Die titel hierbo kan sommige waarskynlik laat dink aan die kreet van ’n kulkunstenaar, maar allermins. Dit is die visie wat Saliem Haider (Bestuurder Vaste-afval, Munisipaliteit Stellenbosch, Pniël en Franschhoek) koester vir die Devonvallei-afvalheuwel of grondvulling direk langs die Asara- landgoed op die Polkadraaipad.
Die terrein is reeds die afgelope 49 jaar in gebruik en oor jare het ’n al hoe groter wordende en onheilspellende grys heuwel van huishoudelike afval omgewingsbewustes ontstel. Die kernvraag oor wat die impak op die omgewing is, was dus dwingend. In 2013 is ’n proses van stapel gestuur om hierdie plaaslike moderne “midden” (sonder noemenswaardige argeologiese waarde) af te plat in ooreenstemming met voorskrifte ten opsigte van skuinsteverhoudings en in te skakel by die natuurlike hellings van die omgewing. Die struktuur is daarna met grondlae bedek en sodoende het die huidige kunsmatige heuwel, of sandduin of “geelberg” sy beslag gekry.

Foto 1: Kantaansig (voorsien deur skrywer)

Foto 2: Die “Geelberg” (Fotobron: Google Earth)
Om te voorkom dat reënwater die heuwel binnedring, skadelike loogvloei vrygestel word en waterbronne besoedel, word ’n waterdigte deklaag dringend benodig. Natuurlike klei kan hiervoor aangewend word of moderne snykant-polimeertegnologie soosTrisoplast, wat reeds suksesvol by die Woldjerspoor Grondvullingprojek in Groningen, Nederland gebruik word.
Die onttrekking van metaangas as ’n neweproduk van die heuwel kan benut word vir kragvoorsiening vir sekere ander fasette van afvalbestuur, soos die rioolwerke. ’n Deskundige analise van die gasbron het op ’n ekonomies benutbare bron gedui. Alhoewel die produksieprofiel van metaangasbronne wat uit afvalhope gegeneer word normaalweg eers ’n piek toon en daarna geleidelik afplat, kan die koste van die aanleg binne twee jaar verhaal word. Die geproduseerde sintetiese gas moet natuurlik skoon en energieryk en van ’n hoë gehalte wees om gasenjins en -turbines aan te dryf.
Die bestuur van die projek is nie ’n geslote proses nie en gevolglik is gedurende 2014 ’n breë spektrum menings en standpunte uit die openbare sektor en algemene publiek verkry oor die aard en implikasies waarvan die resultate in verslagvorm beskikbaar is.
’n Moniteringskomitee vergader driemaandeliks om onder meer gehaltebestuur te verseker. Dit bestaan uit drie verteenwoordigers elk uit die owerheid en privaatsektor.
’n Eksterne oudit word jaarliks onderneem en vanjaar word dit deur die maatskappy Environment Sustainable Solutions uitgevoer.
Die opgegaarde klei op die stortingsterrein word vermeng met hersirkuleerde afval en 5% sement en word benut om boublokke te vervaardig en kan as ’n sekondêre winsgewende onderneming bestempel word. Die produk (Rambrick) is omgewingsvriendelik, drie keer sterker as konvensionele bakstene en is geregistreer by die Nasionale Huisbouersregistrasieraad. Die boublokke is vuurvas, koeëlvas, weerstandig teen aardbewings, water, insekte en mufvorming.
Gekomposteerde tuinvullis is nog een van die positiewe neweprodukte wat die bestuur van die huidige stortingsterrein benut in ’n poging om die lewensduur daarvan te verleng. Om toekomstige geskikte alternatiewe terreine te vind, sal al hoe moeiliker raak en hulle sal beslis al hoe verder van die afvalproduserende gebiede wees, met toenemende vervoerkostes. Dit is dus in almal se belang om afvalvolumes so laag as moontlik te hou.
Die ooglopende risiko’s soos ongekontroleerde metaangasvrystelling, loogsifting, oppervlakte- en grondwaterbesoedeling sal altyd direk met hierdie tipe ondernemings geassosieer word. Geofisiese toerusting en metodes is beskikbaar op grond waarvan hierdie risiko’s egter deurlopend gemonitor kan word. Tydsverloop weerstands- en geïnduseerde polarisasie tomografiese toerusting kan permanent rondom en oor die heuwel geïnstalleer word om inligting op voorafbepaalde tydsintervalle met telemetrie na kundiges by die beherende owerhede te stuur. Noemenswaardige veranderinge in die volume en vloei van metaangas en besoedelde loogsifting sal op hierdie wyse betyds gemonitor kan word om remediërende aksies in werking te stel.
Hoe minder afval die stortingsterreine bereik, hoe beter. In die Verenigde Koningkryk (VK) en Engeland het die hersirkuleringskoers in 2012-'13 reeds 43% oorskry. Gedurende die vorige dekade het die hoeveelheid afval wat by grondvullingsprojekte gestort is in die VK met 60% afgeneem. Bewusmakingveldtogte om die voordele en implikasies van hersirkulering by inwoners in te skerp is van kardinale belang.
Hersirkuleringblokleiers kan byvoorbeeld in ’n buurt aangewys word wat weekliks hersirkuleringsakke persoonlik aan mede-blokinwoners oorhandig. Hierdie persoonlike kontak en aanmoediging vir hersirkulering lewer beter resultate op as wanneer die sakke bloot in die posbus geplaas ofnonchalant oor ’n veiligheidsmuur geslinger word.
Die menslike faktor in vaste-afvalbestuur is dus van kardinale belang. Die ideaal is dat die individu en afvalbestuur nader aan mekaar beweeg. Groter verantwoordelikheid moet aanvaar word vir afvalprodukte wat deur menslike verbruik geskep word en uiteindelik op stortingsterreine beland. ’n Swewende restaurant wat ruimtelik in posisie gehou word met ankerkabels horisontaal bo die piek van die Devonvallei-groenheuwel, of selfs groot rolballe teen die helling af na benede, was van die innoverende voorstelle om die algemene publiek by die Devonvallei-grondvulheuwel betrokke te kry. Die voor- en nadele van sulke voorstelle behoort vooraf eers deeglik teen mekaar opgeweeg te word.
Die sinvolle integrasie tussen die individu en die afval wat hy/sy produseer is nie ’n eenvoudige oefening nie. Die argitektuurprofessie sal moontlik ook bydraes kan lewer om op ’n skeppende wyse die prosesse van afvalbestuur, hersirkulasie en menslike betrokkenheid nader aan mekaar te laat beweeg.
Die dimensies van vaste-afvalbestuur soos hierbo beskryf word, maak nie voorsiening vir ’n kulkunsverhoog nie. Die hoofdoel met die Devonvallei-grondvullingsprojek is om ’n “groenberg” so spoedig as moontlik beskikbaar te stel waarop ’n diversiteit gesonde en natuurlike plante kan floreer. Hulle moet sinvol inskakel by die omgewing, ’n minimale negatiewe omgewingsimpak-voetspoor nalaat en voorsiening maak vir gesonde menslike herwinningsinteraksie. Dit is ’n proses wat bestuursvernuf en innovasie vereis, en waarvan die Stellenbosch Devonvallei-grondvullingsprojek ’n navolgingswaardige voorbeeld is.
Bronne
Haider, S. Bestuurder, Vaste-afvalbestuur, Stellenbosch Munisipaliteit. Persoonlike Kommunikasie, 7 /6/2016.
Lötter, C. Priv. Prakt. Geofisikus en Geohidroloog, Stellenbosch. Persoonlike Kommunikasie, 30/5/2016.
Utter Rubbish. Newspaper of the Solid Waste Department, Stellenbosch Munisipaliteit, 1, Maart 2016.
Zietsman, H.L. Priv. Prakt. Geografiese Inligtingstelselspesialis, Stellenbosch. Persoonlike Kommunikasie, 7/6/2016.


Kommentaar
Puik en interessante artikel.
Oulike artikel, Handré.
Ons Stellenbossers wag in spanning op die transformasie.