Haar ander vel

  • 1

“Haar ander vel” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.

*

Haar ander vel

Hoe ouer sy word, hoe moeiliker is dit om stories te jag. Sy het vergroeid geraak aan haar werksvel, die een wat dit móét en wat wíl en te veel doen. Ook aan haar gemaksvel, volgeprop met vertoon- en kla-stories wat almal reeds ken. Boonop loop sy minder rond, sukkel om boom te klim, na die maan te kyk en te verdwyn in die stukkie veldskoen waarmee ǀKaggen die uitspansel verlig het. Sy sit nie lank genoeg stil om te ruik nie en telkemale wanneer die fluister begin en haar leeuhare orent staan, word sy teruggeruk in haar onderrok van ma- en mensdinge.

’n Droë pels ruik anders. Soos grond gemeng met son. Glad nie souterig nie. Ek sprei die pels oop op die kruin van die sandduin tussen die fynbos. Ek raak een vir een aan die plante: seepampoentjies met wollerige grys-wit blare en dertien geel kroonblare vanaf he-loves-me tot he-loves-me-not tot dankie tog he-loves-me; blou-pers keurtjieblomme tussen die harde takkerige blare, rotsmagrietjies, lobelias, somerblommetjies. Hier is nie kooigoed nie, maar by die klipstapel groei daar baie. Ek stap soontoe, tel die witklip op en grou daarmee tot ek by die volstruiseier met water kom. Drink diep. Soetwater, so anders as die see. Ek trek my leerrompie aan. Dan pluk ek bondels kooigoed en gaan pak dit op die pels. Gaan haal nog. Nooit sal ek moeg raak vir die kneus-anysgeur van kooigoed nie! Kry ook seewier en dryfhout om te vleg vir ’n afskorting – die wind gaan nou-nou begin waai. Dit lyk goed. Daar’s genoeg plek vir wegkruipertjie speel saam met Gangans, my enigste mensedogter, my hart. Ek wonder of sy my sal herken; ek sal haar ken – hou haar hoeka dop as sy kom swem in die see. Miskien sal sy my verwyt? Of haat? Nee, nie nou soontoe gaan nie. Nog kooigoed. Rangskik die seepampoentjies en babytoe-skulpe in ’n spiraal. Dan gaan sit ek op die duin en kyk hoe die strand, see en lug skoon uitspattig raak met die sak van die son, skuur my droë vel met die warm sand. Ek wag vir my kind en my man. Ek wil hulle vashou, by my hê, alles hoor.

Buzz. Fok. Pieng.

Een van die nuwe dinge van die komperfone is om foto’s saam te gooi wat skynbaar bymekaar pas. Foto’s met papier-Krismishoedjies, foto’s van die kinders wat kaartspeel, mekaar duik, gesigte trek, foto’s op dieselle dag geneem in verskillende jare met familie en vriende, ook met ma, pa, dad, skoomie, Ian, Kin – die swart gat van verlies word net groter in haar bors; dood, dood waar is jou angel nie? – foto’s van kos, die see, wolke, voëls, blou deure, murasies, gradeplegtighede, rotsklim, nommerplate van karre wat op haar parkering by die universiteit staan, die kuier by die Sederberge, konferensies, van honde en bome en blomme, studente, boekebuiteblaaie; wanneer gaan sy weer verdwyn in fiksie?, en so meer. En nou hier in Johannesburg, na die Desembervakansie, te midde van die storie oor die selkievrou wat wag vir haar geliefde op ’n duin in die Overberg, net op die punt waar sy haar lyf skuur met sand om die skilferigheid van haar mensevel af te kry, pop foto’s op wat by die manatokaboom geneem is by Skippiesvlei.

Eers is die skrywer vies vir die onderbreking; die sperdatum vir die storie is hierdie week. Sy het nou net begin wonder of die selkievrou se mensevel skubberig-droog gevoel het, soos iemand wat kop tot tone in gips was vir ses jaar? Dalk jeuk die vel. Dis seker skilferig, beslis nie soos ekseem nie. Sy kan haar altyd laat aalwynsap aansmeer. In die mites word die vrouens uitgebeeld as mooi soos meerminmeisies en vreeslik diensbaar. Nee, dis nie reg nie. Háár selkievrou is sterk, rond, vetgelukkig, bruin soos nat seebamboes, slim. ’n Seekrotoa.

Dit het begin as ’n storie vol hoop. Want wragtig – die wêreld is gekkig. Daar is nie eens meer gerugte van oorloë nie. Die eindtye is alledaagse nuus. Goewermente pleeg grudade, instansies belieg mekaar, leiers word al hoe meer selfvoldaan, volgelinge klou vas aan ideologieë en tradisies, almal weet van beter, wetenskaplikes bedrieg, sisteme buig oor vir fundamentaliste en die alewige gesanik oor kunsmatig intelligensie en die algoritmes. Dis onmin tot vervelens toe. Nuusnagmerries. Aardbewings. Oorstromings. Epidemies. Openbaring klink soos kinderstories.

Dan maar keer na die klein geskiedenisse van alledaagse mense. Sy praat met vreemdelinge, kennisse, studente. Hoe meer sy uitreik, hoe meer ervaar sy agterdog en wanhoop. Sy keer haar na die oorblyfsels van die tyd voor verwestering. Willem Bleek en Lucy Lloyd se versameling help haar ontvlug. Die toe-eiening is aanmatigend, too-little-too-late. Ontsnap na die Words-with-Friends-toepassing.

Die velle papiere wat sy regskuif om op te skryf, die skerm op die rekenaar klou aan die leegheid. Maar haar selkievrou bly torring. Die navorsing wat sy gedoen het oor seeleeus en mites, oor bloublasies en bobbejane wat glad nie meer bang is vir mense nie, dit als spook by haar.

Die skrywer weet dat sy wegbeur om die deel te skryf waar die selkievrou – miskien moet sy haar Hannah noem – se gewebde hande en voete geamputeer word deur die mans wat dit vir die inyanga verkoop om kragtige muti te maak sodat hulle beskerm kan word teen die polieste, die hawks, die sindikate. Hulle, die perlemoeninsamelaars, plukkers, plunderaars. Die jongmans vasgevang in tik en ideologieë, afvalstukke van apartheid, street-wise and dangerous. Sy gaan soek die gedig wat sy oor die perlemoen geskryf het, op een van haar ou geheuestafies.

dis skemer
Mollusca Gastropoda Halitoidea Halitiotis Midae
wag vir hooggety
vir die swaai van die aarde na die maan
vir die volvloei warm water
deur die mantelholte
in die kieuekamer
uit by die asemhalingspoorte uit

 dis skemer
die hart van die perlemoen klop aan die linkerkant
en bloed vloei deur die are en slagare en sinusse en spiere en voortplantingsklier

 oor van die see
hoor die trilling van skemer
wat deur die spiraalskulp roep
na die ova van die grys-groen vroue
en die sperma van die room-wit mans

 kyk met een paar oë na
die gewimper van miljuisende larwe
swemhare net beskikbaar vir ’n week
skoon gulhartig oor die styging en daling van die see

skop vas klipkous
onder ’n waterhiasint en proe
die kristal en seewier
met jou rasper radula

perlemoen word hard
perlemoer word meer en meer
besweer die krappe krewe seekatte en ook dié se sterre
plunderaars rowers aartskindermisdadigers mens

Sy weet wragtig nie waar woorde vandaan sal kom om die selkievrou se pyn te beskryf nie. Dit moet ’n oergil wees. Een wat die lyding van blou-bruin-grou-groen-grys-amber en amper swart oë van al die kinders en mense, in alle tale, tye en plekke wat verkrag, vermink, ontmens en opgekap word, manifesteer – HereJesusGodHelpOns [ā'lē, ā'lē, lă'mă sabăch'thănē]!

Hoe groter die pyn, hoe magtiger die muti, hoe meer die moolah. Godweet, wreed is nie meer ’n woord nie.

Kyk net hoe ver het ons gekom.

Dit was ’n gejil en gesmeek om almal in hulle Krismis-T-shirts bymekaar te kry vir ’n foto, maar sy het nie kopgegee nie. En toe die redekawelry van plek, rigting, perspektief, met wie se kamera, wat van Ouma Skippie se tuinbankie, wie sit voor, staan, hou-nou-op!, wie neem, kry-tog-net-klaar, die boom is ’n indringer, hier het ons mamma se as gestrooi, is dit moontlik veertien jaar terug, wens die ander boetie en sussie en hulle families was ook hier, kom ons gaan swem en stap met die honde dit word laat, dis die eerste jaar dat ons nie pa bel op Kersfees nie.

En hier is hulle nou. Almal op ’n paar kiekies.

Die drie sibbe. Hana wat bymekaarhou en vergewe. Sy wat huil en skryf. Boetie-my-bra wat alles kan doen. Al drie is vol plooie, vlekke, bulte, sukkel-met-’n-smile, grysbloupersrooi hare en kenmekaar, gebore in die sestigs, geskool en stief in die sewentigs, tussenin getoë, eie paaie ander lande eie dinge tot hierdie millennium. Kinnersgrootmaak, werkwerkwerk. Saam geknie. Nou moeder- en vaderloos. Sy sien hulle het somehow die grootmense geword. Sy wens die ander twee was ook op die foto. Hulle is mos eintlik vyf, ’n hele hand vol vingers.

’n Foto van haar geliefde, hulle twee willewragtigs en haar – die hele gesin. Dan die niggie en nefies, die boetie en sy dogter, ook die hele kaboedel. Almal saam. Kyk hoe heel is ons, blink ons, heel gewoon is ons. Hierdie is die eintlike storie, ongeskryf, outentiek, vol spelfoute en onvoltooide sinne.

Nou weet ek dat ek te gretig was om voor hom op te daag. Daar was tog genoeg tekens. Drie skepe geanker naby Witklipbaai waar ons mekaar ontmoet. Die wind wat uit twee rigtings waai. ’n Warboel sooïde in die water, tentakels wyd uitgespruit, netels gereed vir verlamming. Die kielwater van die sonvis wat my verwar. Die sewe perlemoenstropers, goedgetik. Op die strand bamboese wat bedrieglik stories skryf.

Hulle het my eerste gewaar. Alles met my gedoen.

Ek weier om dit te vertel. Hierdie gedeelte is verlore, uitgestorwe. Ek verswyg die waarheid.

Ek het gehoor hoe hulle die sakke geplunderde perlemoen optel, my hande en voete los van my het saamgegaan.

Ek gebruik my mond om by my pels uit te kom, ek seil soos ’n slang, wriemel soos ’n geitjie, ruk dit onder die massa walgende kooigoed uit. Sukkelend en stukkend druk ek my stompie bene terug in my pels. Dit ruik nou bloederig, maar soos als sal dit ook verander. Eers sal die sandvlooie kom en die meeue. Dan die ongewerweldes, bakterieë en fungusse. Laaste die maaiers. My bene gly gemaklik in, maar my arms steek vas. Ek val, rol af teen die duin. Gelukkig is my romp mooi vet, my skouers klein. As ek net genoeg energie het om hierdie ongeboorte te voltooi, my kop skuins te draai, my menspyn te verdoof met seeleeu se gebrul.

Dalk kom hy weer terug vir my einde. My ore gespits vir die verste klanke, sy voetval, die klik van sy tong, my naam in sy mond. Maar ek weet dat hy my gehoor het, haar weggedraai het betyds. Maar om my skreeu die strand oorverdowend in die tale wat mense nooit sal verstaan nie. Ek wil glo dat die krappe, strandlopertjies, die bloublasies, alikreukels se sleepsels, die gekoekte seebamboes, seewier en spoelsels skulpe die nawatertjies van onse liefde vir altyd sal uitspel.

Gelukkig word die dood van ’n seeleeu nie bevraagteken nie. Nie eens sonder voor- of agtervinpote nie.

Die vrou tel haar slimfoon op. Sy vee die foto van die seeleeu op die strand uit.

Dit is nou ver genoeg.

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top