Jana van Wyk is in 1987 in Carnavon se staatshospitaal gebore. Tot op vyfjarige ouderdom word sy groot op 'n veeplaas, Rheebokuier, in die Williston-distrik. Daar het sy agter skape aangehol, die boerboel se kwylmond gesoen en in die berge dassies gejag en haar naam op klippe uitgekrap.
Daarna trek die gesin na Prieska waar Jana se pa die bestuurder is van 'n besproeïngsplaas (Remhoogte) en haar ma 'n onderwyser by 'n klein plaasskooltjie. Jana gaan skool op Prieska en is in die koshuis vanaf Graad 1. In die laerskoolkoshuis, Huis Môrewag, word sy aan die vreemdste karakters blootgestel wat tot vandag toe by haar spook.
Vanaf Graad 10 gaan sy skool by Hoërskool Stellenbosch, waar sy in 2005 matrikuleer. Sy begin dadelik swot aan die Universiteit van Stellenbosch in 'n rigting wat geen teken van Wiskunde bevat nie - BA Geesteswetenskappe.
In 2008 ontvang sy haar graad. Daarna verhuis sy na die winderige Port Elizabeth om saam met haar blouoog boyfriend lewe in die liefde te blaas.
Tans werk sy as funksiekoördineerder by PRUnlimited, 'n gebeurlikheidsbestuurmaatskappy. Haar volgende doel voor oë is om haar as professionele grimeerkunstenaar te bekwaam. Sy beoog om veral op teater- en flimgrimering te konsentreer.
Opgedateer/Updated: 2009-04-28
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za