
Titel: Verby Stormkaap
Outeur: Irma Vermeulen
Uitgewer: Protea
Bladsye: 216
Irma Leonora Vermeulen (geb Moerdijk) is die dogter van Gerhard Moerdijk, argitek van onder andere die Voortrekkermonument en die Ministerswoning, en Sylvia Pirow, skrywer van ? aantal kinderboeke en die rubriek "Vrou in Politiek". Vermeulen bekwaam haar as argitek deur in haar pa se kantoor te werk en terselfdertyd buitemuurs aan die Universiteit van Pretoria te studeer. Sy is die eerste vrou in Suid-Afrika om haar op hierdie wyse as argitek te kwalifiseer. Sy het haar MSS- en PhD-grade aan die Universiteit Oranje-Vrystaat voltooi. Sewe publikasies het reeds uit haar pen verskyn, onder andere Modjadji@Mokwena (Protea Boekhuis, 2007) en Man en Monument, ? biografie oor haar bekende pa (Van Schaik Uitgewers, 1999).
Verby Stormkaap speel af tydens die 17de en 18de eeue. Die boek is gebaseer op historiese gegewens en die ryk kultuurgeskiedenis wat vorm aangeneem het tydens dié tydperk. Vermeulen kombineer hierdie geskiedenis met ? romantiek en avontuur. Om historiese gegewens met ? boeiende storielyn te verweef, sit nie in enige skrywer se broek nie. In Vermeulen se poging saal sy inderdaad ? perd op wat haar plek-plek afgooi.
Die proloog speel af op ? nag van onheil in 1620. ? Klein tweemaster vergaan tydens ? storm langs die weskus van Indië en die aantreklike kaptein, Hendrik Lievens, ontkom aan ? watergraf en spoel uit in die hawestad, Cochin. Maimonica, dogter van die Jood Maimonides da Costa, vind hom op die strand. Hy word oorweldig met gasvryheid en is betower deur die wierookwalms, olielampe en die geheimsinnige skoonheid van Maimonica, versluier agter haar geel sari wat maagdelikheid versimboliseer ...
Rabbi Maimonides is aan die hoof van die swart Jode van Cochin. Die teenwoordigheid van Leivens is gevaarlik, aangesien die invallende Portugese ? Nederlander en sy beskermers voor die voet sal doodmaak. Maimonides besoek die heilige kamers waar die Boekrol met die heilige geskrifte van die profeet Esegiël bewaar word. Hy opper ? smeekgebed en word geseën met ? voorbode. Hy sien twee arende, albei met veelkleurige vlerke. Maimonica se nageslag se bloed sal tweekleurig wees soos die arende se vlerke. Swart en wit bloed sal vermeng word - haar en die seeman se bloed. Saam moet hulle ? lewe in Batavia begin.
Hoofstuk een speel af in 1706. Dit is meer as tagtig jaar later en ? jong man beleef ? storm binne sy gemoed. Hy hunker na die Ooste, intens bewus van sy dubbele bande van herkoms, deels Oosterling, deels Westerling. Cornelis van der Stel is die jongste seun van oudgoewerneur Simon van der Stel. Hulle is die nageslag van kaptein Hendrik Lievens en Maimonica.
Die oseaan wink vir Cor (Cornelis van der Stel) na die lande van wierook, oliekruike en tapyte. Die skepe versoekend in die Kaapse baai op pad na Batavia. Sy dierbare, Friese vroutjie (wat hom intens verveel) is egter in die ander tyd, en om ? vrou in so ? toestand te los, gaan teen Cor se grein. Die nugtere dame word in dié tyd onverwags met ? voorbode geseën. Sy droom Cor is ? pragtige voël, ? goue arend wat sy vlerke oopsprei, hoog bo die wolke, die opkomende son tegemoet. Sy por hom dus aan en so vertrek Cor na die land waar sy wortels lê.
In hoofstuk twee verskuif die gebeure weg van die Kaap en bevind die leser hom/haar in Batavia. Die vyftienjarige Johanna Maria van Riebeeck, die kleindogter van Jan van Riebeeck, word uitgenooi na die kasteel deur die goewerneur-generaal, Johan van Hoorn. Hy dra die huweliksaanbod van die goewerneur van Ceylon, Gerrit de Heere, aan haar oor. In Ceylon heers daar chaos en die teenwoordigheid van ? vrou, ? sterk vyftienjarige vrou, word benodig. Johanna Maria stem in, "want watter meisie of vrou het seggenskap in die keuse van ? eggenoot?".
In Ceylon ontmoet Johanna Maria vir Cornelis van der Stel. Hy het intussen ? werk gekry op die koffieplantasies. Vir die drie weke voor haar huweliksdag spandeer sy en Cor elke oomblik saam, albei pynlik bewus van die ander se verpligtinge en verbintenisse. "? Web van romanse is [egter] om hulle gespin, en ? hegte vriendskap het ontstaan." Saam luister hulle na die slawe wat legendes vertel oor heldedade, drake en liefde en geniet hulle die "maanligritte langs die gragte" as hulle tuiskom van die troebadoerkonserte.
Die storie kom eers in hoofstuk drie behoorlik op dreef. Johanna Maria ontmoet goewerneur Gerrit de Heere op hul troudag. Hy is ? middeljarige man, kort, geset, met ? rooi gesig en twee blou ogies dig langs mekaar. Hy is ? neerhalende en kwetsende lummel wat hom op Johanna afdwing terwyl die sweetpêrels op sy voorkop vorm. Johanna is verpletter oor Cor. Laasgenoemde word ook aangesê om uit haar geselskap te bly. Hy word egter eendag in haar teenwoordigheid betrap en die goewerneur laat hom voëlvry verklaar. Cor verdwyn totaal uit Johanna se lewe.
De Heere gaan ? tragiese einde tegemoet. Johanna Maria keer terug na Batavia en ontdek sy is swanger. Goewerneur-generaal Johan van Hoorn neem haar onder sy beskerming en vra haar om te trou. Cor het intussen gehoor van De Heere se dood en haas hom terug na Batavia. Die reis word onderbreek deur ? storm en Cor sien vir die tweede keer hoe die liefde van sy lewe deur sy vingers glip.
Verdwaald en hartgebroke besluit Cor om na Amsterdam te gaan waar hy ? magtige ryk opbou met die aanlê van koffieplantasies. Hy verander sy naam na Cornelis van Waveren en sit die verlede agter hom. Johanna Maria verloor haar kind, maar bly getrou aan Johan van Hoorn, ongeag dat hy uit sy amp herroep word. Die VOC vereis dat hulle Batavia moet verlaat en hul in Amsterdam gaan vestig. Johan van Hoorn sterf egter kort na hul aankoms in Amsterdam.
Beide Cornelis van Waveren (almal onbewus van sy identiteit as Cornelis van der Stel) en Johanna Maria van Riebeeck word na die onthaal van Johanna se niggie, Anna de la Queillerie en haar eggenoot, Hendrik Trip, op Jagtwyk uitgenooi. In ? warboel van uiteenlopende gebeure ontdek die twee mekaar en met "vurige lippe wat alles verklap, versmoor hy haar protes".
Die roman is goed gestruktureer en die chronologiese volgorde van gebeure sorg dat die verhaal vinnig en maklik lees. Vermeulen is geneig om in kort sinne te skryf wat soms na telegramstyl neig. Dit is in kontras met gedeeltes wat formeel en uitgebreid geformuleer word. Die dialoog is soms soetsappig en voorspelbaar. Vermeulen sukkel plek-plek om die historiese gegewens met ? boeiende storielyn te laat vlot. Dit raak soms verwarrend, aangesien die verhaal fiktief is, maar die karakters gebaseer op historiese personasies. Die gebruik van die verledetydsvorm dra by tot die verwarrende effek en die gebruik van eerstepersoonsvertelling sou treffender gewees het.
Beelde wat deurgaans benut word in die roman, is dié van die arend en die storm. Maimonides kry ? voorbode oor die twee veelkleurige arende. In die verhaal word dit duidelik dat dit van toepassing is op WA van der Stel (die oudste broer) en Cornelis van der Stel (die jongste broer). Maimonides voorspel dat die oudste broer deur sy volgelinge onttroon sal word, terwyl die jongste broer groot sukses sal behaal. In hierdie beeld word die interteks van Romulus en Remus opgeroep. Die twee Romeinse broers se toekoms is ook in terme van arende in vlug voorspel en het ook so uitgespeel. Die beeld kom weer na vore in Cornelis van der Stel se gedweë vroutjie se droom en in hoofstuk vier wens WA van der Stel dat hy "saam met die arend die blou lug kan deurklief".
Die storm-beeld hang goed saam met die titel. Eerstens beleef kaptein Hendrik Lievens ? verwoestende storm. Cor ervaar ? storm in sy gemoed en beleef een op pad na Batavia wat hom van koers af dwing en veroorsaak dat hy vir Johanna Maria vir ? tweede keer verloor. Ook Johan van Hoorn beleef ? storm aan boord van die Brugh op pad na Amsterdam. Elkeen van hierdie storms kan simbolies geïnterpreteer word. As Lievens nie op Cochin uitgespoel het nie, sou die Van der Stels nie bestaan het nie. Cor se gemoed dryf hom na Batavia waar hy die liefde van sy lewe ontmoet en die fisiese storm dwing hom om ? magtige ryk op te bou. Die storm wat Johan van Hoorn ervaar, is noodlottig en stel Johanna Maria in staat om met Cor in die huwelik te tree. Die slot eindig ietwat in ? mirakeloplossing, maar daar is tog oomblikke van onsekerheid en opwinding opgesluit.
? Belangrike punt is dat die verhaal afspeel teen die agtergrond van die gebeure tydens die bewind van die VOC. Daar is ? hernieude belangstelling in die Ou Kaapse geskiedenis en Protea Boekhuis het in die afgelope twee jaar drie afsonderlike boeke gepubliseer wat spesifiek oor hierdie tema handel: Kinders van die Kompanjie (K Schoeman, 2006), Die Buiteposte (D Sleigh, 2007) en Patrisiërs en prinse (K Schoeman, 2008). Hierdie publikasies is egter akademies van aard.
Verby Stormkaap is wel baie informatief en Vermeulen slaag daarin om ? nuuskierigheid rondom die VOC en die Van der Stel-familie aan te wakker. By tye maak sy gebruik van pragtige poëtiese taal en dit blyk dat sy die onderwerp goed nagevors het. Sy vertel ? mooi storie van hofmakery, dames wat pronk in tabberds van satyn, swaardgevegte en misterieuse helde wat op hul blink Arabier-hingste uit die sonsondergang galop.

