Henriette Grové (1922–2009)

  • 0
Foto: Openbare domein (Wikipedia)

Sêgoed van Henriette Grové

“My belangstelling in menslike verhoudinge en die wyse waarop mense praat, het tot my belangstelling vir dramas aanleiding gegee. Die daaglikse gesinslewe is so vol dramatiese gegewens dat ek al my stof daaruit kan put.” (Transvaler, 24 April 1964)

“Ek put inspirasie van oral, van dinge sien en hoor en soms herinneringe uit die jeugjare, maar van baie gedagtes kom uiteindelik niks nie.” (Transvaler, 21 Maart 1967)

“Ek hou my hele lewe lank al daarvan om te luister as mense gesels. Ek wil hoor hoe hulle sinne bou en watter uitdrukkings hulle gebruik.” (Transvaler, 13 Mei 1960)

“As ’n mens wag vir die inspirasie om op jou neer te daal en jy het nog ’n huishouding en vier kinders op die koop toe, sal jy nooit ’n verhaal klaar kry nie.” (Vaderland, 9 Februarie 1962)

“Ek het nog nooit spesifiek vir die radio of die verhoog geskryf nie. Maar ek probeer tog om my stuk sy sê te laat sê deur die woord. Dit wil sê ek verlaat my nie soseer op die suiwer visuele effekte wat op die verhoog bewerkstellig kan word nie. Daarom mag my werk dalk ewe maklik oor die eter of voor ’n gehoor opgevoer word.” (Vaderland, 9 Februarie 1962)

Oor die idee dat vroue geen groot kuns sou kan lewer nie, omdat hulle wêreld te klein is: “Dis miskien maar net ’n kwessie van individuele talent afgesien van die geslag van die kunstenaar. ’n Mens kan die hele wêreld in jou verhaal insluit en dit kan nog maar redelik middelmatig wees. So iets soos ’n geboorte of die ontwikkeling van jou kinders kan weer dag na dag die kosmiese gang aan jou openbaar. En as die vrou wat hierdie waarneem, talentvol is, kan dit groot kuns word.” (Vaderland, 9 Februarie 1962)

“Ek hou elke keer van dit waarmee ek besig is. Ek het gehou van radiodramas omdat dit so beslis op die woord gerig is. Die luisteraar moet let op elke woord. Daar is met dié medium geen ander prikkels benewens stemme en ’n paar klankeffekte om ’n verhaal oor te dra nie.” (Die Burger, 27 September 1997)

Oor die verskil in skryf van dramas en kortverhale: “Albei is baie gekonsentreer, met die karakters in hul totaliteit daar; die dramatiese inslag is ewe sterk in kortverhale – dit bestaan ook uit botsings, lei iewers heen, en die wêreld is ten slotte anders as aan die begin.” (Transvaler, 27 Februarie 1976)

Oor die skryf van kortverhale en dramas: “In ’n sekere sin kom die kortverhaal ooreen met die drama, want dit is ’n dramatiese soort medium nes die drama. ’n Mens het nie baie tyd om die gebeure te laat afspeel nie.” (Beeld, 29 Mei 1981)

“Ek is ’n groot oorskrywer. Skryf met die hand ook, want ek is ’n ongeduldige en foutiewe tikker. Gewoonlik skryf ek in die oggend, wanneer die huis stil is.” (Transvaler, 27 Februarie 1976)

“’n Idee gaan soms op my maag sit – dan weet ek dat ek hom later gaan gebruik. Ek hou hom in my agterkop totdat ek hom nodig kry – soms baie jare later.”

“Tot die kortverhaal voel ek my aangetrokke om dieselfde rede as waarom die drama my interesseer: Albei is dramaties van aard; daar is nie geleentheid vir ’n lang aanloop of slot nie, sodat die aksie binne ’n bepaalde tyd móét afspeel. Dit plaas dus aansienlike perke op die skrywer.” (Transvaler, 4 September 1981)

“Die stof bepaal die uiteindelike vorm van ’n werk – kortverhaal, drama of wat ook al. Soms toon materiaal van die begin af ’n lang, epiese lyn wat breed aangevoer moet word – dus nie geskik vir die kortverhaal nie, dog eerder die novelle.” (Transvaler, 4 September 1981)

“Kinderverhale is van die moeilikste om te skryf – dit word egter nie deur alle skrywers besef nie sodat ’n mens dikwels vaal verhaaltjies teenkom wat veral op illustrasies staatmaak. Die kinderverhaal stel dieselfde eise as dié vir die volwassene dog die elemente moet sterker wees.” (Transvaler, 4 September 1981)

“Die kortverhaal moet ’n sterk storie hê, sodat die leser deurentyd weet wat gebeur en geboei bly.” (Transvaler, 4 September 1981)

Oor televisie: “Dit maak alles toe en vol, laat bykans niks aan die verbeelding oor nie. Die medium het egter ook sy voordele – fyner nuanses van woord en spel wat in die teater verlore mag gaan, is op die skerm merkbaar.” (Transvaler, 4 September 1981)

“Een van die aaklighede van die mens se bestaan wat hy met niks anders in die skepping deel nie, is die verskil tussen die droom en die werklikheid; die illusie en die lewe self. Mense se lewensomstandighede verskil dikwels in groot mate van hulle verlangens.” (Transvaler, 4 September 1981)

Oor Wes-Transvaal: “Daar is dit oop; dit is ’n vrugbare ruimte. ’n Mens kan só ver weg oor die mielielande kyk. Dit is ’n streek waar ’n reënbui ’n gebeurtenis is. Jy sien hom kom, jy sien hom toesak totdat die hele gesigseinder grys is. Dit is mý wêreld.” (Transvaler, 4 September 1981)

“Ek het dit nooit nodig gevind om ’n politieke uitkyk te hê nie. Ek kan my kortverhale, novelles en dramas skep sonder om enige politieke standpunt te handhaaf.” (Sunday Express, 17 Februarie 1985)

In 1985: “Ek dink nie sensuur het enige kreatiewe werk onder Suid-Afrikaanse skrywers aan bande gelê nie. Daar is dalk boeke verban wat nie verban behoort te gewees het nie, maar, volgens my, het dit nie die kreatiewe werke van ons skrywers beïnvloed nie.” (Sunday Express, 17 Februarie 1985)

Henriette Grové vertel oor haar eerste ervaring as skrywer: “Ek het ook stories vir Afrikaanse gesinstydskrifte gestuur – Sarie, Huisgenoot, Brandwag – hulle het ook partykeer na my toe teruggekom. Tot vandag toe gee so ’n groot vaal koevert in die pos my nog ’n nare kol op die maag.” (Beeld, 12 Oktober 2002)

Wat inspireer haar, wou Annari van der Merwe weet: “Mense. Wat met mense gebeur. Ek dink dis MER wat eenkeer gesê het een van die presente van oud word is dat jy naderhand verskillende geslagte ken. Jy kan sien wat gebeur met so ’n geslag, met ’n ma, met ’n kind, en dan weer met ’n kleinkind. Dit is baie interessant hoe sekere dinge herhaal word, familietrekke wat oorgeërf word. Dis iets interessants, daardie genetiese aspek.” (De Kat, Januarie 1990)

“Elke boek is opnuut ’n poging, ’n nuwe inset en besluite vooraf.” (De Kat, Januarie 1990)

Gebore en getoë

Hester Henriette Grové is op 26 September 1922 op Potchefstroom in Noordwes gebore as ’n nooi Venter. Sy het haar laerskoolloopbaan begin op Rooipoort, wat tussen Potchefstroom, Klerksdorp en Ventersdorp geleë is. Haar pa was skoolhoof daar.

In ’n gesprek met Elize Botha het sy haar jeugwêreld só beskryf: “Dit was ’n mooi wêreld, maar dit was ook ’n wêreld wat, soos die hele Suid-Afrika in die 1920’s en vroeë 1930’s, bittere armoede geken het. Maar in ons huis, die skoolhuis, was ons bevoorreg. ’n Onderwyser het ’n vaste inkomste gehad. Daar was boeke, ’n klavier en musiek wat deur die jare my groot liefde gebly het.” (Die Burger, 12 Oktober 2002)

Haar vader was baie lief daarvoor om mense na te boots en dit is waarskynlik ook waar haar belangstelling in die skryf van dramas vandaan kom. Haar pa se ironiese gees het ’n groot invloed op haar gehad, en hoewel hy ironies was, was hy nooit wreed nie. “Hy het met oop oë deur die lewe gegaan en mense was vir hom eindeloos interessant.” (Die Burger, 12 Oktober 2002)

Haar Duitse weduwee-ouma het by hulle ingewoon, met haar boeke en al haar herinneringe aan ’n lewe in die 19de-eeuse stadjie Kassel in Duitsland. Sy het aan Elize Botha vertel: “My Duitse oupa en ouma (van moederskant) het mekaar op ’n aand in die opera ontmoet. My Venter-pa se ouers uit ’n Ventersburgse Voortrekkergeslag het hul seuns met ’n kapkar na Winburg gestuur vir musieklesse.”

Die romantiek van hierdie vertellings van haar ouma, asook die invloed van die Wes-Transvaalse aarde waar sy grootgeword het, vorm die agtergrond van die talle verhale en dramas wat sy later sou skep.

As kind het sy die wêreld om haar weggelees, het sy teenoor Elize Botha beken: “Ek was ’n oer-romantikus en het myself verloor in verhale wat totaal die teenoorgestelde was van die armoede, droogte, sukkelbestaan en dood wat ek om my gesien het. Dit was nie ontvlugting nie. Dit het eintlik net van vroeg al by my ingeskerp dat teenoorgesteldes in hierdie lewe altyd saambestaan.”

Henriette het reeds as kind op Potchefstroom begin skryf, het sy aan Koos Meij vertel: “Ek dink ek was nog op laerskool toe ek al so ’n bietjie storietjies geskrywe het. Maar toe ek omtrent 15-16 jaar was, aan die einde van my matriekjaar, het ek nou definitiewe verhale geskrywe.” (Tydskrif vir Letterkunde, November 1970)

Henriette het reeds as kind op Potchefstroom begin skryf, maar dit was beperk tot opstelle en skryfsels vir die skool se jaarblad.

Haar belangstelling in die drama het reeds vroeg in haar kinderjare ontstaan toe hulle in die Potchefstroom-distrik gewoon het. “Elsa Fouché en Plaats Stultjes in die destydse Teken van die kruis het ’n blywende indruk op my gemaak wat my vandag nog bybly,” het sy in 1964 gesê. “Die plaasmense was so aangewese op hul eie vermaak dat daar geen ander weg oop was as om hul eie opvoerings te organiseer nie. Die hedendaagse kind met die voorreg van ’n radio besef nie die waarde wat ’n gewone toneelstuk vir die jong mense van jare gelede gehad het nie.” (Transvaler, 24 April 1964)

In 1938 het sy aan die Hoërskool Gimnasium op Potchefstroom gematrikuleer.

Verdere studie en werk

Na skool het sy haar op sestienjarige ouderdom ingeskryf as student aan die destydse Potchefstroomse Universiteitskollege, waar sy in 1941 haar BA-graad behaal het met Afrikaans-Nederlands en Engels as hoofvakke. Na die verwerwing van haar BA-graad is die magisterbeurs van die Universiteit van Suid-Afrika aan haar toegeken, maar sy het dit nie aanvaar nie en het eerder gaan onderwys gee.

In haar eerste jaar het sy vir AP Grové ontmoet wat toe alreeds met sy magistergraad besig was. Hy het dit “cradle snatching” genoem. Henriette vertel aan Liela Magnus: “Ons het dadelik vreeslik lekker gesels. Dit is wat my tot hom aangetrokke gemaak het.”

In 1943 het sy begin onderwys gee aan haar alma mater, die Hoërskool Gimnasium. Sy het ook op Rustenburg skoolgehou. Op 29 Junie 1945 is sy en AP Grové getroud en het sy die onderwys verlaat. Gedurende hierdie tyd het sy ’n tweede prys in ’n hoorspelwedstryd verower met Soos gras sy dae.

Vanaf 1949 tot 1959 het die gesin in Pietermaritzburg gewoon, waar AP gewerk het. Tydens hulle verblyf in Pietermaritzburg was Henriette ’n onderwyseres verbonde aan die Departement van Opvoedkunde. By die Durbanse SAUK het sy saam met mense soos Monica Breed, Philip Grobler en Lourens Fourie gewerk.

In Julie 1959 verhuis die gesin na Pretoria, waar haar man ’n dosentskap aan die Universiteit van Pretoria aanvaar het. Hier het hulle vir die res van hulle lewens gebly. Henriette vertel aan Stephanie Nieuwoudt (Die Burger, 27 September 1997): “Om ’n outydse uitdrukking te gebruik – ek was geseën in my huwelik. Ná soveel jare ken jy mekaar so goed dat my man dikwels my sinne vir my moet klaarmaak. EK is nie goed met woorde nie, en sal maklik in ’n geselskap na hom draai en sê, hy weet wat ek bedoel, hy moet verder vertel.”

AP Grové is op 25 Februarie 2004, ná ’n lang siekbed, in hulle huis in Lynnwood oorlede. Hy het die laaste twee jaar van sy lewe aan longvlieskanker gely. Hulle was amper sestig jaar getroud. “Ons was baie geseënd,” het Henriette na sy dood gesê. “Die afgelope twee jaar was geleende tyd. Dis groot genade dat ons al die jare baie gelukkig was.”

AP en Henriette het vier kinders gehad: Elsa Nolte, wat aan die Departement Afrikaans van die Universiteit van Pretoria verbonde is, Niek Grové, registrateur aan die Universiteit van Pretoria, AP Grové, ’n ingenieur, en hulle jongste dogter, Mariet, wat in 1996 oorlede is. Hulle het ook sewe kleinkinders.

Voor haar troue het Henriette enkele kortverhale geskryf, maar het selfs nie op universiteit veel tyd vir skryf ingeruim nie. Tydens 1943 en 1945 het sy haar hand gewaag aan haar eerste skryfpoging – ’n toneelstukkie getitel Na honderd jaar, wat sy vir ’n opvoering geskryf het. Dit was egter eers na haar troue dat sy in alle erns begin skryf het.

Van Henriette se heel eerste gepubliseerde werke was kinderverhale wat in die laat 1940’s en vroeë 1950’s deur Afrikaanse Persboekhandel uitgegee is. Die avonture van Bimbo, die sirkusbobbejaan het in 1948 en Bimbo en Prins in 1950 verskyn. Die verlore skoentjie se eerste uitgawe het in 1948 die lig gesien, met heruitgawes in 1982 en 1985. Die lui bytjie is in 1951 uitgegee.

In die vyftigerjare het Henriette reeds bekend geword as skrywer van kortverhale, en in 1957 is Kwartet gepubliseer wat kortverhale bevat van MER, Ina Rousseau, Elisabeth Eybers en Henriette Grové. Dit is met die WA Hofmeyr-prys bekroon en dit was die eerste van vele pryse wat Henriette agter haar naam sou skryf. Kwartet het ook die Havenga-prys ontvang. Vyf verhale van Henriette is in hierdie bundel opgeneem: “Die Betlehem-ster”, “Die swart haan”, “Die ver plekke”, “Die dag van môre” en “Tant Nelie se veerpluime”.

In hierdie verhale vind die leser die botsende wêrelde van kind en grootmens, die begeerte om uit ’n saai bestaan te ontsnap en die nutteloosheid daarvan om ter wille van die genot van die oomblik te lewe. “Die tegniek van ’n ‘storie binne ’n storie’ word dikwels aangewend, eindes word soms aan die begin gesuggereer en die verteller besin soms ten aanvang oor ’n verhaal wat hy wíl skryf en láát ’n karakter dan die verhaal vertel.”

In ’n artikel wat JC Kannemeyer met Henriette se sewentigste verjaardag in Insig (Oktober 1992) geskryf het, het hy Ernst Lindenberg aangehaal wat by die eerste publikasie van Kwartet in Die Huisgenoot van 4 April 1958 geskryf het dat hy weet van enkele verhale, van Van Melle byvoorbeeld, wat beter is, “maar geen bundel wat as geheel so ’n deeglike peil handhaaf nie. Tog meen ek dat ek nie die ander skryfsters te na kom wanneer ek sê dat dit veral die verhale van die nuweling, Henriette Grové, is wat die boek dubbel welkom maak nie. Ek waardeer die sober en tog lewendige vertelstyl, die ewewigtige bou en die wyse waarop sy deur krisismomente haar verhale telkens na ’n hoogtepunt opvoer. Die voorbeeldig-sobere styl van die bundel as geheel is teen die einde van die vyftigerjare ’n welkome teengif vir die mooiskrywery wat een van die skynbaar onuitroeibare erfsondes van die Afrikaanse prosa is.”

In 1960 is ’n verhoogstuk van Henriette, Die bokamer, in die Aula in Pretoria opgevoer. Dit was haar eerste verhoogdrama.

Gedurende hierdie tyd het sy ook baie suksesvolle ligter novelles en kortverhale onder die skuilnaam Linda Joubert geskryf. In 1960 is Roosmaryn en wynruit deur HAUM gepubliseer. Dit bevat 16 kortverhale wat oor die senders van die destydse SAUK uitgesaai is en in Sarie Marais en Die Huisgenoot verskyn het. Dit is ontspanningsverhale wat oor die liefde en die familie handel en dra die toonkleur van gemoedelik-lokale realisme. Henriette het aan Joan Kruger meer vertel oor die skryf van hierdie verhale:“Ek het my heelwat besondig aan ligte verhale, om den brode. Ek is nie daaroor skaam nie, en sal nie doodgaan as mense van my ligter verhale moet weet nie. Ons het werklik lekkerleesstories nodig in Afrikaans – soos ons so baie ánder dinge nodig het.” (Transvaler, 27 Februarie)

Meulenhof se mense het in 1956 as vervolgverhaal in Sarie Marais verskyn voordat dit in 1961 boekvorm uitgegee is, en in 1962 Die laat lente. In 2009 is beide hierdie verhale deur Human & Rousseau heruitgegee.

Stoffel Cilliers (Beeld, 23 Maart 2009) skryf oor die 2009-uitgawe van Meulenhof se mense dat die verhaal nog net so dramaties is soos vyftig jaar tevore. Die verhaal word in nege briewe vertel wat ’n onderwyseres aan haar vriend skryf. Dit speel af aan die begin van die 1900’s op die Bolandse dorpie De Rust, waar Annemarie Herbst in 1904 begin skoolhou.

Cilliers het die verhaal só opgesom: “Sy loseer by die drie Vermeulen-susters, ‘Meulenhof se mense’. Die ou Kaaps-Hollandse opstal is al wat van die Vermeulens se vorige rykdom oorgebly het. Die susters is diep in die skuld en Annemarie besef dat die buurman, Malan du Toit, die enigste persoon is wat hulle kan help. Sarah Vermeulen sal egter eerder sterf as om sy hulp te aanvaar na wat vyftien jaar tevore tussen hulle gebeur het. Die skrywer laat in elke hoofstuk ’n ander karakter aan Annemarie vertel wat alles destyds gebeur het en op dié wyse kom daar deurgaans ander gesigspunte na vore. Die terugflitse word soos legkaartstukke gebou wat stadig maar seker in plek val en na die einde toe tot ’n sinvolle geheel kom. Die skrywer weet hoe om die spanningslyn stewig te hou. Dat dit herdruk is, is ’n pluimpie vir Linda Joubert, die skuilnaam wat Henriette Grové in die jare vyftig gebruik het vir haar meer populêre werk.”

In haar resensie op LitNet skryf Joan Hambidge dat Meulenhof se mense ’n lofwaardige teks bly: “beheersd geskryf en met subtiele toespelings op die konvensies van sowel die liefdes- as die belydenisroman. Die roman speel ook, vernuftig in op die kodes van die liefdesverhaal en hoe passie dikwels oorgaan in haat en ontnugtering. Dit was vir my ’n aangename leeservaring.”

Oor Die laat lente is Stoffel Cilliers (Beeld, 22 Junie 2009) egter nie so komplimenterend nie, aangesien daar te veel teenstrydighede in die roman is. “In 1896 stel die wewenaar Johannes van Brakel die onaansienlike Lina op’t Hoff op sy plaas aan as goewernante vir Fleurette, die 15-jarige dogter van Van Brakel se oorlede vrou, Agnete, met wie hy slegs drie jaar getroud was. Fleurette en haar oppaster, Josephine, is baie vyandig teenoor Lina. Die plaasbestuurder beskuldig Van Brakel daarvan dat hy Agnete vermoor het. Lina probeer vasstel hoe Agnete dood is en dit is juis een van die onwaarskynlikhede: Lina kry haar antwoorde te maklik. Die liefdesdraadjie is egter maar yl,” het Cilliers verder geskryf. “Dit oortuig nie dat Van Brakel, wat diep seergekry het toe hy agterkom sy mooi Franse vrou is eintlik maar ’n goedkoop allemansvrou, so gou weer sy hart verloor nie. En veral dat hy dan die onaansienlike Lina in haar swart roudrag ‘my klein grys duifie’ noem!”

Henriette het haar veelsydigheid as skrywer getoon met die verskyning van haar eerste drama, Die goeie jaar, in 1958. Dit is oorspronklik geskryf in opdrag van die SAUK en is tydens die Korporasie se Jubileumviering uitgesaai. En hoewel dit oorspronklik vir die radio geskryf is, kan dit ook as toneeldrama beskou word vanweë die tegniek van terugflitse en herspeling wat meer effektief op die verhoog aangewend kan word. “Hoofgegewe waarop die struktuur van die drama berus, is: ‘Ou sondes gooi lang skaduwees, daarom is ’n mens se nagte vol vrees, en let die een op die ander, sodat daar geen vertroue meer is nie.’” Van die karakters is Tobias Davel wat ’n asmalyer word, Debora wat ’n muur om haar wil bou en Martina wat doelbewus met ’n man trou op wie ’n vloek rus. “Die spanningslyn bestaan uit ’n geleidelike openbaring van die verlede. Onthulling deur middel van terugflitse geskied egter op te gedwonge wyse en geen karakter staan werklik uit nie. As eerste poging is die drama egter verdienstelik.” (In: Perspektief en profiel, 1985)

Haar tweede drama is Die glasdeur, wat in 1959 verskyn. Dit is ook as hoorspel deur die SAUK uitgesaai, maar is ewe geslaagd as verhoogdrama. Drie oujongnooiens wat toegelaat het dat hulle lewens by hulle verbygaan, word geskets. ’n Seun van sestien soek een nag tydens die oorlog by hulle skuiling en sy besoek verander hulle lewens. “In sy saalsak kry elkeen iets wat geheime verlangens in hulle blootlê. Suster kry ’n boekie met sketse en gedigte – sy soek die skone; Drieka, die daadmens, kry ’n seinspieël; Willemien, met haar verlange tot trou, kry ’n ring – die pand tussen man en vrou. Elkeen van die vroue wedywer om die guns van die seun en wil eie waardes aan hom opdring. Eindelik slaan hy ’n glasdeur stukkend sodat die vroue hulself eindelik duidelik sien.” Hulle drome is nou verbreek en, soos telkens in Henriette Grové se verhale, staan hulle naak in die werklikheid. Die glasdeur is ’n sterker stuk as Die goeie jaar. Die karakters is meer ontbloot en die dramatiese lyn (weer eens ’n ontvouende verlede) loop spannender tot die slot. (In: Perspektief en profiel, 1985)

In 1962 is Halte 49 en twee monoloë deur Nasionale Boekhandel gepubliseer. Dit is ook deur die SAUK uitgesaai. Die handeling in die titelstuk vind geheel en al in ’n bus plaas. Tipies van Grové se gewone temas wil die werkers in die bus, wat almal inwoners van ’n geïndustrialiseerde stad is, na ’n paradys ontsnap. “Verder soek hulle iets waarmee ’n onhoudbare wêreld getransendeer kan word. Maar die wêreld om ons, kan nie ontsnap word nie. Daar kan vanaf halte 38 gedroom word, maar die droom kan slegs tot by halte 49 duur. Dan moet die werklikheid weer betree word – onvervals met roet, mis en fabrieke.” (BdK: ’n Radiodrama en twee monoloë saam)

Vrou en spieël, die eerste van die twee monoloë, skets ’n snobistiese vrou wat ’n “glaskasbestaan” voer. “Haar lewe draai om haarself, sy het haar sin vir waardes verloor, en sy en haar man het vervreemd geraak. Sy weier om haarself eerlik te ondersoek ten einde die probleem in hulle gebroke huwelik te kan omlyn. Sy bly deurgaans aan haarself getrou – egosentries en krities.” In die laaste monoloog, Ou vrou en die dood, is daar baie minder om te ontgin. “’n Ou vrou in ’n inrigting leef in haar verlede. Wanneer haar kinders haar kom besoek, ontdek sy dat sy hulle nie meer ken nie. Die enigste kinders wat hare gebly het, is die twee wat vroeg dood is. Hulle het in haar herinnering bly voortleef. Die verlede as bepaler van die hede tree, soos so telkens in Grové se verhale, hier weer eens sterk op die voorgrond.” (BdK: ’n Radiodrama en twee monoloë saam)

In ’n onderhoud met Die Vaderland van 9 Februarie 1962 het Henriette gesê dat dit by haar geen twyfel ly dat die radio ’n medium is om mee rekening te hou nie, veral waar die toneel op daardie tydstip op die afdraande pad skyn te gewees het.

In 1966, na die verskyning van Die onwillige weduwee, of, Sybrandus Saliger: ’n kunsmatige klug in drie bedrywe in 1965, is die Eugène Marais-prys vir al Henriette se dramatiese werke aan haar toegeken.

Die onwillige weduwee se hoofkarakter is ’n weduwee wie se oorlede man se testament bepaal dat indien sy hertrou of sterwe, die hele boedel na die Staat sal gaan. “Nòg sy nòg haar familie durf dus in die hede leef – die testament (die verlede) oorheers die werklike lewe. Sybrandus, die afgestorwe eggenoot, bepaal steeds haar lewe en wandel. Haar vryers word deur haar geld beïnvloed en die gemeenskap eer haar om haar geldelike bydraes. Die liefde verlos haar uiteindelik – sy ontmoet ’n driedubbele bebrilde professor wat haar om haarself bemin. As satire op die hebsug van familie en gemeenskap sowel as op die kunstenaar, wat slegs die skoonheid wil eer, is die stuk geslaag. Kunsmatighede in die stuk word goed benut, die dialoog is lewendig, maar slegs Douw Blikslaner se sêgoed amuseer. Daar is wel deeglik sprake van karakterontwikkeling en die stuk kan gesien word as een van die weinig suksesvolle klugte in Afrikaans.” Sy het die eerste prys in die ATKV se dramaprysvraag met Die onwillige weduwee verower. (In: Perspektief en profiel, 1985)

Henriette het aan Die Vaderland (19 April 1964) se verslaggewer vertel dat sy nog altyd belanggestel het in testamentbepalings wat mense op een of ander wyse bind en dat dit aanleiding gegee het tot die skryf van Die onwillige weduwee. In 1965 het Truk-toneel die stuk in die Kleinteater op die planke gebring met Fred Engelen wat die regie waargeneem het. Die rol van die onwillige weduwee is vertolk deur Thea Kirsten en ander spelers was Francois Swart, Pieter Geldenhuys, James Norval, Anna Cloete, Leonora Nel en Mathilda Hanekom.

Henriette se eerste kortverhaalbundel ná die versamelbundel Kwartet is Jaarringe: twaalf kortverhale, wat in 1966 gepubliseer is. In 1966 het die bundel die CNA-prys en in 1967 die WA Hofmeyr-prys ontvang. Uit die titel kan afgelei word dat die temas van die verhale belangrike stadia in die mens se lewe aanspreek: geboorte, jeug, liefde, ouderdom, dood. “Die Betlehem-ster” en “Die dag van môre” wat in Kwartet opgeneem is, is ook in Jaarringe opgeneem.

In sy artikel in Insig (Oktober 1992) het JC Kannemeyer só oor Jaarringe geskryf: “In die bundel verstaan Henriette Grové die kuns om sober en verantwoord te skryf en om ’n boeiende verhaal deur ’n krisis tot die einde op te bou. Die motiewe waarvan sy meestal gebruik maak, is die verlange na die ver plekke, die moontlike bevryding uit ’n verstikkende burgerlike bestaan, die onverbiddelike voortgang van die tyd en die verwikkeldheid van die lewe, dikwels met ’n besondere spanning tussen skyn en wese, leuen en waarheid. Alhoewel sy dikwels van ’n kind of ’n naïewe onderontwikkelde grootmens as verteller gebruik maak, is dit opvallend dat die verhaal in sy geheel ’n groter, omvattender ‘waarheid’ as die vertellende karakter met sy beperkte kyk op sake oordra. Daar is dus ’n boeiende diskrepansie tussen die perspektief van die verteller en die ruimer perspektief van die verhaal.”

Tydens die oorhandiging van die WA Hofmeyr-prys aan Henriette het Alba Bouwer gesê dat dit al in die dae toe Henriette as Linda Joubert vir Sarie Marais geskryf het, duidelik was dat sy met die woord kon werk. “Sy oortuig ons van haar oortuiging en maak jou skerper bewus van die probleem wat elke mens in homself het.” (Die Burger, 28 Augustus 1968)

In haar bedankingswoord het Henriette Grové gesê dat sy ’n geskiedkundige verbintenis met die Nasionale Pers het: “Ek het hulle leer ken as die mense wat Afrikaanse boeke maak – Hans-die-Skipper, Uit oerwoud en vlakte – groot name uit my jeug. Toe ek nog in Wes-Transvaal op skool was – my pa is ’n Ventersburgse Venter – het ons die skoolgebou uitgevee om geld te kry om Die Huisgenoot vir die skool te kan koop. Nou voel dit vir my of ek ver gekom het sinds die tyd van opvoedkundige vee vir die Afrikaanse boek.” (Die Burger, 28 Augustus 1968)

Henriette se kortverhaal “Liesbeth slaap uit” is deur Stephan Bouwer tot ’n enkeldrama verwerk, en dit is in 1990 op Montagu se toneelfees vir skoletoneel in die Wes-Kaap op die planke gebring. Dit is ook later vir televisie verwerk. Hy het ook Meulenhof se mense tot ’n dramareeks vir televisie verwerk.

Met haar volgende gepubliseerde werk in 1971, Winterreis: drie vertellinge, het Henriette die Republiekfeesprys in 1971 ontvang en in 1972 die Oorkonde van die Rapportryerskorps. In Winterreis is “Haar naam was Kinna”, “Wie onthou vir Hanna” en “Winterreis” saamgevat.

Hennie Aucamp was die resensent in Die Burger van 17 Desember 1971: “Met die drie vertellinge in Winterreis het Henriette Grové groot gewaag – kuns, op sy grootste, is altyd ’n ‘eindelose waagstuk’. In hoe ’n mate sy geslaag het, kan nie nou al presies gesê word nie – ’n belangrike skepping laat hom nie op eerste of selfs derde sig ‘verklaar’ nie. Een ding is seker: nog selde is primêre (en daarom verskriklike) temas soos geboorte, lewe, dood, tyd so kragtig saamgebal in één Afrikaanse verhaal soos ‘Winterreis’.

“En dan is daar die taalgebruik – so roekeloos gedurf soos by die groot digters: Van Wyk Louw, Opperman, Eybers. (Hier en daar, asof om haar ‘menslikheid’ te demonstreer, voorbeelde van mooiskrywery!) [...]

“Van ’n sekere berekendheid (of moet ek sê: opvallende berekendheid, want álle kunstenaars beplan) is Grové nie vry te pleit nie. Stilistiese handgrepe moet nie vir hulleself kom aandag vra ten koste van die verhaal nie. [...] En ’n mens sou meer ingetoomdheid by haar assosiasie-reeks wou sien. [...] Nietemin: een van die opwindendste prosawerke van die jaar.”

Hilda Grobler skryf in Perspektief en profiel (1982) dat die titelstuk van die drie vertellinge die beste is, “omdat die vertelling ’n logiese verloop neem en die ontwikkeling van die vertelling direk uit dié verloop voortvloei. In die tweede vertelling (‘Haar naam was Hanna’) is daar ’n gedwongenheid ten opsigte van die ontwikkelingsgang van die verhaal, sodat die slot voorspelbaar is. In ‘Wie onthou vir Kinna’ is daar ’n geforseerdheid, ’n kunsmatige soeke na die sin van die lewe, ’n gedwonge meet van die lewe aan die dood en uiteindelik ’n slot wat nie oortuig nie.”

Met die Taalfeesjaar in 1975 het Henriette ’n opdragwerk, Toe hulle die Vierkleur op Rooigrond gehys het: drama in drie afleweringe, geskryf. Die hoofkarakter in hierdie drama is SJ du Toit en die drama in sy geheel verbeeld die vestiging van die Westerse beskawing in Afrika deur ’n klein groepie mense. Henriette het anderhalf jaar aan die drama gewerk en die eerste ses maande het sy net aan oplees en navorsing gewy.

Die gedeelte wat Grové uit die geskiedenis geneem het, is die Afrikaanse taalstryd – spesifiek ds SJ du Toit se bydrae wat hy daartoe gelewer het. En dan word ook sy konfrontasie met Paul Kruger, destyds president van Transvaal, oor die oorhaastige inlywing van Stellaland en Goosen tot die ZAR uitgelig.

“Deur die stof te stileer, tydsperspektiewe te wissel, funksionele rolwisseling, word dit meer as ’n tablo van ’n bekende stuk geskiedenis wat afspeel. Swakhede in die karakters van sowel Kruger as Du Toit word blootgelê sodat ons mense in plaas van helde kry. [...] Du Toit groei nie tot ’n tragiese figuur nie, moontlik, volgens Ampie Coetzee in Beeld, omdat hy nie die potensiaal gehad het nie.” (Beeld, 5 November 1975)

“En,” het André P Brink in Rapport (26 Oktober 1975) geskryf, “omdat dit so ooglopend ’n opdragstuk is, groei SJ du Toit nooit tot dramatiese gestalte uit nie. [...] SJ du Toit wat die Woord en die woord moet uitdra, doen fariseëragtig en prekerig aan.” Toe hulle die Vierkleur op Rooigrond gehys het is in 1976 met die Perskor-prys bekroon. Dit het ook die eerste prys in ’n kompetisie van die Afrikaanse Taalmonumentkomitee vir ’n Afrikaanse drama verwerf.

Henriette het haar bedankingswoord met die ontvangs van die Perskor-prys in 1976 speels ’n “Lamentasie van ’n hedendaagse skrywer” genoem. “Om skrywer te wees in ons hedendaagse wêreld, dis my probleem. Vroeër het ’n skrywer die ganse skepping as jaggebied gehad. Hy kon as hy ’n storie vertel, die geskiedenis byhaal en sy volk en hulle verlede beskryf en besing. Vandag doen geskiedskrywers dit. Daar is groot gedeeltes van die menslike ervaring wat jy as skrywer eenvoudig nie meer kan gebruik as boustof nie, omdat die maatskappy dit nie meer as probleem ervaar nie.” Sy het voorts ’n hele rits temas opgenoem waaroor ’n skrywer nie meer kan skryf nie en gevra: “Wat bly daar dan uiteindelik oor om oor te skryf? Net die Ek en sy liggaam, sy lyf. Die Ek word teruggedwing tot homself, selfs in homself, al digter, al donkerder totdat dit met hom uiteindelik gaan soos met ’n uitgebrande ster wat totaal in homself ineenstort. Ag, dames en here, jy mag nie eers mooi skrywe nie. My stof is my onteien en van my styl is ek vervreem.” (Hoofstad, 16 Maart 1976)

Om die honderdste verjaardag van C Louis Leipoldt in 1980 te herdenk het die SAUK aan Henriette opdrag gegee om Ontmoeting by Dwaaldrif te skryf. Die tema van die stuk is die tragiese lewensverhaal van Pieter Erbeveld wat in Batavia geleef het, as ’n rebel gevange geneem is, van hoogverraad aangekla is, skuldig bevind is en ’n marteldood gesterf het. Na sy dood is sy huis platgeslaan, sy grond vervloek, ’n muur daarrondom gebou en sy skedel in ’n gedeelte van die tuinmuur geplaas om as skandmonument te dien. Op een van sy reise na die Ooste in 1911 het Leipoldt op hierdie stuk geskiedenis afgekom en dit het ’n blywende indruk op hom gemaak. Die tragiek van die verhaal het hom so aangegryp dat hy dit later verwerk het in Van Noot se laaste aand.

In Tydskrif vir Letterkunde van November 1982 het Réna Pretorius in haar uitgebreide bespreking van Ontmoeting by Dwaaldrifonder andere geskryf:“Hierdie drama wil Leipoldt die digter-dramaturg gedenk – Leipoldt was immers die grondlegger van die Afrikaanse drama – maar dit is ook veel meer. [...] Maar dit wil ook naamlik op die wyse van die literatuur kernvrae van die literatuurwetenskap behandel: ‘Vrae soos Wat is literatuur? Wat is die objek van die literatuurwetenskap? En literatuur as element in die kommunikasieproses; metodes van teksinterpretasies.’”

Ontmoeting by Dwaaldrif draai om Leipoldt se belangstelling in die Javaan Pieter Erbeveld. Hierdie geskiedkundige figuur, wat op 22 April 1722 weens hoogverraad tereggestel is, se gees kon nie tot rus kom nie, omdat hy, syns insiens, onskuldig was. Leipoldt wou hierdie stof artistiek verwerk en het tien jaar lank daaroor gepeins. Op 22 April 1922 “ontmoet” Leipoldt die gees van Pieter Erbeveld by Dwaaldrif toe sy motor in die drif vasval. Hy voer die nag ’n gesprek met Erbeveld en hulle bespreek hoe Leipoldt aan die geskiedkundige verhaal vorm kan gee. Leipoldt besluit uiteindelik om die fiktiewe Martha van die Kaapse mark te skep wat deur haar geliefde, Van Noot, in die steek gelaat word. Leipoldt toon aan dat liefde “bar” is, want Martha besef dat haar liefde deur haat gevoed word. Erbeveld se verhaal vind uiteindelik gestalte in Leipoldt se fiktiewe verbeelding, en is nie geskiedkundig enigsins korrelerend nie. Leipoldt “dwaal” inderdaad by die “drif” – gedrewe deur sy skeppingsdrif – aldus Rèna Pretorius.

Pretorius het voortgeskryf: “Die teks kan deur soveel lesers op soveel wyses gelees word – dit kan bloot as spanningsdrama geniet word, dit werp lig op die lewe van Leipoldt, dit kan as huldigingstuk waardeer word, dit kan deur literatore geniet, bekyk en geanaliseer word op grond van die feit dat dit praktiese illustrasie is van hoe die literatuurwetenskap ontwikkel het.”

Henriette het in 1981 die Hertzogprys vir Ontmoeting by Dwaaldrif ontvang, en die feit dat daar groot eenstemmigheid oor die keuse was, het die gehalte van die stuk beklemtoon. Sy was die eerste vrou wat die Hertzogprys vir ’n drama ontvang het en dit was ook die eerste maal dat ’n hoorspel hierdie belangrike prys gekry het.

PH Roodt het, volgens Chris Louw (Vaderland, 29 April 1981), só geskryf oor Ontmoeting by Dwaaldrif: “Ek het min twyfel dat mens hier – al is dit ’n opdrag- en geleentheidstuk – met ’n besondere radiodrama te doen het, wat ’n groeipunt verteenwoordig in Henriette Grové se drama-oeuvre.”

Dirk Vermeulen het Ontmoeting by Dwaaldrif vir Republikein (3 Julie 1981) bespreek. Sy enigste punt van kritiek is die dialoog in Dwaaldrif: “Dit raak soms geforseerd. Grové speel te veel met woorde en dit word te gewaarde eksperimente. [Maar] in sy geheel gesien is Ontmoeting by Dwaaldrif seker Henriette Grové se beste werk tot op hede.”

In 1981 is Die kêrel van die Pêrel, of, Anatomie van ’n leuenaar: drie vertellings waarin die liefde ter sprake kom deur Tafelberg Uitgewers gepubliseer. Die vertellings wat hierin opgeneem is, is “Die kêrel van die Pêrel / Anatomie van ’n leuenaar”, “Affaire de coeur” en “Douw en Fransiena”.

André P Brink (Rapport, 18 Desember 1983) het dit beskryf as ’n genoeglike leeservaring – “waarskynlik die knapste prosa wat sy tot dusver geskryf het – versorg, pittig, veelduidig, tegelyk helder én subtiel. Die titelverhaal kon op sy eie bene staan. Dievoortreflikheid van hierdie verhaal lê veral in die manier waarop die verhaal as skeppingsproses in ’n volgehoue spel van narratiewe momente aangebied word, ondersteun deur ’n samehangende weefwerk van metafore. [...] ‘Douw en Fransiena’ kan gereken word as een van Grové se subtielste kortverhale. Intelligent, skerp én speels, dit is Die kêrel van die Pêrel gewis; en met vrymoedigheid aan te bevole.”

Die beoordelaars van die verskillende letterkundige pryse het volmondig met Brink saamgestem, en in 1983 het Henriette die CNA-prys gedeel met Breyten Breytenbach, wat dit vir Yk gekry het. In 1984 volg die WA Hofmeyr-prys, asook die Hertzog-prys.

JC Kannemeyer meen dat dit welverdiende erkenning was vir die groot bydrae wat sy op die gebied van die Afrikaanse prosa gelewer het. Hy beskryf Die kêrel van die Pêrel só: “Dit is ’n werk waarin sy, soos vroeër, met allerlei parallelismes, kontraste en ’n heen-en-weer-beweging tussen twee tye ’n hele lewe tot ’n manjifieke slot opbou.” (Insig, Oktober 1992)

Met die ontvangs van die Hertzog-prys in 1984 het Henriette in haar toespraak gesê dat om te skryf baie is soos om aan die verkeerde kant van die pad te bestuur: “daar is botsings, jy druis teen die geroetineerde gebruik in, teen die stroom, en as jy anderkant uitkom, is dit louter genade”. (Die Burger, 30 Junie 1984)

In Die Burger van 23 Februarie 1984 het JP Smuts die mening uitgespreek dat Henriette Grové met hierdie nuwe bundel haar reputasie as een van Afrikaans se belangrikste prosaïste gestand doen: “Die sinryke titelverhaal in hierdie drieluik is beslis een van die betekenisvolste toevoegings tot die Afrikaanse literatuur die afgelope tyd.”

Met die publikasie van In die kamer was ’n kas in 1989 word Henriette se oeuvre afgesluit. In ’n onderhoud met Annari van der Merwe in De Kat van Januarie 1990 het Van der Merwe In die kamer was ’n kas “’n roman” genoem. Henriette Grové het egter van Van der Merwe verskil en haar reaksie was as sulks: “Dit is vir my baie moeilik om te sê waarom dit nie ’n roman is nie. Dis ’n maaggevoel – ’n roman werk vir my anderster. Dis ook nie ’n novelle hierdie nie. Dit is drie verskillende stories wat nie by mekaar aansluit nie, maar wat mekaar weerkaats. Jy kan nie die een storie losmaak van die ander nie, alhoewel hulle oënskynlik niks met mekaar te maak het nie.”

Van der Merwe het dit aan Henriette gestel dat daar vier stories is – in die verteller, Peternel, is daar ook ’n storie opgesluit en só het Henriette Grové haar geantwoord: “Maar hy’s nie gegee nie! Ek weet ook nie of daar een is nie, maar die verteller is definitief die bindingsfaktor in die storie, en dis háár reaksies wat in groot mate die oorgange bewerk.”

Die uitgewers het In die kamer was ’n kas beskryf: “’n Verhaal van angs en ontrou, van bloedskande, egbreuk en genetiese verval, diep ingebed in die Afrikaanse landskap.”

Annari van der Merwe het geskryf dat twee van die verhale in In die kamer was ’n kas verder teruglê in die tyd, “die derde se drade sou tot by vandag kon span” – “Ek wou dit eers net die twee óú stories maak,” het Henriette daarop gereageer, “en toe’t ek naderhand gevoel ... Ons argitekvriend het altyd gesê drie maak ritme, en toe’t ek die meer moderne storie bygevoeg.”

Maar elkeen lees ontstellend soos die “waarheid”, het Annari bygevoeg, “al doen die verteller haar bes om dié illusie te verbreek”.

Henriette Grové het ook baie beslis op Van der Merwe se vraag geantwoord: “Nee, daar is absoluut niks van waar nie. Nou daar is sekere gegewens in die verhale. Kyk die storie van Petrus van Deventer, dit is natuurlik iets wat jy nogal wel kry – jy wil byna sê Boere-stories – van so ’n onegte kind. As jy skrywe, maak jy altyd hier en daar gebruik van feite, wat jy só verander dat hulle uiteindelik nie meer herkenbaar is nie. Daar is soveel feite wat van verskillende plekke af bymekaar gekom het.”

In die kamer was ’n kas het JC Kannemeyer (Insig, Oktober 1992) só beskryf: “Dit is ’n roman oor bloed, sonde, skuld, boetedoening en dood waarin Grové met allerlei perspektiwiese verskuiwings van ’n verwikkelde verteltegniek gebruik maak. Die grepe uit drie eras wat in drie karakters gestalte vind, lei tot boeiende parallelismes en sorg met die gebruik van spieëlbeelde vir ’n fyn wisselwerking en ’n interessante variasie op die motiewe van kontinuïteit van die geslagte en die misdade van die vaders in die ouer Afrikaanse verhaalkuns.”

Helize van Vuuren het oor dié roman geskryf: “’n Geur van vervloë dae en motballetjies styg in die leser se neusgate op by die oopmaak-en-lees van dié ‘kas’-vertelling van Grové. Gedeeltelik is dit ook so bedoel: die sentrale en vernuftige verteltegniek is die invoer van die verteller as jong kind wat kyk in haar ouma se outydse ‘dreskas’, met spieëls in die middel sowel as aan die kante. Die driedelige vertelling is dan die weerspieëling van die skimme van die verlede wat van agter die kas te voorskyn kom. Op neëntiende-eeuse wyse (of is dit bedoel as post-modernistiese? – die modewoord van die oomblik waarmee te pas en te onpas geboer word), word die leser direk aangespreek: Onthou u die Elizabethiaanse tragedies met hulle vyf bedrywe en teen die einde lê die hele verhoog besaai met sterwendes en dooies, ’n hele oes? In hierdie stories voel dit my ook al na ’n oormaat van afgestorwenes. Die spieëls van die grootmoeder se spieëlkas word simbole van die terugkyk die verlede in, een van die sentrale motiewe. [...] Die boek lees soos ’n anachronisme – asof dit veertig jaar êrens in ’n laai vergete gelê het. Dis asof daar geen wisselwerking is tussen die spanninge in die boek en die konflikte van die huidige Suid-Afrikaanse sosio-politieke konteks nie. Dit is ’n geskrif wat kommentaar lewer op ’n samelewing wat nie meer bestaan nie, vanuit ’n perspektief wat geen verwantskap toon óf insig bied in die omringende maatskappy nie.” Ten slotte meen Van Vuuren dat dit ’n triestige, neerdrukkende en hoogs anachronistiese boek is wat hier teen die einde van die twintigste eeu as vreemde verskynsel aandoen. “Dis jammer dat ’n prosateur met soveel vermoëns se talent op dié manier ontspoor.” (Die Burger, 14 Desember 1989)

In reaksie op hierdie resensie van Van Vuuren skryf Joan Hambidge in ’n brief aan Die Burger (5 Februarie 1990) dat Van Vuuren uit die oog verloor dat Grové onder meer ’n wêreld teken wat vandag nie meer waar is nie, maar in die verlede ’n weerspieëling van die “werklikheid” was. “Vandaar die ‘outydse rassisme’. Dus: al is die boek in 1989 geskrywe, verbeeld dit ’n wêreld wat verby is.”

In die kamer was ’n kas is in 1990 met die CNA-prys bekroon.

In 1981 is die SAUK se Radiodrama-prys aan Ontmoeting by Dwaaldrif toegeken. ’n Eredoktorsgraad van haar alma mater, die Potchefstroomse Universiteit (vandag Noordwes-Universiteit) is in 1983 aan Henriette toegeken. Sy het die graad ontvang vir die groot bydrae wat sy gelewer het op die gebied van kuns, en veral die Afrikaanse prosa en drama: “Daarmee het die karakter en standpunte van die (destydse) PU vir CHO sterk na vore gekom.” (Hoofstad, 10 Februarie 1983)

In 1985 ontvang sy saam met Mabel Chueu, ’n gemeenskapswerker van Pietersburg, die Adelaide Ristori-prys, wat jaarliks toegeken word aan vroue wêreldwyd vir uitsonderlike prestasies op die terreine van kuns en wetenskap.

Die Universiteit van Pretoria het in 1989 ’n Kanseliersmedalje aan Henriette Grové toegeken.

Henriette se lewe en werk was in 1998 die onderwerp van die Suid-Afrikaanse Polisie se kultuurvereniging, Akpol, se vasvrawedstryd vir hoërskole.

Op haar 75ste verjaardag in 1997 (Die Burger, 27 September) het Henriette aan Stephanie Nieuwoudt vertel dat wanneer ’n mens 75 is, jy nie meer te ver vorentoe kyk nie. “Jy gaan maar net aan en probeer aanpas by die veranderinge wat om jou plaasvind. En ek bly huiwerig om my boeke romans te noem. Die woord roman beteken vir my heeltemal iets anders as wat die meeste mense daaronder verstaan. Ek weet nie presies hoe om ’n roman te beskryf nie. Miskien as ek een aand weer nie kan slaap nie, sal ek skielik aan ’n goeie definisie dink. My werke noem ek eerder vertellings.”

Henriette het verder aan Nieuwoudt gesê dat sy in die algemeen oor karakters geskryf het wie se verhale teen die agtergrond van die laat jare van die negentiende eeu afspeel. “Daar is ook ’n sterk draad van bloed en verraad en ’n verbondenheid en verknogtheid aan die grond wat deur my werk loop. Die spilpunt van die meeste verhale is vroue, gewoonlik vroue wat swaar kry. Maar ek is gewis nie ’n feminis nie. My pa, ’n onderwyser, het vir almal om hom ruimte gegun. My man ook. Ek het nooit bedreig gevoel nie, afgesien van ’n eksistensiële bedreigdheid. Maar almal ly maar aan dié gevoel van bedreigdheid.”

JC Kannemeyer was van mening dat Grové in haar beste kortverhale werk van ’n besondere gehalte gelewer het. “Vóór haar is die kortverhaal veral verfyn deur Van Melle en Elise Muller en ná haar is hierdie verfyning voortgesit deur skrywers soos Aucamp, De Vries, Haasbroek, Prinsloo en Etienne van Heerden. Die eer kom Henriette Grové toe dat sy by die ingang van die Afrikaanse prosa in die tweede lustrum van die vyftigerjare die vernuwing in verteltegniek en verwikkelde konstruksie in die kortverhaal ingelei het, maar met behoud van die basiese temas van die prosa voor Sestig. Daarom is haar werk nie so ’n radikale breuk met die tradisie as Rabie se 21 nie. Op haar eie manier het sy egter die Afrikaanse kortverhaal verfyn en tegnies vernuwe, ’n vernuwing waarop skrywers ná haar kon voortbou.” Uit Henriette se kortverhale kies Kannemeyer “Dood van ’n maagd”, “Die Betlehem-ster”, “Kom herwaarts getroues”, “Die ver plekke” en “Liesbeth slaap uit” as sy persoonlike voorkeure. (Insig, Oktober 1992)

In 2002 vertel Grové aan Elize Botha dat sy weer besig is met ’n boek oor die Eerste en Tweede Vryheidsoorlog en daaraan dink om dit te noem Dem bones gwin rise again – die hinderlaag by Soetboomskom. Dit het, volgens haar, met oorloë te make, maar eintlik met die pyn en swaarkry waaraan geen mens op hierdie aarde ontkom nie. (Die Burger, 12 Oktober 2002)

Henriette Grové is op 15 Desember 2009 in Pretoria oorlede. Sy laat drie kinders – Elsa Nolte, Niek Grové en AP Grové – en sewe kleinkinders agter.

  • Heilna du Plooy: “Henriette Grové was ’n hoogs intellektuele skrywer en ’n baie nederige mens. Haar kortverhaalbundels bevat wonderlike, tydlose stories waarvan sommiges selfs verfilm is.” (Die Burger, 17 Desember 2009)
  • Piet Roodt: “Sy was ’n baie skerpsinnige vrou wat baie lekker kon gesels. Sy het in alles belang gestel en was ontsaglik belese. In haar geselskap het ek agtergekom hoe min ek weet. Sy het die Duitse, Engelse en Amerikaanse letterkunde geken en alles gelees waarop sy haar hande kon lê.” (Die Burger, 17 Desember 2009)
  • Jacques van der Elst: “Sy was ’n belangrike figuur in die Afrikaanse letterkunde wat met haar prosawerk ’n merk gemaak en uitdagende temas aangegryp het.” (Die Burger, 17 Desember 2009)
  • Dot Serfontein: “Sy het nie die status verwerf wat haar toegekom het nie. Haar werk is op ’n hoë peil.” (Die Burger, 17 Desember 2009)
  • Elize Botha het altyd gesê dat Henriette ’n baie slim vrou is. (Die Burger, 17 Desember 2009)

In Vyftig Afrikaanse skrywers (1981)het Elize Botha as volg oor Henriette Grové geskryf: “Ontnugtering is ’n terugkerende motief in Henriette Grové se werk: dit maak deel uit van haar preokkupasie met die dwingelandy van die tyd in die menselot; die ironie word gebruik in die uitbeelding van die mens se stryd om sin uit sy lewensloop te haal. Die landelike omgewing van haar Wes-Transvaalse jeug is in haar werk ingebou, maar sy betrag dit nie met nostalgie nie; dit is die strydperk van die mens. Haar genuanseerde gebruik van vertellers in haar verhale, en haar ontginning van verskillende betekenismoontlikhede van ’n woord ten einde die teenstrydighede waarmee die mens in sy soeke na sin te kampe het, te toon, vorm belangrike aanwinste vir die Afrikaanse kortkuns. ‘Die Betlehem-ster’, ‘Vakansie vir ’n hengelaar’ en veral ‘Dood van ’n maagd’ in Jaarringe het reeds die status van klassieke verhale in Afrikaans.”

Heilna du Plooy het in Tydskrif vir Letterkunde (Januarie 2010) ’n huldeblyk aan Henriette Grové geskryf en sy het dit só afgesluit: “Henriette Grové was ’n waardige mens, ’n besonder intelligente en belese vrou. Sy was ook ’n ernstige mens wat haar nie wou besig hou met voor die hand liggende antwoorde in haar verhale nie. Sy was ’n soeker na die sin en die betekenis van dinge en hierdie soektog is met toegewyde erns in haar tekste uitgevoer. Ek het die profiel oor haar in Perspektief en Profiel (deel I, 1998: 487) afgesluit met die volgende woorde en ek staan steeds daarby:

“‘Hierdie literatuur is gemoeid met die is van lyding en dood – dit is nie met eskatologie besig nie, maar met die syn. Die werk spreek dan ook van ’n geestelike volwassenheid wat anderkant oppervlakkige bespiegelinge en geykte troosformules lê. Dis ’n lament oor die menslike kondisie wat tot in sy diepste verborgenhede aangetas is. Tog is dit nie net ’n klaaglied oor menslike lyding en dood, oor onvermoë en gebrek aan insig nie, dis ook en veral ’n eerbetoon aan menslike uithouvermoë.’”

Publikasies:

Publikasie

Die avonture van Bimbo, die sirkusbobbejaan

Publikasiedatum

1948

ISBN

(sb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Eugène Marais-prys, 1982

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die verlore skoentjie

Publikasiedatum

  • 1948
  • 1982
  • 1985

ISBN

  • (sb)
  • 0868146730 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels vertaal deur Marguerite Sabbagha, 1982; Beverley van Reenen, 1985 as The lost slipper

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Bimbo en Prins

Publikasiedatum

1950

ISBN

(sb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die lui bytjie

Publikasiedatum

1951

ISBN

(sb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Kwartet, saam met MER, Ina Rousseau en Elisabeth Eybers

Publikasiedatum

  • 1957
  • 1959
  • 1960
  • 1962
  • 1965
  • 1974

ISBN

0624006255 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

WA Hofmeyr-prys

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Lindenberg, E: Kwartet. Huisgenoot, 4 April 1958
  • Mellet, HF: Kwartet. Patrys, April 1961
  • Smuts, JP: Kwartet. Unie, Januarie 1961
  • Tredoux, Elizabeth: Kwartet. Sarie Marais, 6 Augustus 1958
  • Verhage, JA: Kriterium, Oktober 1964

 

Publikasie

Die goeie jaar

Publikasiedatum

  • 1958
  • 1960
  • 1962
  • 1972
  • 1973

ISBN

  • (hb)
  • 0624002667 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Eugène Marais-prys vir al haar dramas, 1966

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • AJC: Die goeie jaar. Tydskrif vir Letterkunde, Maart 1959
  • Antonissen, Rob: Die goeie jaar. Standpunte, April 1961
  • Burgers, MPO: Die goeie jaar. Huisgenoot, 9 Januarie 1959
  • Cloete, TT: Die goeie jaar. Koers, Mei 1960
  • De Vries, JM: Die goeie jaar. Zuid-Afrika, Januarie 1959

 

Publikasie

Die glasdeur

Publikasiedatum

  • 1959
  • 1962
  • 1964
  • 1967
  • 1970
  • 1971
  • 1981
  • 1988

ISBN

  • 062800060X (hb)
  • 0628033478 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Eugène Marais-prys vir al haar dramas, 1966

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Antonissen, Rob: In: Kern en tooi. 1962. Kaapstad: Nasou
  • Behrens, Louise: Die glasdeur. Vaderland, 25 September 1970
  • Beneke, JJP: Die glasdeur: ’n nagedagte. Klasgids, November 1972
  • Burgers, MPO: Die glasdeur. Huisgenoot, 2 Oktober 1959
  • Conradie, PJ: Die glasdeur. Tydskrif vir Letterkunde, Junie 1962
  • Jansen van Vuuren, IL: ’n Wêreld deur glas: blou, geel en rooi... ’n Bespreking van Die glasdeur. Klasgids, Mei 1972
  • MAG: Die glasdeur deur Henriette Grové. Die Unie, 1 Mei 1962
  • Odendaal, Louw: Die glasdeur. Hoofstad, 27 Oktober 1972
  • Ohrmann, Org: “Glasdeur” ál beter [Radioteater]. Transvaler, 31 Maart 1966
  • Opperman, AJ: Klassieke drama deur Grové op Radioteater. Netwerk24, 2 November 2022
  • RM: Die glasdeur. Tydskrif vir Letterkunde, Desember 1959
  • RvR: Drie susters sien die lewe deur drie gekleurde ruitjies. Die Burger, 11 September 1959
  • Sesde herdruk van Grové se drama. Vaderland, 25 September 1970
  • Van Deventer, Suzanne: “Die glasdeur” van Henriette Grové. Klasgids, Oktober 1989
  • Van Zyl, Anna: Elkeen kyk deur ’n ander ruit. Volksblad, 21 Junie 1962
  • Vulpen: Die glasdeur deur H Grové. Taalgenoot, Oktober 1959

 

Publikasie

Halte 49 en twee monoloë vir die radio geskryf

Publikasiedatum

  • 1962

ISBN

0624005046 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Radiodrama

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Eugène Marais-prys vir al haar dramas, 1966

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Antonissen, Rob: In: Spitsberaad. 1966. Kaapstad: Nasou
  • Brink, André P: Oor boeke. Huisgenoot, 15 Maart 1963
  • Conradie, PJ: Afrikaanse drama. Kriterium, Oktober 1963
  • De Koker, B: ’n Radiodrama en twee monoloë saam [bron en datum nie vermeld op knipsel]
  • Drie radiostukke verduursaam in puik bundel. Vaderland, 8 Maart 1963

 

Publikasie

Jaarringe: twaalf kortverhale

Publikasiedatum

1966

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • CNA-prys, 1966
  • WA Hofmeyr-prys, 1967

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die onwillige weduwee, of, Sybrandus Saliger: ’n kunsmatige klug in drie bedrywe

Publikasiedatum

  • 1966
  • 1969
  • 1972
  • 1975
  • 1984

ISBN

  • 0624003523 (hb)
  • 0624021572 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • Eerste prys in die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging se dramaprysvraag, 1964
  • Eugène Marais-prys vir al haar dramas, 1966

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Botha, Elize: “Weduwee” kundige kommentaar. Vaderland, 31 Desember 1965
  • Cloete, TT: Die onwillige weduwee. Standpunte, April 1966
  • Du Plessis, PG: ’n Goeie klug – maar nie ’n grote. Sondagstem, 13 Maart 1966
  • Du Randt, H: “Die weduwee” ’n waardige bydrae. Die SA Beeld, 3 April 1966
  • “Onwillige weduwee” blywende bydrae. Dagbreek Sondagnuus, 13 Februarie 1966
  • Spangenberg, DF: Die onwillige weduwee. De Arte, Oktober 1970
  • Van der Walt, PD: Henriette Grové: Die onwillige weduwee. Taalgenoot, Maart 1966

 

Publikasie

Winterreis: drie vertellinge

Publikasiedatum

  • 1971
  • 1977

ISBN

0624001733 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • Republiekfeesprys, 1971
  • Oorkonde van die Federasie van Rapportryerskorpse, 1972

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Aucamp, Hennie: Dié reis ’n opwindende stuk prosa. Die Burger, 17 Desember 1971
  • ’n Boeiende boek. Oosterlig [geen datum]
  • Coetzee, AJ: Winterreis. Rapport, 19 Maart 1972
  • Henriette Grové kry oorkonde. Die Burger, 24 Julie 1972
  • Kromhout, Jan: All about drugs. The Star, 10 Mei 1972
  • Minnaar, LC: Boekbespreking. Gereformeerde Vroueblad, September 1972
  • Prinsloo, Hazel: Portraits of two women. Cape Times, 26 April 1972
  • SB: ’n Meesterverteller aan die woord. Staatsamptenaar, April 1972
  • Schutte, HJ: Perspektivering van die tyd in “Winterreis”. Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1973
  • Van Zyl, Anna: Voortreflike stuk literatuur. Volksblad, 22 Desember 1972
  • Winterreis is wrang, maar groots. Transvaler, 7 Julie 1972
  • Winterreis word bekroon. Hoofstad, 12 Augustus 1972
  • WM: Winterreis. Voorligter, September 1972
  • Wollheim, OD: A writer of note. The Argus, 1 Maart 1972

 

Publikasie

Toe hulle die Vierkleur op Rooigrond gehys het: drama in drie afleweringe

Publikasiedatum

  • 1975
  • 1976

ISBN

0628008252 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Perskor-prys, 1976

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Botha, Elize: Toe hulle die vierkleur op rooigrond gehys het. Beeld, 31 Desember 1975
  • Brink, André P: “Drama” oor SJ du Toit word ’n vervelige les. Rapport, 26 Oktober 1975
  • Cloete, TT: Bekroonde drama. Hoofstad, 14 November 1975; Tydskrif vir Letterkunde, November 1975
  • Coetzee, Ampie: SJ du Toit en Kruger bots. Oosterlig, 21 November 1975; Inkwisisie op die verlede. Beeld, 5 November 1975
  • Eie verlede. Kerkblad, 21 Januarie 1976
  • Horne, Hannes: Vier kleur nie toneelmatig. Hoofstad, 23 April 1976
  • Perskor vier taaljaar met ’n skat van boeke. Vaderland, 22 Julie 1975
  • Perskorboeke herdenk stigting van GRA. Oggendblad, 31 Julie 1975
  • Van der Walt, PD: Antigone opnuut gepubliseer. Transvaler, 18 Oktober 1975
  • Van Zyl, Anna: Drama oor taalheld. Volksblad, 19 Desember 1975

 

Publikasie

Ontmoeting by Dwaaldrif

Publikasiedatum

  • 1980
  • 1982

ISBN

  • 0628019432 (hb)
  • 0628023561 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Radiodrama

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • Hertzogprys, 1981
  • SAUK-prys vir radiodramas, 1981

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Beneke, Hannes: Dwaaldrif illustreer ’n ou waarheid. Transvaler, 29 Junie 1981
  • Claassen, George: Prys vir Grové is groot mylpaal. Beeld, 29 Mei 1981
  • De Wet, Anna: Skryfster toon fyn aanvoeling vir Leipoldt. Die Hervormer, 30 September 1981
  • Louw, Chris: Sy wou nie, maar toe wen sy Hertzog-prys. Vaderland, 29 April 1981
  • Meyer, Jackie: Dwaaldrif: ontmoeting met drama in Ontmoeting by Dwaaldrif (H Grové). Klasgids, Februarie 1984
  • Olivier, Gerrit: Ontmoeting by Dwaaldrif is ’n literêre spookstorie. Vaderland, 29 Oktober 1981
  • Pretorius, Réna:
  • Prins, MJ: Benoeming as literêre taalhandeling: Ontmoeting by Dwaaldrif. Journal of Literary Studies, volume 2, 1986
  • Rabie, Jan: Drama – the weakest link in Afrikaans writing. Cape Times, 28 Augustus 1981
  • Schutte, HJ:
      • Dwaaldrif ’n boeiende radiodrama. Hoofstad, 11 Mei 1981
      • Henriette Grové: Ontmoeting by Dwaaldrif. Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1981
  • Steenberg, Elsabe: Ontmoeting by Dwaaldrif (Henriette Grové) [geen bron of datum op knipsel nie]
  • Vaughan, Rike: Analise skaars meer as inleiding. Rapport, 28 Augustus 1982
  • Vermeulen, Dirk: Dwaaldrif het eie lewe. Republikein, 3 Julie 1981

 

Publikasie

Die kêrel van die Pêrel, of, Anatomie van ’n leuenaar: drie vertellings waarin die liefde ter sprake kom

Publikasiedatum

  • 1983
  • 1988

ISBN

  • 0624022439 (hb)
  • 0624026582 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortprosa

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • Hertzog-prys, 1984
  • WA Hofmeyr-prys, 1984
  • CNA-prys, 1983

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Aucamp, Hennie: Woorde en waarheid dien as hooftema: Kêrel van die Pêrel is ’n testament vir Grové. Vaderland, 5 Desember 1983
  • Botha, Elize: Bundel spreek van rypheid en vertroue. Beeld, 12 Desember 1983; Oosterlig, 23 Januarie 1984
  • Brink, André P: Met dié kêrel oortref Grové haarself. Rapport, 18 Desember 1983
  • Du Plooy, Heilna: Verhaalteorie en teksanalise: enkele samevattende gedagtes. Literator, 1985
  • Ester, Hans: Henriette Grové’s drieluik over liefde en waarheid. Zuid-Afrika, Mei 1984
  • Hattingh, Marion: Jongste Grové-bundel nie op baadjie te takseer. Volksblad, 13 Desember 1983
  • Landman, Ruda: Wat om te lees. Sarie, 14 Maart 1984
  • Smuts, JP:
  • Van Zyl, Ia: Henriette Grové slaag met verdigting van emosie. Suidwester, 3 Februarie 1984

 

Publikasie

Vyftig 1932–1982 Afrikaanswording: drie eenbedrywe,saam met Louis de Villiers en AS van Straten

Publikasiedatum

1988

ISBN

0624006255 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Universiteit van Pretoria

Literêre vorm

Eenbedrywe

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

In die kamer was ’n kas

Publikasiedatum

1989

ISBN

0624027791 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

CNA-prys, 1990

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Brink, André P: Storiedenke. De Kat, Augustus 1990
  • Du Plooy, Heilna: Die polifoniese gesprek – intertekstualiteit as leesmodus. Stilet, September 1990
  • Ester, Hans: Wat is de mens? Zuid-Afrika, Junie 1990
  • Hambidge, Joan: Politiek moenie resensie bepaal [brief]. Die Burger, 5 Februarie 1990
  • Malan, Charles: Onfeilbare aanvoeling. Beeld, Februarie 1990 [spesifieke uitgawe word nie vermeld]; Volksblad, 10 Desember 1989
  • Nolte, Elsa: ... Per speculum in aenigmate ... Deur ’n spieël in ’n raaisel ... Deel II: In die kamer was ’n kas. Tydskrif vir Letterkunde, Februarie 1999
  • Olivier, Gerrit: Die bloed van die mensdom. Vrye Weekblad, 26 Januarie 1990
  • Pheiffer, RH: Intense verhale oor onegte kindskap, bloedskande, aborsie. Kerkbode, 23 Februarie 1990
  • Roos, Henriette: Grové is haar voortreflike self in nuwe verhale. Rapport, 10 Desember 1989
  • Van Vuuren, Helize: Bloed, sonde en skuld in Henriette Grové se “Kamer”: verwronge weerspieëling van die verlede. Die Burger, 14 Desember 1989
  • Van Zyl, Ia:
      • Grové borduur voort. Die Republikein, 12 Januarie 1990
      • Grové: Die verteller wat weerspieël. Insig, Desember 1989
  • Vaughan, Rike: ’n Kas met baie spieëls. Transvaler, 19 Maart 1990

As Linda Joubert

Publikasie

Roosmaryn en wynruit

Publikasiedatum

  • 1960
  • 1973
  • 1982 (Grootdruk)

ISBN

  • 0798600969 (hb)
  • 0868145173 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: HAUM
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegekenen kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Blignault, Audrey: Roosmaryn en wynruit. Huisgenoot, 3 Augustus 1962
  • RN: Dié skryfster ken ons land en mense. Die Burger, 30 Maart 1962
  • Smuts, JP: Roosmaryn en wynruit. Inset, Junie 1962
  • Van Zyl, Anna: Verhale speels en lig. Volksblad, 16 Mei 1974

 

Publikasie

Meulenhof se mense

Publikasiedatum

  • 1961
  • 1963
  • 1965
  • 1978
  • 1991
  • 2009

ISBN

  • 0798108053 (hb)
  • 0798122412 (sb)
  • 9780798149129 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Afrikaans novel as TV drama. The Argus, 28 Februarie 1980
  • Behrens, Louise: Meulenhof se mense. Staatsamptenaar, Oktober 1961
  • Blignault, Audrey:
      • Meulenhof se mense. Sarie Marais, 8 November 1961
      • ’n Uitmuntende verhaal. Huisgenoot, 17 November 1961
      • Wat kan ek lees? Radio Suid-Afrika: Vrouerubriek [geen datum]
  • Cilliers, Stoffel: Presies so dramaties soos 50 jaar gelede. Beeld, 23 Maart 2009; Volksblad, 3 April 2009
  • Coetzee, GHJ: Meulenhof se mense. Oggendblad, September 1961
  • EAE: Meulenhof se mense. Huisvrou, Oktober 1961
  • Kriel, Sugnet: Meulenhof se mense. Inset, Oktober 1961
  • Oberholzer, Mike: Meulenhof se mense. Vrouekeur, 3 Oktober 2008
  • RN: Drie susters [geen bron en datum op knipsel]
  • Van Zyl, Anna: Meulenhof se mense. Volksblad, 31 Augustus 1961

 

Publikasie

Die laat lente

Publikasiedatum

  • 1962
  • 2009

ISBN

  • (hb)
  • 97780798149730 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Behrens, Louise: Die laat lente. Staatsamptenaar, Januarie 1963
  • Blignault, Audrey: Die laat lente. Huisgenoot, 1 Maart 1963
  • Cilliers, Stoffel: Te maklik, en net te onwaarskynlik. Beeld, 22 Junie 2009; Volksblad, 15 Junie 2009
  • Die laat lente. Landbouweekblad, 19 Junie 2009
  • SC: Romantiek wat beskaaf en gewild is. Die Burger, 2 November 1961; Volksblad, 20 Desember 1962

 

Artikels oor en deur Henriette Grové

Artikels oor pryse wat Henriette Grové ontvang het

  • Bekende skryfster is vereer [foto]. Volksblad, 30 Junie 1984
  • Breyten, Henriette joint winners. The Argus, 29 Maart 1984
  • Cluver, Gus: Henriette wen Hertzog-prys. Transvaler, 25 April 1981
  • Coetzee, Estelle: Henriette is tevrede met haar “Kêrel”. Vaderland, 28 April 1984
  • “Doodgewone ma” kry ’n buitengewone prys. Transvaler, 21 Maart 1967
  • Dramaprys. Die Burger, 22 Oktober 1976
  • Gray, Ian: Writer, producers win awards. The Star, 25 September 1981
  • Grové kry CNA-prys [foto]. [Geen bron of datum vermeld]
  • Grové se werk ’n hoogtepunt. Oosterlig, 2 Julie 1984
  • Grové wen gesogte prys met hoorspel. Volksblad, 25 April 1981
  • Grové-drama wen weer. Oggendblad, 19 Februarie 1976
  • Grové-radiodrama wen Hertzogprys. Die Burger, 25 April 1981
  • Henriette Grové kry prys [foto]. Volksblad, 29 Augustus 1965
  • Henriette kry prys. Hoofstad, 15 Maart 1976
  • Henriette wen die Hertzog. Oggendblad, 25 April 1981
  • Jy kan g’n meer skryf! Rapport, 14 Maart 1976
  • Kêrel van die Pêrel is piek in Grové se oeuvre. Beeld, 30 Junie 1984
  • Kruger, Joan: Perskorpryswenner sonder pretensies. Transvaler, 27 Februarie 1976
  • NALN huldig Henriette Grové. 3 Maart 1992
  • Perskorprys oorhandig: Al moeiliker om te skryf – Grové. Transvaler, 15 Maart 1976
  • Prinsloo, Koos:
      • “Langs die tafel van die ryk mense”. Beeld, 7 Mei 1984
      • Met dié visie wen Grové. Beeld, 16 Augustus 1984
  • Prys aan Grové vir Dwaaldrif. Oggendblad, 25 April 1981
  • Roux, Madeleine: Henriette Grové – acclaim for play. Pretoria News, 22 Oktober 1975
  • Skryf is “soos stroom-op bestuur”. Die Burger, 30 Junie 1984
  • Skryfster kry prys [foto]. Transvaler, 23 Oktober 1975
  • Skryfster prys Grové oor bundel [by oorhandiging van WA Hofmeyr-prys aan Jaarringe in 1967]. Die Burger, 28 Augustus 1968
  • Skryfsukses is “louter genade”. Volksblad, 30 Junie 1984
  • Taalprijs voor Henriette Grové. Zuid-Afrika, November/Desember 1976
  • Temas verlore, sê bekroonde skryfster. Oggendblad, 15 Maart 1975
  • Toekennings in letterkunde aan twee vroue. [Geen bron of datum vermeld]
  • Vermaak, Kittie: Bekronings maak Henriëtte [sic] se hart nog altyd bly. Transvaler, 7 September 1990
  • Wenner van groot prysvraag. Transvaler, 24 April 1964

Artikels deur Henriette Grové

  • ’n Boek wat my lewe verander het. Beeld, 29 November 1999
  • Ek durf nie ook raas nie, maar kla met mening! [by ontvangs van Perskorprys in 1976]. Hoofstad, 16 Maart 1976
  • “Jeug se pad donkerder as Voortrekkers s’n”. Transvaler, 8 September 1982
  • LitNet-spens: Monoloog uit Die Bethlehem-ster. LitNet, 15 Julie 2010
  • Olka, bolka, boek! [Biegpuntjie]. Insig, Julie 1998
  • Oor skryfkuns: Aantekeninge by die toekenning van die CNA-prys in Johannesburg op 26 April 1984
  • “Voortyd”. In: Klein koninkryk: vertellings uit die jeugland. 1980. Kaapstad: Tafelberg

Bespreking van individuele kortverhale van Henriette Grové

Henriette Grové se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2010-02-03 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top