Met Die Tuiskoms is Sophia Kapp amper daar

  • 0

Titel: Die Tuiskoms
Outeur: Sophia Kapp
Uitgewer: Lapa-uitgewers
ISBN: 9780799342642
Prys: R137.66
Bladsye: 488

Klik hier en bestel Die Tuiskoms nou van kalahari.net!

Dis ? cliché; tóg is dit, soos vele ander geykte uitdrukkings in die volksmond, waar: Oos, wes, tuis bes – dis hier waar jy jou verstand gekry het, waar jy jou kniekoppe vir die eerste keer stukkend geval het en jou hart vir die eerste keer gebreek is - dit is jou huis.

In 2007 debuteer Sophia Kapp met Die Erflating (Lapa-uitgewers). In 2008 volg ? Nuwe Lente (Lapa) en Waar die hart is (Lapa). In hierdie trilogie word die liefde, leed en intense hartstog van drie Malan-susters weergegee. Elkeen se unieke verhaal word afsonderlik in elke boek vertel. Kapp poog om geloofwaardige karakters te skep met wie die moderne vrou kan identifiseer. Sy put haar inspirasie uit die liefde en konflik tussen man en vrou, susters en vriendinne en die verhouding tussen ouers en hul kinders.

In Die Tuiskoms word hierdie temas weer eens benut, om ? verhaal rondom die karakter Elizabeth Aucamp ( Liz) te skep. Die struktuur van hierdie roman stem ooreen met die vorm van die Griekse tragedie. Die held/protagonis (of in hierdie geval die heldin) beleef teenspoed wat nie deur haar eie toedoen veroorsaak is nie, maar sy dra die gevolge daarvan en haar aksies word daarvolgens bepaal.

In Die Tuiskoms maak die leser kennis met ? gebroke vrou wat tuiskoms vind, nie slegs op ? fisieke manier nie, maar ook wanneer sy haarself psigies en emosioneel herontdek en verbind met die milieu waarin sy tuis voel.

Op die oog af het Liz alles wat ? jong, onafhanklike vrou sou wou hê. Sy is egter amper dertig, alleen, en worstel met ? verterende geheim. Sy word daagliks afgetakel deur verwyt en die magtelose stryd om te bepaal waarom haar pa haar tien jaar gelede in die pad gesteek het.

Liz is ? gesiene onkoloog in Johannesburg. Sy het status, geld en ? rooi sportmotor, en word deur haar baas, Johan Immelman, hoof van Onkologie by die plaaslike universiteit, uitgesonder. Dié getroude man begin by haar vlerksleep, maar as plattelandse meisie met sterk beginsels en ? lewendige gewete, wys sy sy toenadering van die hand. Die volgende dag word sy van die navorsingspan verwyder. Verpletter sit sy voor haar lessenaar, net om onverwags ? tweede hou te ontvang. ? Oproep van ? onbekende nommer lig haar in oor haar pa se dood en dat hy na tien jaar se swye sy praktyk in Groblersdorp aan haar oorlaat.

Verbitterd en verdwaas ry Liz ná ? dekade terug na Groblersdorp se stofstrate. Hierdie keer wil sy antwoorde hê, sodat sy die verlede en hierdie vervloekte dorp finaal kan afskryf.

Tydens die begrafnisdiens word sy gekonfronteer met die teenwoordigheid van haar onbeskofte stieffamilie en die bron van haar ongeluk – Jans Gildenhuys, haar gewese verloofde en nou die eggenoot van haar stiefsuster, Leatitia.

Daar word nie veel uitgebrei oor Liz se emosionele belewenis rakende haar pa se dood en begrafnis nie. Daar word wel klem gelê op die afsydigheid en woede wat sy teenoor haar pa en die dorp koester. Vir die leser kom Liz aanvanklik as hardvogtig en wreed voor, maar stelselmatig maak sy haar hart en verstand oop om haar pa en Groblersdorp te vergewe.

Die verhaal kom op dreef waar sy haar pa se jong, ongeskikte, maar ongewoon aantreklike prokureur, Herk Louw, ontmoet. Uit die staanspoor verpes hulle mekaar, maar die leser word gou bewus van ? definitiewe seksuele spanning wat tussen die twee broei.

Die leser word op ? punt gefrustreerd met die spanning tussen die aantreklike Herk en die beeldskone Liz. Die verteltrant en storielyn sluit aan by die kommersiële-sepie-styl. Dit is die tipiese scenario van die mooiste hunk en mooiste girl wat verlief raak, weier om dit te erken en mekaar aanhoudend opvryf. ? Beduidende hoeveelheid aandag wat aan Liz se afsydigheid teenoor die dorp geskenk word, laat die leser kriewelrig. Haar hardkoppigheid raak irriterend en uiteindelik doen dit afbreuk aan die geloofwaardigheid van die karakter.

Kapp maak wel goed gebruik van die uitsteltegniek om die leser aanhoudend te laat wonder oor die donker geheim wat Liz bewaar. Wanneer Jans Gildenhuys een middag onverwags op Liz se voorstoep staan en wag, word die leser se nuuskierigheid behoorlik geprikkel. Uit dié twee se gesprek skemer dit deur dat hierdie man vir Liz as jong meisie met geweld ingebreek het.

Die soetsappige taalgebruik is plek-plek steurend. Jans beskryf Liz se skoonheid soos volg: “Jy is soos ? eksotiese blom, soos ? lelie in ? veld vol madeliefies.” ? Moderne vrou sou nou nie juis gevlei wees met hierdie paaiwoorde nie.

Verder pla die eerste sekstoneel tussen Herk en Liz. Getrou aan die sepiestruktuur het die twee eers ? hewige woordewisseling, en staar mekaar dan woordeloos aan. Dan “tree hy oor die drumpel … druk hy die deur toe en dis die laaste wat sy van haar omgewing bewus is.” Die leser het op hierdie punt al afgelei dat Liz as jong meisie verkrag is. Mens sou miskien ? sensitiewer aanslag tot die toneel verwag, maar helaas nie. Herk druk vir Liz vas teen die muur met haar polse langs haar kop vasgepen: “Dis ? plundering. ? Veldslag … hy vat en vat en vat …” Om die eerste liefdevolle samekoms as ? plundering en veldslag te beskryf, doen vreemd aan.

Nader aan die einde van die boek slaag Kapp daarin om die spanning te verhoog en bykomende intriges by die verhaal in te weef. Dit kom onder Liz se aandag dat Leatitia verslaaf is aan antidepressante en pynstillers. Die oorsaak van die verslawing is natuurlike Jans se daaglikse verbale en fisieke mishandeling. Liz is egter magteloos, aangesien Magdel (die bose stiefmoeder) so verknog geraak het aan die geld en status wat gepaard gaan met Jans Gildenhuys en derhalwe weier om te aanvaar dat haar dogter deur hierdie man mishandel word.

Die ontknoping in die roman word te vinnig bewerkstellig, en die epiloog pla. Krisisse word te vinnig en gerieflik opgelos. Die bose man is uit die weg geruim en nou is alles maanskyn en rose.

Alhoewel hierdie boek nie as ernstige literatuur bestempel sou kon word nie, raak dit wel ? paar sensitiewe sosiale kwessies aan, onder meer verkragting, VIGS, homoseksualiteit, gesinsgeweld en die dood. Die kwessies word nie in diepte ondersoek nie, maar Kapp het hier en daar ? paar insigte wat jou kop laat knik en jou tog weer die sinnetjie laat oorlees.

Ek sou jok as ek beweer dat ek nie die boek plek-plek geniet het nie. Die intriges en paar hitsige hyg-oomblikke was vermaaklik. Die Tuiskoms lees maklik en vinnig en sou as aangename tydverdryf op ? lui Sondagmiddag dien.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top