Hein Viljoen (1951–)

  • 0

Gebore en getoë

Hein Viljoen is op 23 Maart 1951 in Pretoria gebore toe sy pa, ’n predikant, daar was vir ’n sinodesitting van die NG Kerk. Hulle het in Krugersdorp-Wes tussen die mynwerkers, arm en harde mense, gewoon, vertel hy in ’n biografiese skets aan Naln. Sy volle name is Hendrik Marthinus, vernoem na sy oupa en pa. Sy oupa is ook Hein genoem. 

In 1959 verhuis die gesin na Lindley in die Vrystaat waar Hein sy laerskoolloopbaan voltooi het. In 1964 is hulle na Potchefstroom. Hy woon die Hoër Volkskool by waar hy dan ook in 1968 matrikuleer. In sy matriekjaar begin hy gediggies soos limerieke skryf.

Verdere studie en werk

Ná matriek werk Hein vir drie maande in die Witrand-inrigting vir verstandelike gestremdes voordat hy met sy militêre opleiding op Potchefstroom begin. Hy voltooi sy militêre opleiding in Januarie 1970. Gedurende hierdie tyd studeer hy deur Unisa en voltooi sy eerste jaar vir ’n BA-graad.

In Februarie 1970 begin Hein sy universiteitsopleiding aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO en vandag Noordwes Universiteit). Hy verwerf in 1971 sy BA-graad met Afrikaans-Nederlands en Psigologie as hoofvakke.

In Desember 1971 tree hy en Rinie Kruger in die huwelik en drie kinders is uit die huwelik gebore. Hein gaan werk toe vir twee maande by die destydse Bantoe Administrasie in Carletonville terwyl hy wag om ’n beurs te kry om sy honneursstudie in Afrikaans voort te sit. Hy behaal sy BA Honneursgraad aan die einde van 1972 en Rinie verwerf terselfdertyd haar Onderwysdiploma.

Nadat hulle hul grade verkry het, trek Hein en Rinie na Pretoria waar hy in die vertaalkantoor van die Staatsdiens begin werk – as vertaler en versorger van onder andere staatskoerante, artikels oor "Ons groen erfenis", die delfstowwe van Suid-Afrika en kommissieverslae (soos die Schlebusch-verslag).

Tussen sy werk as vertaler skryf hy onder leiding van AP Grové ’n tesis getiteld Die anormalisering in die poësie van Breyten Breytenbach waarmee Hein sy MA-graad in 1975 verwerf.

Hy sluit hom in 1976 by die Universiteit van Pretoria aan as dosent in Afrikaans-Nederlands totdat hy in April 1978 na die PU vir CHO gaan. Einde September 1980 is Hein en sy gesin na Nederland vir verdere studie in algemene literatuurwetenskap aan die Rijksuniversiteit in Utrecht.

Ná ’n "baie leersame en interessante verbly" keer die Viljoen-gesin in 1981, kort voor Kersfees, terug na Suid-Afrika en sit Hein sy werk as dosent aan die PU vir CHO voort. Hy maak ’n begin aan sy navorsing oor die Suid-Afrikaanse romansisteem in 1981. Die resultaat van hierdie navorsing is ’n proefskrif vir sy D Litt-graad (1985) getiteld Die Suid-Afrikaanse romansisteem anno 1981 wat in 1986 deur die universiteit gepubliseer is. Dit is ’n vergelykende studie van drie Suid-Afrikaanse romans waarin daar gebruik gemaak word van ’n stelselbenadering.

In 1984 word Hein oorgeplaas na die Departement Algemene Taal- en Literatuurwetenskap en in 1994 is hy weer terug by die departement Afrikaans-Nederlands. In 1986 word hy bevorder tot senior lektor, in 1987 tot medeprofessor en in 1992 tot professor. Hy word mettertyd vakvoorsitter van die vakgroep Afrikaans en Nederlands. Hy dien ook as direkteur van die Navorsingseenheid vir Tale en Literatuur in die Suid-Afrikaanse konteks. Sy navorsing is hoofsaaklik toegespits op die Suid-Afrikaanse letterkunde na 1980 en die Afrikaanse poësie.

Hein is lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns waar hy op die Letterkundige Kommissie dien, die Maatschappij voor Nederlandse Letterkunde en die destydse Afrikaanse Skrywersgilde. Verder is hy voorsitter van SAVAL (Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Algemene Literatuurwetenskap), wat hom ten doel stel om die studie van literêre teorie en vergelykende letterkunde te bevorder. Per geleentheid is hy gasprofessor aan die Universiteit van Antwerpen in België, waar hy ’n kursus in Afrikaanse taal- en letterkunde aanbied.

In 1981 terwyl hulle in Nederland is, hoor Hein dat sy bundel verse deur Perskor aanvaar is vir publikasie. Dit het egter eers in 1983 verskyn onder die titel Waterkristal.

In Woord en Daad van Januarie 1984 skryf Jan Swanepoel: "Die titel Waterkristal is ’n ietwat bedrieglike mooiklinkende titel wat nie die volle lading van die gedigte wat in hierdie versameling byeengebring is, dek nie. Die bekoorlikheid van hierdie bundel is geleë in die spanningsvolle saambestaan of dialektiek tussen die intellektuele en die sintuiglike en/of sinnelike."

"Die intellektuele aanslag maak homself op verskillende wyses kenbaar. Dit kan gesien word in die afstand wat die digter handhaaf teenoor dit wat hy verbeeld, in die 'koel oog' waarmee hy die menslike bestaan betrag. Dit word ook gemanifesteer in die opvallende spel-element in die bundel: ’n spel wat gespeel word met klanke, motiewe, konsepte en woordspel. Die intellektuele aanslag kan ook gesien word in die beheerste en gedissiplineerde versifikasie. [...]

"Die nie-intellektuele, die sintuiglike en direkte kan veral gesien word in die gedigte wat handel oor die liefde en die lyde. Die tweede afdeling liefdesgedigte en die sewentiende afdeling bevat dan ook van die beste gedigte in hierdie bundel, (byvoorbeeld 'Portret van die vrou as vugbaarheidsgodin', 'Viltwerk' en 'Lente-aand'). [...]

"Die uitreiking na die essensiële is ook te sien in ’n aantal religieuse gedigte, maar dié behoort - met uitsondering van 'Die profeet' - nie tot die sterker gedigte in die bundel nie. [...]

"Waterkristal is ’n verdienstelike bundel met ’n aantal goeie gedigte. Dikwels lê wat goed is nog in die fragment, maar daar is reeds in hierdie eerstelingwerk meer as genoeg bewys van digterlike vaardigheid."

Vir André P Brink (Rapport, 27 Maart 1983) is daar "enkele bekoorlike stemmingsoomblikke" in Waterkristal, soos die "vasvang van triestige verganklikheid" in "Na die Ou Iers" en die genoeglike "manier waarop hy ’n volledige vrugbaarheid oproep in 'Portet van die vrou as vrugbaarheidsgodin'" en enkele ander gedigte, maar dit is waar dit ophou.

"Origens is die gedigte meestal te yl van tekstuur, die stemminkies te vlugtig of te presieus, soms selfs sentimenteel. Was dit werklik gerade om in dié stadium al ’n bundel te publiseer? Te veel water en te min kristal."

Nienaber-Luitingh skryf in Volksblad van 9 Maart 1983 dat Waterkristal as titel heel paslik is vir hierdie bundel: "Viljoen se beste gedigte vertoon inderdaad iets van die helderheid en die geslotenheid van vorm wat deur hierdie woord gesuggereer word."

"Oor die algemeen is hierdie gedigte taamlik kort en vertoon hulle kort versreëls. ’n Dergelike digvorm vereis ’n ekonomiese en voldoende woordgebruik. En Viljoen slaag herhaaldelik daarin om deur middel van min, maar goedgekose woorde ’n bepaalde stemming en/of situasie op te roep of om ’n hele ontwikkeling saam te vat."

21 jaar na die verskyning van Waterkristal verskyn Hein se tweede bundel in 2003 onder die titel holtrom en groot kabaal.

In ’n onderhoud met Stephanie Nieuwoudt in Beeld van 12 Junie 2003 vertel Hein meer aan haar oor die titel holtrom en groot kabaal: "Eintlik staan die titel tussen die reëls ingeskryf in die gedig 'klankblurb' – tussen die pot en die klok was daar in ’n stadium ’n trom ook (dink ek). Die idee is maar dat die digter ’n soort hol ontvanger is van die lawaai wat die samelewing maak. Natuurlik maak hy sy eie soort kabaal ook, maar aan die ander kant is die digter se woorde in ’n samelewing waar die kuns en poësie klein en gering geag word, ook klein en gering."

Nieuwoudt wou by Hein weet hoe hy die bundel aan iemand sou verduidelik wat dit nog nie gesien het nie. Hein se reaksie was dat soos in meeste bundels die lewe, die liefde en die dood die hooftemas is. "Die gedigte is meer reaksies en minder persoonlik – op dinge wat die afgelope 20 jaar met my en om my gebeur het. Daar's liefdesgedigte in en gedigte van afskeid van geliefdes en oor die land en die politiek."

"As iemand wil weet hoe ek dink hy of sy die bundel moet lees, kan ek wel een leessleutel gee. En dit is: let op die ligwoorde en ligbeelde, want lig is nogals baie sentraal vir die bundel en wat dit beteken. Fotogevoelig was een titel wat ek oorweeg het."

Hein het baie van die verse in holtrom en groot kabaal in die buiteland geskryf en een van Nieuwoudt se vrae aan hom was hoekom hy lus kry vir skryf wanneer hy reis.

Hein antwoord: "Op reis is ’n mens uit jou gewone groewe en gewoontes uit en sien en ervaar jy ander dinge (en dinge anders) as gewoonlik – want baie goed pas by die idee dat die poësie daar is om die wêreld weer nuut en vreem te maak. ’n Mens het ook meer tyd – al die gesit in treine en dinge. Spesifiek my haat-liefde vir Nederland en die Nederlanders kom nogal in hierdie afdeling uit, dink ek. Eintlik behoort ’n digter elke jaar ’n lang reis te kan onderneem."

Die opskrif van Johann de Lange se resensie van holtrom en groot kabaal in Rapport van 7 Desember 2003 is: "Ná 20 j sou ’n mens meer groei wou sien" en hy sluit sy bespreking as volg af: "Hoewel holtrom en groot kabaal ’n hand vol goeie verse bevat, is die geheelindruk waarmee dit die leser laat dié van geforseerdeheid, van serebrale verse, of verse waarin die emosie nog nie verwerk is nie.

"Die invloed van Cloete is ook opvallend (die gebruik van wit spasies pleks van leestekens, die onoordeelkundige gebruik van enjambement), maar wat by Cloete tegniek is, word by Viljoen selde meer as maniërisme."

Andries Visagie is die resensent in Beeld (11 Augustus 2003) en hy skryf as volg: "Hoewel die titel van Viljoen se nuwe bundel taamlik onwelluidend is, gee dit tog ’n goeie beeld van die sowat 60 gedigte wat opgeneem is. Die titel laat ’n mens onwillekeurig dink aan die uitdrukking 'leë balies maak die meeste lawaai'. Keer op keer in holtrom en groot kabaal gee die digter uitdrukking aan sy stryd om deur middel van die poësie op ’n effektiewe en betekenisvolle manier te kan kommunikeer. Hy vermoed dat sy poësie ’n sinnelose kabaal is. [...]

"Tog weet Viljoen hoe om die 'holtrom' van sy digkuns op ’n besondere musikale manier te laat weerklink. Sy digbundel is ’n uitnodiging aan die leser om saam met hom op die maat van sy ritmiese gedigte te dans en te geniet. In 'graceland' en veral 'Swingin’ Gronigen' is dit moeilik om die ritmiese reëls stil-stil te lees sonder om met jou voete die ritme te begin volg.

"Die sensuele aanslag van holtrom en groot kabaal is nie net opvallend in Viljoen se verskeie gedigte oor musiek nie, maar ook in sy volgehoue verwondering oor die visuele effekte wat lig kan meebring.

"Die aanwesigheid van ’n bonatuurlike dimense word dikwels gesuggereer deur die onpeilbare kwaliteit van lig en dit is deur lig dat die digter bewus word van die geheimenisse van die skepping. [...]

"Dit is jammer dat Viljoen hom in hierdie bundel weer soos vroeër in Waterkristal ('Brief vir Breyten') besondig aan ’n skrille afrekening met literêre figure. In 'afskyt van mieke en maatjies" het hy onder meer die Nederlandse literatuurteoretikus Mieke Bal in sy visier. Anders as in sy afrekening met Freud en die psigoanalise, 'die interpretasie van drome', is daar in Viljoen se tirade oor Nederlandse literatore geen teken van kritiek wat die eng persoonlike oorskry nie. Sy 'ligte vloek' oor Bal en kollegas is ’n laagtepunt in holtrom wat verder ’n prettige en speelse bundel is en wat heel moontlik beduidende getalle lesers vir die poësie kan wen danksy die sterk emosionele gehalte en toeganklikheid van die gedigte."

In Literator (Augustus 2003) is Marthinus Beukes aan die woord oor holtrom en groot kabaal: "Met die titel holtrom en groot kabaal stel Viljoen die leser in op die geluidmatige. Soos met sy debuutbundel twintig jaar gelede waar die klem onder andere op die visuele waarneming geval het, is die instem op die sintuiglike meelewing van die oog en oor dit wat Viljoen digterlike wil verwoord in hierdie bundel."

En dan sluit Beukes af: "Wat die leser na die lees van hierdie bundel oorhou en sal onthou, is ’n handvol tonale gedigte wat sal nadreun in die hol trom, maar die groot kabaal van sekeres sal snel tot ’n klein tingel weg-eggo."

Daar het sestien jaar verbygegaan voordat Hein Viljoen se volgende bundel, Brisant, in 2019 by Naledi Uitgewers verskyn het.

Marius Crous (Beeld, 11 November 2019) beskou Brisant as soortgelyk aan Chris Barnard se Die rebellie van Lafras Verwey (1971) waarin ’n baie ongelukkige amptenaar homself in sy dagdrome sien as ’n terroris. In Brisant maak ons kennis met Jan, ’n akademikus, wat uit weerwraak beplan om hom met geweld teen sy omstandighede te verset. Hierdie gegewe herinner vir Crous aan die film Falling down waarin William Foster die stad op horings neem nadat sy motor gaan staan het.

"Hein Viljoen bied hierdie gegewe in epiese vorm, nes TS Eliot, na wie hy in die gedig intertekstueel verwys. Daar word ook in gesprek getree met ander digters en van hulle tekste word ingeweef of in ’n ander idioom herskryf. [...]

"Die ontnugterde subjek van die lang gedig is ’n akademikus wat letterkunde doseer en ingelig word dat sy fakulteit tien poste moet besnoei. Hy troos hom daaraan dat hy heelwat navorsingsgeld ingebring het en hulle hom sal wil behou. Tussendeur wroeg hy ook oor sy verhouding met sy gesin.

"In die sogenaamde 'heilige halle van die letterkunde' word die 'wroegings van ’n dooie wit man gepreseveer' en as uitgeworpene wil hy hom wreek op diegene wat hom uitsluit. [...]

"In teenstelling met die bomobsessies in die res van die gedig word afgesluit met ’n kopknik na TS Eliot se vuursermoen – trouens die vuurmotief kom deurlopend voor. Eliot se Teems word nou getransponeer na Rietspruit en daar word sterk klem gelê op die grond, die modder en die transformerende en transmuterende krag van vuur.

"Anders as by Eliot waar die Boeddha waarsku teen ’n oorgawe aan aardse luste, is die klem hier op die paradoksale transformerende en vernietigende potensiaal van die vuur.

"Nes Jorik en Awater (van Marthinus Nijhoff) moet Jan sinvol probeer leef in die letterlike en figuurlike woesteny en myns insiens slaag Hein Viljoen heel goed daarin om dit te ondervang en te verwoord."

Op LitNet is Nini Bennett die resensent en sy skryf as volg oor Brisant: "Die hele bundel wemel van alledaagse vonke, vlamme en ontploffings, soos braaivleis(-vure), donderstorms, Coke of whisky wat 'brand' in die keel, ensovoort. Brisant eksploiteer hierdie detonatiewe drif op verskeie vlakke soos dit gestalte vind binne die siklus van geboorte, dood, Verligting, regenerasie, vrugbaarheid, inspirasie, pyn, martelaarskap, suiwering – of van vuur as die bemiddelaar tussen verskynsels wat verdwyn en weer verskyn. Die bundel is ryk aan intertekstualiteit, soos die gedeelte op bladsye 86–87 wat in gesprek tree met Eliot se 'The Sermon of Fire'. [...]

"Binne die postmoderne saamgesels van stemme, verwys Viljoen ook na die eksperimentele film The tree of life van Terrence Malick (61), en lewer kommentaar op die poësie van Breytenbach, Krog, De Lange, Hambidge, Slippers en HJ Pieterse (7).

"Aan samesweringsteorieë – reëel of denkbeeldig – ontbreek dit nie, en die bundel bied ’n ongewone en aweregse kyk op bleeksiele, staatspioene en ekstremiste wat te midde van ’n toondoof polities korrekte bestel hulself begin verset. Die epos lees vloeiend en maak mildelik gebruik van die uiteenplasingstegniek wat momentum gee aan die leeshandeling en soos ’n springveer die volgende versreël(s) voortsneller. Brisant beskik oor ’n goeie skeut humor, en die leser moet glimlag oor die eksentrieke akademikus wat met sy Camry rondry – ’n onwaarskynlike kandidaat as gevaarlike terroris. Een van die vele moontlike betekenisse van die gedig is waarskynlik die versugting na ’n suiwerende katarsis in die huidige sosiopolitieke bestel – of dalk die suggestie dat so ’n katarsis wel die een of ander tyd kan uitspeel."

Charl-Pierre Naudé skryf op Versindaba oor Brisant: "Brisant is by uitstek ’n teks wat die postmodernistiese styl se effekte nastreef: gelykstelling van die verhewe en die banale, byvoorbeeld. Die beplanners van ’n bomaanval, wat normaalweg met Moslem-ekstremiste of Afghaanse kleinboere verbind word, is hier akademici aan ’n universiteit. Daar is die gegewe van Aboobaker in die teks, geheimsinnig en nie heeltemal duidelik vir my nie. Maar hy staan op een of ander manier agter die bomplantplanne van die skynbaar regse sel te lande, as vergelding vir onder meer die moorde op Suid-Afrikaanse boere. Die implikasie is dat die Afrikaanse boer en die Islamitiese ekstremis dalkies nie te ver van mekaar te skeie is nie.

"Die verdere vermoede wat by die leser ontstaan is dat die spektrum oneindige redes wat gegee word vir geweldpleging, eintlik net ’n rasionalisasie is wat ’n onderliggende tragiek verswyg: dat die aanwesigheid geweld, op groot óf mikrovlak, deel is van ’n groter prentjie, buite die mens om, waarin die mens se eie kategorieë van platvloerse en verhewe nie meer bestaan nie en eintlik bo op 'geplak' is.

"Soos reeds genoem, is die teks indrukwekkend op die vlak van subteks en interteks. Dis op die storievlak wat daar probleme is.

"Die belangrikste interteks is ’n deel van The Wasteland, van TS Eliot, genoem 'The Sermon of Fire', waarin vuur deel uitmaak van ’n tema van verval. Maar hier word daardie eensydige siening juis aan die kaak gestel deur Viljoen se teks – op tipies postmodernistiese wyse.

"Om op te som: ’n Interessante, selfs boeiende teks, wat die bekende stylfigure van postmodernisme, soos die afwesigheid van sekere leestekens, nastreef – maar met bepaalde gebreke veral van die strukturele soort.

"Die heel laaste seksie in die epiek, is 'Ryk swartgrond die wêreld nuut'. Die swartheid van die ryk grond hang nou saam met vuur, en die teks eindig dus onomwonde as ’n aanvaarding van die vuur en bevrugting.

"Dit het baie interessante, dalk vir sommiges aanvegbare, implikasies vir sienings oor die huidige Suid-Afrika en sy probleme."

Publikasies

Publikasie

Die anormalisering in die poësie van Breyten Breytenbach

Publikasiedatum

1974

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Universiteit van Pretoria

Literêre vorm

Letterkundige kritiek (tesis)

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Waterkristal

Publikasiedatum

1982

ISBN

0628022778 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die Suid-Afrikaanse romansisteem anno 1981: ’n vergelykende studie

Publikasiedatum

1986

ISBN

0869908618 (hb)

Uitgewer

Potchefstroom: PU vir CHO

Literêre vorm

Letterkundige studies (tesis)

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Alkant olifant: ’n inleiding tot die literatuurwetenskap. Saam met Chris N van der Merwe

Publikasiedatum

1998

ISBN

062702668X (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Literatuurwetenskap

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Holtrom en groot kabaal

Publikasiedatum

2003

ISBN

9781869190057 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Brisant

Publikasiedatum

2019

ISBN

9781928426660 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Hein Viljoen as redakteur:

  • In teen die groot vergeet: ’n bundel opstelle opgedra aan TT Cloete by geleentheid van sy sestigste verjaardag op 31 Mei 1984. Potchefstroom: PU vir CHO, 1984 [ISBN0869907689 (sb)]
  • Literêre terme en teorieë. Saam met TT Cloete. Pretoria: HAUM-Literêr, 1992 [ISBN 0798627077 (hb)]
  • Storyscapes: South African perspectives on literature, space and identity. Saam met Chris N van der Merwe. New York: Peter Lang, 2004 [ISBN 9780820467894 (sb)]
  • Beyond the threshold: explorations of liminality in literature. Saam met Chris N van der Merwe New York: Peter Lang, 2007 [ISBN 9781433100024 (sb)]
  • Crossing borders, dissolving boundaries. Amsterdam: Brill/Rodopi, 2013 [ISBN 9789042036383 (sb)]

Artikels oor en deur Hein Viljoen beskikbaar op die internet:

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top