![]() Foto: Onbekend, Wikipedia (openbare domein) |
|
Sêgoed van Henk Rall “Jy’t ’n protokol waarvolgens jy moet werk; dan het jy die materiaal en metodes waarmee daardie protokol se voorveronderstellinge bepaal moet word; dan het jy jou resultate en uiteindelik gevolgtrekkings. Dit was vir my ’n verrassing om agter te kom dat jy op hierdie manier oor die menslike lewe kan skryf.” (Beeld, 4 Januarie 1990) Is hy ’n digter of ’n prosaskrywer?: “Ek meen nie dat ek ooit doelbewus daardie skeidslyn probeer trek het nie. Ek het gevoel dat sekere dinge, veral vroeër, omdat my lewe so besig was, makliker in versvorm gesê kon word; omdat verse ook op vliegtuie en in hotelkamers geskryf kan word. Die skryf van ’n roman eis dat jy ’n sekere dissipline, ’n sekere patroon in jou daaglikse lewe moet hê. Maar al hoe meer begin ek voel dat die dinge wat ek wou sê, soos met In die tyd van die uil, in die vorm van die verhaal gesê moes word. Ek werk al hoe meer op dokumentêre grondslag. Prosa is ’n baie meer wetenskaplike proses; hy leen hom baie meer tot die eksakte uitdrukking as die poësie.” (Beeld, 4 Januarie 1990) “Ek glo dat wêreldervaring essensieel is vir die produksie van kuns, in teenstelling byvoorbeeld met blote studeerkamerverbeelding.” (Transvaler, 2 Desember 1978) “Erotiek is waarskynlik ’n sensitiewe woord om in die bestaande literêre klimaat te gebruik [1978]! In my beroep hanteer ek gedurig seksuele begrippe en wat my opval, nog altyd as ’n historiese verskynsel opgeval het, is die ontkenning van seksualiteit as ’n potensieel kreatiewe, bevrydende drang, veral binne die Calvinistiese lewensbeskouing. Eendag sal ek nog moet skryf oor die onberekenbare skade wat dit aan mense doen. As erotiek dus ’n eienskap van die bundel (’n Bokram by die see) is, is dit sekerlik nie in die ontkennende sin nie.” (Transvaler, 2 Desember 1978) Oor prikkels waarteen hy in Suid-Afrika sou skop in 1978: “Ag, ek mis die ware oop gesprek, eerlike selfkritiek, bestekopname onder mense van waar hulle is en waarheen hulle gaan, tydservaring as iets dinamies eerder as die sirkelgang van die geïsoleerde gemeenskap. Mens raak moeg van die banaliteite van voortbestaanskrete en ’n paar ander lokale afgode. Op die lang duur stomp dit mens af en op die kulturele lewe moet dit destruktief inwerk.” (Transvaler, 2 Desember 1978) “Ek is doodbang om ’n moralis te wees. Ek wil niks bepleit nie, ek wil eerder aandadig wees om ’n geslotenheid oop te breek – om in eerlike selfbeskouing te staan.” (Transvaler, 2 Desember 1978) “My ander groot geloof is dat ek beslis nie daaraan glo dat kuns ondergeskik gestel moet word om sosiale verandering – wat dié ook al mag wees – te bewerkstellig nie. Kuns moet as kuns op eie voete kan staan.” (Transvaler, 2 Desember 1978) Oor In die tyd van die uil: “Ek het ’n verhaal vertel van mense wat uitgelewer is aan sekere magte waaroor hulle nie beheer het nie. Dan gaan dit uiteindelik om verandering in Afrika en aanpassing daarby. Ek is nie ’n pasifis in die sin dat ek met plakkate op ’n straathoek sal staan nie.” (Beeld, 4 Januarie 1990) “Ek skryf as waarnemer. Ek het in die 1970’s revolusies in Suid-Amerika en in Afrika waargeneem, met vlugtelinge gewerk, die trauma gesien en op persoonlike vlak beleef. Jy is ook ’n ontheemde. Hierdie dinge het dus ’n sterk vormende invloed op my gehad.” (Beeld, 4 Januarie 1990) Nog oor die ontstaan van In die tyd van die uil: “My besoeke aan die operasionele gebied is deel van dié roman. Ek het gevoel dit is tyd om die roman nou te skryf omdat ’n mens as ’t ware geskryf het met die einde van die oorlog in sig. My besoeke – tot so onlangs as verlede jaar (1989) – was dus baie gerigte besoeke.” (Beeld, 4 Januarie 1990) |
Gebore en getoë
Hendrik Johannes Samuel Rall is op 16 Junie 1938 in Parys in die Vrystaat gebore, die oudste van vier seuns. Hy gaan skool op Douglas in die Noord-Kaap, waar hy ook matrikuleer.
In hierdie droë wêreld van die Noord-Kaap was hy reeds bewus van die feit dat daar iets anders agter daardie horison moet wees: “’n Wêreld wat deur nomades bewoon is, altyd bewus van daardie horison, en iets wat hier en daar in sy nuwe boek (In die tyd van die uil) neerslag vind.” Henk glo dat daardie aanvanklike blootstelling aan ’n feitlik nomadiese potensiaal in ’n mens se lewe ’n uitwerking op sy lewe gehad het. (aan André le Roux, in Beeld van 4 Januarie 1990)
Verdere studie en werk
Henk begin sy naskoolse opleiding aan die Potchefstroomse Universiteit en sit dit voort aan die Universiteite van die Vrystaat, Suid-Afrika en Pretoria. Hy behaal sy BA- en BA Honneursgrade (in Engels en Afrikaans-Nederlands). Henk vertel aan André le Roux in Volksblad van 22 Januarie 1990: “Ek was baie gou bewus van die beperking van die letterkunde as ’n loopbaan. Ek het ook besef dat om werklik buite te gaan leef, ek meer nodig het as die letterkunde; die beroep was nie groot genoeg nie.” Hy het die moontlikhede ondersoek en besluit die medisyne is ’n internasionale beroep met ’n internasionale taal; hy kon sy grense versit. En hy het.
Hy skryf hom in as student in die geneeskunde aan die Universiteit van Pretoria, waar hy in 1969 as geneesheer kwalifiseer. Na die aflegging van sy ECFMG-eksamen aanvaar hy ’n pos as geneesheer aan ’n hospitaal in New York. Hy spandeer etlike jare in Amerika, waar hy vir die Upjohn Maatskappy werk as adjunkhoof van mediese navorsing. Hy sluit daarna by die Departement van Obstetrie en Ginekologie aan Tygerberg Hospitaal aan, waar hy in 1979 sy PhD (Med) behaal. Hy doen navorsing oor fertiliteitsbeheer. In 1979 word hy aangestel as mediese direkteur van Scherag.
Henk se belangstellingsveld is wyd en strek van mense tot wyne. Hy vind dat daar ’n nou verband tussen die geneeskunde en die letterkunde bestaan in die sin dat albei met mense te make het, albei oor orde besin en albei deur ’n sintetiese werkswyse tot stand kom.
Aanvanklik skryf Henk vir die radio en stukke soos Sy vrede (1961), Die poskoets (1962), Soektog in die Kalahari (1963) en Die grot van Combaai (1966) word uitgesaai. Sy vrede is gegrond op die inval van ’n groep Kongolese in die koffieplantasies van Noord-Angola en is as ’n Kersdrama uitgesaai.
Artikels van Henk verskyn in tydskrifte soos Suid-Afrikaanse Panorama en Nieuws uit Zuid-Afrika. Hy skryf ook resensies vir Beeld.
Voordat sy eerste bundel, ’n Son breek, in 1966 verskyn, word van sy verse sedert 1963 in Standpunte, Kol, Trek en De Arte gepubliseer.
Oor sy eerste bundel skryf Anita de Kock in Die Vaderland van 9 Desember 1966: “Vanuit die staanspoor word Rall se gedigte onderskei deur ’n vakmanskap wat nie elke dag by die werk van jong digters aangetref word nie. Dat hy meer talent as die gewone het, getuig die groot verskeidenheid – in tema en vorm – van gedigte, asook die sekerheid van aanslag wat op enkele uitsonderings na in al die gedigte waargeneem kan word. [...] ’n Son breek is ’n bundel met ’n aardsheid (dit bevat pragtige fel erotiese gedigte asook teerder liefdesgedigte) en ’n intellektualiteit en ’n beeldingskrag wat, soos selde by ’n debuutbundel, die stempel van egte poësie dra.”
Na ’n Son breek volg Wit-ryp (1968), Reise (1970), Donker van mere (1976) en Proefskrif (1982). Rall begin ook prosa publiseer in die vorm van Ringmure (1968) en ’n Bokram by die see (1978).
Oor Henk Rall se eerste roman, Ringmure, skryf John Miles in Beeld van 26 Januarie 1969: “As sentrale, bindende tema van die roman sou ’n mens kan noem die liefdesverhouding, veral dan tussen man en vrou. In die eerste plek is daar die dokter se jeugliefde, dít teenoor sy verhouding met sy vrou, die ‘herhaling’ van sy jeugliefde in sy seun, en die verhouding tussen die meisie se ouers. Dan ook die onderwyser, Con, se verhouding met die dokter se vrou. Liefde en keersy van die liefde.
“Verskillende, baie interessante romantegnieke word gebruik. Die roman het drie dele, al drie vertel uit die vertelpunt van die betrokke derde persoon. Maar binne dié raamwerk vind mens talle ander verteltegnieke: Daar is aanhalings uit die dokter se briewe aan sy ouers, sy uitgewer, sy minnares; flardes uit sy skryfwerk; terugflitse in kursief-letter, dít wat die dokter later aan sy vriend Con sou vertel; ensovoorts. En dit alles is fyn gesinchroniseer in die geheel. [...]
“Uit die aard van die saak kon ek hier slegs wys op enkele trekke van die roman. Ringmure is ’n belangrike romandebuut, in die beste tradisie van die Sestigers. En daarby hoogs doseerbaar.”
Met sy volgende boek keer Henk Rall terug na die poësie as genre. Hierdie bundel word in 1970 deur Human & Rousseau uitgegee onder die titel Reise.
JRV is die resensent van Reise in Volksblad van 21 Mei 1970. “Hierdie bundel bestaan uit drie afdelings: ‘Reise’, ‘Tweespel’ en ‘Besinning’. Hiermee word die verwagting gewek dat ons te doen gaan kry met ‘reise’ deur hierdie wêreld en die bestaan van die mens, dat daar ’n ‘tweespel’ êrens in hierdie periode sal plaasvind en dat agterna ‘besinning’ sal volg.
“Die eerste gedig in die bundel is ‘Paaie na die son’ waarin die lesers genooi word ‘Stap met my deur lande van die son’ wat dit laat lyk asof hierdie reise met ’n bewuste besinning voor oë aangepak word. Ook in die tweede gedig is daar sprake van reis en afsprake. Maar daarby kom ’n soeke – na Christus en telkens is hier ’n verwysing na dinge uit die Christussfeer.
“Dit is ’n nuwe toon in hierdie bundel en anders as die eksistensiële instelling teenoor die lewe wat in Rall se vorige bundel Wit-ryp nog sterk op die voorgrond was.”
JRV skryf verder: “Die tweede afdeling, ‘Tweespel’, bevat hoofsaaklik liefdespoësie, die liefdespel deur die eeue – verlede, hede en toekoms. Hier is mooi verse in hierdie afdeling, verse waarin die gevoel ’n groter rol speel teenoor die serebrale inslag van die res van die verse. [...]
“Die laaste afdeling, ‘Besinning’, bevat verse wat op verskillende vlakke ’n besinning wil wees oor onder andere hartsake, die stand van die menslike bestaan, die dood en die digtersarbeid.
“Hoewel Henk Rall se bundel heeltemal tuis is in die jongere Afrikaanse poësie, is dit nogtans nie sterk genoeg om vir hom ’n heel besondere plek daarin te verower nie.”
Aanhangers van Henk Rall se poësie moes sewe jaar wag voor sy volgende bundel, Donker van mere, in 1977 by Tafelberg uitgegee is.
“Henk Rall se lang swye is betekenisvol,” skryf Annari van der Merwe in Oggendblad (31 Maart 1977). “Dit volg naamlik op ’n uiters kreatiewe begintydperk; gedurende die vier jaar ná sy debuut in 1966 volg daar nog drie werke.
“Met Donker van mere betree Rall dan ook myns insiens ’n nuwe fase in sy digkuns. Nié juis ten opsigte van sy tematiek – en selfs sommige van sy metafore – nie, want hier word elemente uit veral Wit-ryp en Reise teruggevind.
“Die vroeëre ryp en ys het tot sneeu geword; weer word daar gereis. Maar met dié verskil dat dit nou in en vanuit die VSA is. Afrika het gekrimp tot ’n ‘wag’ ‘na my land ... oor water en oseane’ (p 19). [...]
“Die wending in Rall se poësie kom veeleer deurdat die poësie – en veral in die eerste afdeling – soveel kommunikeer van die stilte van mere ‘waar ek verlang het om nog eendag te wees’ (p 3) [...].”
Vir Van der Merwe is daar in die middelste twee afdelings, “wapens oor volke” en “bulle, winde en mense”, baie mooi “momente waarin lewe oor dood en abstraksie seëvier (pp 25 en 35), waarin onskulde en intense vreugde geken word (pp 29, 30 en 32)”.
Ongeveer 10 jaar het verloop vandat Henk Rall sy prosadebuut met Ringmure gemaak het, tot 1978 toe sy volgende prosawerk by Tafelberg gepubliseer word onder die titel ’n Bokram by die see. En vir Fanie Olivier (Transvaler, 3 Februarie 1979) bevestig ’n Bokram by die see Rall se “vermoë as prosaskrywer en met ’n verhaal soos ‘Omba muungu’ word hy sonder meer ’n kortverhaalskrywer van formaat.
“Hierdie bundel bestaan uit agt verhale waarin ’n sentrale motief waarskynlik die volgende is: ‘dat die belewenis self en nie die doel daarmee nie (dit is wat) vir my saak maak’ (p 5). Die oorwegende belewenis is die sensuele en die broeiende en ’n mens kan daarom ook verwag dat Afrika ’n belangrike rol in die verhale speel. [...]
“Ten spyte van die mindere verhale (‘Bloedbroers’ en ‘Amiina’) vorm ’n Bokram by die see ’n duidelike beeld van die besondere talent van Henk Rall. Deur sy beheptheid met die broeiende en die sensuele, sy vermoë om ou beskawings met die eietydse te integreer en veral deur die spel tussen intellek en emosie, skep hy ’n woordewêreld wat ’n mens dadelik as sy eie kan herken.”
Ronél Johl het ’n gevoel van opwinding ervaar toe sy die potensiaal van Henk Rall se ’n Bokram by die see raakgesien het: “Dis weliswaar eers nou,” skryf sy verder, “met sy sesde publikasie dat die belofte van vroeër ’n voldonge feit word; maar juis daarom kan die deeglike skoling van sy digbundels en ’n roman nie geringgeskat word nie. Dat daar nog geslyp moet word aan sy styl, is waar, maar nou reeds is daar soms kortkuns – dit wat Aucamp tipeer as ‘gespanne, kragtig, meerduidig’.
“Rall se kortverhale bring, om Aucamp verder na te praat, ‘onbekende ruimtes en boeiende gestaltes’. Miskien is dit ook een van die belangrikste bates van hierdie prosas, naamlik dat dit onbekende wêrelde – Guatemala, New York, Mexiko, Bolivia, Peru, die Mohave en die jagvelde van Afrika – met hulle besonderse en eienaardige kultuurbesit naby bring aan die lesers wat altyd hunker na vreemde wêrelde.
“Die meeste van die agt verhale adem ’n swoel sinnelikheid, sommiges ’n koel ekstase, enkeles ’n vreemde mengsel van warm menslikheid en koel intellektualiteit. Dit is verhale van die sensualiteit van ’n kontinent soos Afrika en van die sensualiteit van die mens, maar verhale in so ’n geëmansipeerde en beskaafde toon dat die verhaalstof se aanbieding nie normaalweg aanstoot sal gee nie. [...]
“In die geheel ’n bundel wat veel goeds vir die toekoms voorspel, veral deur die ontginning van vreemde wêrelde en onbekende ervarings vir baie Afrikaners.”
Van ’n Bokram by die see sê Hennie Aucamp dat Henk in hierdie bundel ’n bydrae tot die kortverhaalgenre lewer wat die stempel van beskaafdheid en volwassenheid dra. (Transvaler, 2 Desember 1978)
Amanda Botha skryf verder in die Transvaler dat die interessantste aspek van Henk Rall se kortverhale in Bokram die feit is dat daar geen waaroms is nie en dat die skrywer nêrens iets wou bewerkstellig nie. “Dit is eerder ’n poging tot eerlike blootstelling aan bepaalde ervaringsmoontlikhede. Daar is geen gevolgtrekkings nie en geen keuses tussen kwaad en goed nie. Hy glo eerder soos Pascal dit genoem het: daar is niks waarop jy nie die reg het om dit self te ervaar nie. Met die argument, voeg Rall vinnig by: ‘Binne erkende norme, natuurlik’.”
André P Brink is die resensent van Rapport (26 November 1978) en hy skryf: “In die digter-prosateur-grootwildjagter-medikus Henk Rall se skryfwerk was daar nog altyd iets wat my onbevredigend gelaat het. Maar in sy jongste werk, die verhalebundel ’n Bokram by die see, vind ek vir die eerste keer bewyse van ’n inderdaad beduidende talent. Dadelik bygesê: Rall is myns insiens nog steeds te lief vir die barokke gebaar en die swoele frase, teer nog te veel op die erudiete verwysing, steun dikwels nog te swaar op die bewustelik-‘estetiese’. Maar dat hy ’n verfynde aanvoeling vir die kortverhaal en sy prosesse en prosedures het, dááraan twyfel ek nie meer nie. Toe ek hierdie werk in ’n vroeër manuskripstadium gelees het, het ek nog ernstige bedenkinge gevoel: maar die wyse waarop Rall met klaarblyklike meedoënlose selftug sy werk bly stroop en suiwer het, is myns insiens verdere bewys van ’n literêre erns wat in dié stadium vir die toekoms veel beloof.
“Interessant dat dié bundel min of meer gelyktydig met Hennie Aucamp se jongste moes verskyn – en ook begelei deur ’n waarderende flapteks van Aucamp. Want in werklikheid verskil dié twee groepe kortwerk radikaal. Aucamp, erfgenaam van Tsjechof en Mansfield, is die fyngestemde meester van die ‘binneskap’; Rall verlaat hom onterughoudend op die meer opvallend dramatiese, en ‘uiterlik’ spannende, selfs die gewelddadige. Ook in die hantering van die erotiese verskil die twee skrywers: vir Aucamp gaan dit om die hunkeringe en verlatenhede ágter die vlugtig gesuggereerde gebaar; vir Rall om die swoele sensualiteit, die gloeiender drif wat die verhoudinge tussen mense laai. [...]
“Inderdaad is ’n Bokram by die see ’n bundel van boeiende – en broeiende – momente waarin ’n beduidende nuwe stem in ons kortverhaalkuns (met voorbehoude) verwelkom kan word.”
Proefskrif word in 1983 met die Perskorprys vir Letterkunde bekroon. Henk was met vakansie in die Switserse Alpe toe hy hierdie nuus ontvang het en dit “het ’n spesiale dimensie aan sy vakansie gegee”. Hy voel dat Afrikaanse skrywers se ervaringsveld dikwels baie beperk is, sodat hulle in “’n gemoedelike lokale realisme” verval. “Ons romankuns het ongetwyfeld nie iemand van die statuur van Graham Greene nie.” Hy kla ook oor die ontoeganklikheid van die Afrikaanse roman vir die gewone man en die gebrek aan ’n behoorlike verhaal. (Tempo, 20 Mei 1983)
Petra Grütter skryf in haar keurverslag oor Proefskrif: “Die interessante van Rall se poësie is die geweldige dimensies wat hy in sy werk betrek. Hy speel, soos dit ’n egte digter betaam, bekwaam rond in die binne- en buiteruimtes. Die interessantste van hierdie dimensies is die biologiese. Daarvan is hy in Afrikaans vandag die vernaamste eksponent.” (bron en datum word nie vermeld nie)
“Deur baie jare en heelparty bundels prosa en poësie,” skryf André P Brink oor Proefskrif (Rapport, 20 Maart 1983), “het Henk Rall nou al in die ongemaklike kategorie van die ‘belowendes’ bly beweeg. In party verhale van ’n Bokram by die see (1978) het hy van sy vroeër belofte vervul.
“Maar sy jongste digbundel, Proefskrif, maak myns insiens nog steeds nie op meer as die betiteling ‘verdienstelik’ aanspraak nie (en ek sê dit in die wete dat Rall pas hiermee die Perskorprys verwerf het).
“Die titel is knap gekies en die onderdele van die bundel vernuftig gehanteer: inderdaad gaan dit hier om ’n proefskrif uit en aan die lewe, deur ’n spreker vir wie die lewe heelwat aan proe én beproewing ingehou het. Uit alles wat ‘impuls in die donker’ was, wil hy nou, volgens die ‘Protokol’ vooraf, die ‘patroonmatigheid’ haal... [...]
“Van veels te veel verse is blote gladheid, vlotheid en fasiliteit dan ook die vernaamste kenmerk – terwyl daar andersins ’n paar keer ’n retoriese ondier gereed lê om te spring (‘Kersnagte’).
“Die beheptheid met bronne en herkomste gaan dikwels gepaard met ’n sterk ontwikkelde orgaan vir die bronstige, die seksuele, oral, van die sterrestelsel af tot New York word daar gesoek na ’n drifwêreld. [...] Die proefskrif konstateer algaande ’n verminderende rendement, ’n benouender bewussyn van aftakeling, van verlies, van die nabyheid van die dood. [...]
“Rall kán sy taal vernuftig gebruik, maar ongelukkig word dit alte dikwels beperk tot onderdele en los reëls. Die werklik sterk deurgekomponeerde vers is skaars. En op stuk van sake is Proefskrif dan: ’n leesbare bundel met heelparty momente wat terdeë die moeite loon. Maar nog nie deurgedig tot iets memorabels nie.”
In 1990 verskyn In die tyd van die uil ná ’n prosa-stilte van 11 jaar. Die roman se tema, die gebeure en omstandighede rondom ’n terreuraanval op ’n afgeleë hotel by die Botswanagrens plaas die teks in die genre van die grensliteratuur.
Onder die opskrif “Henk Rall se nuwe roman opwindend en boeiend” skryf Helize van Vuuren oor In die tyd van die uil (Die Burger, 18 Januarie 1990): “Anders as die nou al geclichéerde en resepmatige grensverhaal, wat konsentreer op die angs en skokkende ervarings van die wit soldaat, vernuwe Rall dié genre deur ’n kompleksiteit van perspektiewe.
“Die wit soldaat in die Suid-Afrikaanse Leër word verteenwoordig deur Derrick, en sy gesigspunt tot met die oomblik van sy gewelddadige dood. Maar ook sterk uitgebeeld en verrassend oortuigend is die beskrywings van Madhiba, Demane en die leier van die groepie swart guerrilla-stryders van Umkhonto we Sizwe. In herinneringe en gesprekke word hul motivering vir toetrede tot die stryd duidelik (’n hele stuk Suid-Afrikaanse geskiedenis word op treffende wyse vanuit húl gesigspunt gegee). Die taalgebruik waarin dié gedeelte gestalte kry, is konkreet en beskrywend. [...]
“In Deel Twee verander die taalregister radikaal, wanneer die dokter aan die woord kom. [...] Hier het ons ’n gesofistikeerde en betogende waarnemer van dieselfde maatskappy waaroor Demane en Nadhiba, uit Sophiatown, dit het. Die spektrum word voltooi met ’n hele spektrum wit en bruin karakters: elkeen met sy andersoortige kyk op die werklikheid, en alle skakerings van taalgebruik in die dialoog. Dit is ’n tour de force, dié ontginning van die Afrikaanse taal op soveel niveaus en in soveel uitdrukkingsmoontlikhede.
“Ook Rall se uitbeelding van hoe vrees, geweld en haat konstante gegewe in die Suid-Afrikaners se ‘kollektiewe drome’ geword het, is treffend.”
Dan noem Van Vuuren egter ’n klompie gebreke in die roman: die San se geskiedenis wat toegevee word, die ontbreking van ’n historiese bewussyn en die hoofkarakter se verhouding met Europa wat vir haar hinderlik is. Maar vir Van Vuuren is In die tyd van die uil, ten spyte van die besware, ’n opwindende en boeiende roman, waarin die grense van die Suid-Afrikaanse roman opvallend verruim word. Dit sluit in vormgewing aan by Donga (1971) van Elsa Joubert en verander die hele konsep van wat tot dusver as die “grensverhaal” in die Afrikaanse prosa gesien is.
“Rall skryf onderhoudend en met verstommende taalvaardigheid. Hier is ’n prosateur wat oopstaan vir ál die kompleksiteite en spannings in die moderne Suid-Afrikaanse samelewing. Dit is ’n roman wat verdien om vertaal te word, vir wyer toeganklikheid.”
Riana Botha (Volksblad, 22 Januarie 1990) sê dat dit egter nie ’n roman is wat op gewelddadigheid afgestem is nie, maar dat dit gaan oor die besinning van menswees: “Vir my is die probleem met In die tyd van die uil dat die karaktertekening en dialoog van die onderskeie karakters nie geloofwaardig of oortuigend is nie. Ook is daar te veel verbeeldingsvlugte en liriese lofsange op die Afrika-natuur, té wye draaie en té veel perspektiefbreuke wat verhinder dat die epiese struktuur van die roman tereg kom. Dit is ’n roman wat die moontlikhede en suggesties wat dit gegenereer het, onbenut gelaat het.”
Henk self sê dat hy apolities is, ’n beroepsmens. “Laat ek baie blatant wees daaroor. Ek het nog aan geeneen van hierdie skrywersorganisasies behoort nie; en het my nog nooit aan hierdie of daardie kant geskaar nie. Vader weet, ek het in my lewe genoeg daarvan gesien in genoeg lande om die geklikheid te besef van aansluiting vind by hierdie klein groepie wat nou meen dat hy verset uitgevind het! Ek dink dit is die patetiese van enige groep mense: dat hulle hulleself as ontdekkers van verset sien. En iemand wat in hierdie boek politiek probeer sien, lees dit geheel en al verkeerd, want die boek gaan juis daaroor dat daar van mense, nadat politiekery bedryf is, net flentertjies oorbly, letterlik en figuurlik. Dat jy in die boek kan kyk na mense wat sekere ideologieë aanhang, is vir seker so, want dit is die werklikheid.” (Beeld, 4 Januarie 1990)
In die tyd van die uil is genomineer vir die Ou Mutual-prys van 1991.
Henk is ’n chroniese reisiger wat al oral in die wêreld gereis het. Hy vertel aan Amanda Botha in Die Transvaler van 2 Desember 1978 dat hy daaraan glo dat ’n mens jou moet oopstel teenoor ervaringe wat jou daagliks aangebied word. “Ek glo dat mense ’n plek is. Ek meen jy skep jou eie omgewing. Plek is wat jy dit vir jouself maak.” Wanneer hy wêreldstede besoek, projekteer hy homself subjektief op die stad. Daarom is hy ewe gemaklik tuis in New York, Khartoem of Botswana se jagvelde – dit blyk baie duidelik uit sy skryfwerk. Henk is medikus, wetenskaplike van wêreldaansien, intellektueel, grootwildjagter, avonturier, skrywer-digter en lewensverkenner.
In 1988 word Henk se vyftigste verjaardag deur die Afrikaanse Letterkundige Museum (NALN) in Bloemfontein herdenk en tree die skrywer self as spreker op. Hy praat oor Besluite en kanttekeninge by ’n skrywerskap in SA circa 1988. Hy sê in sy toespraak: “Daar is opgehou om by die hart van die mens en sy dinge stil te staan. Laat ons die uitsê-vermoë van die intellektualiteit respekteer, maar nie ten koste van die emosies nie. Ernst van Heerden het onlangs gesê dat die Afrikaanse poësie nou slegs toeganklik is vir studente in die letterkunde van honneursvlak af. Dit, meen ek, is verkeerd. Daar is aan my vertel dat gevangenes in Russiese strafkampe hul digters so goed ken dat verse nommers het, en by die noem van ’n nommer, sê honderde van hulle saggies saam die betrokke vers op. [...] So behoort dit te wees, maar so sál dit nooit by ons wees nie. Die Afrikaanse skryfwêreld is vandag ’n mengelmoes van melodrama en antropomorfisme wat ’n eiesoortige Disneyland tot gevolg het.” Hy sê ook dat daar die afgelope tien jaar geen goeie werke uit Suid-Afrika gekom het nie – “dis alles politiek.”
In 1991 is Henk die samesteller van Jagtye: ’n keur van jagervarings uit Suider-Afrika. Die teks word gekomplementeer met lyntekeninge deur Zakkie Eloff. Die verhale vertel van die “dae toe Suid-Afrika nog jonk en vol wild en wilde manne was” (Willem Pretorius in Beeld Kalender). In die voorwoord skryf HP van Dyk: “Die literatuur oor jag in Afrika is indrukwekkend breed. In hierdie boek het die samesteller hoofsaaklik gehou by die meer eiesoortige ervaringswêreld van die suidelike streke. Dit doen egter geen afbreuk aan die verskeidenheid van taferele nie wat hom geleidelik voor die leser ontvou om uiteindelik te lei tot die verrassende ontdekking dat suiwer dokumentasie later verhaalkunde word.”
Hennie Aucamp skryf in sy resensie in Die Burger van 22 Oktober 1991: “Die jagverhaal verteenwoordig een van die oervorms van vertelling. [...] Jag was ’n gemeenskapsaktiwiteit; die voortbestaan van die stam het daarmee saamgehang. En daarom sou jag ook ’n religieuse konnotasie aangeneem het, wat uitmond in prysliedere en elegieë en rotsskilderye. Die semiotiese benadering tot rotskuns lei inderdaad tot jag-verhale – een San-skildery na die ander vertel, as dit aandagtig ‘gelees’ word, hoe die swak mens hom met sy selfgemaakte wapens en sy verstand teen magtige grootwild opgestel het. Dis dan ook gepas dat dié vroeë Afrika-jagter in Jagtye herdenk word ...”
Henk se volgende digbundel, Geskrifte van ’n vermiste digter, verskyn in 2008 by Protea Boekhuis, 26 jaar ná die publikasie van Proefskrif. Dit is ook 18 jaar na die verskyning van sy laaste roman, In die tyd van die uil. Die titel sinspeel alreeds op sy “verdwyning”. “Dit is ’n bundel oor terugkeer – na Suid-Afrika en na die poësie. Die droë Noord-Kaaplandse landskap waar hy grootgeword het, is nie net in die eerste afdeling prominent nie, maar is ook ’n deurlopende tema. Die landskap vorm die basis vir die gesprek met NP van Wyk Louw wat dwarsdeur die bundel gevoer word. Die verse getuig van gestrooptheid en eenvoud en is baie toeganklik. Na die lang swye bied die bundel ’n welkome herbesinning en herwaardering van die digter se verbondenheid aan die land.” (Graffiti Books)
Bernard Odendaal skryf in 2009 se Tydskrif vir Letterkunde: “Rall het ’n gebeurtenisryke lewe gelei as jagter, reisiger en mediese navorser, sodat hy lang tye buite Suid-Afrika woonagtig was. Anders as in sy vorige bundels vind relatief min hiervan neerslag in Geskrifte van ’n vermiste digter. Met hierdie bundel keer hy, na ’n digterlike swye van ’n kwarteeu, as ’t ware eerder terug na die kontrei van sy vorming as mens, naamlik die Noord-Kaap.
“Dit gebeur veral in die openingsafdeling ‘Onthou’, en in die vierde afdeling, waarvan ‘Uitsê’ die titel is en waarin veral sosiaal-polities betrokke en religieuse verse voorkom. [...] ’n Kennelike liefde vir die bepaalde kontrei, sy gestroopte aard, sy menstipes en hul kenmerkende tongval, is iets wat Rall deel met onder meer die Van Wyk Louw van Nuwe verse, met SJ Pretorius en Boerneef, en uit meer onlangse tye met Donald Riekert.”
Vir Odendaal is die opvallendste eienskap van Geskrifte die vormgewing van die gedigte: “Anders as wat meestal die geval was in Rall se vorige bundels, is dit naamlik vaste(r) vorme, soos die sonnet en gedigte in paarrymende distigons en in (veral kruisrymende) kwatryne, wat oorheers. [...]
“Na my mening werk die vorm(oor)bewustheid dikwels stremmend in met betrekking tot die emosionele en hartstogtelike meegesleurdheid waarvan getuig word in die afdeling ‘Liefhê’. Die vormdwang vererger ook die effense komieklikhede van sekere beelde en uitdrukkings in liefdesverse soos ‘Liefdesroos’, ‘Portret’, ‘Sirkusperd’ en ‘Somerster’. [...]
“Op die keper beskou is Rall se sesde digbundel, hoewel nie sonder mankemente nie, ’n nogal boeiende een. Die mooi bandontwerp getuig van die geneentheid jeens dié lank ‘vermiste’ digter by die uitgewer – ’n geneentheid wat ook spreek uit die ongewoonheid dat twee gedigte deur die uitgewer self die bundel open en sluit. ’n Mens het waardering vir die wyse waarop ’n minder bekende veteraan van die Afrikaanse digkuns op hierdie wyse gehuldig én sy oeuvre versterk word.”
Jana van Wyk sê op LitNet dat die bundel gekenmerk word deur bondige, maar gelaaide verse. “Die bundel as geheel word gekenmerk deur bondige, maar gelaaide verse. Die digter skep egter ’n spreker wat byna slegs teenoor sy kinderjare positief ingestel is, want temas wat ook positief ervaar kan word, byvoorbeeld die liefde en oudword, word meestal donker verwoord.
“Rall se stem is egter nog oudmodies en gekontekstualiseer in die styl van die Sestigers. Stilisties is dit veral beïnvloed deur NP van Wyk Louw se bundel Tristia. Alhoewel Rall se nuwe bundel ’n belangrike toevoeging is tot die letterkunde, sou dit interessant wees om te sien hoe hy in ’n moderne stem klink.
“Dit bly egter ’n bundel wat die sintuie prikkel, die hartsnare roer en ‘aardgebonde siele verbeelkant toe stoot’.”
Met sy volgende publikasie wend Henk Rall hom weer tot die roman as genre – hierdie keer egter nie in Afrikaans nie, maar in Engels. Hierdie roman verskyn onder die titel Singleton’s chronicle en word uitgegee deur Strategic Book Publishing & Rights Agency in 2014.
Die uitgewers skryf op Amazon se webwerf as volg oor hierdie roman: “The characters in Singleton’s chronicle are representative of the many cultures and occupations caught up in the stupendous event of the discovery of diamonds in South Africa in the 1860s. These include European fortune seekers, German missionaries, Afrikaner transport riders, Jewish diamond buyers, indigenous peoples, mystics, and fugitives before the law and from personal afflictions. Records from this time afford no insight into what these people felt and what was truly in their hearts. The challenge of this work is to enter into the inner lives of some of them and follow how the African experiences come to influence them.
“Henk Rall grew up in the Northern Cape of South Africa in the area described in this historical novel. He is a medical doctor who has worked on four continents, and presently lives in Cape Town. He holds advanced degrees in literature and medicine, and has published poetry, short stories and novels, as well as scientific papers in international medical journals. He is listed in The International Who’s Who of Intellectuals. This is his 11th book.
“In this extraordinary work, the author has adopted the Victorian linguistic conventions of the period. This imparts necessary authenticity to a novel exploring the moral aspirations of the age, which set great store by the ideals of brotherhood, love, fair play, trust and justice, and encouraged hard work and perseverance in the face of adversity. All these themes come to life in Singleton’s chronicle. The complex fusion of romance and realism embedded in this style brings about the magical realism permeating the book. The language itself reveals the authentic spiritual and magical nature of what is being observed and experienced. It is doubtful whether the use of any other literary style could adequately capture this elusive quality of human perception and cognition as effectively, or express it in prose and imagery of equal poetic and luminous beauty.
“This novel, a large period piece made modern by innovative writing techniques, is presented as magical realism. It deals with the history of the earliest months of diamond digging in the interior of South Africa in 1869, expounding on unusual events and the fellowship of men from diverse backgrounds. Who they were, what they thought, and what moved them so powerfully is told in the language of universals. But the book is also the unconventional love story of the central character, Singleton.”
Henk Rall is op 20 Desember 2022 aan kanker oorlede in sy huis in Bloubergstrand. Hy was 84 jaar oud. Hy is veras en word oorleef deur sy vrou Maureen, twee kinders, ’n kleinseun en drie broers.
Sy dogter, Medeé, het aan Candice Jantjies gesê dat haar pa tot sy einde dít gedoen het wat vir hom die belangrikste was, en dit is om te skryf: “Dit is wat hom aan die gang gehou het en hy het sy memoires voltooi. Hy het gesê dit was sy laaste opdrag en hy moes dit voltooi. En hy het gevoel nadat dit gedoen is, het hy die einde van sy lewe bereik. Hy het geglo in die spirituele wêreld en dat sy lewe sal aangaan in ’n ander dimensie. [...]
“My pa was ’n mensliewende intellektueel wat omgegee het vir diegene om hom en vir dié wat minder as hy gehad het.” (Netwerk24, 1 Januarie 2023)
Amanda Botha (Netwerk24, 1 Januarie 2023), joernalis, skrywer en vriendin van Henk Rall, onthou hom as ’n mediese navorser van internasionale aansien, ’n denker en ’n intellektueel: “Hoewel talle medici in Afrikaans met groot onderskeiding gepubliseer het, was Rall die enigste wat spesifiek oor die medisyne gedig het – ’n genre wat nou bekend staan as ‘medical poetry’.
“Ek onthou veral die gedig ‘Molekulêre biologie’ in sy bundel Donker van mere, wat van ekstase getuig en ’n boeiende verbinding is van suiwer intellek met die opwinding en emosie van ’n mediese deurbraak. Ek onthou sy woorde dat medisyne en navorsing vir hom skeppend is – ’n ander uiting van die poësie.
“In ons gesprekke het hy dikwels laat blyk dat geen grense hom kan inperk nie. Ek onthou sy ondersoekende denke oor geloof teen die agtergrond van wetenskaplike kennis en hoe fyn hy ingestel was op die emosionele spanning tussen mense. Ek onthou hom as ’n intellektuele reus, beskeie in sy menswees en sy bydrae was groot en uniek.”
Op Versindaba (9 Januarie 2023) skryf Hendrik J Botha só oor Henk Rall: “Die uitstaande moment in Rall se loopbaan as digter is wat my aanbetref egter die twee gedigte in sy bundel Donker van mere wat bestempel kan word as ‘mediese poësie’. Die twee gedigte ‘vir Elwood Jansen’ en veral dan ‘molekulêre biologie’ is die eerste gedigte in Afrikaans deur ’n dokter wat oor sy werk skryf. Hoewel bogenoemde feit later as ’n waterskeidende moment in mediese poësie in Afrikaans bekend sou staan, is dit op daardie stadium nêrens vermeld of opgemerk nie.
“Desnieteenstaande sou Rall dit opvolg met meer ‘medies-wetenskaplike’ gedigte in sy volgende bundel Proefskrif in 1982, en dié keer sou dit vermeld word in ’n keurverslag wat Petra Grütter (Müller) vir die uitgewer sou skryf. ‘Die interessantste van hierdie dimensies is die biologiese. Daarvan is hy in Afrikaans vandag die vernaamste eksponent. Meer spesifiek as bloot die biologiese, is Rall, soos genoem, ’n baanbreker in Afrikaans sover dit die skryf van poësie oor medies-wetenskaplike kwessies betref’ (Grütter, Perskor Boeke-keurverslag, 1982). Die betrokke bundel sou dan ook in 1983 bekroon word met die Perskorprys.
“Rall kan dus beskou word as ’n baanbreker op die gebied van medies-wetenskaplike poësie deur dokters spesifiek, en hy sal daarvoor onthou word. Na hom het dokter-digters soos Menno Stenvert, Gilbert Gibson en andere gevolg wat mediese poësie tot nuwe hoogtes sou voer, maar Henk Rall sal onthou word as die baanbreker in die verband.”
Publikasies:
|
Publikasie |
’n Son breek |
|
Publikasiedatum |
1966 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Wit-ryp |
|
Publikasiedatum |
1968 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Ringmure |
|
Publikasiedatum |
1968 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Reise |
|
Publikasiedatum |
1970 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Donker van mere |
|
Publikasiedatum |
1976 |
|
ISBN |
9780624008682 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
’n Bokram by die see |
|
Publikasiedatum |
1978 |
|
ISBN |
0624010465 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Kortverhale |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Proefskrif |
|
Publikasiedatum |
1982 |
|
ISBN |
0628024657 (hb) |
|
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Perskorprys vir Letterkunde 1983 |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
In die tyd van die uil |
|
Publikasiedatum |
1989 |
|
ISBN |
9780798126542 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Geskrifte van ’n vermiste digter |
|
Publikasiedatum |
2008 |
|
ISBN |
9781869191870 (sb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Protea Boekhuis |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Singleton’s chronicle |
|
Publikasiedatum |
2014 |
|
ISBN |
9781631351938 (sb) |
|
Uitgewer |
Strategic Book Publishing & Rights Agency |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Henk Rall as samesteller
- Jagtye: ’n keur van jagervarings uit Suider-Afrika. Kaapstad: Human & Rousseau, 1991 [ISBN 0798128208 (hb)]
-
- Aucamp, Hennie: Jag-boek voer leser weg na ver plekke. Die Burger, 22 Oktober 1991
- Pretorius, Willem: Jagboek is soos óm ’n lyn buite die stad te trek. Beeld, 17 Oktober 1991
- Steenberg, Elsabe: Gaan jag saam, tot sover terug as 1705. Beeld, 2 November 1991
-
Artikels oor en deur Henk Rall
- Botha, Hendrik J:
- Henk Rall (Wikipedia)
- Jantjies, Candice: “Mensliewende” Henk Rall het in die oomblik geleef. Netwerk24, 1 Januarie 2023
Besprekings oor “Omba Muungu” [kortverhaal]
- Botha, Elize: Hoogtepunte in die Afrikaanse verhaalkuns. Kaapstad: Tafelberg, 1971
- College of Careers: Aantekeninge oor 1985
- Du Randt, WSH: Die individuele metode. Pretoria: Universiteit van Pretoria, 1982
- Wiehahn, Rialette: Pylvak, behandel deur Rialette Wiehahn
Henk Rall se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2009-01-13 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)



