Hedendaagse problematiek en geskiedenis praat saam in Ware mense

  • 0

’n Boek oor Khoi-Khoin-geskiedenis en die situasie in die hede, geskryf deur ’n Nederlandse skrywer en historikus.

Die ironie van die kombinasie ontgaan die skrywer van Ware mense allermins. Maar aangesien geen Suid-Afrikaner só ’n ondersoek gedoen het nie het Bart de Graaff dit toe wél gedoen. Die resultaat is Ware mense. In die Afrikaanse vertaling deur Daniel Hugo is dit in ’n toeganklike styl geskryf. Dit is histories gegrond en tree nie terug van hedendaagse problematiek nie. Protea Boekhuis gee die Afrikaanse vertaling uit. In Nederland het dit verlede jaar as Ik, Yzerbek verskyn.

Die skrywer verdiep hom reeds jare lank in die politiek, kulture en geskiedenisse van Suider-Afrika. Vandeesmaand in die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (Sasnev) in Pinelands het hy met Hugo die boek bespreek.

Meer nog as wat die idee van Suid-Afrika tot hom spreek, gaan dit vir De Graaff "oor die mense wat hier woon". "My opvatting is dat julle hier nog tradisies het, wat ons in Nederland verloor het, soos om verhale te vertel. En hier is nie net vertellers nie, maar bobaasvertellers. En Suid-Afrikaners is werklik gasvry."

De Graaff se navorsing oor ’n aantal bruin kapteins van die 1800's het hom voor interessante mense uit die geskiedenis gestel, "mense met Nederlands klinkende agtername wat nie werklik Nederlands is nie, soos byvoorbeeld Frederik Vleermuis, Vleermuis is geen Hollandse agternaam nie, so ook nie dié van Stephanus Buffelbout of Goliat Yzerbek nie." Die resultaat was die reise en ondersoek wat in Ware mense opgeteken is.

Vroeër vandeesmaand in die Kasteel in Kaapstad was De Graaff ’n spreker by Vêrlander, ’n uitstalling van besonderse fotografiese werke deur Geert Snoeijer van wie werke in hierdie boek opgeneem is.

Hy was besig met navorsing toe hy uit die bloute van Snoeijer ’n oproep uit Amsterdam kry. Dit was oor ’n projek waarvoor hierdie dokumentêre fotograaf die nasate van mense uit die VOC-era in verskeie wêrelddele dokumenteer. "My versoek aan Snoeijer was toe dat ons dit kombineer. Ons het gereis deur Suid-Afrika en Namibië en tot hier aan die Kaap. Ons het gepraat met mense van verskeie Khoi-Khoin-volkere, soos die Nama, Koranna, Griekwa en Kaapse Khoi." De Graaff wou veral weet wat daar nog bekend is van dié geskiedenis en hoe dit tans met die mense gaan. Na afloop van die gesprekke het Snoeijer hulle gefotografeer in ’n ateljeeruimte wat hy ingerig het en waardeur hy aan hierdie mense waardigheid verleen. "Dit is waardigheid wat hulle tevore eintlik nooit gekry het nie. Ook my voorouers het dit nie gekry nie, want hulle was ook arm mense," het De Graaff gesê.

Pauline Yzerbeck (Foto: Geert Snoeijer)

Snoeijer het ook elders na afstammelinge van VOC-koloniste gaan soek én hulle gevind. Op ’n klein Indonesiese eiland, Kisar (by Oos-Timor) waar ’n aantal stamme is, word een vandag gelei deur koning Johannis Bakker. In die weste van Australië het VOC-skepe gestrand en daar het hy mense ontmoet wat nog die verhale vertel van wit mense wat uit die see gekom het. "Dus, die verhale lewe nog en is deel van die uitstalling. Dit was al in Nederland te sien, ook in Perth, die afgelope jaar in Bloemfontein, en is nou in Kaapstad in die Kasteel." Dit kan tot 30 November besigtig word.

Ware mense bestaan uit twee verhale, het Hugo verduidelik: Die geskiedenis en die huidige posisie van Khoi-Khoin-mense en -afstammelinge in Suider-Afrika, asook die verhaal van die navorsing, hoe De Graaff by die mense uitgekom en hul stories gehoor het.

Hy het toegang tot navorsing, argiewe en die internet wat baie van die mense met wie hy wou praat nié het nie, het De Graaff gesê. "Julle het hier wonderlike kenners op die gebied van stamboomnavorsing. Ons maak toe ’n uitruiling. Hulle vertel vir my hul stories en ek vertel hulle wat ek weet van hul geskiedenis."

Soms was dit nie maklik om die mense, die nasate van hierdie ou kapteins, op te spoor nie, het De Graaff gesê. "Ek het vir meer as ’n jaar gesoek na ’n Vleermuis, (in Ware mense skryf hy oor die ontstamde Vleermuis-Namas wat al meer as ’n eeu nie meer tradisionele leiers het nie). En uiteindelik het ek een gekry by die Bank of Namibia in Windhoek. En sy naam is Che Guevara Vleermuis. Ek het met hom kontak gemaak om uit te vind of hy ’n nasaat is van Frederik Vleermuis, die ou Nama-leier. Nee, sê hy, hy sal nie weet nie, maar ek kan maar gesels met sy pa. Die volgende dag gesels ek toe met Paul Vleermuis. En hy het my toe in kontak gebring met ander mense, almal Vleermuise.

Ek vra hom toe na sy seun se naam en hy sê dat hy in die struggle en in die tronk was, dat hulle in daardie tyd almal swart en rewolusionêr was. As eerbetoon aan ander revolusionêre in die wêreld het hulle aan sy seun die name Che Guevara gegee. Hierdie Che Guevara Vleermuis was heeltemal te vriendelik om ’n revolusionêr te wees en baie aangenaam.”

Kaptein David Frederick (Foto: Geert Snoeijer)

Dit is egter interessant dat die Khoi-Khoin-mense in Suid-Afrika ewe ongelukkig as die Nama-mense in Namibië is met die huidige regerings, het Hugo op gewys, iets wat in die boek in verskeie onderhoude bespreek word. Die meeste mense met wie De Graaff gesels het, is eintlik baie teleurgesteld met die ANC en Swapo en dat dit vandag selfs slegter gaan, het hy gesê. “’n Sprekende voorbeeld is dié van Tim Frederik in die suide van Namibië, ’n kaptein. Hy kla teenoor my oor die behandeling wat die Namas van die regering kry. Nietemin het hy in ’n onlangse verkiesing vir Swapo gestem. Waarom? Omdat hy die verlede nie kan vergeet nie, soos die aandklokreël wat in die destydse blanke dorp van Bethanie ingestel is waartydens mense deur die polisie met honde die dorp uitgejaag is. Wat hy eintlik sê, is: Ou wonde weeg swaarder as nuwe pyn."

Die pleknaam Bethanie kom op minstens drie plekke in Suider-Afrika voor: In Limpopo, die Vrystaat en in Namibië, het De Graaff gesê. Dit beteken “plek van armoede” of “plek van ellende”.

"Die een in Namibië was eers genoem Klipfontein. In Nama beteken dit egter ‘’n fontein wat die klippe nie kan toemaak nie’. ’n Mooi naam en plek. En toe kom die Duitse sendelinge en noem dit 'plek van ellende'."

Die grondkwessie in die boek is baie belangrik, omdat die Khoi-afstammelinge hul taal en kultuur verloor het, het Hugo gesê. "Die enigste manier wat hulle hul as groep kan identifiseer, is deur middel van grond; ’n samebindende faktor waarop almal nou nog hoop."

Bart de Graaff

"Dit is veral so in die situasie van die Griekwas," het De Graaff gesê. "Ek was op Campbell in die Noord-Kaap. Daar is drie verskillende groepe Griekwas: die Griekwas van Campbell Gronde, die Royal House of Adam Kok V en die Koningshuis van Cornelius Kok II. En nie een van die groepe wil met die ander gesels nie. Almal het hul eie grondeise ingestel. Een van die groepe, die mense van Cornelius Kok II se koningshuis, het een van die oorspronklike boerderyplase teruggekry, Tweefontein, ten suide van Campbell. Ek was daar. Daar is een ou wat nou na die plaas kyk. Adam Kok. Ek vra hom hoekom die plaas so sleg daaruit sien. "Mense kom en hulle breek die goed af; dis hul eie mense,” het hy gesê. “Dus, sonder opleiding en geld word die grond nie bewérk nie."

Ander kwessies wat ook in die boek aan bod kom, het ook in optredes by die geleentheid opgeklink: In die gevoelvolle blues van Amanda Lewis Stone en ’n verliesverhaal wat Jitsvinger vertel het.

In haar sangitem het sy die historiese figuur van Dawid Stuurman met die gehoor laat praat, ’n pleidooi aan God gerig, ’n stem wat vra om “’n toekomsweg na reg”.

In Jitsvinger se vertelling kom ’n reënmaker, sy mense en wêreld voor ’n mensonterende tyd te staan. Hierdeur sluit hy ook aan by iets wat in Ware mense genoem word: die Khoi-Khoin gaan gebuk onder die arrogansie van mag.

Uit die gehoor het Denver Breda (lees sy artikel "Wie is ons sonder ons tale?" by https://www.litnet.co.za/wie-ons-sonder-ons-tale/) na historiese onregte verwys en onder meer laat blyk daar is vele meer plekke soos Bethanie vandag en hoedat soveel mense vandag in plekke van ellende bly.

Ware mense word opgedra op aan "alle mense van Khoi-Khoin-afkoms in Suid-Afrika en Namibië" en "aan hul strewe om ou tradisies nuwe lewe in te blaas en ’n gepaste plek te gee in die moderne samelewing".

Sien ook Kirby van der Merwe se onderhoud met Bart de Graaff wat in die Protea Boekwinkel op Stellenbosch plaasgevind het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top