-eksperiment, waaraan 503 tweede- en derdejaarstudente van vyf Afrikaanse universiteite deelgeneem het, vorm ’n sterk ondersteuning van die verstekpatroon [ / ∪ ] van die HKR. Dié eksperiment toon dat die voorfinale sillabe van drie- en viersillabige vorme oorwegend as draer van hoofklem aangewys is, dit ten spyte van wisselende sillabestruktuur (oop of geslote), en tipe vokaal. ’n Tipiese voorbeeld is dié van die driesillabige [krɔlflɔrsti], waarvan die voorfinale sillabe, [flɔrs], beklemtoon is, maar in ’n identiese een wat betref vokaal en slotkonsonantkluster, [pɔrs] in [brɔlpɔrs], is dit nié. Dit onderskryf die bepalende krag van sillabeposisie by klemtoontoekenning, hier telkens voorfinale sillabeklem.

5.2 Lettername

Lettername is volgens Combrink (1979) se definisie afkortings wat uitgespreek word met behoud van die waardes van die letters se alfabetname, soos KLM, SAP, WP en AB (sy voorbeelde). Dit staan teenoor letterwoorde, dit wil sê afkortings wat uitgespreek word met behoud van letterwaarde. Combrink se voorbeelde hiervoor is Truk, Sasol, Avbob en Unesco.

Tweesillabige lettername word deurgaans met voorfinale klem uitgespreek, dus, volgens Combrink, in gevalle soos PU, RU, KI, UP, UK, IK, AP, LV, OB, OP, UN, US, WP, BA, TG, AA, NB, LO, SR, FM, FN.

Daarteenoor kry die finale sillabe van lettername en gewone afkortings langer as twee sillabes deurgaans die hoofklem. ’n Aantal van Combrink se voorbeelde hiervoor is:

ANC, KWV, B.Sc., LSD, UPE, DDT, FAK, TNT, HNP, SAL, KUH, k.b.a., RSA, b.v.p., BMW, VVO, LL.B., SAL, RGN, ZAR, TLU.

BBBG, RSVP, ATKV, NZAV, USSR, SALM, SABS, WNNR, TVLU, SAOU, SAVI.

SAS&H, SASMT, M.B.Ch.B., SWAOU, OVSLU.

Combrink se bereëling hiervoor is: “In bisillabiese lettername word die aksent geplaas op die vokaal van die eerste sillabe” (met handhawing van die [ / ∪ ]-patroon – my byvoeging – DPW). “In alle multisillabiese lettername word die aksent geplaas op die vokaal van die laaste sillabe.”

Combrink se formulering van “die vokaal van die eerste sillabe” kom natuurlik neer op ons “voorfinale sillabe” in tweesillabige gevalle. So gesien, is die klemtoonposisie van lettername ’n spesiale geval van die HKR in die sin dat woorde bestaande uit meer as twee sillabes gedek word deur die HKR-bereëling: “Die hoofklem lê op die finale sillabe, tensy daardie sillabe nie beklemtoonbaar is nie ...” Die spesifisering met tensy is in hierdie geval dus die gegewe dat mens hier te make het met lettername – soos ook deur Combrink uitgewys word. Terselfdertyd kom dit ook neer op die voorkeur van klemtoon na agter in vorme soos dié, wat deurentyd in hierdie studie uitgewys is as ’n besondere eienskap van Afrikaans.

5.3 Syfername

Dieselfde reëlmaat word deur Combrink (1979) uitgewys ten opsigte van syfername, spesifiek die name vir geweerkalibers en motorreekse. Tweesillabige woorde kry volgens hom klem op die eerste (=voorfinale) sillabe, dus weer eens met behoud van die metriese patroon [ / ∪ ]. Voorbeelde van eersgenoemde tipe wat deur hom gelys word, is .22, .45, .38, .44 ens. Daarteenoor word die finale sillabe van driesillabige name van motorreekse beklemtoon, soos aangetref in (Fiat) 128, (BMW) 728, (Fiat) 131, (Peugeot) 404, 303, 405, 308 ens. Dieselfde opmerking wat betref die relevansie hiervan vir die HKR as wat ten opsigte van die lettername gemaak is, is ook hier toepaslik.

Die hantering van syfername geld ook syferreekse, soos in byvoorbeeld telefoonnommers. Hier word wel ’n taamlike mate van variasie gevind, maar die volgende patroon word geredelik gehoor: Klem val op die eerste van twee syfers: 88 (dus [ / ∪ ]); in die geval van drie syfers, word die finale syfer beklemtoon, soos tipies in ’n telefoonnommer soos 083 65 70 480. Sou die syfers in hierdie selfde nommer anders gegroepeer word, word die beklemtoning geredelik aangepas tot byvoorbeeld 083 657 0480. Hierdie voorstelling moet egter nog eksperimenteel getoets word. In soverre hierdie beeld van klemtoon in syferreekse geldig is, klop dit wel presies met die patroon soos wat dit hier bo gevind is. Dit moet hier wel opgemerk word dat aansienlike variasie veral ten opsigte van dubbelsyfers waargeneem word.

Hoewel tweesillabige gevalle anders as drie- en méér sillabige woorde reageer wat betref klemtoekenning, word die algemene beginsel dat Afrikaans klemtoon aan woordeinde verkies, dus in voorgaande ondersteun. Meer in die besonder: Afrikaans is nie (meer) ’n inisiëleklemtoontaal soos die geval is met Oudgermaans en hedendaags steeds Engels nie.

5.4 Afgeleide voorname

Dit is hoër op uitgewys dat Afrikaanse persoonsname wat gevorm word deur die agtervoegsel
-us ’n neiging toon tot handhawing van prefinale klemtoonposisie, en die patroon [ / ∪ ]. Dit geld ook ander gevalle, onder meer agtervoegsels wat dien as vormers van vroulike voorname, soos -a of -ina. Voorbeelde hiervan is:

Ádolf ~ Adolfína, Ádriaan ~ Adriánus, Álbert ~ Albértus / Albérta, Ándries ~ Andréa, Ánton ~ Antónie, Bérnard ~ Bernárdus / Bernárda, Bárend ~ Barendína, Dániël11 ~ Daniëlla, Égbert ~ Egbérta, Fráncis ~ Francíscus, Gýsbert ~ Gysbértus, Héínrich ~ Heinrícha, Héndrik ~ Hendríka / Hendríkus, Jákob ~ Jakóbus, Lía ~ Liána, María ~ Marína / Mariána, Wíllem ~ Wilhélm12 / Wilhélmus.

 

6. Samevatting

Dit is steeds ’n aanvegbare bewering dat Afrikaans nie (meer) ’n inisiëleklemtoontaal is nie. In hierdie artikel is uit ’n verskeidenheid hoeke aangetoon dat Afrikaans ’n sterk voorkeur het, of ontwikkel, vir klemtoonposisie ánders as woordbegin, en dus eerder slotklem verkies. Eiename van nie-Germaanse oorsprong neem hier ’n besondere plek in. Die uitspraak deur Afrikaanssprekende radio-aanbieders van persoons- en plekname uit die Afrikatale bied ’n unieke domein waaraan die hoofklemtoonreël getoets kan word aan die wyse waarop sodanige name in Afrikaanse radioberigte uitgespreek word. Wanneer die finale sillabe van multisillabige woorde óf onbeklemtoonbaar is, dit wil sê ’n schwa bevat in die geval van geslote sillabes, óf wanneer ’n oop sillabe met ’n kort vokaal as kern voorkom – behoudens enkele uitsonderings, word die voorfinale sillabe beklemtoon. Dit geld veral eiename wat uit Afrikatale oorgeneem is. Daarmee word die verstek-metriese trogeïese patroon [ / ∪ ] gehandhaaf.

Ook in ander gevalle word hierdie patroon geskep, byvoorbeeld in ’n reeks meervoudsvorme, maar ook in uitbreidings deur middel van agtervoegsels om vroulike vorme van persoonsname te vorm.

’n Onlangse en baie tipiese Afrikaanse geval waar klemtoon die slotsillabe “verkies”, by wyse van spreke, is dié van -us, waarmee ’n spesifieke soortnaam gevorm word, soos in medikús en akademikús. Die meeste naslaanwerke gee steeds nonfinale klemtoon aan – respektiewelik médikus en akadémikus – maar dit word selde in die geraadpleegde spraakdatabasisse gevind; dis ook onbekend in Nederlands.

Op die vlak van die bestaande beskrywingsmodelle bied die gebruik van eiename wat ontleen is uit die Afrikaname ’n baie sterk argument téén dié wat deur De Stadler (1981) en Combrink en De Stadler (1987) voorgestel word. Die basis waarop hulle model gegrond is, is dié van sillabesterkte, en die uitgangspunt dat Afrikaans ’n inisiëleklemtoontaal is. Sillabesterkte word gedefinieer deur gebruikmaking van die konsepte oop en geslote sillabe, en die aard van die vokale daarvan. Dus word vir ’n “landingsplek” van primêre klemtoon in simplekse van voor af in woorde gesoek na die eerste, sterkste sillabe. Dit blyk duidelik egter dat hierdie beginsel geen rol speel in die bepaling van hoofklem in eiename van Afrikatale-oorsprong nie, soos gesien kan word in die volgende twee verteenwoordigende gevalle: Madonséla: ten spyte van die feit dat geslote sillabes sterker geag word as oop sillabes, en dat [ɔ] hoër op die vokaalsterktehiërargie is, word -don- nogtans oorgeslaan; Mashabáne: al vier die sillabes is oop, en het dieselfde vokaal as kern. Nogtans word die eerste twee oorgeslaan. In beide gevalle word die verstekpatroon [ / ∪ ] dus verkies.

 

Bedankings

’n Aantal persone en instansies vir ondersteuning, wat die artikel moontlik help maak het. Ek neem in al die gevalle verantwoordelikheid vir die eindproduk:

  • SADiLaR (South African Centre for Digital Language Resources), ’n navorsingsinfrastruktuurinstelling wat deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie van die Suid-Afrikaanse regering gestig is as deel van die South African Research Infrastructure Roadmap (SARIR).
  • Magdaleen Kruger, die stasiebestuurder van Radio Sonder Grense, wat toestemming verleen het vir die gebruik van klankopnames.
  • Twee anonieme keurders vir hulle noukeurige lees van die artikel en waardevolle kommentaar en voorstelle.
  • Die tegniese ondersteuning van my gewaardeerde kollega Wikus Pienaar, rekenaarlinguis van CTexT.

 

Bibliografie

Arvaniti, A. 2009. Rhythm, timing and the timing of rhythm. Phonetica, 66(1/2):46–63.

Baayen, H., R. Piepenbrock en L. Gulikers. 1995. The CELEX lexical database (release 2). CDROM. Linguistic Data Consortium, University of Pennsylvania, Pennsilvanië, VSA.

Boersma, P. en D. Weenink. 2017. Praat: doing phonetics by computer. http://www.praat.org.

Booij, G. 1995. The phonology of Dutch. Oxford: Oxford University Press.

Botha, R.P. 1988. Form and meaning in word formation: A study of Afrikaans reduplication. Cambridge: Cambridge University Press.

Carstens, W.A.M. en N. Bosman (reds.). 2017. Kontemporêre Afrikaanse taalkunde. Pretoria: Van Schaik.

Coetzee, A.J., (red.) Hulsels van Kristal. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers Beperk.

Cole, D. T. 1955. An introduction to Tswana grammar. Londen: Longmans, Green & Co.

Combrink, J.G.H. 1979. Aksent van letter- en syfername in Afrikaans. Taalfasette, 26(1):12–37.

—. 1990. Afrikaanse morfologie. Pretoria: Academica.

Combrink, J.G.H. en L.G. de Stadler. 1987. Afrikaanse fonologie. Johannesburg: Macmillan.

Conradie, C.J. 2004. Ikonisiteit en Afrikaanse reduplikasie. Tydskrif vir Taalonderrig, 38(2):334–8.

Dauer, R.M. 1983. Stress-timing and syllable-timing reanalysed. Journal of Phonetics, 11(1):51–69.

De Stadler, L.G. 1981. Die klemkontoere van die simplekse selfstandige naamwoord in Afrikaans. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 21(4):285–95.

De Villiers, M. en F.A. Ponelis. 1987. Afrikaanse klankleer. Kaapstad: Tafelberg.

Doke, C. M., en S. M. Mofokeng. 1957. Textbook of southern Sotho grammar. Longmans, Green.

Kager, R. 1989. A metrical theory of stress and destressing in English and Dutch. Dordrecht: Foris Publications.

Kempen, W. 1962. Woordvorming en funksiewisseling in Afrikaans. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

—. 1969. Samestelling, afleiding en woordsoortelike meerfunksionaliteit in Afrikaans. Kaapstad: Nasou.

Lee, A.S. 1963. Klem in Afrikaans. MA-verhandeling, Universiteit van Pretoria.

Le Roux, T.H. en P. de V. Pienaar. 1927. Afrikaanse fonetiek. Kaapstad: Juta.

Lubbe, J. 1993. Die klempatrone van Afrikaans. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde, 11(1):49–59.

Neijt, A., en W. Zonneveld. 1982. Metrische fonologie – de representatie van klemtoon in Nederlandse monomorfematische woorden. Nieuwe taalgids 75 (6): 527–547.

Pierrehumbert, J. 1980. The phonetics and phonology of English intonation. Cambridge, Mass.: Massachusetts Institute of Technology.

Ponelis, A. 1993. The development of Afrikaans. Frankfurt-am-Mainz: Peter Lang.

Raidt, E. 1981. Oor die herkoms van die Afrikaanse reduplikasie. In A. J. Coetzee (red.).

Rietveld, A.C.M. en V. van Heuven. 1997. Algemene fonetiek. Bussum: Coutinho.

Scholtz, J. du P. 1963. Taalhistoriese opstelle: Voorstudies tot ’n geskiedenis van Afrikaans. Pretoria: Van Schaik.

Taalportaal. The linguistics of Dutch, Frisian and Afrikaans online. Weergawe 1.5 http://www.praat.org (16 Maart 2018 geraadpleeg).

Trommelen, M. en W. Zonneveld. 1989. Klemtoon en metrische fonologie. Bussum: Coutinho.

Van Niekerk, D.R. en E. Barnard. 2009. Phonetic alignment for speech synthesis in under-resourced languages. In Proceedings of the Tenth Annual Conference of the International Speech Communication Association. Interspeech. Brighton, UK: ISCA.

Wissing, D. 1971. Fonologie en morfologie van die simplekse selfstandige naamwoord in Afrikaans: ’n transformasioneel-generatiewe benadering. Amsterdam: Buijten en Schipperheijn.

—. 1987. Klemtoon en tweesillabige Afrikaanse simplekse: Eksperiment. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde, 5(3):105–39.

—. 1988. Abrakadabra, of die klemtoon van multisillabige woorde in Afrikaans, SA Tydskrif vir Taalkunde, 6(4):13–40.

—. 1989. Twee- en multisillabige Afrikaanse simplekse. SA Tydskrif vir Taalkunde, 7(3):116–24.

—. 1991. Is Afrikaans ’n inisiëleklemtoontaal? Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde, 9(2):47–57.

—. 2007. Basiese akoestiese korrelate van klemtoon in Afrikaans. Southern African Journal of Linguistics and Language Studies, 25(3):441–58.

—. 2017. Fonologie. In Carstens en Bosman (reds.) 2017.

—. 2018a. Exceptions. Taalportaal. http://www.taalportaal.org/taalportaal/topic/pid/topic-14870029726365088 (26 Desember 2018 geraadpleeg).

—. 2018b. Segment inventory. Taalportaal. http://www.taalportaal.org/taalportaal/topic/pid/topic-14610909940908011 (24 Januarie 2019 geraadpleeg).

Zerbian, S., en E. Barnard. 2008. Phonetics of intonation in South African Bantu languages. Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 26(2): 235–254.

 

Eindnotas

1 Ook soms monomorfemiese woorde genoem.

2 Met “onbeklemtoonbaar” word bedoel dat dit nooit in Afrikaans in hierdie posisie beklemtoon word nie.

3 Die mees uitgebreide formule hiervan is [(X) / (∪) #], wat soos volg geïnterpreteer moet word: (X) = een of meer sillabes in woorde langer as twee sillabes; / = beklemtoning; (∪) = onbeklemtoning; # = woordeinde. Hakies dui daarop dat die betrokke geval opsioneel is. Dus geld die volledige formule [(X) / (∪) #] gevalle soos ábba ([ /∪ ], patátta en abrakadábra [ X /∪ ], wat hier feitlik deur die bank gehandhaaf word, in byvoorbeeld die plekname Tárka, Musína, Ekhuruléni en die persoonsname Ánna, Maríta, Ramaphósa. Let op dat die mees basiese vorm van dié formule [ / ∪ ] is.

4 Sien eindnota 2 vir ’n uitleg hiervan.

5 ’n Waarneming wat Gerhard van Huyssteen onder my aandag gebring het.

6 Oudtshoorn bestaan uit twee lettergrepe maar drie sillabes.

7 In navolging van Pierrehumbert (1980) word dit grenstoon (“boundary tone”) genoem.

8 Met “inheems” word bedoel die tale anders as Engels en Afrikaans – hoewel Afrikaans soms ook as inheems gesien word.

9 Die karakterisering van tale in terme van tydsduur van sillabes is ondertussen deels agterhaal, maar vir die doeleindes van hierdie artikel is die fynere nuanse nie van belang nie.

10 Die beroemde Amerikaanse sanger Paul Simon spreek hierdie van uit met klem op die voor-voorfinale sillabe, dus Tshabálala, dus word voorfinale klem vermy en ’n sillabe na aan woordbegin verkies.

11 Uitgespreek [danjəl], da:n.jəl, dus tweesillabig.

12 Volgens die reël vir schwa-invoeging tussen slotsonorante word helm natuurlik [hæləm] uitgespreek.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top