Verlore digterstem kry lewe in nuwe geskrifte

  • 0

Geskrifte van 'n vermiste digter
Henk Rall
Protea Boekhuis
ISBN: 9781869191870
Sagteband

R114

Klik hier en koop jou eksemplaar van Geskrifte van `n vermiste digter nou by Kalahari.net!

Rall debuteer in 1966 as digter met die bundel ‘n Son breek (Afrikaanse Pers Boeke). Daarna volg Wit-ryp (Nasboek, 1968), Reise (Human en Rousseau, 1970), Donker van mere (Nasboek, 1976) en Proefskrif (Perskor Boeke, 1982).

Maar vir ses-en-twintig jaar was sy digterstem stil terwyl hy hom besig hou met onder andere ‘n kortverhaalbundel, ‘n Bokram by die see (Tafelberg, 1978) en ‘n keur van jagervarings uit Suid-Afrika, gepubliseer onder die titel, Jagtye (Human en Rousseau) in 1991.

Nou, na meer as twee dekades, maak Henk Rall ‘n einde aan sy stilswye met die bundel Geskrifte van ‘n vermiste digter (Protea Boekhuis, 2008).

In die geskrifte van Rall se nuwe bundel word die temas lig, kuns, liefde, tyd en dood in vyf afdelings herhaal: “Onthou”, “Skep”, “Liefhê”, “Uitsê” en “Besin”. In die eerste afdeling ervaar die spreker ‘n terugblik op sy kindertyd. Beelde en figure stroom deur hom soos in ‘n droom. Hy “onthou” maaltye by kerslig, winters en westewinde, en sy ouma se versandsuikerde konfyt. In die gedig “Landskap” vertel die spreker hoe hy herinneringe terugroep en dit in gedigte verewig om soos ‘n

… kunstenaar
díe beeld neem ...
vas verf teen bederf
en van alle ander onderskei.

Hierna mymer hy in afdeling twee oor die “skep”- en skryfproses. Die eerste gedig “Sonnet” sluit slim aan by die struktuur van die spesifieke afdeling. Die Italiaanse sonnet bestaan uit twee kwatryne en twee tersines. In hierdie spesifieke struktuur bewonder Rall legendes binne die kunssfeer. Vier gedigte handel oor die skryfkuns, vier oor die skilderkuns, gevolg deur drie gedigte oor beeldhouers en laastens drie oor musiek.

Die eerste kwatryn handel afsonderlik oor vier invloedryke digters en skrywers, naamlik Boris Pasternak, Adam Mickiewicz, Robert Graves en Ernest Hemingway. Met die gedig “Rotskuns” lei hy die volgende kwatryn gedigte in, wat handel oor die skep van skilderkuns. Hy skryf afsonderlik oor vier vernuwende skilders: Monet, Gauguin, Turner en Nice. In die eerste tersine beitel die spreker drie gedigte oor die besonderse beelde wat geskep is deur Camille Claudel en Claus Sluter, en oor die indrukwekkende beeld Pietá IV. Die sonnet-afdeling eindig met die tersine wat die magiese element van musiek besing. Die gedigte in die afdeling het ‘n sterk biografiese en informatiewe aanslag.

Met “liefhê” besef die spreker: “in sake van die hart is daar nie grense soos van in ‘n land” nie. Die verse binne hierdie afdeling vertel van verstilde passie, verlore liefde en hoe droewig dit is as ‘n beminde jou versaak het. Enkele gedigte het ‘n mitologiese interteks en die “Ikarus”-gedig staan veral uit. Soos hierdie seun te naby aan die son gevlieg het, het die spreker te hoë eise aan die liefde gestel:

… was die eensaamheid
van my abstrakte vlug
vir jou te veel,
tog (mitologies ongegrond
en sonder waarborg van ‘n wonderwerk)
wag ek met die reël
vir die aanraking van jou mond
teen my gebreekte vlerk.

Die gedigte suggereer ‘n outobiografiese aanslag en is oorwegend somber en smartlik. Die verse het ‘n bitter toon en is moontlik die gevolg van ‘n liefdesteleurstelling. Die spreker is sinies oor die liefde en die moontlike bestaan daarvan is vir hom soos ‘n mite. In “Lugdroom” word die spreker se teleurstelling in die liefde verwoord:

Jou besonderse lag, ...
het beloof daar wag
‘n lewe saam
van opwinding
en onstuitbare verwagting …
‘n lugdroom,
onhoudbaar
en al klaar
gedoem.

Die daaropvolgende gedigte binne die afdeling behou die somber toon, want vir die spreker is liefde ‘n verlore saak. “Leegheid”, een van die laaste gedigte van die afdeling, bevestig die spreker se toestand:

Tyd het ons liefde wreed
gebruik …
handslag om my hart …
en van ons drifte
niks sou oorbly as geskrifte.

In “Uitsê” gesels die spreker in streekstaal oor die Christelike kalender. In die verse oor Pase, Niewejaar, Krismistyd en Hemelvaart bly sy siel “sóúntoe trek, weg van ligsinnig en gek bestaan”. ‘n Bestaan van droogte en dood, ongeruste geeste, die Antichris, Vigs, hoer en rumoer, dronklyfbegeertes en sondes. Die meeste van die gedigte vang die gevoel vas van “rooi aande snotvol trane” gehuil. Daar is verse wat vir ‘n oomblik ‘n ligter aanslag het, maar daar slaan steeds ‘n donker ironiese toon deur. Die afdeling het ‘n religieuse interteks en die spreker wissel tussen opstand en aanbidding. Die moedeloosheid oor die liefde (vorige afdeling) word nou deurgetrek na die daaglikse bestaan:

… g’n god of sot,
waarsêer of hotnosgot
die angstige knot
van die menslike lot
kan loskry
of deursny.

Laastens “besin” die spreker oor die tydelikheid van sy aardse bestaan. Hy moet dié vergeef wat teen hom gesondig het, vrede maak met sy kranklike lyf, en groet, sodat hy kan verhuis na iewers waar hy kan sien hoe “God-se-vinger sterre verskuif”.

Die bundel as geheel word gekenmerk deur bondige, maar gelaaide verse. Rall skep ‘n spreker wat byna slegs teenoor sy kinderjare positief ingestel is, want temas wat ook positief ervaar kan word, byvoorbeeld die liefde en oudword, word meestal donker verwoord.

Rall se stem is egter nog oudmodies en gekontekstualiseer in die styl van die Sestigers. Stilisties is dit veral beïnvloed deur NP van Wyk Louw se bundel Tristia. Alhoewel Rall se nuwe bundel ‘n belangrike toevoeging is tot die letterkunde, sou dit interessant wees om te sien hoe hy in ‘n moderne stem klink.

Dit bly egter ‘n bundel wat die sintuie prikkel, die hartsnare roer en “aardgebonde siele verbeelkant toe stoot”.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top