Harry Kalmer, ’n persoonlike huldiging

  • 1

(’n Klein persoonlike huldiging gelewer by die Mabel Malherbe Leeskring, Pretoria op 1 Augustus 2019)

My hart is seer oor die dood van Harry. Soos almal wat hom geken het, voel ek persoonlik beroof. Iemand op Facebook se reaksie op die nuus van sy dood het net soos myne uit een woord bestaan: “neeeeeee!!”

Party goeie kennisse en vriende kry jy ook lief. Al bestryk iemand se lewe net ’n deeltjie van joune. Dit gebeur dit wanneer iets in daardie mens met jou resoneer. ’n Groot deel van Harry se grinterige leef- en verwysingswêreld was naamlik vreemd aan myne. Maar nie sy menswees nie. Hy was 15 jaar jonger as ek. Hy het eendag gevra: “Hoe voel dit om so oud te wees?” Ek het nogal gesteurd geantwoord ek voel nie deur ouderdom gedefinieer nie. Maar ten dele definieer ouderdom jou wel. Hierdie was ook ’n vriendskap tussen ’n Christen-gelowige Pretoria-ouma en ’n Johannes-burger, agnosties, alternatief, in sekere opsigte rebels, rusteloos, bevraagtekenend. Stimulerend.

Harry was ’n briljante mens met ’n enorme verwysings- en belangstellingswêreld: kuns, argitektuur, die geskiedenis van Johannesburg, jazz, populêre en ernstige musiek en musikante, maar veral boeke. Van die lekkerste boeke wat ek nog gelees het, het hy vir my aanbeveel. Met die skryf van 1000 stories oor Johannesburg het hy vir my gesê hy’s altyd bang mense dink hy wil met sy belesenheid te koop loop, hy doen gewoonweg groot moeite om dit nie te laat wys nie. Maar met dié boek het hy besluit, ag wat, hy gaan dit ’n keer net geniet en erken en laat waai.

Ons het gekonnekteer tydens ’n skryfpad wat ons saam gestap het, en daarna vriende gebly. Hy het my vertrou om die manuskrip van sy Johannesburg boek te lees en daarop kommentaar te gee. Toe ek sukkel met ’n toneelstukkie vir ’n skoolhandboek, het hy as deurwinterde dramaturg my wonderlik en gul gehelp en ’n hele nuwe perspektief vir my oopgemaak.

By skrywerokkasies het ons mekaar telkens gou opgesoek en in ’n absorberende gesprek geduik. Ek dink ons het albei die woorde verstaan wat die ander een sê. Ons het nie net oor skryf gepraat nie. Ons het ook oor lewe en menswees en verhoudings en gesinsgoed gepraat.

Baie mense verwys na Harry as ’n ware Mensch. Hulle praat van sy sagtheid, sy entoesiasme en sy liefde vir kuier. Van sy deernis en emosionele sensitiwiteit. Van sy liefheid. Van sy omhelsende liefde vir sy twee kinders en veral sy vrou Sanpat.

Harry het oor indrukwekkende werksywer en dissipline beskik. Kopieskryf het sy woordvaardighede geslyp. (Hy was die outeur van Nataniël se woorde in daardie klassieke De Kat-advertensie wat amper ’n volksêding geword het: “Koop net die bleddie ding.”) Hy het koerantrubrieke, minstens agt boeke, en amper 20 toneelstukke geskryf. Hy was baie nederig oor sy skryfwerk, soms onseker daaroor, want hy was ongetwyfeld lank as skrywer onder-erken, onder-waardeer. Nogtans het hy al met X-ray Visagie en die vinger van God ’n amper-kultus aanhang by ’n bietjie anti-establishment jonger lesers gehad. Sy volgelinge het daarna stadig maar seker gegroei. Tot hy skielik as hoofstroom beskou is! Ek is verheug dat hy dit kon ervaar om uiteindelik erkenning en toekennings te kry, veral oor die groot ophef wat oor die Engelse vertaling van 1000 Stories gemaak is. (Terwyl die Afrikaanse oorspronklike wat ek as ’n wonderlike boek beskou en wat uitmuntende resensies gekry het, eenvoudig nie herdruk is nie.) Sy skryfwerk was gestroop en minimalisties, gekenmerk deur bondige, amper aforistiese sinne, kort-kort paragrawe, hoofstukke en verhale. Party stories skaars ’n halwe bladsy lank. Onderbeklemtoon en subtiel, telkens met ’n onverwags-treffende punchline. Daarin was humor en tragiek ineengestrengel. Hy was soms verskriklik snaaks.

My destydse buurvrou het magteloos oor die dood van haar kind gesê: “Dis ’n skade.”

Harry se dood is ’n skade.

Toe hy siek geword het, so vertel sy skrywersvriende, het hy verwoed begin werk. Ek het gisteraand op sy Facebook-profiel ingegaan. Op 17 Mei, ’n dag voordat hy die eerste skrywerskopië van ’n Land sonder voëls gekry het, het hy die volgende geplaas:

“Nog nooit so hard gewerk om 'n boek klaar te maak. A deadline that can't be moved.”

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top