Heksejag op Afrikaans duur voort: Afdreiging van Minister is ongepas

  • 2

Die heksejag op Afrikaans as onderrigtaal in die hoër onderwys het ’n nuwe dimensie gekry met die Minister van Hoër Onderwys se dreigement dat hy ’n universiteit sal sluit as so ’n instelling enkel Afrikaans as onderrigmedium sou gebruik. Dr Blade Nzimande het volgens koerantberigte verwys na  Akademia, Solidariteit se universitêre instelling.  ’n Enkel-Afrikaans-beleid sou diskriminasie in die hand werk, aldus die Minister.

Dit is duidelik dat die Minister met sy uitlatings sy ideologiese onderrok laat uithang en hoegenaamd nie landsbelang en demokratiese beginsels in ag neem nie, het die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad, prof Jacques van der Elst,  gesê.  Hy kan nie nalaat om Afrikaans met apartheid te assosieer nie, terwyl Engels as taal nes Afrikaans gebruik is om apartheid te propageer.Die Minister se taak is om hom in nasionale belang te beywer vir die bevordering en instandhouding van uitnemende universiteite met hoë akademiese standaarde. Die formulering  van taalbeleide kan hy aan universiteite se bestuursliggame oorlaat. Dit  lyk egter eerder of die Minister hom nou  met ’n afdreigtegniek oor taal besig hou met ’n heksejag op Afrikaans.   

Akademia is ’n universitêre instelling, met voorlopige akkreditasie deur die Departement van Hoër Onderwys, wat tot dusver ’n BCom-graad en gevorderde  diplomas in Afrikaans aanbied. Die instelling is oop vir almal en behaal sukses in die hoëronderwyssektor. Voorsiening word gemaak vir werkende Suid-Afrikaners wat nie die hoë klasgelde kan betaal of die geleentheid het om by residensiële univeriteite te studeer nie. Skoolverlaters begin nou ook in groter getalle inskryf. Die byderwetse onderrigmodel, anders as UNISA,  van periodieke klasontmoetings en korrespondensie-aanbiedings vind baie byval. Byna sewe miljoen Suid-Afrikaners het met die jongste sensus aangedui dat hulle huis- of moedertaal Afrikaans is. Waarom mag Akademia  – in openbare belang – nie ook ’n opleidingsopsie vir Afrikaanstaliges van alle kulture bied nie?

  • 2

Kommentaar

  • george bekker

    Prof Van der Elst wys op 'n aantal belangrike punte. Dit is egter jammer dat hy nie van menseregte melding maak nie. As 'n mens die minister se woorde ernstig opneem (en hy is blykbaar ernstig) is hy van voorneme om op 'n onwettige wyse op te tree wat ernstige gevolge sal meebring. Amptelike media en openbare reaksie behoort veel sterker te wees.

  • Johan Martin T Labuschagne

    Dit is vir my nogal opvallend hoe baie min mense beself hoe rassisties Comrade Blade se uitsprake is. Gestel ek sou die uitspraak maak: Indiërs is skelms. Dit is voor die hand liggend dat dit rassisties is. Rassisme is om te glo dat daar sekere, negatiewe kenmerke is wat eie aan ‘n seker ras is. Om te glo dat alle Afrikaanse mense rassisties is, is so ‘n negatiewe kenmerk en ‘n dus ‘n rassistiese uitlating. Hoekom vat mense hom nie aan oor sy rassistiese houding nie? Waar is Afriforum of ander burgerregte-organisasies?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top