H2O

  • 1

Ek probeer die bewing in my hande stilmaak, maar tevergeefs. Dis die grootste mission waarop ek nog gestuur is.

Konsentreer, Petra, konsentreer. Magasyn in die geweer. Vier ekstra clips in my sakke. Geweer gestel op vol outomaties. Skietvaste baadjie aan my lyf, nie dat dit saak sal maak indien ons gevang word nie. Skietvaste baadjies het nog nooit gekeer dat ons kele afgesny en ons bloed gedreineer word nie. Elke druppel vloeistof is kosbaar.

Ons het geen keuse nie. Bly ons in die fort, dan vergaan ons van die dors.

Niks groei in die woestyn nie. Saans, wanneer almal al slaap, vertel my ouma my stories van Voorheen. Ons mag nie van Voorheen praat nie. Mense word gearresteer en dan verdwyn hulle net. Dit maak my senuweeagtig wanneer Oumie van Voorheen praat. Sy sê ons verdien om te weet wat ons verloor het. Voorheen. Voorheen, toe sy nog ’n klein dogtertjie was, was daar water sover as die oog kon sien. Oumie noem dit see. Ek dink dis ’n storie wat Oumie opmaak, soos Rooikappie. See. Verbeel jou. Water sover soos die oog kan sien.

Wel, hierdie twee oë sien net woestyn. En siekte. En dood.

Oumie vertel ook van water wat uit die lug val, sommer vanself, soms vir dae aaneen. Sy was nog baie klein die laaste keer toe dit gebeur het, sy kan nie meer die naam daarvoor onthou nie. Die naam is seker in elk geval op die Verbode Lys. Niemand het iets gedoen om die water op te vang nie, dit het sommer net in die grond verdwyn, soveel water was daar. En hulle het elke dag gewas, twee keer ’n dag. Die vuil water het hulle ook net laat wegloop. Niemand het die water skoongemaak om weer te gebruik nie. Dit was vermors. Dis hoe ek weet Oumie maak weer stories op. Niemand sal water net laat wegloop nie. Niemand. Nie eers die Esidimeniete nie, hulle wat hul klere skeur en kaal in die woestyn hardloop nie. As mense te lank sonder water bly, raak hulle soms so. Dan word hulle uit die gemeenskap weggestuur, want hulle kan die ander siek maak.

Tot nou toe was ek op die portaloo-patrollie. Elke nag, middernag, moet ons met ’n trok van huis tot huis gaan om die vuil emmers bymekaar te maak, leeg te maak en terug te sit. Dan die gevaarlike deel. Ons moet by die fort uit om dit te gaan stort. Te naby, en ons mense begin siek raak. Te ver, en ons loop die gevaar dat een van die rondswerwende tribes ons konvooi gaan voorlê. Voertuie wat aangepas is om op metaangas te werk soos ons s’n, is waardevol.

Die korporasies probeer keer dat ons water op ons eie in die hande kry, of tegnologie ontwikkel wat ons minder afhanklik maak van hulle water, en hulle waterbelasting.

Hulle is gewetenloos. Oumie vertel toe Dag Zero aanbreek, die dag toe die water opgeraak het, het die korporasies hulle weermagte uitgestuur om al die Khoisan dood te maak. Hulle was mense wat in die woestyn grootgeword het, wat geweet het hoe om water te spaar en met min water oor die weg te kom. Die korporasies het die meeste van hulle doodgemaak. Mense met Waterkennis is as vyande van die korporasies verklaar. Hulle kon op sig doodgemaak word. As jy een met Waterkennis doodmaak, was jy verseker van ’n waterpensioen.

Net ’n paar Khoisan het oorleef.

’n Tribe met ’n Khoisan is ’n skatryk tribe. Ons het twee. En hulle gee opleiding vir almal in die tribe. Hulle mag nie die fort verlaat nie en hulle word dag en nag bewaak. Ander tribes wil hulle ontvoer of doodmaak. Altyd. Omdat hulle Waterkennis het.

Maar vandag, vandag gaan ek op my eerste mission om water te gaan haal. Net die beste skieters gaan saam. Die heel beste drywers bestuur die trokke. Vandag gaan ons nie Waterkennis gebruik om water in die hande te kry nie. Ons gaan die een korporasie aanval, en hulle water afvat.

Te lank het die Lille-korporasie gemaak en breek soos hulle wil. Oumie vertel hulle leier was eers in ’n politieke party, toe daar nog ’n politieke demokrasie was. Voor hulle haar uitgeskop het en sy haar eie korporasie begin het. Nou maak hulle geld uit water, en gedroogde kos wat hulle teen die hoogste pryse verkoop. Hulle is in konstante oorlog met die Zille-korporasie. Terwyl hulle met mekaar baklei, gaan ons by die agterdeur in. Maar nie vandag nie. Vandag het ons ’n ander teiken.

Ek weet nie wanneer laas ek in die dag buite die fort was nie. Die meeste geboue is nou net bouvalle. Op een bordjie hang ’n naam. Adderley iets. Beteken niks vir my nie. Maar aan die einde van daai straat is daar ’n gebou met nuwe versterkings. Opgerig deur die Wit Wolf-korporasie. Die wagte het masjiengewere en mortiere. Niemand word daar toegelaat nie, maar elke nag kom lorries met tenks leeg daar in, en gaan vol daar uit. Ons hoor daar is ’n fontein, met vars water wat heeltyd vloei.

Ons gaan tenke vol water vir ons mense haal. By wie gaan hulle kla? Hulle het nie die water verklaar by die Waterraad nie, en hoe kan hulle sê iets is gesteel as hulle dit nooit gehad het nie?

Die Wit Wolwe is wreed. Hulle hang gedroogde koppe van hul vyande om hul nekke in halssnoere. Daarom het ons saamgespan met twee ander tribes.

As ons die gebou kan inneem, sal ons dit ons nuwe basis maak. Daar is genoeg plek vir ons drie tribes om saam te smelt en saam daar te bly. Ons het die nuwe bloed nodig. Al meer van ons babas word gebore met snaaks gevormde koppe, sonder arms en bene. Hulle raak maklik siek en hulle gaan vinnig dood. Oumie sê ons moet met ander tribes begin meng, dan sal dit nie meer gebeur nie.

Die duiwel was eers aanbid as ’n son-god, voordat ons geweet het die son is van die bose. Dit brand ons groente dood. Dit hou die water wat uit die lug val weg, maak nie saak hoeveel keer ons dans om dit op te roep nie. Daarom dat ons nou moet steel.

So what as ons dalk doodgaan in die proses?

Dood is beter as dors.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top