My eerste gedagte toe ek hoor dat Günter Grass oorlede is, was aan die uieskillery. In 2006 het die skrywer in ’n outobiografie onthul dat hy as sewentienjarige loteling ingetrek was tydens die laaste maande van die Tweede Wêreldoorlog. Hy was ingedeel by die Waffen-SS om aan die front te veg, soos duisende ander jong seuns. Hoewel hy openlik daaroor gepraat het met sy skrywersvriende, was dit nie algemeen bekend nie: hy wou dit vir sy kinders en kleinkinders verduidelik en homself van die bedrukkende las daarvan bevry. Intussen het die stof oor die debakel effens gaan lê.
Die heengaan van die Danziger wat mettertyd die spreekwoordelike tweede vel van ’n Berlyner en derde as Hanseaat bygekry het, dokumenteer in ’n sekere sin die einde van ’n gewisse era. Met die dood van Grass verloor die Duitse politiek en kultuur een van die prominentste en sekerlik ook een van die mees omstrede en strydlustigste figure.
Na die oorlog het Grass skone kunste in Düsseldorf en Berlyn studeer. As grafiese kunstenaar het hy ’n tyd lank in die bemarkingswese gewerk terwyl hy ook beeldhouwerk gedoen het. Hy het eers later sy passie vir die skryfkuns ontdek en was een van die stigters van die Groep 47. Jong skrywers soos hy, Martin Walser, Heinrich Böll, Siegfried Lenz en die digter Paul Celan het probeer om die skerwe wat die Nazi’s agtergelaat het, op te ruim.
Grass se skryfwerk was grootliks polities gedrewe. Die Danzig-trilogie was gerig op die ongeërgdheid en amnesie oor die nasionaal-sosialistiese diktatuur wat die naoorlogse tyd gekenmerk het. Sy provokatiewe skryfstyl en passievolle politieke moralisme het vir heelwat – ook kritiese – resonansie gesorg.
Grass was ook aktief by die politiek betrokke en het gereeld ingespring om tydens verkiesings stemme vir die SPD te werf– soms tot die leedwese van partylede wat nie met sy reguit en onkonvensionele aard klaargekom het nie. Hand aan hand met Willy Brandt het Grass brûe tussen Duitsland en Pole help bou.
Die Sweedse Akademie het die Nobelprys vir literatuur in 1999, 40 jaar na die publikasie van Die Bliktrommel, aan Grass toegeken vir sy lewenswerk. Hulle het hom beskryf as ’n skrywer “whose frolicsome black fables portray the forgotten face of history”.
Grass was ’n skepper van magiese realisme wat aangeknoop het aan die broers Grimm se sprokies. Beroemde skrywers soos García Márquez en Salman Rushdie het dikwels betoon dat hulle werk sonder die invloed van Grass nie denkbaar sou wees nie.
Destyds in 1959 was die bliktrommel Oskar ’n literêre rarigheid. Hy vertel sy lewensverhaal van sy geboorte, en dié van sy familie, voor en tydens die oorlog in Danzig, die restourasie en heropbou in die Weste na 1945, terugskouend met die ontstellende heldersiendheid en eiewilligheid van ’n dwerg wat as geestesversteurd in ’n Düsseldorfse kliniek opgeneem is. Die besluit van die driejarige Oskar Mazerath om fisiek op te hou groei, maar kognitief as waarnemer en agitator verder te ontwikkel, het ’n ongelooflike dimensie gehad. Dit het Grass se literêre genialiteit op dertigjarige ouderdom begrond. Jochen Hieber vergelyk Grass se meesterwerk met ander grootse werke in die Duitse letterkunde: Goethe se Werther, Fontane se Effi Briest, Thomas Mann se Buddenbrooks, Kafka se Prozeß, Doblin se Berlin Alexander Platz en Robert Musil se Mann ohne Eigenschaften.
’n Vergelyking met Buddenbrooks is besonder insiggewend. In beide gevalle gaan dit om ’n familiegeskiedenis: by Thomas Mann gaan dit om die ryk middelklas milieu van Lübeck in die 19de eeu, by Grass om die kleinburgerlike milieu in Danzig in die 20ste eeu. In beide gevalle handel dit om debuutromans, waar die letterkundige waarde van voorloperwerke van die skrywers geensins so ’n “ontploffing” van hoogste skryfkuns verraai het nie. Hierdie debuutromans het as’t ware uit die niet verskyn en die uitstaande gehalte daarvan kon kwalik daarna weer deur die twee skrywers geëwenaar word. Dis feitlik onmoontlik om so ’n plotselinge ontploffing van genialiteit te verklaar.
Die herinneringe van bekendes in die kultuurbylaes van koerante werp ’n baie interessante blik op Grass die mens. So skryf Volker Schlöndorff, die regisseur wat Die Blechtrommel verfilm het, dat Grass die stem van die Duitse gees in die wêreld was, hoewel die publiek hom nooit as onfeilbaar beskou het nie. Sy tikmasjien was sy bliktrommel. In die 37 jaar wat hulle mekaar geken het, was Grass iets soos ’n “vaderlike vriend” vir hom. Toe Schlöndorff van sy dood hoor, het hy hom in “’n vertrek toegesluit en soos ’n skoothond gehuil”.
Hulle siening van die wêreld was egter totaal verskillend. Hoewel beide voor die oorlog gebore is, het Schlöndorff die Amerikaners heeltemal anders ervaar as Grass:
Grass was ’n krygsgevangene en het honger gely, terwyl die Amerikaners op die Ryn se oewers sjokolade uitgedeel het aan Schlöndorff, wat toe eers ’n sesjarige seuntjie was. Grass het sy eerste roman in Parys klaar geskryf toe hy matriek geskryf het. Grass was reeds wêreldberoemd toe hy hom skugter genader het om Die Blechtrommel te verfilm. Hy vertel dat terwyl hy die film in Danzig geskiet het, Grass die stel besoek het – sy en Oskar se ouma se aartappelakker. Schlöndorff was so verlam deur Grass se welwillende blik op sy rug dat hy alles die volgende dag moes oordoen.

Hy vertel verder hoe hulle op sy aandrang saamgewerk het aan ’n draaiboek vir ’n opvolg van Die Blechtrommel. Oor die jare het hulle 18 draaiboeke geskryf, maar dit was alles “kopgeboortes”, volgens Schlöndorff, wat nie as film sou deug nie. So het Grass dan ook die boek genoem wat hy later publiseer het.
Schlöndorff het eendag opgemerk dat sulke skryfwerk te eensaam is vir hom. Hy het altyd die gevoel dat die lewe daar buite verbygaan terwyl hy binne sit en skryf. Grass het hom stip aangekyk en gesê: “Dink jy dat dit anders gaan met my?”
Grass kon verskriklik vooringenome wees – by tye ’n regte ideoloog met ’n onbuigsame mening. Dit moes Schlöndorff telkens belewe tydens reise saam na Amerika, in die Arabiese wêreld of in die Verre Ooste. Wat hulle egter verbind het, was hulle liefde vir woude en om sampioene te soek, wat Grass meesterlik toeberei het. Grass was ’n lekkerbek wat uitstekend kon kook.
Salman Rushdie se herinneringe aan Grass is net so menslik. In 1982, terwyl hy in Hamburg was toe die Duitse vertaling van Midnight’s Children verskyn het, het sy uitgewer hom gevra of hy graag vir Grass wou leer ken. Grass het op daardie stadium in Wewelsfleth, ’n dorpie naby Hamburg, gewoon. Hulle het dadelik aanklank by mekaar gevind. Grass het hom sy versameling antieke glase gewys en gesê hy moet vir hom een uitsoek. Intussen het Grass ’n bottel schnapps gaan haal. Teen die tyd dat die bottel sy boom gesien het, was hulle dik vriende.

Grass het twee huise daar gehad: in die een het hulle gewoon en het hy geskryf; die ander huis laer in die straat af was sy ateljee, waar hy skeppende kuns bedryf het. In sy studeerkamer het hy sinne hardop aan homself voorgelees om hom te vergewis van die poëtiese ritme van die klankkomposisie. Laatmiddag, as hy moeg geskryf was, is hy oor na sy ateljee, waar hy ’n ander vorm van kuns bedryf het. Daar het hy bronsbeelde gegiet of etse en sketse van die figure van sy romans gemaak. Hy het alle omslae van sy boeke self ontwerp.
Om hierdie tweede been in die kunste het Rushdie hom amper meer beny as om die genialiteit van sy skryfwerk. Oor Grass se skryfwerk sê Rushdie:
Natuurlik beny ek hom sy kuns om te skryf – sy liefde vir die Grimm-sprokies wat hy in ’n nuwe gewaad laat herleef, vir die swart komedie wat hy in die verwerking van die geskiedenis inbring, vir die speelsheid van sy ernstigheid, vir die onvergeetlike moed waarmee hy die grootste euwel van ons tyd in die gesig gestaar het en die onuitspreekbare in groot kuns verwandel het.

Hy het nog ’n sy van Grass leer ken toe almal wat rang en naam het, uitgenooi was na ’n groot fees ter ere van Grass se 70ste verjaarsdag in ’n teater in Hamburg. Na die lofredes is die verhoog sonder meer in ’n dansparket omskep en het Grass losgelê met walse, polkas, tango’s, foxtrotte, gavottes ...
Rushdie het alles geamuseerd betrag, want die mooiste meisies wou almal met Grass dans. Dis toe, sê hy, dat hy besef het wat Grass werklik was: die grootste danser van die Duitse letterkunde, wat van die verskrikkinge van die geskiedenis draai en swaai na die skoonheid van literatuur, die bose danksy die sjarme van sy persoonlikheid kon oorkom, ook weens sy fyn sin om komedie in die absurde te ontdek.
Reeds in Januarie 2014 het Grass gemerk dat die sandkorreltjies in die uurglas van sy lewe min raak en het hy aangekondig dat hy nie nog ’n roman gaan skryf nie. Sy gesondheid laat hom nie toe om beplanning te doen vir die tydperk van vyf of ses jaar wat nodig sou wees vir nog ’n roman nie. Vyf of ses jaar ... ongelooflik!
Grass is op Maandag 12 April 2015 dood in ’n kliniek in Lübeck. Die volgende gedig het hy geskryf vir sy reis na die anderwêreld:
padkos
met ’n sak neute
wil ek begrawe word
en met die nuutste tandeas dit knersend kraak
waar ek lê, kan vermoed word:
dis hy, nog steeds hy

