Hanru Niemand het al groot name in die media en die kunstenaarswêreld laat stilsit en luister na sy eiesoortige Afrikaanse folkmusiek. Hy beantwoord ’n paar vrae oor sy musiek en loopbaan.
Dagsê, Hanru. Hoe’s dinge?
OK, dankie, en jy? Het so bietjie ’n hol kol op my maag, maar mens deal maar daarmee.
Jou eerste twee albums het baie lof in die media ontvang. “Teen die tweede refrein smelt alle moontlike weerstand weg soos ryp ná die winter,” het Volksblad al geskryf, en in Huisgenoot is gesê: “Sy vlymskerp lirieke en eiesoortige folk-aanslag waai soos ’n vars briesie oor die Afrikaanse musiektoneel.” Hoe ervaar jy dit as hierdie soort lof na jou kant toe kom?
Dis wonderlik. Ek waardeer dit regtig baie. Mens moet seker nie musiek maak vir die erkenning nie, maar ek dink tog dis ’n groot rede hoekom mens dit publiseer, en nie net stilweg jou trade ply in die donker hoekies van jou studio nie. So, ja, terugvoer soos dit maak vir my die hele album die moeite werd.
Enige musikant wie se werk buite die hoofstroom val, vind dit soms moeilik om albumverkope te laat aansluit by lof soos dié. Was en is dit jou ervaring, of hoe beskou jy dit?
Vir seker. My albumverkope is eintlik bietjie lagwekkend. Die bietjie blootstelling wat mens in die hoofstroom kry, lyk ook nie of dit regtig convert in album- of kaartjie-verkope nie. Dit het dan weer ’n rimpel-effek: feeste (selfs redelik gekultiveerde feeste) is dan ook sku om jou te nooi (want wie's jy nou eintlik en hoekom het ons nog nooit van jou gehoor nie?). Maar ek verstaan maar bitter min van bemarking af, so dis my eie skuld ook.
Jou jongste album, Roepwoorde, is deur Mariana Malan van Die Burger aangewys as een van die top-10 albums van 2010. Watter elemente van dié album dink jy maak hierdie soort indruk en hoe het dit verskil van jou eerste album, Tot Stilte?
Die twee verskil eintlik nogal heelwat. Tot Stilte was amper soos ’n “greatest hits”. Dis ’n versameling songs. Ek het voor dit al omtrent tien jaar lank gespeel en songs uitgetoets voor gehore. Al die wenners het die album gehaal. Omdat dit my eerste album was, het ek ook gegaan vir ’n produksie wat so luisteraarsvriendelik as moontlik was. Ek het in my dwaasheid gedink dat ek dalk ’n bietjie radiospeeltyd op die groot radio kon kry, maar dit was helaas nie die geval nie. Roepwoorde is meer van ’n “projek” (mense hou mos daarvan om hul albums ’n “projek” te noem). Dit is die songs wat ek gebruik het vir my kabaret (as mens dit ’n kabaret kan noem) met dieselfde naam. So die songs is meer van ’n eenheid. Die produksie was ook ’n bietjie growwer (hoewel net effentjies).
Gepraat van Roepwoorde – 2010 is darem al ’n ver ent agter ons. Werk jy aan ’n nuwe album, of met watter musiekprojekte hou jy jou besig?
Daar is actually nogal iets groots waarmee ek besig is. Ek skryf aan ’n lang verhalende gedig, waarmee ek allerhande interessante musikale dinge wil doen en waarby ek heelwat mense gaan betrek. Die gedig self is amper klaar, en van die musiek is ook al uitgewerk. Intussen het ek so ’n handvol songs waarmee ek ook besig is. Ek gaan deur sulke fases waar ek niks klaarmaak nie. So daar is ’n klomp halfklaar songs. Maar ek het byvoorbeeld gisteraand een begin klaarmaak wat nou al jare in my kas slaap. Dit sou eers gaan oor whisky, nou gaan dit oor batterysuur.
In dieselfde asem – verskeie kunstenaars mik deesdae om musiek eerder aanlyn te versprei as om te belê in ’n album. Wat is jou gevoel hieroor wat die twee mediums se aard en die onderskeie positiewe en negatiewe elemente betref?
Ja wat, ek hou nogal van die aanlyn ding. Gegee dat die harde kopieë so moeilik verkoop, is dit vir ouens soos ons dikwels ’n waste om ’n groot klomp te laat druk, dit wil sê jy maak ’n groter verlies as wat jy andersins sou. Ek dink ook mense se musiekervarings is al hoe meer aanlyn en deur sosiale media. Jy gaan kliek op iets wat een van jou friends voorstel en daar gaat jy. So op verskeie vlakke maak dit meer sin – dis die pragmatiese opsie. Maar dis tog ook ’n bietjie hartseer – dis ’n wonderlike gevoel om jou CD by die drukkers te gaan optel. Dit maak ook die album’n bietjie van ’n lost art. Die klem val nou net op enkele songs. Die kuns om ’n album as ’n geheel op te stel (en ook die luisteraar se bereidwilligheid om dit enduit deur te luister) soos wat Pink Floyd en Radiohead dit kon regkry, is blykbaar iets wat min aandag geniet. En dis vir my hartseer.
Jy tree gereeld saam met jou medekunstenaar Kaalvoet du Toit op as deel van die Just Folkin’ Around-vertonings. Wat is die aard van hierdie projek en wat is die toekoms daarvan?
Ek dink ons speel maar net lekker. Dis glad nie ernstig nie, maar, ironies genoeg, dink ek dis juis dit wat die projek lewenskragtig maak. Ons geniet dit, ons (maak of ons) weet wat ons doen, en mense geniet dit.
As deel van Just Folkin’ Around en as solo-kunstenaar het jy al op verskeie plekke in die land opgetree. Folksangers het ’n geneigdheid om ’n skerp oog te hê vir die “siel” van plekke en die mense wat daar woon. Wat is of was vir jou die lekkerste of interessantste plekke om op te tree? Enige staaltjies in hierdie verband?
Wel, ek kan jou ook vertel van die plekke wat ek haat! Byvoorbeeld die Keg in Witbank. Dit was aaklig. Maar ek en Kaalvoet het nou die dag langs ’n driving range gespeel, en dit was weer besonder rustig. Ek het al in ysige koue in Rosendal gespeel, en nice mense het vir my ’n poncho geleen. Ek onthou ook hoe ek en ’n bebaarde joernalis eenmaal met ’n te klein kar en speakers die Oos-Vrystaat ingevaar het. Daar was ’n ladies’ night in Barberton waar daar vir lank geen ladies was nie, wat later in ’n karaoke-fees ontaard het. Van my lekkerste gigs was huiskonserte in Melville. Dis alles goeie tye. Die hoe jy daar kom – en hoe jy daar wegkom is dikwels die interessantste. Dan is daar is ’n paar teaters wat vir my baie spesiaal is: ek is baie lief vir die Ou Meul in die Paarl. Ek het van kleins af daar opgetree, so dis soos my tuisveld. Dan is daar ook Dorpstraat (die ou en die nuwe een), waarvan ek veral hou omdat ek so baie van die bestuurders hou. Ek speel ook baie lekker in die Boer in Durbanville.
Op daardie noot van “siel” – jy is ’n praktiserende sielkundige in Kaapstad se noordelike voorstede. Hoe, indien enigsins, beïnvloed dit jou musiek? Hoe balanseer jy dié loopbaan met jou loopbaan as kunstenaar?
Wel, dit raak moeiliker. Dis maar moeilik om voldag te werk, ’n gesin te hê, en dan nog iewers tyd te kry vir skryf, optree en (natuurlik) die gevreesde bemarking. Dit het inhoudsgewys ook ’n invloed. Mens sit maar met baie emosies, stories wat jy wil vertel, maar jy mag nie (omdat dit vertroulik is). So dan prut die goed aan jou binnekant, en dan ’n jaar of wat later kom dit haas onherkenbaar uit. Dis die tipe songs waarmee ek nou besig is. Hulle's nogal swaar, en is soos ’n mengelmoes of ’n smeltkroes van ’n klomp mense (insluitend my eie) se stories. Maar ek hou daarvan.
Afrikaanse folkmusiek is ’n interessante verskynsel in terme daarvan dat dit terselfdertyd uiters gewild is en baie kunstenaars hulself daarin begeef, maar ook dat dit nooit waarlik die “hoofstroom” betree nie. Waaraan dink jy is dit te wyte en dink jy kunstenaars moet van benadering verander in hierdie opsig?
Mens kan seker van benadering verander, afhangend waarna jy soek. Folk is nou maar eenmaal nie almal se cup of tea nie. Ek glo nie daarin om bewustelik in ’n spesifieke rigting of genre te gaan nie. Ek kategoriseer maar net my musiek so omdat dit dinge makliker maak, maar eintlik skryf ek net, dan kyk ek hoe klink dit as dit uitkom. So is van die songs op Roepwoorde seker eintlik kabaret. Ek dink die genre self, veral die musikale aspek daarvan, se gewildheid sal wissel met die tye. Miskien maak opera eendag ’n comeback. Genres wat leun op sterk lirieke sal more often than not (en natuurlik is daar uitsonderings) nie so goed ontvang word nie. Die meeste mense wil seker nie so hard konsentreer nie.
Wat hou die verre toekoms vir Hanru Niemand die musikant in?
Ek gaan deuntjies in my kop neurie terwyl ek op ’n stoep sit en tuur. Miskien af en toe iets neerskryf. Die meeste dinge sal ek vergeet. En as my hande moeg raak, sal ek ophou kitaar speel.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


Kommentaar
Mal oor Hanru se musiek! Bly oor die onderhoud. Het ook 'n kort ietsie oor Hanru geskryf in die maand se Ditsem. Loer gerus op Ditsem se webblad, links in die middel rond onder "algemeen" by Tolbos - probeer daar blootstelling gee aan al die onontdekte diamante in Afrikaanse musiek. C