Heiliger deur Dibi Breytenbach: ’n resensie

  • 1

Titel: Heiliger
Skrywer: Dibi Breytenbach
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799385212 (gedrukte boek)

Heiliger begin met 'n moord in die eerste sin en skep 'n groot verwagting. Daarna val die skrywer vas in 'n yslike stuk dryfsand waarin min gebeur voordat die boek weer vlam vat.

Amalia en haar verhoudingsmaat, Hendrik, ontdek die lyk van 'n vrou – Sarah Goode – waar sy in haar huis wreed vermink en vermoor is. Die storie verval dan tot digby bladsy 60 in 'n sielewroeging oor die daad, die reuk van die dood wat alles omkleef en Amalia se reaksie en uiterste ongesteldheid. Tussendeur verskyn daar 'n hopelose speurder en 'n karakter met 'n gestremde seun, maar die moord word nie ondersoek nie.

Die storie verval hier in die soort verveling wat 'n mens tot spoedlees dwing en jou maklik die boek laat eenkant toe skuif as jy nie daarvoor betaal het nie. Gelukkig volg daar 'n geloofbare verklaring van Amalia se ongesteldheid en vat die storie behoorlik vlam.

Hendrik het intensiewe ondervinding van gevegsituasies in die buiteland wat verband hou met sy karakter en optrede, maar ongelukkig word daar tussendeur net te veel met korterige grepe teruggegryp na situasies wat hy beleef het. Dit kan die gevoel by kritiese lesers skep dat die terugflitse nie veel meer as lengte tot die storielyn voeg nie. 'n Mens kan iets te dikwels sê.

Maar as die storielyn eers uit die dryfsand is, verander dit in leeswerk wat enduit boei en vol goeie ontknopingswerk is.

Hendrik skiet 'n geel hond op sy buurman, George Mkhize, se plaas. Dan word hy van moord op die buurman se seun aangekla en in die tronk gestop.

Die skrywer is 'n aanklaer van beroep en die regsprosedures wat volg, bied baie interessante leeswerk. Hendrik kry 'n vroueprokureur wat haar man in die beste geselskap kan staan, maar steeds magteloos is teenoor talle polisievergrype wat Hendrik gereeld aan die kortste ent laat trek.

En natuurlik is daar massabetogings deur groot groepe mense wat Hendrik reeds tot die dood veroordeel nog voor hy in die hof verskyn het.

'n Groot deel van wat volg, speel in die vuil tronkselle af waar 'n interessante deursnee van die bevolking hulle bevind, elkeen met 'n storie. Dit, en die bestaande rangorde onder misdadigers, word uitstekend en geloofwaardig geskets, hoewel 'n mens moet wonder oor die "Blikses!" wat een van hulle uiter. Dit klink darem nie na tronkdialoog nie.

Hendrik se verhouding en omgang met sy medegevangenes is ook interessante leesstof. In die proses beland hy in die hospitaal by 'n ondergekwalifiseerde Kubaanse dokter wat ook 'n gebrekkige woordeskat het, maar nie voordat hy sy man knap gestaan het nie.

Die rol van toordokters en die vertroue wat selfs welvarende mense in hulle stel, kom ook ter sprake wanneer die gebeure op Mkhize se plaas ontknoop word.

Die verhaal verdiep verder wanneer Amalia geld vir Hendrik se borgtog gaan trek. Van die vroeëre bykarakters in die storielyn word skielik hoofkarakters wat 'n belangrike bydrae tot die ontknoping van die moord op Sarah Goode lewer.

Heiliger kan – as jy geduldig deur die dryfsand gestoei het! – goed vergelyk met Dibi Breytenbach se debuut, Saliger, en sy opvolg, Vrediger. Sy het reeds 'n groot aanhang verwerf en lewer 'n belangrike bydrae tot die Afrikaanse spanningslektuur.

  • 1

Kommentaar

  • Amelia van der Bergh

    Ek het begin om die boek Heiliger te lees wat ek glo 'n goeie boek kan wees, maar die herhaaldelike misbruik van ons Verlosser se naam is uiters aanstootlik. Dus sal ek beslis nie weer een van Dibi Breytenbach se boeke lees nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top