Happy New Year: ’n teaterresensie

  • 0

Foto’s: Claude Barnardo

Kom ek wees sommer van die begin af eerlik: ek het nog nie voorheen van die Midsummer (A Play With Songs) - waarvan hierdie vertoning ’n David Kramer-verwerking is - gehoor nie en is dus heel huppelend na die Fugard vir ’n "lekker ligteluim musical" deur David Kramer. Enigiets waaraan hy deel het, tel altyd onder my gunstelinge.

Ek het voor die vertoning my program noukeurig deurgelees en geweet waaroor die storie gaan en wie die twee akteurs in die rolverdeling is.

Wat ek nie opgelet het nie, is dat ons nie in die hoofteater instap nie en ook dat daar net twee name in die vertoning se produksienotas is nie. Hoe maak jy nou ’n musical met twee mense en klaarblyklik geen kostuums of stelle wat geruil word nie?

Maar met die internasionaal-gerekende regisseur en voormalige kunsdirekteur van die Tricycle Theatre in Londen Nicolas Kent aan stuur van sake, is die hele musical-idee gou by die deur uit. Hy bring die beste na vore in Bianca Flanders as Lee-André, en Dean Balie as Dan.

Hy verduidelik in die program: Hy en David Kramer ken mekaar al jare en nadat hy die oorspronklike produksie op die Edinburgh-fees gesien het, het hy voorgestel David verwerk dit vir die suidelike halfrond en maak dit ’n liefdesverhaal in Kaapstad, wat op Oujaarsaand en Nuwejaarsoggend afspeel.

David was baie gewillig en die regte vir die verwerking is gou deur David Greig en Gordon McIntyre, toegeken. “Bob en Helena het maklik gemetamorfiseer in Dan en Lee-André; die Edinburgh musikale ritmies het ’n Afrika-slag gekry, Skots is hier en daar in Afrikaans vertaal en Arthur’s Seat word toe Tafelberg.”

Die storie in kort: suksesvolle egskeidingsprokureur, Lee-André, ontmoet die gesteelde-motor-verkoopsman, Dan, in ’n duur tapaskroeg in Kaapstad, net nadat haar afspraak met die getroude man met wie sy ’n verhouding het, gekanselleer word. Dan besef sy is heeltemal buite sy bereik en sy weet Dan is glad nie haar tipe man nie, maar twee desperate siele op Oujaarsaand is tot vele dinge in staat. Daar is interessante kinkels in die verhaal, met Dan wat roekeloos raak met ’n baie nare man se geld, troues wat omvergegooi word en wilde jaagtogte deur die strate wat Nuwejaarsnaweek in baie pret omskep.

Hoe beter hulle mekaar leer ken, hoe meer besef hulle hul vooropgestelde idees van mekaar is heeltemal ongegrond en daar is dalk ’n tweede kans in die lewe – en ook vir die liefde.

Die stel bestaan uit die minimum: twee banke op wiele en twee kleiner bankies wat bymekaar gevoeg word en rondgeskuif word – soms in ’n bed, soms word dit ’n motor wanneer die toneel dit vra; en die twee akteurs wat die minimum klere ruil om verskillende karakters te vertolk. Bianca speel ook die krimineelbaas, Mr Big en Dean speel haar susterskind, Brendon.

Die storie word afgewissel met dialoog tussen die karakters en musiek. Een stukkie dialoog gee die algemene gevoel van waar Lee-André haarself op 35 bevind: alleen en effe moedeloos en iemand wat te veel drink. “[A]s my babbelas ’n voorstad was, sou dit Bellville wees; as dit ’n dorp was, sou dit Bloemfontein wees,” mymer sy. Dan worstel met dieselfde vraag op sy verjaardag: “Is dit ... is dit al wat die lewe vir my gaan wees?”

Selfs die liedjies is van toepassing op hul dilemma in hul middel-dertigs: “It is hard enough to breathe for myself darling, I cannot breathe for you, as well. With my last breath, I will give you my last kiss.” Altwee voel vasgekeer en onvergenoegd.

Die agtergrond is ’n ewigveranderende illustrasiebord met meer as 60 werke van Lucie de Moyencourt, wat die omgewing verteenwoordig. Lucie is bekend vir haar sketse van voorstede en woonbuurte en is ’n voormalige argitek. Sy is mal daaroor om mense dop te hou terwyl hulle hul daaglikse gang gaan. Haar ma was ’n danser en Lucie het ure agter die verhoog gesit en haar ma dopgehou en dit was vir haar ’n lekker projek om weer by die verhoog betrokke te wees.

Haar groot wit-en-swart-sketse van die tapaskroeg, Tafelberg, Seinheuwel, die Kompanjiestuin en selfs die konferensie vir Dans, "bring jou gou in die prentjie", as’t ware.

Daar is ook tans ’n solo-uitstalling van Lucie by die Voorkamer Gallery by Chandler House in Kerkstraat, met 300 Kaapstad sketse wat die afgelope somer voltooi is.

Dié toneelstuk laat jou met ’n ligte hart uit die teater stap, want albei akteurs leef hulle oortuigend in die rolle in, die musiek laat jou voete onwetend saamtik en danksy hul vertellings en Lucie se illustrasies, wandel jy in jou gedagtes vir ’n uur of wat deur die strate van Kaapstad en glo weer in tweede kanse. Want “Love will break your heart, but sometimes you want it to.”

Happy New Year (A Play With Songs)
Met: Bianca Flanders en Dean Balie

Oorspronklike teks deur David Greig; oorspronklike liedjieskrywer en musiek deur Gordon McIntyre, aangepas deur David Kramer.
Regisseur: Nicolas Kent
Stel: Chris Pienaar
Illustreerder: Lucie de Moyencourt
The Fugard-teater, tot 23 Maart
Kaartjies deur TheFugard.com of die kaartjieskantoor, (021) 461-4554

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top