Hemelruim in die Fugardteater, ’n resensie

  • 0

Dis of dit in die sterre geskryf was dat Nico Scheepers Nick Payne se Constellations moes vertaal. Hy was ook verantwoordelik vir die regie en die musiek van dié produksie met die titel Hemelruim. Dis in alle opsigte ’n stertoneelstuk. En as jy dit by een van die feeste misgeloop het: dis nóú te sien in die Fugardteater in Kaapstad.

Agtergrond

Nick Payne is ’n Engelsman en was net 28 toe hy Constellations geskryf het. Die stuk is in 2012 vir die eerste keer in die Royal Court Theatre in Londen opgevoer en later dieselfde jaar in West End. In 2015 het dit Broadway toe gereis. Jake Gyllenhaal het hier die manlike hoofrol vertolk.

In die YouTube-insetsel hier onder vertel Nico Scheepers hoe hierdie stuk die Afrikaanse kringloop gehaal het:

Kwantumfisika en heuningbye voel soos ’n onwaarskynlike kombinasie, maar hierdie twee temas bind die hele toneelstuk saam. Die storie(s) handel oor ’n liefdesverhouding tussen ’n man en ’n vrou. Daar is parallelle tydlyne met verskillende uitkomste aanwesig.

Die twee akteurs, Tinarie van Wyk Loots en Paul du Toit, vul mekaar uitstekend aan. Hulle verstaan mekaar baie goed op die verhoog. Daar is soveel elektrisiteit in die lug dat dit ’n hele verhoog vol gloeilampe almal gelyk kan laat ontbrand.

Mens wil graag vir Tinarie van Wyk Loots uitsonder, want sy is eenvoudig voortreflik. Sy is onskuldig en laf en mooi en verleidelik en intelligent en broos. Vir haar vertolking van hierdie rol het sy pryse by Aardklop en die KKNK gewen en ’n Fiësta-toekenning ook. Maar daar moet ook net soveel krediet vir Paul du Toit gegee word. It takes two to tango. En in dié toneelstuk sit nie een van die twee ’n voet verkeerd nie.

Die storie en die karakters

Dis moeilik om by die storie se begin te begin, want dis ’n stuk met meer as een begin. Die hele stuk bestaan uit verskillende moontlikhede vir een paartjie se liefdesgeskiedenis.

Die Fugardteater beskryf die stuk só op hul webwerf: "Dit is die beeldskone verhaal van twee siele wat mekaar keer op keer in verskeie heelalle ontmoet en verloor. Die produksie is eerlik, gestroop, floreer in die hande van die twee spelers en neem die gehoor op ’n reis deur die sterre, vol liefde, wetenskap en heuning."

Die lewe is ’n hemelruim gevul met moontlikhede. Maar beteken moontlikhede dieselfde as potensiaal? Kan dit altyd vervul word?

Om te probeer verduidelik hoe dit prakties in die toneelstuk werk - hierdie moontlikhede in parallelle wêrelde - volg daar ’n demonstrasie hier onder:

Voorbeeld een:

’n Kind, met ’n nors en afsydige stem, oë neergeslaan, geen fisieke kontak nie, brom-groet: "Môre, Ma ..."

Die ma reageer negatief hierop.

En

Voorbeeld twee:

Direk nadat die kind die ouer onbeskof gegroet het, groet dieselfde kind dieselfde ma met ’n opgewekte stem, vrolike gesig en sagte aanraking, of dalk ’n soen: "Môre, Ma!"

Op hierdie soort groet, reageer die ma gans anders.

En:

Voorbeeld drie:

Dieselfde ma en kind staan op die verhoog; dis dieselfde toneel.

Ma: "Groet jy nie?"

Kind: "Vir wie moet ek nogal groete?"

Ma: "Besef jy hoe seer dit maak as jy my altyd ignoreer?"

Die moontlikhede is legio. Elke reaksie het ’n teenreaksie. En die uitkomste en die verdere verloop (al word dit nie noodwendig vertel nie) sal verskillend wees.

Hierdie presiese groettonele vind nie in die toneelstuk plaas nie. In die toneelstuk is die parallelle moontlikhede veel meer intens. En alles is toegespits op die verloop van die liefdesverhouding tussen ’n man en ’n meisie. Daar is geen ander karakters nie, behalwe karakters oor wie daar gepraat word. Ook uit die gesprekke oor die ander karakters is dit duidelik dat hulle lewens ook ’n duisend-en-een verskillende moontlikhede bied. Wat sou gebeur het as, as, as ...

- Hierdie of daardie mense met mekaar getrou het?

- Hy en sy baklei het, uitmekaar is en mekaar dalk weer later raakloop en weer probeer?

- Hy en sy al op die eerste aand hul liefde vir mekaar verklaar het, of juis op die eerste aand ambivalent was oor of hul van mekaar hou?

Om ’n werklike voorbeeld uit die toneelstuk te noem, sou verklap wat gebeur. Of, in elk geval, wat miskien kan gebeur. So baie kan gebeur. Soveel kere reageer die akteurs menslik op mekaar. Hulle is gefrustreerd met hul eie lomphede of verkeerde hantering van ’n situasie. Die gehoor voel of hul kan saamlag of saamhuil. Hier is baie stof tot nadenke en gesprek as mens self in ’n verhouding is, of al in een was. Of sal wees.

Die beroepe van die man en die vrou is baie slim gekies. Die vrou weet heelwat van tydlyne en kwantumfisika. Sy verduidelik haar werk en iets van haar kennis aan die man. En hy, weer, is ’n heuningboer. Ook hierdie beroep is van belang. Die skrywer van hierdie teks smokkel met jou kop. Die navorsing oor tydlyne vind ook prakties en deurlopend plaas. Mens moet kophou. En elke keer as een van die twee op ’n sekere manier optree of nie optree nie, leef jy jou in.

Hul rusies laat mens lag; mens identifiseer met elke weergawe van elke tydlyn. Daar is baie onvertelde tyd. Soms is daar onvertelde tyd, want dis ’n storietegniek (die skrywer hoef nie alles te vertel nie). Soms is daar onvertelde tyd, want die paartjie is in hierdie verloop, binne hierdie parallelle wêreld, nie sáám nie. Daar is onvertelde tyd, want vir alle praktiese doeleindes is daar glad nie in hierdie weergawe ... tyd nie.

Lyftaal maak ’n verskil. Nuansering ook. En woorde. Of gebrek aan woorde.

Daar is trefkrag in gebare.

Ten slotte

As hulle mekaar weer sien, in een van die storieweergawes, en hulle weet nie waarheen nou nie, is dit ’n finale vurk in die pad.

Die ligte gaan verblindend aan.

Hoe dikwels is die tydstip van elke party se lewensverloop van belang in ’n liefdesverhouding, hoe gereeld hoor ’n mens: "Ons is nie nou op dieselfde plek nie."

Maar die hemelruim is vol moontlikhede. Te veel om van te kies. Veels te veel.

Daar is ’n besef dat elke vreugde ook bevlek gaan wees met verdriet.

Soms, op ’n gegewe oomblik, is daar net een keuse om te maak. Al die gloeilampligte gaan aan.

Is hierdie finale the unbearable lightness (of "brightness") of being? Of ’n oomblik van verheldering en insig?

Dis oop vir interpretasie, die heelal bied ‘n oneindige aantal eindes vir hierdie liefdesverhaal.

Die stuk word sterk aanbeveel. Hemelruim verdien ’n hele handvol sterre.

 

  • Hemelruim is tot 13 Mei 2017 by die Fugardteater te sien. Hier is nog inligting.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top