
Hansard
’n Resep vir ’n genotvolle teateraand wat jou versadig sal laat en baie stof tot nadenke gee
Genoeg vir die hele wêreld en sy maat
Marineertyd: 85 minute sonder pouse
Bestanddele
- Twee uitstekende, bekroonde akteurs
- ’n Filmmaker met ’n aanvoeling en ’n oog vir detail wat die teks geskryf het
- ’n Televisie-glanspersoonlikheid in die regisseurstoel
Metode
- Voeg twee akteurs in intieme teater saam, verskaf briljante teks en laat die bestanddele goed meng voor die ontknoping in die laaste vyf minute.
Lees jy op, is die Hansard-verslag, die amptelike verslag van alle toesprake en debatte in alle huise van die parlement, wat in 1924 in Suid-Afrika in gebruik geneem is, maar sedert 1803 deur Thomas Curson Hansard (1776–1833) in die Britse parlement gebruik is. Vandag nog is daar personeel wat alle toesprake dokumenteer.
Alles wat binne die vier mure van die parlement gesê word, word elektronies vasgelê. Dit word neergeskryf, daarna geredigeer en herhalings word verwyder. Dan kry die spreker die kans om dit te hersien, maar geen betekenisveranderinge of byvoegings mag gemaak word nie.
Hansard is dus nie streng verbatim nie. So ook nie karakter Diana (Fiona Ramsay) se aanslae teen Robin (Graham Hopkins) nie, maar die kern van haar woorde is duidelik genoeg. Robin kry ook nie kans om betekenisveranderinge of byvoegings te maak nie en herhalings is ook nie uitgehaal nie.

Die egpaar het ’n woonstel in Londen, vanwaar Robin deur die week as Tory-parlementslid werk. Naweke pak hy die pad aan na die Cotswolds, waar Diana hom inwag. Met nie veel meer te doen as ure verwyl met sjerrie of gin drink nie, het sy genoeg tyd om skietgoed vir argumente te versamel en haar moeë man dan daarmee te peper wanneer hy tuiskom.
Dié Hansard-verwysing is beslis gepas, hoewel dit ’n heeltemal ander betekenis in die Hesketh-huishouding gekry het. Diana se masjienvuurargumente oor al die verontregtings wat sy deur die jare as eggenoot van haar parlementslidman moes verduur, laat hom tereg opmerk dis “ons eie privaat Hansard dié”.
Dié bekgeveg tussen die egpaar is hartverskeurend. Robin is ver-regs en minagtend teenoor identiteitspolitiek, terwyl Diana se liberale houdings tog by tye opwindend krities is oor Tory-heerskappy en -aansprake.
Diana sê op ’n keer dat sy nie ver-links in haar oortuiginge is soos mense dalk glo of hoogs gespanne is soos Robin beweer nie, maar “baie ongelukkig” is. “En die res” – soos sy dit verduidelik – is nie geskiedenis nie, “dis tragedie”.
Robin maak haar aanklagte af en spot haar dat sy haar hele lewe agter die verhooggordyn gewag het en hom ondersteun het en dat dit nou haar kans is om haar glorie te ervaar as sy ’n dramatiese dood sterf of erg ly, omdat sy so oordryf.
Diana smeek Robin om sy woorde aan die Britse publiek goed te kies, hulle te help om die groter prentjie te sien, maar sy verweer is dat die Britte ’n konserwatiewe nasie is en nie wil hê dinge moet verander nie. Sy beskuldig hom dat hy party mense vertel waarvoor hulle moet bang wees en dan beloftes maak oor hoe die party hulle gaan beskerm.
Die hele snydende gesprek kom tot ’n hoogtepunt as sy hom verwyt oor sy hantering van skole se behandeling van homoseksuele kinders. Robin sê mense moet ophou om hul gevoelens te ontleed, “wie weet watter skrikwekkende goed jy gaan ontdek”, en net alles in die lewe met ywer aanpak en jou beste lewer. Dis politiekery op sy beste.
Maar daar skuil ’n dieper donker hier. Die verwydering tussen die egpaar het ’n lang geskiedenis en soos die toneelstuk na sy einde loop, word dit baie duidelik wat hulle só kwetsend en skoppend uitmekaar geskeur het.
Die toneelstuk speel in 1988 af, met Margaret Thatcher aan bewind, maar tog is dié betrokke someroggend se opmerkings baie naby aan die Brittanje van 2023 met Brexit, stakings, diskriminasie en ook die geslagsongelykheid wat steeds vasgevang is in die tagtigs.
Dit is die dramaturg en akteur Simon Woods se eerste toneelstuk. Hy is bekend vir sy optredes in die trefferfliek Pride and Prejudice en op televisie in Rome, Cranford and Spooks. Terwyl hy ’n suksesvolle loopbaan as akteur het, het hy hom ook tot skryf gewend. Dit het in 2019 gestalte gegee aan hierdie aangrypende toneelstuk.
Ramsay en Hopkins het deur die jare aan verskeie produksies saamgewerk en span weer op die verhoog saam, nadat hulle in Life x 3, Honour, Talking Heads en As You Like verskyn het, en saam is die twee geregisseer deur Robert Whitehead in Six Degrees of Separation.
Fiona het die afgelope paar jaar die Kaapse gehore betower met haar optredes in A Streetcar Named Desire, The Glass Menagerie en Sweet Bird of Youth. Dit is ’n welkome terugkeer vir haar na die Baxter, waar sy in 2007 laas te sien was in die klassieke Who’s Afraid of Virginia Woolf?.
Ek kan nie meer met die veteraan-teaterresensent Robyn Sassen saamstem nie: “[...] met Whitehead, Ramsay en Hopkins is hierdie produksie onder die beste van die beste van hierdie vlak van teatermaak, want dit vee jou onvermydelik deur sy eb en gety van taal en politiek. As jy van plan is om vanjaar een toneelstuk te sien – hierdie dekade – sien hierdie een.”
-
Foto’s: Philip Kuhn
Hansard
Met Fiona Ramsay en Graham Hopkins
Regisseur: Robert Whitehead
Skrywer: Simon Woods
Die Baxter Golden Arrow-teater, Rondebosch
Tot 18 Februarie 2023
Kaartjies deur Webtickets of Pick n Pay-takke. Kaartjiepryse wissel tussen R150 en R200.
Geen o/14’s

