Henry Kissinger 100 jaar: "Super K" of oorlogsmisdadiger?

  • 2

Op 27 Mei 1923 – amper ’n 100 jaar gelede – is Henry Alfred Kissinger in Duitsland gebore. In 1938 het die jong Henry en sy gesin Nazi-Duitsland as Joodse vlugtelinge verlaat en in die VSA gevestig. Kissinger is natuurlik die befaamde Amerikaanse diplomaat, politikus en later geopolitieke konsultant, wat as Minister van Buitelandse Sake (Secretary of State) en Nasionale Veiligheidsadviseur onder presidente Richard Nixon en Gerald Ford (1969–77) gedien het.

Henry Kissinger (Foto: Amerikaanse departement van buitelandse sake [openbare domein, via Wikimedia Commons])

Henry Kissinger is sonder twyfel een van die bekendste politieke figure van die 20ste eeu wie se treffende sêgoed duisende kere reeds aangehaal is en oor wie se lewe en werk talle geskrifte die lig gesien het. En hoewel hy baie lof toegeswaai is deur duisende Amerikaners, was hy vir baie andere binne en buite die VSA een van die mees gehate persone van die vorige eeu, wat alles verband hou met sy prominente rol in Amerikaanse buitelandse beleidsformulering tydens die Nixon-Ford-administrasies. Diegene wat hom gehaat het (en steeds haat), het gereken dat hy verantwoordelik was vir gebeure soos die Amerikaanse bombardering van Kambodja in 1970, waartydens 110 ton bomme in ’n periode van 14 maande op die land afgegooi is, die onnodige uitrekking van die Amerikaanse oorlog in Viëtnam, sy vermeende rol in die omverwerping van die Marxistiese Allende-regering in Chili in 1973 en nog vele ander omstrede gevalle van Amerikaanse betrokkenheid by buitelandse konflikte.

Tog bly Kissinger se beeld by baie mense een van ’n superster-diplomaat en hy het inderdaad indrukwekkende prestasies in sy loopbaan tot sy krediet, waaronder die Amerikaanse onttrekking aan Viëtnam (1973), die VSA se uiters belangwekkende erkenning van China (1971–72), gesprekke tydens die Nixon-bewind met die Sowjetunie wat tot strategiese beperkings op kernwapens gelei het en vele meer. Barack Obama was blykbaar die eerste Amerikaanse president in onlangse jare wat nie moeite gedoen het om sy advies oor internasionale sake in te win nie. Maar hoe meer ’n mens oor Kissinger lees hoe meer kom ’n mens onder die indruk dat hoewel hy vir talle mense beroemdheid en diplomatieke briljantheid verteenwoordig, hy vir vele ander eerder ’n geval van berugtheid verteenwoordig. Vir sommige was hy ’n man wat Amerikaanse strategiese belang vooropgestel het en verstaan het hoe die klipharde en riskante internasionale politiek inmekaarsteek. Vir andere weer was hy ’n soort Machiavelliaanse diplomaat wat bloedvergieting in talle plekke veroorsaak het in die wyse waarop hy sy uitkyk op die wêreldpolitiek en gepaardgaande besluitneming beoefen het.

Kissinger se hele loopbaan staan in die teken van wat studente in die internasionale politiek vroeg in hulle studie leer ken as die teorie of denkraamwerk van realisme. Volgens dié denkraamwerk sal state – veral grootmoondhede – optree in die nasionale belang en geneig wees om magspolitiek te beoefen. Dit staan lynreg teenoor die paradigma van idealisme of liberalisme in die internasionale politiek wat leer dat state nie noodwendig magspolitiek beoefen nie, maar morele optrede op prys stel en samewerking deur diplomasie aktief nastreef. Daarby plaas state ’n prys op die internasionale reg en bevorder hulle samewerking deur onder andere mee te werk in multilaterale organisasies, soos veral gesien word in samewerking in die Verenigde Nasies. Kissinger het sedert sy akademiese studie van meet af aan geglo dat state hulle eiebelang teen elke prys (moet) nastreef en was dwarsdeur sy loopbaan deur baie waarnemers vereenselwig met wat bekend staan as realpolitiek. Dit beteken gewoon dat praktiese magsoorwegings eerder as morele beginsels en selfs geregtigheid die internasionale politiek dikteer. Eersgenoemde was inderdaad gewoonlik kenmerkend van Kissinger se buitelandse beleidsoptrede en diplomatieke ingesteldheid. Vir hom moes ’n magsbalans tussen die grootmoondhede met Amerikaanse belange voorop staan en as einddoel gestel word eerder as ’n strewe na geregtigheid en moraliteit in die wêreldpolitiek. En tog het hy ’n Nobelprys vir Vrede as erkenning ontvang vir vrede wat hy in Viëtnam onderhandel het. Dit was egter kontroversieel en juis dit is wat Kissinger so ’n interessante en omstrede figuur van die 20ste eeu maak. Wat hier ook van Kissinger gesê moet word, is dat hy nie veel ooghare gehad het vir dromerige linkses en politieke moraliste nie en altyd strategiese belang bo morele oorwegings of selfs geregtigheid gestel het.

Kissinger se loopbaan is steeds vrugbare grond vir skrywers en historici wat terugkyk op Amerikaanse buitelandse beleid in die 20ste eeu. Twee van die mees belangwekkende evaluasies van Kissinger se nalatenskap het in 2015 verskyn, albei uit die pen van top-Amerikaanse professore in die geskiedskrywing. Die eerste was ’n geskrif van Niall Ferguson, wat gesien kan word as verteenwoordigend van die regterflank van politieke denke. Van Ferguson se kant is Kissinger grootliks aangeprys vir sy werk ofskoon sy foute nie ontken is nie, maar dieselfde kan nie gesê word van Greg Grandin se werk wat vanuit die linkerflank van politieke denke na Kissinger se werk gekyk het nie. Wat Ferguson betref, was Kissinger aanvanklik ’n jong idealis wat die verkeerde (Republikeinse) presidensiële kandidate gesteun het totdat sy paaie gekruis het met dié van Richard Nixon, die 37ste Amerikaanse president wat van 1969 tot 1974 in die Withuis was. Daardeur is Kissinger se loopbaan vlerke gegee. Grandin daarteenoor het Kissinger veel eerder krities beskou as ’n diplomaat wat die sogenaamde Amerikaanse krisis toegeskryf het aan die hand van die VSA se betrokkenheid by nimmereindigende oorloë in die buiteland en ’n gepaardgaande interne polarisering onder Amerikaners oor buitelandse kwessies. Wat interessant is, is dat Ferguson nie daarvan oortuig was dat Kissinger vasgevang was in magspolitieke denke of ’n beoefenaar van realpolitiek was nie. Hy meen selfs dat Immanuel Kant met sy denke oor rede en moraliteit eerder as Clemens von Metternich of Otto von Bismarck Kissinger se denke oor diplomasie beïnvloed het. Hoe dit ook al sy, “Super K or war criminal?” is die soort vrae wat filosofies dikwels oor Henry Kissinger in die VSA gevra is.

Wat ten slotte oor Henry Kissinger gesê moet word, is dat hy in die vorige eeu betrokke was op die hoogste diplomatieke verhoë oor die wêreld heen waar die VSA strategiese belange gehad het. Nou met sy 100ste verjaarsdag is hy steeds op hoogte van wêreldpolitieke sake en aktief met sy geopolitieke ontledings. Trouens, tot vandag laat hy telkens van hom hoor oor sake van internasionale belang, waaronder die opkoms van China, die Krim Skiereiland wat in Russiese hande geval het, die Russiese oorlog in Oekraïne, die kwessie van Taiwan se toekoms en selfs internasionale samewerking rondom Covid-19. Wat nogal interessant is, is sy mening in 2022 by ’n lente-byeenkoms van die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos dat die Biden-administrasie nie Taiwan die sentrale punt van die VSA se houding jeens China moet maak nie.

Dat Kissinger ’n briljante en buitengewoon begaafde politikus en diplomaat was, lei geen twyfel nie. En ofskoon talle menseregte-aktiviste sy bloed gesoek het en hom graag vir beweerde oorlogsmisdade sou wou laat boet het, is dit ook so dat die resultate van ’n 2015-opname onder top-akademici in die veld van internasionale verhoudinge deur die College of William & Mary, ’n universiteit in Williamsburg in Virginia, Kissinger aangewys het as die mees effektiewe Amerikaanse Minister van Buitelandse Sake in die 50 jaar tot 2015. Wat Henry Kissinger in sy loopbaan reg of verkeerd gedoen het, hang in die finale instansie sekerlik maar af van ’n mens se ideologiese gesigspunt of selfs persoonlike oortuiging van hoe internasionale politieke sake bestuur moet word.

  • 2

Kommentaar

  • David Willers

    Uitstekende analise deur Theo Neethling. Saam met Nixon was Kissinger die eintlike argitek van die sogenaamde 'new world order' met die erkenning van China as sentrale bousteen. Nixon is onderskat as staatsman in hierdie opsig. One leef nog steeds binne die Nixon/Kissinger internasionale raamwerk. Kissinger was ook 'n ondersteuner van 'n beleid van konstruktiewe betrrokenheid ('constructive engagement') teenoor apartheid Suid-Afrika, soos beoefen deur Reagan en Thatcher.

  • Anne-Marie Mischke

    Onthou ook Kissinger se rol in die onafhanklikwording van Zimbabwe en Namibië, sy etlike besoeke aan Suid-Afrika en sy talle ontmoetings met premier John Vorster in die buiteland. Ook sy herdefinering van Angola se burgeroorlog in terme van die Koue Oorlog, met die VSA en Suid-Afrika aan Unita se kant, die Sowjetunie aan die MPLA s'n.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top