Hare (veral swart hare in skole) saai steeds onmin

  • 1

Foto: Pixabay

..........

Gegewe die emosionele reaksie wat die kwessie van hare in skole ontlok en die talle tekste wat reeds daaroor geskryf is, waarom gedy die polisiëring van swart hare steeds in skole? Waarom ontlok dit soveel emosie? Wat kan ons hieruit leer?

..........

 

1. Inleiding

In Melbourne, Australië word twee Soedannese meisies aangesê om hul vlegsels (braids) te verwyder omdat dit nie strook met die skoolreëls nie (Gatwiri 2016). Die skool se gedragskode verbied “ekstreme style”, is die prinsipaal se verweer. In Urswick in Engeland wen ’n leerder ’n saak teen haar skool omdat sy telkemale huis toe gestuur word vir “afro”-hare (Bushby 2020). In Amerika word ’n leerder gekritiseer vir “onnatuurlike” hare wat die skoolreëls oortree (Sini 2018).

Vars van soortgelyke insidente in Suid-Afrika waar straffend opgetree was teenoor swart leerders wie se hare as gevolg van “boskasies” (Pretoria Meisies Hoër, 2016), “onnatuurlikheid” (Sans Souci, 2016), “onnetheid” (Blue Downs, 2019) en “ontoelaatbaarheid” (Hoërskool Delmas in Mpumalanga, 2020) die betrokke skole se reëls oortree het, kom ’n nuwe storie oor hare. Hierdie keer is die tweekleurhaarstyl van ’n tweedejaar-onderwysstudent van Stellenbosch-universiteit volgens die prinsipaal wat lesobservasies moet doen, nie toelaatbaar nie, omdat sy hare “nie ’n voorbeeld stel vir leerders nie”. Die besonderhede van die insident is in die publieke domein en word verder op RapportWeb bespreek.

Gegewe die emosionele reaksie wat die kwessie van hare in skole ontlok en die talle tekste wat reeds daaroor geskryf is, waarom gedy die polisiëring van swart hare steeds in skole? Waarom ontlok dit soveel emosie? Wat kan ons hieruit leer?

 

2. Konteks

Om ’n opvoeder te word in Suid-Afrika moet ’n persoon ’n driejaar- Baccalaureus-graad met ’n Nagraadse Onderwyssertifikaat (NOS) of ’n vierjaar- BEd-graad vanaf n geregistreerde universiteit hê. Dit sal ’n persoon toelaat om by die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders (SARO), die nasionale regulerende liggaam vir onderwys in Suid-Afrika, te registreer. Universiteite neem verantwoordelikheid vir die voorbereiding van onderwysstudente. As deel van hul onderwysgraad is ’n krediet, oftewel ’n “slaag” in onderwyspraktyk ’n vereiste aanduider dat ’n onderwysstudent die nodige vermoëns in die klaskamer bekom het. Werksgeïntegreerde leer, of “proef” soos dit algemeen bekend staan, is ’n sentrale deel van die professionele ontwikkeling van opvoeders (Departement van Onderwys en Opleiding 2011). Daar bestaan ’n werksooreenkoms tussen die nasionale en plaaslike onderwysowerhede oor die raamwerk waarin proef in skole plaasvind. Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het byvoorbeeld ’n protokol in vennootskap met die skole en universiteite in die provinsie (Protocol for Teaching Practice 2020). Universiteite tref ’n jaar voor die tyd reëlings met skole oor die plasing van leerders en bied geleentheid vir skole om spesiale verwagtinge aan die universiteit te kommunikeer. ’n Onderwysstudent is ’n gas van die skool waar sy/hy proef en daar kan van hom/haar verwag word om aan te pas by die reëls van die skool. Skoolreëls word, soos bepaal deur die Suid-Afrikaanse Skolewet (Wet 84 van 1996), opgestel deur die skoolbeheerliggaam in samewerking met al die betrokkenes in die skool. Die doel van kommunikasie met al die rolspelers is juis dat die skoolreëls in voeling is met diverse waardes van die hele skoolgemeenskap en sodat alle betrokkenes daaroor ingelig is. ’n Skoolhoof, as lid van die skoolbeheerliggaam asook die verteenwoordiger van die Onderwysdepartement (afdeling 16(a) van die Skolewet), sien toe dat die skoolreëls nagekom word, maar doen dit binne die raamwerk van die wet. In ooreenstemming met SARO (Wet 31 van 2000) se professionele gedragskodes moet ’n opvoeder tydens sy/haar interaksie met ’n kollega hom-/haarself daarvan weerhou om die status van sodanige kollega te ondermyn. Verder moet sorg gedra word dat aanvaarbare taal en houdings tydens interaksies met kollegas gehandhaaf word. Enige vorm van vernedering en uitbuiting word verbied en aanvaarbare prosedures moet gevolg word om professionele onbevoegdheid aan te spreek.

Totdat die teendeel bewys word hangende die WKOD-ondersoek oor hierdie spesifieke voorval, kan daar tereg vrae gevra word oor die hantering van die kwessie. As al die beleidsraamwerke en kommunikasiestrukture voor die aanvang van die proef daar was, waarom het dinge so verloop dat die proefonderwyser van ’n skool weggejaag moes word? Terwyl die prinsipaal se optrede dalk verskoon kan word as ’n oorreaksie in ’n hewige oomblik, wek die uitsprake van hierdie prinsipaal teenoor die media (dae na die voorval) kommer. Wanneer die prinsipaal byvoorbeeld sê dat sy skool “nie Boswell-Wilkie-sirkus” is nie, ontlok dit pynlike emosies vir die meeste mense in die land. Die blinde reaksies van mense uit sommige oorde, byvoorbeeld dat sommige mense maar net “oorsensitief is oor ras”, “sensasie soek”, “alewig foutvind met sekere groepe” of “alles ’n rasding wil maak”, help boonop ook nie veel om die situasie by te lê nie. Om die waarheid te sê, dit gooi olie op die vuur en gee ander opportunistiese groepe kanonvoer.

Jerome Joorst

 

3. Wat is die probleem?

Om iemand se voorkoms te vergelyk met dié van diere wat vir die vermaak van mense rondgeparadeer word in ’n sirkus, is om so ’n individu gelyk te stel aan ’n dier. Indien dit een keer gebeur, sou ’n mens dit kon afmaak as ’n geïsoleerde voorval, maar daar is ongelukkig ’n patroon van bevooroordeeldheid van wit mense teenoor swart mense wêreldwyd te bespeur. Henkeman (2018) beskryf die vergelyking van swart mense met diere as “the animalisation of blackness” en koppel dit aan haat van die fisieke voorkoms, kulture en identiteite van nietradisionele groepe. Sy koppel dit ook aan die Black Lives Matter-beweging wat ontstaan het as gevolg van die kriminalisering van swart mense in die samelewing. Die patroon van kriminalisering en sosiale penalisering is bespeurbaar in alle sektore van die samelewing, nie net die skool nie. Die Clicks-kettingwinkel in Suid-Afrika was onlangs in die nuus oor hul advertensie van haarprodukte waarin swart hare as “onnatuurlik” uitgebeeld word (Netwerk 24 2020).

Wanopvattings en stereotipes oor swart hare spesifiek sluit dikwels in dat swart hare “vuil”, “onbeheerbaar” is, “nie gemeet kan word nie” en daarom teen dit is wat as sosiaal aanvaarbaar beskou word. So was daar byvoorbeeld by sommiges die wanopvatting dat Bob Marley gesterf het vanweë die verskillende soorte luise in sy hare. Maar ’n dieper kyk na die geskiedenis toon dat “dreadlocks” afkomstig is van Ethiopiese soldate wat in hul stryd teen die Italiaanse inval van 1935 die simboliek van Simson in die Bybel gebruik het om nie hul hare te sny voordat hul koning, Ras Tafari Makonnnen (ook bekend as Haile Selassie) nie bevry was nie (Mokoena 2016).

Die kwessies met hare (spesifiek swart mense se hare) het ’n lang geskiedenis. Hare was histories gebruik as middel van sistemiese geweld en teistering van swart mense waar hulle sosiaal gepenaliseer en gestigmatiseer word ( Slawe (meestal swart mense) se hare is deur die geskiedenis heen beskou as onbeheerbaar (Griffith 1915 in Robinson in Obrien-Richardson 2019:542):

The characterization of Blacks and Black hair continued to permeate society and culture as White actors dressed in Black theatrical make up, known as “blackface”, and wore wigs with knotty, dirty hair as they portrayed Blacks as “coons”, freed slaves, and “pickanninies” with bulging eyes and unkempt hair. (Griffith 1915)

Hierdie beelde kommunikeer subtiele negatiewe boodskappe dat swart hare nie netjies of aantreklik is nie en dat dit geassosieer kan word met rof, hard, vuil en lelik.

Die stigmatisering van swart hare duur steeds voort. Steil hare, soos dié in die Europese kultuur, is deur die eeue heen voorgehou as die standaard van skoonheid en netheid in die samelewing, terwyl natuurlike swart hare (sonder chemikalieë en haartange) as onaantreklik en onaanvaarbaar beskou is (Robinson 2011; Rudman en McLean 2015).

..........

Diepgewortelde vooroordeel jeens swart hare affekteer jongmense vandag nog, want hulle sien hoe hierdie stigmatisering voortduur – selfs in hul eie groepe, ten spyte van ons demokratiese samelewing.

..........

Die persepsies oor aanvaarbare hare in skole is dikwels gebaseer op onwetenskaplike aannames wat onkrities aanvaar word as algemene kennis, selfs deur die slagoffers. ’n Eenvoudige YouTube-soektog bring verskeie miskonsepsies oor swart hare aan die lig (kyk byvoorbeeld https://www.youtube.com/watch?v=dN5DXQMxWCY). Diepgewortelde vooroordeel jeens swart hare affekteer jongmense vandag nog, want hulle sien hoe hierdie stigmatisering voortduur – selfs in hul eie groepe, ten spyte van ons demokratiese samelewing.

In skole waar adolessente die meeste van hul tyd spandeer, duur die teistering van swart hare dikwels voort in kamtige onskuldige opmerkings wat kwansuis niks te doen het met ras nie. In Georgia, VSA verwys ’n laerskooljuffrou na Michelle Obama as ’n arme gorilla wanneer sy sê: “She needs to focus on getting a total make-over, especially the hair” (Abrahamson 2016). Die sosiale teistering van swart hare in skole duur onverpoosd voort ten spyte van die feit dat ons skole aanvoer dat hulle transformeer het.

Een van die uitkomste van ons land se onderhandelde skikking was dat rasdemografieë in skole sal verander. Die institusionele kulture in skole is belangrik, want dit vorm mense se denkwyses en die maniere waarop hulle met ander omgaan. Die nuwe nierassige Suid-Afrikaanse samelewing konstrueer skoolbeleid as rasneutraal en kleurblind (Gillborn 2008; Joseph-Salisbury 2018). Maar in talle gedesegregeerde skole is swart leerders dikwels die numeriese meerderheid, maar bly steeds die kulturele minderheid. Deur hierdie kleurblindheid kan rassistiese opinies wat konstrueer word as morele vanselfsprekendheid aanvaar word. Dit word selfs gesien as ’n belediging teenoor gelykheid om enige diskresie in die interpretasie van ’n skool se reëls in terme van verskillende gelowe en kulture te akkommodeer. Op so ’n wyse kan kleurblindbeleide beheer uitoefen oor diegene wie die bestaande orde wil teengaan terwyl dit terselfdertyd voorkom asof regverdigheid vir almal bevorder word. Die institusionele kultuur van talle skole word onderskryf deur bepaalde tradisionele kulture wat hoofsaaklik onveranderd gebly het, sê Joseph-Salisbury en Connelly (2018:2).

Kan dit wees dat die skoolhoof meer as net “korrekte hare” van die onderwysstudent verwag – soos om sy identiteit by die deur te los en te konformeer tot die norme en verwagtinge van hierdie kultuur? Christie en McKinney (2017:2) kom in hul studie oor voormalige Model C-skole tot die gevolgtrekking dat

the terms of attendance at the “model C” and private schools and the rate of change it would permit remain firmly in the hands of those who had determined these norms in the past. The golden thread that runs through all these cases is the fact that the dominant group’s own (often archaic) ideas of acceptable standards and by extension, discipline, is being forced unto others. These “standards” and their equation to discipline very often find their genesis in colonial ideologies of power. Non-traditional entrants to these schools are often expected to assimilate to repertoires of whiteness. These expectations are highly problematic as they require of an individual different to the dominant group, to leave their identities at the gate and subject themselves to the dominant group’s ideologies.

Deur ’n gedekontekstualiseerde en abstrakte lees van liberalisme kan mense nie sien hoe die bestaande orde sommige groepe bevoordeel terwyl dit ander groepe onderwerp nie (McIntosh 2003). Die houding dat die samelewing verby rassisme is, beperk die moontlikheid vir refleksie oor watter ras, en kulturele simboliek aanvaar word as normaal en watter nie. Rassisme gaan voort om lewens te beïnvloed, maar die bestaan daarvan word nou ontken en die effekte daarvan onder die dekmantel van neutraliteit verberg (Goldberg 2015). Baie van die Facebook-kommentators oor die kwessie huldig die posisie dat “mense wat na hierdie skole kom, weet waarvoor hulle hulself inlaat en dus óf inpas óf ander skole soek”. Sulke houdings wek net meer twyfel oor die mate van die gewilligheid van skole om te hervorm in terme van die omhelsing van veelrassigheid, multikulturalisme en demokrasie.

..........

Ons kan weer kyk na die korrekte prosedures om te volg wanneer ons konflik het met iemand in ’n skool. Ons kan ook weer kyk na wat wetlik toelaatbaar is wanneer ons met mense wat nie soos ons lyk nie, in skoolverband werk.

..........

 

4. Elke krisis bring egter ’n leergeleentheid

Opvoeding is ’n sosiale aksie – dit gebeur eerstens sosiaal en daarna op die individuele vlak. Ons aksies in historiese en sosiale kontekste gee struktuur aan wat ons doen. Niemand kan sê dat die hele skool vanweë die optrede van een mens rassisties is nie, want ons kan eenvoudig nie die aksies van ’n individu koppel aan die hele groep nie. So kan ’n mens ook nie op grond van een insident iemand kategoriseer nie. Maar elke krisis bied ’n geleentheid tot introspeksie. Insidente soos hierdie bied ons die geleentheid om te dink oor onsself in verhouding tot ander. Vir skole spesifiek bied hierdie insident ’n geleentheid om weer met vars oë te kyk na die prosedurele, wetlike en etiese optrede van opvoeders in ’n skool. Ons kan weer kyk na die korrekte prosedures om te volg wanneer ons konflik het met iemand in ’n skool. Ons kan ook weer kyk na wat wetlik toelaatbaar is wanneer ons met mense wat nie soos ons lyk nie, in skoolverband werk. Meer belangrik is ’n heroorweging van die etiese beginsels wat geld wanneer ons met ander mense interaksie het. Vir universiteite bied dit ’n geleentheid om weer hul vennootskappe met skole te oorweeg in terme van aanvaarbare praktyke tydens proeftyd.

Alhoewel omgee ’n morele deel is van die opvoedingstaak, blyk dit dat daar ’n diskonneksie is tussen hoe ons mense vir die werkswêreld en die transformasie tot ’n volwaardige demokratiese samelewing voorberei. Dit mag wees omdat verskillende mense verskillende sienings het van die doel van opvoeding. Terwyl sommige die hoofdoel van skole sien as die mededeling van vertikale of skoolkennis (Bernstein 1999; Muller 2009; Shay 2016) en die induksie van jongelinge in tradisionele praktyke, verwag ander (Zipin, Fataar en Brennan 2015) dat horisontale of alledaagse kennis oor hoe verskillende tradisies en kulture die wêreld impakteer, die ewewig moet wees ten einde gebalanseerde burgers te skep. ’n Sosiaal regverdige en meer humanitêre benadering tot opvoeding is belangrik om die voortdurende ongelykhede in ons samelewing aan te spreek.

Universiteite en skole is sosiale ruimtes en kan nie gereduseer word tot plekke van getalle, beleide en rigiede eerbiedigheid nie. Hierdie instellings is immers nie klerewinkels waar omgee sekondêr tot jou geld is nie. Opvoedkundige instansies moet daarteen waak dat kwessies met kinders nie geprivatiseer word na die kind terwyl dit eerder sistemies aangespreek moet word nie. Tronto (2015:8) herinner ons daaraan dat omgee ons responsief maak en dat responsiwiteit ons kan help om etiese subjektiwiteite te kan ontwikkel wat neoliberale onderdrukkingsmaatreëls kan weerstaan. Dit wil sê ons kan terugpraat teen die huidige diskoerse in opvoedkundige instellings wat waardes en medemenslikheid verkondig, maar eintlik net in markgerigheid belangstel.

...........

Opvoedkundige instellings moet simpatiek en responsief wees teenoor mense sodat almal daarin kan floreer.

...........

Opvoedkundige instellings moet simpatiek en responsief wees teenoor mense sodat almal daarin kan floreer. Dit is dalk onrealisties om van ’n universiteitstudent wat twee weke by ’n skool gaan spandeer te verwag om die kultuur en gedragskode van ’n skool te verstaan soos al die aangestelde opvoeders in die skool. Maar studente kan ook meer sensitiwiteit kweek jeens die kontekste waarin hulle beweeg. Ons verlede hou nie op bestaan nie, want dit is vasgevang in die geskiedenis, maar om individuele lewens te verstaan, moet ons die tye waarin ons leef en die omstandighede van ander mense verstaan. Opvoedkundige instellings in Suid Afrika moet ’n taal van ontwrigting ontwikkel wat gebaseer is op gemeenskaplike waardes. Dit beteken dat skole en universiteite nie net nouer beraadslaag oor aanvaarbare praktyke in skole nie, maar ook nouer kommunikeer oor wat dit beteken om ’n volle mens te wees in hierdie tyd in Suid-Afrika in verhouding tot Afrika en die wêreld. Omgee is diep verstrengel in ons demokrasie en daarom moet ons hierdie verwantskap heroorweeg.

 

Bibliografie

Abrahamson, R. 2016. Teacher’s aide fired after calling Michelle Obama a “gorilla” in racist Facebook rant. https://www.usmagazine.com/celebrity-news/news/teachers-aide-fired-after-calling-michelle-obama-a-gorilla-w443276 (11 Maart 2021 geraadpleeg).

Afro hairstyle “comments” spark controversy at Cape Town high school. News24. 30 August 2019. https://www.news24.com/news24/SouthAfrica/News/afro-hairstyle-comments-spark-controversy-at-cape-town-high-school-20190830 (11 Maart 2021 geraadpleeg).

Bernstein, B. 1999. Vertical and horizontal discourse: An essay. British Journal of Sociology of Education, 20(2):157–73.

Bushby, E. 2020. Pupil repeatedly sent home from school over afro hair wins £8,500 payout. https://www.independent.co.uk/news/education/education-news/afro-hair-discrimation-student-legal-action-payout-ruby-williams-urswick-school-a9323466.html (11 Maart 2021 geraadpleeg).

Christie, P en C McKinney. 2017. Decoloniality and “model c” schools: Ethos, language and the protests of 2016. Education as Change, 21(3):1–18.

De Wee, M. 2021. Skoolhoof verjaag glo student-onnie oor haarstyl. https://www.netwerk24.com/Nuus/Onderwys/skoolhoof-verjaag-glo-studente-onnie-oor-haarstyl-20210216 (11 Maart 2021 geraadpleeg).

Fake news? Anger over “racist” hair rules for Hoërskool Delmas pupils. The Citizen, 16 Januarie 2020.

Gatwiri, K. 2018. The politics of black hair: an Australian perspective. https://theconversation.com/the-politics-of-black-hair-an-australian-perspective-93270 (11 Maart 2021 geraadpleeg).

Gillborn, D. 2008. Racism and education: Coincidence or conspiracy? Londen: Routledge.

Goldberg, D. 2015. Are we all postracial yet? Cambridge: Polity Press.

Henkeman, S. 2018. How violence and racism are related, and why it all matters. https://theconversation.com/how-violence-and-racism-are-related-and-why-it-all-matters-65738 (11 Maart 2021 geraadpleeg).

Joseph-Salisbury, R. 2018. Black mixed-race men. Leeds: Emerald.

Joseph-Salisbury, R en L Connelly. 2018. “If hair is relaxed, white people are relaxed. If your hair is nappy, they are not happy”: Black hair as a site of “post-racial” social control in English schools. Social Sciences, 7(11):2–13.

McIntosh, P. 2003. White privilege: Unpacking the invisible knapsack. In understanding prejudice and discrimination. Geredigeer deur Scott Plous. New York: McGraw-Hill.

Mokoena, H. 2016. From slavery to colonialism and school rules: a history of myths about black hair. https://theconversation.com/from-slavery-to-colonialism-and-school-rules-a-history-of-myths-about-black-hair-64676 (11 Maart 2021 geraadpleeg).

Muller, J. 2009. Forms of knowledge and curriculum coherence. Journal of Education and Work, 22(3):205–26.

Nhlapo, N. 2020. Clicks hair row: The roots of this problem go much deeper. https://www.news24.com/news24/columnists/guestcolumn/opinion-clicks-hair-row-the-roots-of-this-problem-go-much-deeper-20200908 (11 Maart 2021 geraadpleeg).

O’Brien-Richardson, P. 2019. Hair harassment in urban schools and how it shapes the physical activity of black adolescent girls. The Urban Review, 51:523–34.

“Racist school hair rules” suspended at SA’s Pretoria Girls’ High. BBC News, 20 August 2016. https://www.bbc.com/news/world-africa-37219471 (11 Maart 2021 geraadpleeg).

Republiek van Suid-Afrika. 1996a. Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (Wet nr 108 van 1996). Pretoria: Staatsdrukkers.

—. 1996b. Suid-Afrikaanse Skolewet (Wet nr 84 van 1996). Staatskoerant, nr 1867. Pretoria: Staatsdrukkers.

—. 2000. Suid-Afrikaanse Raad van Onderwys (Wet nr 31 van 2000). Staatskoerant, No 34620 Pretoria: Staatsdrukkers.

Robinson, C. 2011. Hair as race: Why “good hair” may be bad for black females. Howard Journal of Communications, 22(4):358–76.

Rudman, L en M McLean 2015. The role of appearance stigma in implicit racial ingroup bias. Group Processes and Intergroup Relations, 19(3):374–93.

Sans Souci Girls’ High School pupils protest against “discriminatory” code of conduct. Mail & Guardian, 1 September 2016. https://mg.co.za/article/2016-09-01-sans-souci-girls-high-school-pupils-protest-against-discriminatory-code-of-conduct (11 Maart 2021 geraadpleeg).

Shay, S. 2016. Curricula at the boundaries. Higher Education, 71:767–79.

Sini, R. 2018. US school faces backlash after black student’s “unnatural hair” criticised. https://www.bbc.com/news/world-us-canada-45269540 (11 Maart 2021 geraadpleeg).

Thirteen crazy things white people think about black hair. https://www.youtube.com/watch?v=dN5DXQMxWCY (11 Maart 2021 geraadpleeg).

Tronto, J. 2015. Who cares? How to reshape a democratic politics. Cornell University, Ithaca, New York.

Western Cape Education Department. 2020. Cape teaching and leadership minute: 0004/2020. Protocol for Teaching Practice. Kaapstad.

Zipin, L, A Fataar en A Brennan. 2015. Can social realism do social justice? Debating the warrants for curriculum knowledge selection. Education as Change, 19(2):9–36.

  • 1

Kommentaar

  • Estelle Kruger
    Estelle Kruger

    Dankie vir ń ingeligte en goed deurdagte artikel - dit sal seker opgevolg kan word met empiriese navorsing.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top