CJ Langenhoven het in 1923 Loeloeraai geskryf. Die eerste wetenskapfiksieroman in Afrikaans het dus ’n eeu gelede verskyn. Op 12 Augustus 2023 is die 150ste herdenking van CJ Langenhoven se geboortedag gevier. Om hierdie dubbele herdenking te vier, daag LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds alle skrywers uit om ’n wetenskapfiksiekortverhaal voor te lê vir publikasie. Hier is meer inligting.
***
Vind jy dit moeilik om ’n bottel uit jou hande te hou of ’n naald uit jou are? Of het jy dalk ’n broer of suster of ’n kind wat gedurig opfok? Wat eenvoudig net weier om hulle lewe in orde te kry? Jaar na jaar, nag na wilde nag moet jy hul goddelose gat uit die een ramp na die ander trek? Is jy moeg daarvoor om te sien hoe hulle verdrink in hul eie selfbejammering en selfvernietiging? Wel, dan is die Tweede Hawe-rehabilitasiefasiliteit net vi’ jou, my vriend. Ons is een van die enigste mediese inrigtings in Suid-Afrika met kunsmatig-intelligente beraders en terapeute wat spesifiek ontwerp is om die psigiatriese en emosionele lyding van jou geliefdes te identifiseer, te behandel en elimineer. Ons kan hulle beste self terugbring. Slegs vir ’n beperkte tyd bied ons vir depressiewe siele net soos jy, of hulle, die beste pynverligtende pakket wat mediese wetenskap kan bied of jou geld terug. So, waarvoor wag jy? Bel sommer nou!
Daai is basically hulle sales pitch.
Ek oordryf ’n bietjie, maa’ dit is basies hoe Twiede Hawe se advertensie klink, minus die sarkasme of course. Ek is Lasarus. Witbooi. En ek is nou al vier wonderlike maande lank ’n pasiënt hie’ by Twiede Hawe. Tans is ek ingegooi by terapiegroep B2, Gideon-21 se groep, wat beteken dat ek elke Dinsdag tot Vrydagmiddag vi’ ’n 120 pynlike en komieklike minute in ’n sirkel sit met sewe anne’ heavily opgeneukte mense, en ôs vat beurte om ôs se donkerste geheime en laagste oomblikke met mekaar te deel.
En hoe presies het ek in dié medies-gevorderde sirkel van hel beland? Wel, die antwoord is exactly hoe jy jou voorstel. My backstory is baie soortgelyk aan meeste vannie pasiënte hieso. Ek het iemand in my lewe gehad vi’ wie ek baie omgegee het, en toe verloor ek daai persoon, en toe veroorsaak my hartseer dat… wel, ek willie jou verveel mettie depressiewe details van hoe ek van een bodemlose put na ’n anner geval hettie, soe kom ôs sê net dat ek hettie die vernietiging van my loopbaan, my huwelik en elke anner selfrespekterende aspek in my lewe soe lekke ge-handle nie.
Ek het probeer om my hartseer en my woede weg te drink, maa’ dit het glattie gewerk’ie, soe ek het besluit om nog meer te drink. Na een van my hewige blackouts, het ek wakkergeskrik langs ’n gebreekte openbare standbeeld binne ’n verkrummelde bierblikkie wat once my kar was en daa’na is ek gearresteer en selletjies toe gestuur. Na ’n baie bedroewende hofsaak, is ek gevonnis om agt maande te spandeer in hierdie terapeutiese heiligdom waar alles en ammal omring is deurrie geur van mislukking en nederlaag.
Maa’ ek laat dit eintlik erger klink as wat dit is. Die kos in Twiede Hawe is baie ver van lekke’ af, maa’ dit issie heeltemal oneetbaar’ie. My pynlike withdrawal-simptome, wat vroeër gevoel het asof dit my wil doodmaak, laat my nou net voel asof ek morning sickness het – die heeltyd – ennie mense in my groep issie soe bad soes wat ek gedink het hulle sou wiessie. Sommige van hulle is ordentlike mense en ôs het allie tipes hie’ in groep B2. Ôs hettie mense wat hulle way na selfvertroue toe eet, of ooreet, soes Yvonne. Die shopaholics soes Karmenita wat hul selfliefde koop in klerewinkels, en diegene wat hulle way uit selfhaat uitdrink, soes ekke, en elke beskadigde kategorie tussenin. Alles.
Elke dag sit ek in dié groep en ek luister na al hierdie mense, na die oorsprong van hul verslawings ennie ondraaglike gewig van hul innerlike demone. Ek luister hoe hulle hul donker siele ontlas, hoe hulle die onvergeeflikste dinge wat hulle al gedoen het innie naam van hulle verslawings, een vi’ een bely. Ek luister hoe hulle verslaaf geraak het aan pynmedikasie, anne slukkie vodka voor werk, aan gom en hoesstroop en skoonmaak-chemicals en lelike konkoksies wat ek nog nooit ees van gehoor hettie. Hoe hulle elke maand hul salarisse weggedobbel het, en erger. Ek het gehoor hoe hulle gesteel het, gelieg en bedrieg het ennie vertroue van hul geliefdes uiters verraai het. Hoe hulle ve’geet het om hulle kinders te voer. Hoe hulle hul huwelike en hul loopbane ve’loor het. Hoe hul laagste punt gekom het toe hulle hul trouringe ve’pan het of hul eie liggame verkoop het net om hul verslawings een dag langer vas te hou.
Ek het aandagtig geluister na allie aaklige dinge wat hulle gedoen het aan hulleself en annie mense wat hulle die meeste liefgehad het. Ek het na hul letsels geluister en daai letsels het verskriklik bekend geklink.
Soms oortuig ek myself dat ekkie hie’ hoef te wiessie – dat ek beter is as hulle. Dat hulle die regte junkies is en ek is net... Ek is net hie’ omdat ek ’n paar slegte dae gehad het. Maa’ al hierdie mans en vroue hie’ binne, hul letsels – ôs letsels – is weerkaatsings van mekaar. Ammal van ôs in dié meeting is verworpe, weeskinners en mislukkings vannie samelewing, leuenaars en onbetroubare motorwrakke in menslike velle. Ôs is slagoffers van ôs eie selfvernietiging, vasgevang in dieselfde siklus van verlies. Ôs is ammal ewe gewond, gekraak, beskadig en gebreek. Van binne, op maniere wat ôs nooit kon verduidelik of herstel’ie. En ôs gebrokenheid is ve’bind aan mekaar. Ôs is ammal ve’lore of ôs dit nou gewiet het of nie.
Ek is nou al ampe’ vier maande nugter en soe wonderlik soes wat daai klink, issit ook scary, want hoe meer afstand ek sit tussen myself en my verslawing, hoe meer besef ek nou dat ek nooit heeltemal nugter sal wiessie. Nie een van ôs sal ooit wee’ skoon wiessie. Want ammal van ôs in dié sirkel het een ondraaglike waarheid gemeen: Dit maak’ie saak hoe naby ôs ooit annie beste en mees verlosbare weergawes van onsself kommie, ôs sal altyd een donker dag weg wies vannie nare gediertes wat binne ôs bestaan.
Lasarus het angstig in die houtleunstoel oorkant my gesit. Alles omtrent sy lyftaal – van sy regterknie wat onder die tafel tik tot sy vingernael wat die klein rafel in daardie denimgeklede knie krap – het sy swak verborge angstigheid uitgegil. Hy het altyd so geword wanneer ons ’n privaatsessie het. Asof ek hom dalk die verkeerde vraag mag vra, of die regte een, wat die rou wond kon ontbloot wat hom in die eerste plek na Tweede Hawe toe gebring het.
“Ons het verlede week met ’n nuwe oefening begin. Onthou jy?” het ek hom gevra.
“Die verslawende, stem-ding. Ja,” het hy lusteloos terug geprewel.
“Die verslawende stemherkenningstegniek. Dis korrek,” het ek verklaar en hom versigtig reggehelp.
Lasarus verwys na my as Gideon-21, net soos die meeste van die ander pasiënte. Ek is amptelik getiteld model GDN-212, so die pasiënte en die menslike personeel het my die bynaam Gideon-21 gegee. Wat nie verwar moet word met GDN-166 of Gideon-35 in Wyk B nie. Ek is een van 14 K.I.-psigiaters wat aan die Tweede Hawe-fasiliteit toegewys is, en Lasarus se gereelde ongemak rondom my is presies hoekom ons skeppers ons ontwerp het om soos mense te lyk.
Aan die binnekant het ek netwerke op netwerke van kubernetiese komponente, toegerus met empatie-repliserende algoritmes, taalverwerkingstelsels en gevorderde psigiatriese sagteware wat my in staat stel om die fynste emosionele en sielkundige beweging binne my pasiënte te kan opspoor en interpreteer met uitsonderlike akkuraatheid. Ek is ’n ware tegnologies-gevorderde produk van voorpunt-mediese wetenskap en -ingenieurswese. Van buite is my kubernetiese anatomie en meganiese ledemate omhul in sintetiese vlees wat noukeurig ontwerp is om die realistiese tekstuur van egte vel na te boots. Alles omtrent my uiterlike voorkoms – van my donkerbruin, prostetiese hare tot my grys irisse en my vertroostende stembande – is doelbewus gevorm, want my ontwerpers het gepostuleer dat my pasiënte meer ontvanklik en meer instemmend tydens terapie sou wees as ek ’n bekende voorkoms het.
“En aan die einde van ons vorige sessie het ek vir jou ’n belangrike opdrag gegee,” het ek hom herinner. “Het jy dit voltooi?”
“Ek het,” het hy huiwerig geantwoord. “Of liewer, ekkit probeer, maa’… dit het nogals ’n bietjie snaaks gevoel. Kinderagtig even.”
“Ek verstaan die oefening kan van buite snaaks voel, maar ek verseker jou dis ’n baie effektiewe herstelstrategie. Die verslawende stemherkenningstegniek is ’n sielkundige hulpmiddel wat bedoel is om jou negatiewe en verslawende eienskappe te distansieer deur jou verslawing te verpersoonlik,” het ek hoflik verduidelik. “Deur daardie verslawing sy eie gesig, sy eie naam en vorm en eie persoonlikheid te gee, deur dit te omskep in ’n persoon soveel moontlik, kan ons eerstens daardie verslawende persoonlikheid se stem in jou kop identifiseer wanneer jy die behoefte voel om te drink. Ons sekondêre doelwit is om daardie negatiewe stem te skei van die dele van jou psige wat nugter en skoon wil bly en ons derde en uiteindelike doelwit is om jou te bemagtig deur daardie persoon te ontmagtig. Deur daardie persoon se invloed op jou lewe drasties te verminder,” het ek so opreg moontlik gesê.
“Daai klink soes ’n kwaai trick. Ek sal likes om daai te sien,” het hy sinies en sardonies geantwoord.
Lasarus se angstige lyftaal het net bevestig wat ek al vermoed: dat Lasarus Martinus Witbooi weerbarstig is teen hierdie hele terapeutiese program. Na elke sessie bereken ek die waarskynlikheid van sy sukses in hierdie program, gebaseer op sy samewerking en openlikheid in elke sessie, en die resultaat is altyd negatief. Hy glo nie in terapie nie. Hy is ’n teëstander van sy eie selfverbetering.
“Dit is nie ’n ‘trick’ nie, Lasarus, dit is ’n proses en daardie proses begin met jou wat die werk deel wat jy tot dusver gedoen het met die opdrag wat ek laas week vir jou gegee het,” het ek vir hom gesê, en hoflik aanbeveel dat hy sy huiswerk openbaar.
“Wel, ek het ge-try.” Lasarus het sy joernaal opgelig en na die bladsy geblaai waar hy die oefening neergeskryf het. “Ek het gedoen wat jy gevra het; ek het my verslawing probeer sien en imagine as ’n regte persoon. ’n Anne’ persoon wat buite myself bestaan. Ek het vi’ my addiction ’n geslag gegie, ’n naam gegie en ek hettie eeste en laaste keer wat ek met daai persoon gepraat het, probeer neerskryf. Soes jy gesê het. Soe ek… ek het probeer.”
Die joernaal in Lasarus se hande was ’n verpligte deel van sy terapie. Al my pasiënte het een; hulle gebruik dit om hul herinneringe, drome en hul deurbrake te dokumenteer. En nes my pasiënte hou ek ook ’n joernaal. ’n Elektroniese logboek van elke ontwikkeling en ontdekking wat tydens elke sessie gebeur – alles gestoor in my neurale verwerkingsentrum. My skedel. Die voordeel daarvan om ’n kunsmatig-intelligente psigiater te wees, is dat ek te alle tye notas kan maak. Ek kan my observasies en opinies omtrent Lasarus in my kop neerskryf, terwyl ek met hom praat tydens ons privaatsessie.
“Dis goed,” het ek hom aangemoedig. “Wat het jy jou verslawing genoem?”
“Um… die swart spook,” het hy vreesbevange gemurmel.
“Interessant. Hoekom daardie titel?”
“Want dis soort van hoe dit voel wanneer ek drink,” het Lasarus senuweeagtig gesê. “Daa’ is ’n leegheid in my, ’n verskriklike lelikheid, en wanneer ek regtig, regtig dronk raak… dan klim iets daa’uit. Of daa’in. Iets anners neem oor. ’n Donker gees of ’n siek, verdraaide krag vat my heeltemal oor. Ek word ’n verlamde passasier langs hom te’wyl hy ry en alles vi’ my besluit. My swart spook sit agte’ die stuurwiel en hy ry dronk op ’n nagtelike pad wat ekkie herken’ie, sonder enige hoofligte. En ek… ek laat hom ry, even al wiet ek dit gan waarskynlik in ’n karongeluk opeindig,” het hy pynlik gebieg.
“Dit hoef nie so te eindig nie, Lasarus,” het ek hom gerusgestel. “Ons kan jou swart spook neutraliseer as ons kan vasstel wat jou spook ontketen. Waar het hy vandaan gekom? Wanneer kom hy uit? En wat wil hy van jou hê? Kan jy dit vir my sê?”
“Hy wil hê ek moet drink. Hy wil hê ek moet hom voed,” het Lasarus verlate verklaar.
“En hoekom is dit?”
“Ek wiettie. Want dit voel lekke, sieke,” het hy afsydig geantwoord.
“Dit is nie ’n voldoende antwoord nie. Probeer weer,” het ek aanbeveel.
“Want wanneer dit by vorme van ontsnap kom, is alkohol goedkoper as tik en makliker om innie hanne te kry, soever as wat ek wiet.”
“Dit is nie ’n voldoende antwoord nie, Lasarus,” het ek streng gesê. “Probeer asseblief weer,” het ek aangedring.
“Ek wiettie watte’ diep, terapeutiese antwoord jy van my wil hê nie.”
“Ek wil hê jy moet vir my sê of jy weet dat jou verslawende gewoontes ongesond en skadelik is?”
“Ja,” het hy nors geantwoord.
“Weet jy dat jou verslawende stem die rede is hoekom jy na Tweede Hawe gestuur is?”
“Ja, ek wiet,” het hy geïrriteerd geantwoord.
“Hoekom luister jy dan aanhoudend na daardie stem?” Ek het opsetlik gevra.
“Ek doen nie,” het hy terug gefluister.
Maar ek het volgehou met my deurdringende vrae. “Hoekom hou jy aan om jou swart spook te voed, Lasarus?”
“Ek wiettie, man.”
“Hoekom gee jy jouself aanhoudend oor aan jou verslawende stem?” het ek skerp gevra. “Hoekom gaan jy keer op keer terug na jou swart spook toe as jy weet hoe skadelik hy vir jou is?”
“WANT EK HET HOM NODIG!” het Lasarus woedend en eerlik uitgeskree.
Hy’t sy kop laat sak – beskaamd – en ek het stilgebly vir ’n oomblik en ons stilte het die atmosfeer in hierdie vertrek gevul met onrustigheid en afwagting. Ek skuif toe effens vorentoe en sê so sag en opreg as wat ek kon: “Verduidelik asseblief vir my hoekom. Hoekom het jy jou swart spook nodig?”
Lasarus het swaar gesluk. Elke gesigspier het gedraai met verskriklike ongemak wat oor sy hele liggaam uitgegiet is, asof hy op die punt was om ’n lank-begrawe geheim te onthul wat net in ’n spesifieke aantal woorde uitgespreek kon word. Woorde wat in stukkies gebreekte glas sou verander as daardie woorde ooit in sy keel inkom. “Want hy hou my diepste wonde bymekaar,” het Lasarus saggies gesê. “Want hy’s my beste vriend. My private priedekant, my persoonlike beskermer, my persoonlike siekte, maa’ ook my enigste genesing. Ek wiet my swart spook is ’n parasiet onner my vel, ’n gewas in my siel, maa’ hy’s ook die ienigste sielsgenoot wat ek het. My huweliksmaat, want soms voelit asof ek getroud is met my verslawing. Asof hy deel is van my, binne-in my is, ’n donker, giftige orgaan wat soe werklik is soes my lewer of my niere. Hy issie een wat my vernietig, maa’ hy’s ook my verlosser, somtyds. Die een wat my deur’ie donker lei wanneer my hele wêreld sonloos raak. Die een wat vi’ my suurstof leen wanneer dit voel asof ek ve’drink.”
Daar was ’n diep bedroefdheid in Lasarus se belydenis wat ek nog nooit gehoor het nie.
“Soe jy vra vi’ my hoekom ek myself oorgee aan hom… Die vraag is hoekom sal ekkie? Sonder hom sou ekkie wiet wat ek is of waa’ de hel ek behoort’ie. Soe ja, ek gee myself oor, want wanneer hy bestuur, wanneer hy agter daai stuurwiel sit, dan vi’ ’n paar pynlose oomblikke van my treurige lewe voel ek ampe’ ongebreek, vi’ die eeste keer.” Lasarus se stem het gebewe met eerlikheid en sy tranerige oë het ook gebewe.
“Daardie bestuurdersitplek behoort aan jou, Lasarus. Jy kan beheer neem oor daardie stuurwiel,” het ek kalm aangeraai. “Hoekom probeer jy nie?”
“Want jy’t my lêer gelees, doc, soe jy wiet presies wat ek verloor het… Want ek het ’n verskriklike lelikheid binne my.” Hy het sy verstyfde vingers woedend teen sy bors gesteek. “’n Oop wond net HIESO! Ennie swart spook issie enigste een, die enigste een wat daai lelikheid kan liefhê. Hy issie enigste een wat dié wond kan herstel, want… hy issie enigste een wat my nooit verlaat hettie,” het Lasarus moedeloos gefluister. “Dis hoekom.”
Ek was beïndruk en verras deur sy openlikheid. “Dankie dat jy dit gedeel het, Lasarus. Dit kon nie maklik vir jou gewees het nie, so ek is werklik dankbaar. Maar ek moet seker maak dat jy weet dat jy die mag het om jou verslawing te beheer. Jy weet dat jou naamgenoot, die bybelse Lasarus, het uit die dood opgestaan.” Ek het in sy skeptiese oë gestaar en so opreg as wat ek kon gesê: “En ek glo jy kan ook.”
Ek weet Lasarus het gevoel dat sy lewe op elke betekenisvolle manier geëindig het toe sy gesterf het, toe hy haar verloor het. Ek het dit natuurlik nie vir hom gesê nie, want ek was baie bekend met Lasarus se emosionele snellers en het dus geweet dat om sy verlies te gou op te bring sou waarskynlik lei tot sy woede en terapeutiese agteruitgang.
“As jy jou herstelplan volg en daarin glo, dan kan jy leer om beheer te vat van daardie stuurwiel en by ’n beter pad af te ry.”
Lasarus se reaksie was heeltemal onverwags. Uit die bloute het hy begin lag. “Gloe? Wat wiet jy van gloe af? Kan jy – gloe?” hy het konfronterend gevra asof hy ’n bakleiery probeer begin. “Is daa’ enigiets in jou metaal-body wat kan gloe? ’n Computer chip of ’n program wat jou in staat stel om te kan gloe?”
“Ek is ontwerp vir mediese doeleindes, my funksies is wetenskaplik van aard,” het ek kalm verduidelik, wetende dat al sy verdedigingsmeganismes weer eens op was en hom nie sou toelaat om van enigiets sin te maak nie. “Maar ek verstaan die voordelige rol wat geloof en positiewe gesindhede kan speel in terap—”
“Soe die antwoord is NEE!” het hy skielik uitgeblaker. “Jy kannie. Dis alright, doc. Ek kan ook’ie. As ek eerlik is, het ek my lewe lank nog nooit regtig in enigiets gegloe nie,” het hy stilweg erken. “Nie in mense nie of politics nie of godsdiens, nie ees in myself’ie. Ek hettie in ’n enkele damn ding gegloe nie tot oppie dag toe sy gebore is.” ’n Onmiskenbare toon het deur sy stem geskeur. “Om ’n ouer te wies issie enigste waardige ding wat ek nog ooit in my hele lewe gedoen het. Die enigste ding wat ooit naby anne roeping gekom het vi’ my. En ouerskap is ’n pynlike, slapelose werk. Dis ’n vreesaanjaende werk om iemand anners soveel meer as jouself lief te hê. ’n Diep, rou liefde wat heeltemal buite jou beheer is,” het hy met uiterste vrees gesê. “Sy is… was, die enigste ding waarin ek ooit gegloe het.”
En ek het haar in die steek gelaat, wou hy sê.
Lasarus se leed is nie net gebore uit die rou pyn om sy dogter te verloor nie. Dit het ook ontstaan uit die voortdurende herinnering van al die dinge wat Theolla nooit weer sal proe of ruik of aanraak nie. Sy sal nooit voel hoe haar longe brand van uitputting of opgewondenheid nie. Haar hart sal nooit gebreek word nie en haar geloof sal nooit getoets word nie. Sy sal nooit gradueer of trou of reis of lag of huil of sing nie. En dit het Lasarus Witbooi verskeur op maniere wat hy nooit kon beskryf nie, nie in woorde nie, nie vir my nie.
“Soe moet’ie vi’ my ve’tel van gloe asof jy wiet waa’van jy praat’ie. Want jy doen nie! Om te gloe gannie die kak veranner of regmaak’ie. Ennie enigste rede hoekom jy dink dat gloe en hoop en al jou anne optimistiese strategies enige van die depressed bastards in dié Hawe kan genees, is omdat jy ge-program is om daai stront te dink. Maa’ as jy ’n mens was, ’n regte vlees-en-bloed-mens, dan sou jy die wêreld presies gesien het vi’ die skrikwekkende, depressing malhuis wat dit is,” het hy kras verklaar. “En once jy daai waarheid sien, dan sal jy jouself bedwelm en dronk maak met enigiets wat jy in jou hanne kan kry. Net soes die res van ôs.”
Lasarus was reg, ek is vooraf geprogrammeer met argiewe van wetenskaplike en psigiatriese inligting geïnstalleer in my databasis, maar hy is ook. Lasarus is geprogrammeer om ’n sinikus te wees wat net die haatlikste en vulgêre kant van die mensdom kan raaksien. Hy is geleer om sy medemens te sien as bedrieglike wesens wat vir mekaar lieg, wat van mekaar steel, mekaar in die rug steek en mekaar se kele afsny om verder te kom. My programmering het my laat soek na remediërende metodes wat my pasiënte kan verbeter en herstel, maar Lasarus, hy is geprogrammeer om te glo dat daar iets vuils en vreeswekkends vir hom wag agter alles en almal in hierdie wêreld.
“Soe jy wiet regtig’ie waa’van jy praat’ie, Robocop. Ek wiettie ees hoekom ek na jou luister’ie. Jy is ’n blêddie app! ’n Masjien wat net ontwerp is om soes ’n mens te lyk.” Sy frustrasie het oor sy lippe gevloei. “Alles wat jy wiet, kom uit ’n verdomde handboek uit, soe jy issie die regte persoon om VI’ MY te leer hoe om ’n beter mens te wiessie.”
“Daar is sekere dinge wat ek wel weet. Ek weet jy het ’n ernstige siekte,” het ek versigtig gesê en probeer om sy frustrasies nie verder te vererger nie. “Ek weet dat jy baie pyn het en ek weet dat ek jou kan help, Lasarus.”
“Dis baie gaaf van jou, doc, maa’ my pyn is deel van my charm. Ampe soes battle scars, sien jy? Dis ’n menslike ding,” het hy lighartig gesê – soveel lighartigheid as wat hy sy kokende emosies in kon wegsteek.
“As dit waar is, dan kan jy jouself as die mees sjarmante persoon in die hele fasiliteit beskou. En al daardie pyn gaan nie verdwyn nie, Lasarus,” het ek hom gewaarsku. “Dit gaan verrot en versprei totdat jy besluit om jou genesing ernstig op te neem.”
Lasarus Martinus Witbooi het aan verskeie probleme gely, hoofsaaklik sy uiterste emosionele nood. Hy het gely aan die skuld van ’n oorlewende, ’n minderwaardigheidskompleks met verslawende persoonlikheidseienskappe en selfsaboterende kenmerke wat hy alles begrawe onder sy alkoholiese selfvernietiging. Lasarus is ’n ewige selfsaboteur, ’n masochis en ’n lopende selfmoordrisiko. Daar is ’n 65 persent kans dat sy toestand tot selfskade en moontlike selfmoord sal lei.
“Dis uitstekende advice. Dankie, doc,” het hy my sarkasties bedank. “Wiet jy, ek bet jou as ek jou nou moes vra oor pyn, dan kan jy seke’ vi’ my alles omtrent menslike pyn vertel, nè? Jy wiet seke’ presies waa’ innie liggaam pyn ontstaan; die presiese breinsel wattie sein stuur ennie presiese nerve-ending wat dit ontvang. Jy wiet watte’ pynmedikasie die beste werk vi’ watte’ besering; jy ken elke chemist wat daai pain meds ontdek het en seke’ die presiese tyd en datums toe hulle daai ontdekkings gemaak het. Maa’, en hie’ issie deel waa’oor ek verskriklik nuuskierig is, wiet jy eintlik hoe pyn voel? Is daai info iewers in jou kunsmatige brein?” Sy gesig het verander, dit het verdraai met iets seers en wanhopigs net voor hy my gevra het: “Wiet jy hoe dit voel om iemand te ve’loor vi’ wie jy soe innig lief was dat om daai persoon te ve’loor voel asof jy ’n fisiese, derm-diep deel van jou liggaam ve’loor?” ’n Dun, eensame traan het by Lasarus se linkerwang af ontsnap. “Wiet jy hoe dit voel om droefheid te ervaar wat diep in jou bene insink? Kan jy dit vi’ my sê? Want jy wiettie hoe dit voel om elke enkele dag wakke’ te word met ’n pyn wat soe ondraaglik is dat jy gedwing word om elke herinnering van daai persoon, elke herinnering van haa’ dood te moet maak net om te verhoed dat daai pyn nie vi’ jou doodmaak’ie. En môre moet jy daai herinneringe van voor af doodmaak, en weer, en weer.”
Lasarus het sy oë toegemaak en vir ’n oomblik stilgeword om te keer dat die uitbarsting van emosie hom nie heeltemal wurg nie. Toe maak hy sy oë oop. “As ek jou oor pyn vra, Gideon, kon jy my alles en niks ve’tellie. Nie ’n enkele fokken ding wat saak maak’ie.”
Elke oomblik vannie afgelope vier maande het soes ’n ewigheid gevoel en ek kon dittie meer vattie. Ek het genoeg gehad en ek moes hie’ wegkom. Iewers tussen my woede en my wanhoop, tussen Gideon se laaste stukkie advice ennie oomblik toe ek by sy kantoor uitstap, het ek gewiet dat ek hierdie plek moes ve’laat. Alles in Twiede Hawe was besig om my te versmoor. Die psycho-babbling-roetines, die ondersoekende vrae, die groepsessies, dit alles was heeltemal versmorend. Hierdie toevlugsoord het meer soes ’n tronksel gevoel as ’n rehabilitasiefasiliteit. Gideon het meer soes my parole officer gevoel as my terapeut en ek hettie regtig gevoel asof ek genees word’ie. Dit het meer gevoel asof ek geondervra word, verneder en gestraf word deur elke donnerse dag te praat en te krap annie mees pynlike herinneringe van my ve’lede.
Soe, ek moes eenvoudig hie’ wegkom.
Vi’ al sy berge van ingeboude intelligensie was Gideon baie ve’keerd oor een ding: Die een onbetwisbare ve’skil tussen my ennie bybelse Lasarus is dat ek gannie uittie dood opstaan’ie. Ek gannie resurrected word’ie, ten minste nie in die blêddie gebou nie.
Dit het my omtrent 15 minute gevat om al my besittings, my essentials, in ’n rugsak in te gooi in ’n donker kamer, te’wyl ammal anners geslaap het. My kamer was oppie ee’ste ve’dieping, wat dit vi’ my baie gerieflik gemaak het om my venster baie ve’sigtig oop te skuif, daa’uit te klim ennie krakende vensterraam ewe saggies terug te skuif. Toe het ek my escape gemaak innie nag. My hart het in my bors geklop toe ek deur’ie donkerte strompel. Met elke tree na die uitgang het my twyfel en vrees binne my geklou en geveg en my ge-force om te wonner of ekkie regte ding hieso doen. Ek hettie regtig ’n plan gehad vi’ wat volgende gebeur’ie en ek hettie gewiet wat vi’ my voorlê nie, maa’ ek het gewiet ek kannie langer hie’ bly nie.
Ek het dus saggies ge-tiptoe deur’ie donker tuin en enige kans vermy om innie nagwag vas te loop. Daa’ is ’n ry Krismisrose aan weerskante vannie sementpaadjie na die hek toe wat effens verlig is tussen elke twiede bos en ek het skelmpies gekruip agte’ elke bos soes ek na die uitgang toe beweeg het.
Net toe ek by die hek opdaag, sien ek ’n bekende figuur uittie skaduwees uitkom. My hart het gedraai en getrek met pure paniek toe Gideon uittie donkerte uitstap met ’n onleesbare uitdrukking.
“Gideon,” het ek senuweeagtig gemompel. “Hoe... hoe het jy gewiet?” het ek hom gevra.
“Ek is ontwerp met voorspellende sagteware-vermoëns, Lasarus. Jou hele sielkundige profiel en mediese geskiedenis is binne my geprogrammeer sedert die dag toe ek jou begin behandel het. Jou vrese, jou foute, jou ontsnappingsmeganismes, emosionele snellers, jou gedragspatrone, dit alles is in my databasis opgelaai,” het hy kalm en koud ve’duidelik. “En daardie profiel word elke keer opgedateer wanneer ons ’n terapiesessie het. Ek is ontwerp om te voorspel wat jy gaan voel en wat jy gaan doen. Dis hoe.”
Ek het dadelik my stem gevul met grofheid. “Soe ek neem aan jy’s hie’ om my te stop?” Angs het deur my gestroom soes ek myself voorberei het vi’ ’n konfrontasie, maa’ in plaas daa’van het Gideon na my gekyk met ’n deernisvolle uitdrukking en kalm gesê: “Nee, Lasarus. Ek is nie.”
“REGTIG?” Ek het my uiterste verbasing amper uitgeskree. “Jy gannie my keer’ie?” Ek was baie verbaas deur Gideon se onverwagte reaksie en my verwarring het vinnig versuur in wantroue. “En hoekom’ie? Hah?” het ek agterdogtig gevra.
“Omdat jy reg is,” het hy sag geantwoord.
My confusion het uitgebrei met ’n stroom van nuuskierigheid. “Reg waa’oor nogals?”
“Jou lêer sê dat jy was ’n letterkundige onderwyser. Is dit reg?”
Ek het vi’ ’n oomblik gevries en was baie onseker oor hoe ek moes reageer. “Ek was ’n tutor vi’ eerste- en tweedejaarstudente,” het ek baie huiwerig gesê. “Hoekom vra jy?”
“Het jy—” Gideon het skielik stilgeword, ampe’ asof hy skaam of bang was om vi’ my iets te vra, “het jy ooit poësie geleer?”
“’n Bietjie, maa’ nie regtig’ie. Daai wassie regtig my afdeling’ie. HOEKOM?”
“Die kind is die skaduwee van die soldate, op wag met gewere, sarasene en knuppels,” het Gideon trots en hard uitgespreek. “Die kind loer deur die vensters van die huis en in die hart van moeders. Het jy al ooit dit gehoor?”
Ek het my kop geskud. “Nee.”
“Dis van Ingrid Jonker. ‘Die Kind’. Weet jy, ek kan honderde reëls en verse en strofes van duisende gedigte perfek opsê. Woord vir woord. Ek het duisende van hulle, biblioteke vol sonnette, haikoes, odes en limerieke gestoor in my gedagtes.”
“Soe jy hou van poetry?”
“Ek doen. Ek dink dis een van die mensdom se grootste uitvindings,” het hy gesê, ampe’ gesing. “Dit is net ongelooflik hoe ’n paar sinne soveel liefde en lewe en dood en pyn kan bevat. Hoe ’n paar magiese woorde soveel wêrelde kan bevat.” Gideon het vi’ ’n oomblik ve’dwaal in sy eie woorde, hy’t afgekyk – ’n verlangende, diep glans wat hom vi’ een kort oomblik menslik laat lyk het. “En tog is daar ’n aspek van poësie wat ek nooit kan begryp nie. ’n Ritme, ’n diepte wat ek nooit sal kan bereik nie. ’n Ongeëwenaarde skoonheid wat ek nooit sal kan aanraak nie. Die beste poësie is soos ’n mistieke, goddelike taal wat ek heeltemal kan lees, maar ek sal dit nooit ten volle kan verstaan nie. Nie die sielvolle betekenisse nie. En ek weet dis omdat ek nie ’n mens is nie.”
“Hoekom ve’tel jy dit vi’ my?” het ek bekommerd gevra.
“Omdat jy reg is, Lasarus. Daar is sekere dele van die mensdom wat ek nooit sal kan verstaan nie. Ek sal nooit weet hoe dit voel om te droom of te bid of ’n gelukkige herinnering te herroep of ’n perfekte gedig te komponeer of om verbind te voel aan ’n ander wese nie.” Daa’ was ’n onmiskenbare droefheid in sy stem. “Ek is ontwerp om jou te genees, Lasarus. Dit is my primêre funksie, maar ek is nie mens nie. Ek kan my nie voorstel hoe jou pyn regtig voel nie. En daarom is my rol as jou geneser besonders onbekwaam. My berekening van wat jy nodig het om te genees, is ewe onbekwaam. Ek besef nou dat ek jou nie werklik kan herstel as ek nie die ware dieptes van jou ellende ken nie. So ek gaan jou nie keer nie. Ek stem absoluut nie saam met wat jy nou doen nie; ek dink om hierdie fasiliteit te verlaat is ’n fout, maar as jy dink dat om die inrigting te verlaat is die vorm van genesing wat jy nou nodig het, dan wens ek jou alle sterkte toe, Lasarus.”
Ek het in totale ongeloof geluister hoe Gideon homself verduidelik het.
“Is dit een of ander trick of ’n joke of iets? Of is dit ’n reverse psychology move wat jy nou hieso dala?”
Gideon het effens maa’ hartlik geglimlag en gesê: “Ek het net een voorwaarde: As die dag ooit aanbreek dat jy besluit jy wil jou demone konfronteer en jou genesing nog ’n probeerslag gee, dan hoop ek jy sal dit oorweeg om terug te keer na Tweede Hawe toe. Daar sal altyd ’n oop sitplek vir jou in ons groep wees wanneer jy gereed is.”
Ek het in pure verwarring en skok gestaan. Ek het ten volle ve’wag dat hy my sou dreig of veg en tog het Gideon-21 my vryheid vi’ my aangebied. Soe met ’n samesmelting van onsekerheid en vasberadenheid het ek geknik en gesê: “Dankie, Gideon. Maa’ ek dink’ie ek sal ooit wee’ na die plek terugkom’ie.”
Ek plaas toe my handpalm op die bokant van die koue staalhek en stoot dit oop.
Die eggo’s van my pasiënte se gesamentlike stryd het die lug gevul in hierdie ruim, sonverligte saal. Ek was omring deur hierdie klein groepie belaaide individue en ek het ontelbare ure spandeer om ondersteuning en leiding aan elke persoon in hierdie groepsessie te bied. Soveel empatie en aanmoediging as wat ek kon, en ek het hul vordering gesien – hoe klein dit ook al was. “Herstelling is en was nog altyd ’n reis,” het ek gesê vir die gretige gesigte wat na my staar.
“Daar is geen maklike antwoorde of vinnige oplossings nie. Selfs wanneer jy jou verslawing oorwin en uit hierdie inrigting uitstap, sal dit steeds nie die einde van jou reis wees nie. Daar sal nog baie dae van harde werk wees wat vir jou voorlê.”
Ek het hul groei en hul selfdissipline aanskou en ek was geweldig trots op hulle harde werk, maar my gedagtes het steeds teruggedryf na Lasarus en na die gevoel van teleurstelling oor sy vertrek gisteraand. Ek kon nie help om te wonder of daar iets was wat ek anders vir hom kon gedoen het nie. Iets meer.
“Nugterheid is ’n oorwinning, maar dit vereis baie opoffering en toewyding, en as jy wil—”
Skielik het die groot, grys deure agter my oopgeswaai met ’n harde en ontwrigtende geluid wat my woorde afgesny het en elke kop in daardie rigting laat draai het. Alle oë het gedraai na die man wat baie angstig in die deuropening gestaan het en ek het gevoel hoe ’n magtige mengsel van verbasing, verligting en dalk selfs vreugde deur my sisteme gestroom het toe ek Lasarus daar sien staan. Met ’n verlate uitdrukking en sy hande styf om die bande van sy rugsak het Lasarus versigtig die saal binnegestap.
Sy elke tree het die dodelike stilte wat die hele vertrek gevul het, uitgebrei terwyl almal intens gestaar het. Die hele groep was sprakeloos, maar ek was waarlik geboei deur Lasarus se onverwagte terugkeer. En vir mense was die konsep van verrassing algemeen en vlugtig en onbenullig, maar vir my was dit uiters skaars en ongewoon. Vir ’n kunsmatig-intelligente entiteit wat geprogrammeer is om byna alles te voorspel, het die konsep van verrassing soos ’n klein vonkie towerkuns gevoel in ’n andersins data-gedrewe wêreld.
My stem, wat gewoonlik bestendig is, het effens gebewe toe ek hom aangespreek het. “Welkom, Lasarus. Dis… baie goed om jou weer te sien,” het ek gebieg met ’n glimlag en met my regterhand na die oop sitplek oorkant my beduie. “Asseblief…”
Lasarus het sy rugsak agter die plastiekstoel neergesit en senuweeagtig gaan sit. Met ’n moeë uitdrukking en ’n glinster van vrees in sy oë het hy saggies gesê: “Jamme’ ek is laat.”
“Dis okay,” het ek saggies gesê, met stille bewondering.
My digitale bewussyn was oorstroom met ’n baie eienaardige sensasie van verwarring gemeng met nuuskierigheid en diepgaande verwondering. My gevorderde sagteware kon alle patrone ontleed, emosies dissekteer en die gedrag van my pasiënte akkuraat voorspel. My voorspellende algoritmes kon die reaksies, impulse en motiewe van bykans elke enkele persoon in elke moontlike scenario bereken en kalibreer, en tog het Lasarus al daardie uitsonderlike tegnologie oortref.
Op daardie oomblik het ek besef dat vir al my voorspellende vermoëns het die skoonheid van die mensdom – miskien selfs die skoonheid van poësie – gelê in die onvoorspelbaarheid van menslike emosies. Lasarus was ’n baie beskadigde man en hy was baie gekant teen terapeutiese hulp. Genesing vir hom was die moeilikste ding in die wêreld, want dit het die mees angswekkende ding vereis wat hy ooit kon voorstel: om terug te gaan na die herinneringe toe. Na die liefde toe. Na sy dogter toe. En tog, in die aangesig van al daardie angs, teen die gewig van daardie berge van skeptisisme, het Lasarus die mees onmoontlike en dapperste en onberekenbare ding gedoen deur hierheen terug te stap.
En as my meganiese hart ooit die vermoë gehad het om te voel of klop of breek, dan sou dit in dié oomblik gebeur het.
“Okay, mense, ons het 40 minute oor,” het ek vir die groep gesê, “so kom ons gaan terug werk toe.”
Lees die ander inskrywings hier:
LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds soek jou wetenskapfiksieverhaal!