Resensie: Brisant deur Hein Viljoen

  • 0

Titel: Brisant
Skrywer: Hein Viljoen
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781 928426660

Jan Human, ’n akademikus verbonde aan ’n binnelandse universiteit, kom in opstand teen die hedendaagse SA met sy misdaad, korrupsie en ongeregtigheid. Die bundel Brisant van die digter-akademikus Hein Viljoen is ’n postmoderne spanningsverhaal in epiese digvorm en volg in die voetspore van tekste soos TS Eliot se The waste land en Awater van Martinus Nijhoff. Op die agterplat dui Bernard Odendaal op die ooreenkoms tussen Brisant en Chris Barnard se hoorspel Die rebellie van Lafras Verwey. Net soos Lafras verteenwoordig Jan die prototipe van die “klein man” se verset. En net soos in die geval van die hoorspel, skroom Brisant nie om ongemaklike vrae oor onsself en die wêreld waarin ons ons bevind, te vra nie. In tandem met Lafras fantaseer Jan om die bestaande orde omver te werp – met geweld en vuur en met die geweldskrag van ’n ontploffing, wat ook op die betekenis van die titelwoord, Brisant, dui. Die inleidende motto onder deel vyf, “Oorwinningsfees”, lees as volg: “De term brisantie verwijst naar de kracht van een explosieve stof. De brisantie wordt bepaald door de snelheid van de schokgolf na een detonatie, dus hoe groter de detonatiesnelheid des te groter is de brisantie van een explosief –”

Die verhaal beweeg vinnig en spanningsvol, dog anachronisties, deur Jan se saai bestaan as dosent; deur die sleur van suburbia, sy affairs en bekommernis oor onderhoudsgeld vir die kinders, Ansu en Toinette; die herinneringe aan sy eks-vrou, Evette ... Dan eis transformasie sy tol wanneer die dekaan hom inlig dat die fakulteit 10 poste gaan sny en hom moontlik ’n pakket gaan aanbied. As wit Afrikanerman ervaar hy ’n gevoel van uitgeworpenheid, ten seerste gemarginaliseer, en leef in ’n grandiose begeerte om ’n regse bomplanter te word.

Die bundel is verdeel in sewe eenhede, wat elk op sy beurt ingelei word deur aanhalings wat handel oor bomme, plofstowwe en terreur. Hierdie indelings, soos byvoorbeeld “Middag-aand Dag D minus 2”, opgevolg deur “Dag D minus 1”, verwys inderwaarheid na die “groot D-dag”, die dag van afrekening, maar herinner op sy beurt ook aan die tyd wat onheilspellend verbytik in afwagting vir ’n bom om af te gaan.

Vuur in al sy simboliese betekenisse kom aan die bod. Die bundel se vername spilpunt is konflik en frustrasie – of friksie – wat die letterlike sowel as figuurlike lont in die kruitvat vorm.

(...) ja, jy’s mal
oor vuur maar vuur los niks op nie
vuur reinig en brand skoon maar vuur
vererger en verteer net alles    ja ja
dis mooi en suiwerend en transformeer
gewone dinge magies in plasma
maar ook in rook en as   alles gaan
opgaan in as   alles is as as alles as
bedaar   bedaar   los dit uit   los dit uit (52–53)

Passie en obsessie beweeg ná aan delirium as Thabo vir Jan teen die verterende mag van vuur waarsku.

(...)
met die opkyk druk hy die sneller af   die koeël
skop haar onderstebo   sy val ruk-ruk neer   hy druk
die loop in haar kuiltjie in   mens moet seker maak
sy’s leweloos   haar hart tamboer onder sy oor (32)

Ook in die bostaande gedeelte word ’n orgasme verbeeld as ’n ontploffing, of die gewelddadige afvuur van ’n wapen, wat erotiek en vuur met al sy libidinale konnotasies betrek. Die hele bundel wemel van alledaagse vonke, vlamme en ontploffings, soos braaivleis(-vure), donderstorms, Coke of whisky wat “brand” in die keel, ensovoort. Brisant eksploiteer hierdie detonatiewe drif op verskeie vlakke soos dit gestalte vind binne die siklus van geboorte, dood, Verligting, regenerasie, vrugbaarheid, inspirasie, pyn, martelaarskap, suiwering – of van vuur as die bemiddelaar tussen verskynsels wat verdwyn en weer verskyn. Die bundel is ryk aan intertekstualiteit, soos die volgende gedeelte wat in gesprek tree met Eliot se “The Sermon of Fire”:

(...) die
vuur se merke   skrif   wat sê die vuur?
wat de donder, Eliot
(...)

wat sou die vuur sê? praat van
natuur en transmuteer   alles blootsel
aan suurstof transformasie en
radikale verandering
na die wortel toe   tot in die wortel
verbrand verkool lewe omgesit in
koolstof swart inert doods
tonge soos van vuur en ’n totaal ander taal (86–87)

Binne die postmoderne saamgesels van stemme, verwys Viljoen ook na die eksperimentele film The tree of life van Terrence Malick (61), en lewer kommentaar op die poësie van Breytenbach, Krog, De Lange, Hambidge, Slippers en HJ Pieterse (7).

Aan samesweringsteorieë – reëel of denkbeeldig – ontbreek dit nie, en die bundel bied ’n ongewone en aweregse kyk op bleeksiele, staatspioene en ekstermiste wat te midde van ’n toondoof polities korrekte bestel hulself begin verset. Die epos lees vloeiend en maak mildelik gebruik van die uiteenplasingstegniek wat momentum gee aan die leeshandeling en soos ’n springveer die volgende versreël(s) voortsneller. Brisant beskik oor ’n goeie skeut humor, en die leser moet glimlag oor die eksentrieke akademikus wat met sy Camry rondry – ’n onwaarskynlike kandidaat as gevaarlike terroris. Een van die vele moontlike betekenisse van die gedig is waarskynlik die versugting na ’n suiwerende katarsis in die huidige sosiopolitieke bestel – of dalk die suggestie dat so ’n katarsis wel die een of ander tyd kan uitspeel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top