
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer van die lesersindruk na LitNet gestuur.
Titel: Gunsteling
Skrywer: Keith Juluka
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9781997434450
Raar, maar waar: In Julie 1991 het ’n groep van meer as 50 staatsaanklaers ’n samesang by Justisie-kollege in Proesstraat, Pretoria, uitgevoer. Ek sal weet, ek was daar, maar ek moet bieg dat net my lippe beweeg het, want ek kan nie sing nie. Die lied was die volgende:
Ons oumas het geleer
die A en die B en die grote C
en die D en die E en die snaakste F ...
Die lirieke sal resoneer met diegene wat die 1967-fliek Hoor my lied van Elmo de Witt iewers in die buitewyke van hulle geheuebanke bewaar het. Ons het dit gesing omdat een van die akteurs, Helga Mostert (née Van Wyk) deel van die groep was. Amper vier dekades later staan ons almal skoongesig-optimisties – en bloedjonk – op die groepfoto, ek en sy albei in die tweede ry van voor, effens na links.
Die foto herinner onwillekeurig aan my eie eerste kennismaking met die ABC in 1976. Dit was in Laerskool Albertyn en juffrou Charlotte Rens het my nie net die alfabet geleer nie, maar ook aan my die vermoë geskenk om hier te kan tik, alhoewel rekenaars desjare kwalik meer as wetenskapfiksie was. In perdrykringe het ons die gesegde: “Never forget who taught you to saddle your horse.” Juffrou Rens verdien dieselfde eer – ek sal nooit vergeet wie my die alfabet geleer het nie. Sy was, terloops, Erns Grundling se ouma, ’n formidabele mens met ’n formidabele nalatenskap.
Ek skop doelbewus met hierdie stories af, want die mens kommunikeer om verskeie redes deur stories, waarskynlik dieselfde rede vir Bybelse gelykenisse en Esopus se fabels. Ons herken onsself en andere daarin en vind aansluiting by die inhoud, of word ten minste daardeur vermaak.
En dit is presies wat die bekende musikant en komediant Keith Juluka in 2026 met die ABC gedoen het. A is nie meer net vir die vervelige “appel” nie, en ek kan in elk geval nie meer onthou waarvoor die B was nie, om van die ontwykende C nie eers te praat nie.
Met Gunsteling gee Juluka nie net nuwe woorde vir elke letter van die alfabet nie, hy verbind ook elkeen met ’n storie, deurspek met ’n mengsel van humor en nostalgie. A is nou vir “aartappel”, vergesel deur ’n brokkie inligting: “Daar is twee aartappels in ’n groot pak skyfies.” Elke letter van die alfabet word aangedui in beide hoof- en kleinletterformaat, en word in ’n voorbeeldwoord gebruik wat op sy beurt van ’n kort kommentaar met die betrokke woord in ’n voorbeeldsin, vergesel word. Die kombinasie van Juluka-foto’s en illustrasies deur Renthia Buitendag verleen verdere kleur aan die teks.
Eietydse konnotasies breek weg van die oorgebruikte appels en eende. As voorbeelde: B, vir “bobotie”, se meegaande sin is: “My ouma maak die lekkerste bobotie in die hele Suid-Afrika”, en Z, vir “Zam-Buk”, verkondig” “Sit ’n bietjie Zam-Buk op ’n muskietbyt en jy sal sommer gou beter voel.” Elke voorbeeldwoord het ’n kenmerkende plaaslike geur, soos C vir “chakalaka”, R vir “rooibos” en S vir “Springbokke”.
Die uitsondering is die G, waaraan die titel ook ontleen is. Die voorbeeldwoord, “gunsteling”, kom drie keer voor: tussen F en G, tussen U en V, en weer na Z. Met elke voorkoms word die jong leser daaraan herinner: “Jy is my gunsteling!”
Die belang van die leer van die alfabet in die era van kunsmatige intelligensie en botte is ’n kritiese bespreking waardig, juis omdat kwynende leesvaardighede ’n toenemende bekommernis is. Daar kan nie genoeg beklemtoon word dat die bemeestering van die alfabet die grondslag vir geletterdheid vorm nie. Die potensiële leser se bekendstelling aan die alfabet ontsluit die leeswêreld, eerstens wanneer daar gesnap word dat letters simbole is wat spraakklanke verteenwoordig, tweedens wanneer die letters herken kan word, vinnig, outomaties en sonder huiwering, sodat die fokus na betekenis kan verskuif.
Die ideaal is immers dat ’n letter as die verteenwoordiger van ’n bepaalde klank herken kan word, gevolg deur die begrip dat sodanige letters woorde vorm, en woorde sinne. Daarbenewens is basiese take, soos die gebruik van ’n woordeboek en alfabetiese lyste, onbegonne take wanneer die letters se volgorde in die alfabet onbekend is.
Juluka neem die proses ’n stap verder deur meerdere sintuie in te sluit. Die voorbeeldwoorde is grotendeels gemik op assosiasie met verskeie sintuie, veral gehoor, reuk en die tassin, en ’n ingeslote QR-kode lei na ’n ekstra bonus: die musieksnit van “Gunsteling”, uitgevoer deur die skrywer, met ’n eietydse ritme en klank wat jong dansvoete sal laat jeuk.
Juluka span die voordele van die 21ste eeu ten volle in om te verseker dat die alfabet, die basis van geletterdheid, op ’n prettige en relevante wyse aangebied word. Dit kan in 2026 saamgesing word soos wat ons in 1991 gedoen het – en op soortgelyke wyse in die geheue bewaar word.
Want L is vir “lekker”, maar ook vir “lees”.


