Stel jou voor ’n voël vlieg van punt A na punt B. Hy mag dalk effens duik of klim, maar sy vlugpad sal op die ou einde meestal reguit wees. ’n Skoenlapper wat dieselfde doen, sal selfs op ’n windstil dag links en regs, op en af fladder. Sy vlugpad sal meer na ’n krabbellyn as ’n reguit streep lyk.
Dis ’n poging om Hajime Chitose se sang te beskryf. Die klank is lig en fladder om die note. Dis ’n falsetto-effek, maar met baie kleiner spronge as iets soos jodel. Eers klink dit amper, soos iemand opgemerk het, asof sy onseker van haarself is. Maar dis dalk eerder ’n klank van verwondering oor die wêreld en lewe wat haar eeue-oue volksliedjies besing.
Die musiekstyl word shima-uta genoem en kom van Amami-Oshima, een van ’n string eilande wat suid van Japan se vier hoofeilande tot naby die Okinawa-argipel strek. Dis ’n plek van wit strande, oeroue manglietwoude, hoë kranse en gesogte sy wat al honderde jare gebruik word om kimono’s te maak.
Shima beteken eiland, maar ook gemeenskap. Okinawa het uitheemse invloede by hulle kultuur ingewerk, maar op Amami-Oshima is ou tradisies jaloers opgepas. Die liedjies wat Hajima sing, klink al geslagte lank dieselfde.
Sy is op 5 Januarie 1979 gebore. In haar laerskool van vier kinders (almal familie) het sy op aandrang van haar ma die shamisen leer speel. “Ek het op 10 of 11 shima-uta begin verken,” vertel Hajime. “Omdat daar geen bladmusiek vir shamisen is nie, moes ek die liedjies uit die kop leer. Ek het begin sing om dit makliker te maak!”
Op 15 het sy haar eerste kasset opgeneem. Drie jaar later het sy die eiland se grootste musiekprys vir skoolkinders gewen. Die platemaatskappy het begin bel, maar Hajime het hulle nie vertrou nie en besluit sy wil nie ’n sanger wees nie. In plaas daarvan is sy in 1998 na Osaka om soos haar suster ’n skoonheidsterapeut te word. Daar het sy uitgevind dat sy asma het. Die werk met chemikalieë het dit vererger en sy kon nie verder studeer nie.
Net voordat sy terug huis toe is, het sy die een platemaatskappy genader wat destyds na haar huis gekom het om oor ’n kontrak te praat. Op haar eerste album vir hulle het sy vier Engelse liedjies gesing, al kon sy nie ’n woord verstaan nie. Een van hulle was “Birthday” deur die Sugarcubes. “Ek het Björk geken en ek wou uitvind of ek so ’n soort stem het,” sê sy.
Oor die volgende 20 jaar het Hajime haar klank gevind en ’n geliefde kunstenaar geword. Van haar liedjies is op anime-klankbane gebruik en so het jonger mense haar leer ken. Sy het met oorsese kunstenaars soos Sly & Robbie en Deep Forest saamgewerk en tussendeur was daar suiwer tradisionale albums wat die puriste gelukkig gehou het. Een van haar groot oomblikke was toe sy met die herdenking van die Hiroshima-bom ’n anti-oorloglied, "Dead Girl”, saam met Ryuichi Sakamoto gesing het. Dit was voor die Genbaku-koepel, ’n wêrelderfenisplek en die enigste gebou wat feitlik reg onder die bomontploffing was en nie heeltemal verwoes is nie.
Baie van dié musiek is moeilik om op te spoor, maar al die stroomdienste het minstens 2018 se album, Amami Shima-Uta, en die nuwe Amami Shima-Uta Remix. Dis die beste plek om haar te leer ken, met ses groot name in elektronika wat van haar vorige album se musiek vertolk.
Wat hulle daarmee doen, is fassinerend. Chihei Hatakeyama en wyle Ras G omring haar stem met dromerige, oop ruimtes. Minder gesoute kunstenaars sou dit na spa-musiek laat klink het, maar nie hulle nie. Tim Hecker voer die sang deur ’n “auto-tuner” en Dorian Concept skiet met ’n bonsende ritme ’n ander rigting in. Dan sluit Ryuichi Sakamoto af met ’n melankoliese, spookagtige landskap wat in jou kop bly lank nadat dit klaargemaak het.
Na dié bekendstelling is die oorspronklike album toegankliker. Dis ’n uitdaging vir omtrent enige stel musiekore en ’n mens kan dit nie net laat loop terwyl jy met iets anders besig is nie. Onverdeelde aandag en ’n bietjie geduld maak dit die luister werd.
Daar is glo studies wat bewys dat shima-uta, en veral Hajima se sangstyl, ’n mens laat ontspan. Dalk, of dalk nie, maar haar stem en musiek is iets uit ’n ander wêreld waar ’n mens se gedagtes heelwat ligter word.


