Vroeg in Desember 2009, twee weke na Harry Kalmer se 53ste verjaardag, stuur ek ’n verleë Facebook-boodskap na sy inboks: O hel, ek het al weer jou verjaardag vergeet! Dis vir my omtrent die enigste rêrige great ding van FB, dat ek deesdae mense se verjaardae onthou – mits ek natuurlik onthou om op my FB-muur te kyk. Soos Beckett gesê het. No matter. Try again. Fail again. Fail better. Dalk is ek volgende jaar net ’n week laat?
Waarop Harry dadelik antwoord: Thx Marita. Een van my favourite quotes. Lately opgetel deur Amerikaanse selfhelp-gurus.
Ek sien hom steeds glimlag – daardie oorrompelende glimlag met die gaping tussen die tande – oor al die simpel Amerikaanse selfhelppriesters wat ons so verpes het.
Maar terwyl ek die afgelope naweek oor my vriend se heengaan treur, besef ek daar is nog ’n "rêrige great ding" van die sosiale media wat ek nou vir die eerste keer leer waardeer. Op die slimfoon in my hand is meer as tien jaar se boodskappe tussen ons gebêre. Terwyl ek my vingers oor die skerm rol en Harry se snaakse, slim, simpatieke, aweregse opmerkings lees, kan ek my verbeel hy's nog hier, kan ek myself amper oortuig dat ons jarelange internetgesprek net tydelik onderbreek is. Terwyl die nuus insink – en dit gaan lánk vat om werklik in te sink, weet ek nou al – het ek darem die triestige troos van telefoontekste.
Ons het mekaar gereeld getroos, moed ingepraat, raad gegee. Toe ek in 2010 ’n besondere bitsige resensie vir een van my romans in ’n Afrikaanse koerant kry, is Harry die eerste vriend om op sy perd te spring om my metafories te hulp te snel: Het nie die resensie gelees nie en gaan ook nie. (Ná ’n onvleiende opmerking oor die resensent wat ek nie sal herhaal nie, voeg hy vertroostend by:) Maar dis nooit lekker nie. I'm sorry. Perhaps op die ou einde is al wat ons het ’n gift en die joy wat ons vir onsself en ’n lucky few skep. This too shall pass.
En ’n maand later, ná ek ’n bewonderende literêre blog oor Nabokov geskryf het en deur niemand minder nie as Nabokov se eie seun oor die vingers getik is omdat ek ’n enkele negatiewe aanmerking oor die groot Russies-Amerikaanse skrywer durf maak het, kom Harry weer soos ’n hedendaagse Don Quichote op sy perd aangestorm om seker te maak ek begin nie myself jammer kry nie: Daai Nabokov is weird – daar was mos verlede jaar ’n groot ding omdat hy sy pa se laaste boek klaar geskryf of geedit het as ek reg onthou.
My antwoord: Klink vir my literêre erfgename of executors of wat mens hulle ook al noem, die naasbestaandes van skrywers wat besluite oor na-doodse publikasies neem, is dikwels weird. Borges en Hervé van Tintin-faam se weduwees het ook die weirdste besluite geneem.
Harry: Dan is daar die hele ding rondom Carver se stories in hulle "oorspronklike" vorm. Maar Tess Gallagher looked after his legacy well. I think. Ek weet nie van Borges nie, sal dit google.
Dis hoe die meeste van ons tekste was, so van die heup af gevuur met baie Engelse woorde tussenin, dikwels oor boeke (dié wat ons lees en dié wat ons skryf) en musiek en teater en skrywers en kunstenaars. Nooit veel oor ons persoonlike lewe nie, dít het ons gespaar vir wanneer ons mekaar in lewende lywe sien en oor ’n paar glase wyn sit en kuier, soms ook saam met sy geliefde Sanpat. Harry het ’n beter verskoning as ek gehad om sy taal so met Engels te bestrooi, sy pa was immers ’n Engelsman, en taamlik onlangs nog het hy gebieg dat hy ’n soort perverse genot daaruit put om aspris sy taal te meng wanneer hy met konserwatiewe "taalstryders" praat.
En tog kon hy Afrikaans laat sing en dans, soos almal wat al sy boeke gelees het, sal weet. Ons het ook mekaar se boeke gelees, die laaste paar jaar meestal in manuskrip-vorm vóór ons dit na uitgewers gestuur het. As Harry eers sy stempel van goedkeuring op een van my boeke geplaas het, het dit amper nie meer saak gemaak as ander lesers nie daarvan hou nie. En ons het gereeld vir mekaar boeke voorgestel om te lees.
Nadat ek in 2010 my profielfoto op Facebook verander, stuur hy dadelik ’n boodskap oor die boek wat ek vashou: Sien jy het die nuwe Anne Michaels in jou hande. So goed soos Fugitive Pieces? (Ongelukkig nie, antwoord ek. Maar Fugitive Pieces was so stunning, how do you follow that up?)
In Februarie 2012 soek hy iemand se e-posadres by my, wat my die kans gee om hom te bedank vir nog ’n boekwenk: Besig met Saramago se "Year of the Death of Ricardo Reis" ná ek laas maand weer in Lissabon was (navorsing vir my nuwe roman) en ek dink dit was jy wat my ná my vorige Portugese trip van hierdie boek vertel het? My voete is onder my uitgeslaan.
Harry: Ek's bly – het intussen Pessoa se vertaler hoor praat – daai pragtige gedig (die enigste wat hy oor Durban geskryf het) het my weer weggeblaas.
’n Paar maande later vra hy oor ’n reël uit Paul Simon se liedjie "Kodachrome" wat ek as motto in Die dinge van ’n kind gebruik het. ("When I think back on all the crap I learnt in high school, it's a wonder I can think at all.") Was dit duur? wil hy weet. Hoe gaan mens te werk – deur Samro of musikant se publisher? My antwoord lei tot ’n gesprek oor ander musikante van ons jeugjare: En van Dylan gepraat, ek gaan hom eindelik volgende maand in lewende lywe sien, ná ek hom al 40 jaar lank luister, op sy Neverending Tour wat ’n draai hier naby my maak. Never too late to have a happy childhood! Harry: Dylan? wow. geniet dit. het jy al visit from the goon squad gelees?
In Oktober 2012 kontak ek vir Master Harold (ek het hom só begin noem nadat hy sy meestersgraad in skeppende skryfwerk by Marlene van Niekerk op Stellenbosch verwerf het) oor Vlieger en die gevare van die close dance: Hei, ek's moreaand onverwags in Jozi by Zietsies maar gaan eers laterig daar aankom so daar gaan nie kuiertyd wees nie. Wou net laat weet dat Tafelberg se chauffeur, Gerald, wat my by die lughawe opgelaai het, met groot opgewondenheid vertel hoe lekker hy luister na jou Vlieger wat oor die radio voorgelees word. Good for you! Dis fantastiese blootstelling. Ek het dit pas bestel en sien uit daarna om dit terug in Frankryk te gaan lees.
’n Jaar later, in November 2013, kry ek ’n lieflike boodskap van Harry ná hy die gepubliseerde weergawe van Die blou van onthou lees: Dit het my gemove, laat onthou en laat dink op ’n manier wat min boeke (never mind afrikaanse boeke) regkry... wel gedaan. Sulke hoë lof van iemand wie se mening vir my soveel beteken het dat ek net effe uitasem kan antwoord: Sjoe, master Harold, nou move jy my!
Soms het hy vinnig by my kers opgesteek oor een of ander Franse kwessie, soos in Januarie 2015: le figaro wil met my praat – net ’n storie oor Jozi – ek sien wiki sê hulle is konserwatief? hoe konserwatief? wil nie le pen ondersteun nie. My mening: Hulle is regs, soos in Sarkozy, maar daem (nog) nie verregs nie. Praat gerus met hulle as dit publisiteit vir jou boeke kan bring en wie weet dalk ’n Franse vertaling ...
Of in Desember 2017: Hi Marita, wat is die Frans vir stripper ek wil dit gebruik soos in nom de stripteaser? Ek: Franse gebruik die Engelse woord, stripteaser. Of ’n baie outydse woord, defeuilleuse (iemand wat haar blare verloor) maar dis bietjie precious. En moeilik om uit te spreek.
En in Junie laas jaar stuur hy weer eens ’n boekaanbeveling waarvoor ek hom ewig dankbaar sal wees: hate to sound like a jehova's witness maar as jy nog nie deborah levy se things I don't want to know gelees het nie – kry dit in die hande – I suspect you'll like it. Hy was reg, soos gewoonlik. Things I Don't Want to Know het my gunstelingboek van laas jaar geword. Maar intussen het hy eindelik die literêre erkenning gekry wat hy lankal verdien het. The Sunday Times se groot fiksieprys (vir die Engelse vertaling van ’n Duisend stories oor Johannesburg) is aan hom toegeken en my hart wou bars van trots vir my skrywersvriend: Ek is baie baie chuffed dat jy so ’n groot Engelse prys gewen het vir jou Johannesburg-boek wat die Afr literêre kliek na my mening heeltemal onderskat het. En hy antwoord, beskeie soos altyd: dankie marita. heeltemal onverwags. maar moer welkom.
Op 21 November wens ek hom – dié keer betyds! - geluk met sy verjaardag. Met ’n simpel wuiwende muis wat per ongeluk op die skerm verskyn toe ek die verkeerde knoppie druk. Salig onbewus daarvan dat hy op hierdie gedenkwaardige dag van sy 62ste verjaardag sou besluit om die chemo-behandelingvir die keelkanker wat twee maande vroeër by hom gediagnoseer is, te staak. Die kanker het reeds onkeerbaar versprei, maar hy het sy bes probeer om die nuus so stil as moontlik te hou omdat hy in die tyd wat oorbly op sy werk en op sy geliefdes wou konsentreer. Vroeg vanjaar het hy my egter ingelig omdat ons oudergewoonte by die Woordfees saam sou kuier en hy nie wou hê ek moet dit vooraf by iemand anders hoor nie.
Dis nou ek en die cannabis olie, hoop en die liefde van die mense om my. Ek het nie pyn nie, is fisies sterk en skryf ’n hond uit ’n bos uit.
Dit was een van daardie boodskappe wat jou hele wêreld laat kantel en maande later sukkel jy nog om jou balans terug te kry. In die weke daarna het ons internet-gesprek onvermydelik verander, meer persoonlik geword, meer rondom hierdie laaste reis van hom gedraai. Ek het nie trooswoorde of mooiwoorde nie, Harry, net verskriklik baie liefde wat ek vir jou kan stuur, maar dis ’n allenige pad wat jy nou stap. Ek haal my hoed af vir jou dat jy dit regkry om dit so lank stil te hou.
In Februarie: skryf en mense hou my op koers. Sanpat en kids amazing – maar ja jy's reg. dis ’n alleenpad.
Nóóit in die laaste maande was daar ’n woord van selfbejammering of woede in sy boodskappe nie, net ’n stil waardigheid en ’n ewige sin vir humor wat my bly verstom het. Dis ’n les in hoe om dood te gaan, het ek bly dink. Teen einde Mei het sy teenwoordigheid op sosiale media skielik skaars geraak en ek het besef die nag kom nou vinnig nader. Op 27 Mei het hy die laaste keer een van my boodskappe geantwoord: Ag, Harry, ek verlang so na jou en dink so baie aan jou en wonder hoe dit gaan en hoe jy cope. Jy klink so kalm en tevrede op FB, maar dit kan seker nie altyd so wees nie. En jou werkywer verbyster my. Drie boeke in ’n jaar?!? Verskriklik bly oor "'n Land sonder voëls" wat binnekort verskyn, jy weet mos ek voel so half ma vir daai ene wat jy vir my in so ’n vroeë ms-weergawe gestuur het. Anyway, wou net vir jou op hierdie Maandagoggend laat weet dat ek jou verskriklik bewonder xxx
Harry: Hi Marita wat ’n wonderlike pos op ’n Maandagoggend. Ek: Alles waar, selfs noudat ek dit weer oorlees. En toe, die laaste boodskap wat ek ooit van hom sou kry, want daarna het hy te siek geword om te antwoord: ’n Geel smiley. ’n Emoticon plaas van woorde. Dis toe dit finaal tot my deurdring dat my woordvriend nou op pad was na ’n plek ver anderkant woorde.
Ek het die afgelope twee maande aanhou skryf aan hom, maar ons dialoog het ’n monoloog geword, en ek het al hoe meer begin voel soos David Bowie se Ground Control wat wanhopig roep na Major Tom: "Take your protein pills and put your helmet on ... Check ignition and may God's love be with you ... Now it's time to leave the capsule if you dare ... Can you hear me, Major Tom?"
Ek sou graag wou glo dat hy my tot die einde kon hoor. As ek na die kiekie kyk wat al baie jare bo my lessenaar hang, van hom en ’n paar van ons tydens ’n deurnagkuier by ’n kunsfees, verbeel ek my selfs ek hoor hom antwoord: "I'm floating in a most peculiar way, And the stars look very different today." *
*Met apologie aan hierdie sanger uit my en Harry se tienerjare wat dit ook reggekry het om ’n terminale siekte privaat te hou en tot op die laaste, waardig aan te hou werk.
Kommentaar
Pragtige stuk, Marita. Hoe broos is die lewe nie, en hoe maklik kantel hy nie. En dan is die woorde wat oorbly sterre in die naghemel.
Dis 'n roerende huldeblyk.
So jammer om te hoor! 🙁
Sterkte Marita. Ek was gaande oor Harry se roman oor Johannesburg waarop hy positief gereageer het.
Beste wense, Joan
http://joanhambidge.blogspot.com/search/label/Harry%20Kalmer
Pragtige woorde en so 'n mooi beskrywing van julle vriendskap. RIV Harry, het jou nie geken nie maar 'n reus het geval.
En dankie tog vir die woorde wat oorbly, nè.
Dankie, Joan, ek dink ook dit is 'n gróót roman.
Dankie, Marita. Ek het Harry soms in Pick n Pay raakgeloop en ietwat minder by hom gaan kuier in Observatory.
Dankie vir hierdie blik op n benydenswaardige skrywer/leser vriendskap. As bonus het ek twee ekstras gekry vir my baie lang om-te-lees lys.
Hier in Pretoria was ek by twee leeskringbyeenkomste waar 'n Duisend stories baie entoesiasties bespreek is deur Marie Boonzaaier by Mabel Malherbe Leeskring en Huma Meyer by Jakaranda Leeskring.
💔💔
Hoe lig en swaar en weer lig is jou woorde nie. Baie dankie.