
Prent: https://pixabay.com/vectors/angry-man-grumpy-frown-angered-29453/
..............
Daar breek ’n tyd in ’n man se lewe aan wanneer hy nog net hees kan grom, soos ’n ou hond. Ja – die grumpy old men-fase is beslis nie vir sissies nie. Dit was tydens hiérdie liminale fase tussen die middeljare en oudword wat professor Miller Moolman onherroeplik verander het. Want sien, Moolman werk sedert die COVID-19-pandemie van die huis af.
.................
Daar breek ’n tyd in ’n man se lewe aan wanneer hy nog net hees kan grom, soos ’n ou hond. Ja – die grumpy old men-fase is beslis nie vir sissies nie. Dit was tydens hiérdie liminale fase tussen die middeljare en oudword wat professor Miller Moolman onherroeplik verander het. Want sien, Moolman werk sedert die COVID-19-pandemie van die huis af. Elke oggend sou hy plaasneem op sy ergonomiese stoel voor sy rekenaar met die reuseskerm, mikrofoon en kamera. Die werkruimte is tegnologies opgegradeer vir aanlyn vergaderings en die ou prof het ingeklok in sy beheerstasie om met die gesleur van e-posse en ander admin te begin. In die agtergrond sou hy die komediant Jimmy Kimmel se jongste show aanskakel en hom verkneukel in die parodieë en sketse oor sy grootste vyand – die voormalige Amerikaanse president Donald Trump. Moolman is waarskynlik die grootste anti-Trumper wat nog ooit geleef het. Alles aan dié man grief hom, van die onsin wat hy kwytraak, tot sy voorkoms: sy terracotta-sonbedbruin gesig en A1-skaterwit gebit. Sy oë is skuins- en styfgetrek deur facelifts en botox. En let maar op: Wanneer Trump iets belangriks sê, pruil sy lippe soos ’n goudvis s’n. En moenie die oud-prez se haarstyl vergeet nie. Moolman reken mans wat hulle blesse toekam is oneerlik. ’n Mens noem daardie lang slierte hare wat van die skuins paadjie af oor die kopvel vou ’n comb-over. Dan kry jy comb-overs binne-in comb-overs, soos Trump; hare wat gewoonlik aan die verkeerde kant opwaai en met haarsproei soos ’n sywurmkokon aan mekaar vaskleef. ’n Man met so ’n comb-over bewaar donker geheime. Soos Trump.
Waar prof Moolman vroeër by die werk gangpraatjies gemaak het, is die nuwe alternatief sy nuusbronne, die Amerikaanse netwerke CNN en NBC. En natuurlik sy YouTube feed. Hy volg CNN se nuusaanbieders Jake Tapper en Don Lemon asof hulle profete is. By tye skakel hy oor na Fox News net om sy aversie te voed, want Tucker Carlson lag soos ’n hiëna.
Prof Moolman het die Amerikaanse verkiesing gevolg sonder om te slaap en sal vir Joe Biden sy kens oomblikke vergeef, want hy was nodig om Trump uit die kussings te lig. Wie giggel nie goedig oor die 80-jarige ou staatsman se getjommel nie? Trump se idees, daarenteen, het ’n herontwaking van konserwatisme in die wêreld tot gevolg gehad, al was dit ook ’n valse weergawe deur die misbruik van godsdienstige waardes vir politieke en finansiële gewin. Ja: Trump kon netsowel ’n charismatiese prediker gewees het. Moolman hou van sy politici nederig en intelligent. Die Republikeine bestaan uit ’n kombinasie van ryk en dom mense; die Demokrate, daarenteen, uit slim en werkende mense, en dis by hiérdie groep wat ons held hom skaar. Volgens Moolman is die Demokrate se sterkste ondersteunersbasis in Massachusetts, wat toevallig ook die intellektuele sentrum van Amerika vorm.
By tye neem Moolman se antagonisme teen Trump amper patologiese afmetings aan en begin hy onbedaarlik swets wanneer hy sy gesig gewaar. Trump het selfs ’n digbundel van sy eie gepubliseer; ’n boek wat Moolman via Amazon bestel het en as artefak van sy woede op sy sideboard uitstal. Bid jou dit aan: die digtende president Donald J Trump! Hierdie juweel, The beautiful poetry of Donald Trump (strictly unauthorised), verkoop soos soetkoek. Joernaliste het vasgestel dat daar poëtiese patrone in Trump se toesprake is. Nou wel baie elementêr, maar dis daar: rym, herhalings, alliterasie ... Snippets van Trump se bekendste sêgoed en tweets, waarin die pseudostem van ’n digter opklink, is gebundel. En natuurlik word Trump geteiken omdat die Withuis nog nooit ’n president gehad het wat so min omgee oor poësie soos hy nie – met sy inhuldiging as prez was daar nie ’n digter of gedig in sig soos die tradisie vereis nie. Die enigste “gedig” wat Trump ooit in die openbaar voorgelees het, is “The snake”, en dis eerder ’n liriek. Om immigrante bang te maak. Ja, moenie vergeet nie: Trump hét ’n bydrae gelewer tot die woordeskat van dag, soos dit enige digter van faam betaam. Dink aan woorde soos “covfefe” en “schlong” ...
Smart Trump
I had an uncle
Who went to MIT
Who is a top professor.
Dr John Trump.
A genius.
It’s my blood.
I’m smart.
Great marks.
Like, really smart.
Die leunstoelliberalis Miller Moolman is afkomstig van ’n konserwatiewe Afrikanerfamilie en hy het deur verskillende fases van verset geworstel, maar soos die meeste akademici bevind hy hom gerieflik aan die kant van die liberaaldenkendes. Daarom is dit te verstane dat hy ook die Britse nuus aan die ander kant van die oseaan op die nuuskanaal BBC met belangstelling volg. Eers was daar die begrafnisbabelas na Koningin Elizabeth II se afsterwe en die lang, intense gerou wat Operation London Bridge tot gevolg gehad het. Prof Moolman het wel af en toe ’n traan weggepink, maar dit was toe die militêre orkes Chopin se begrafnismars so innig mooi gespeel het dat hy skaamteloos aan die grens gegaan het. Maar waarom, het hy gewonder, sou ’n uitgevrete lummel aan die suidpunt van Afrika tjank oor ’n bejaarde imperialistiese monarg wat hy van geen kant af geken het nie? Dalk omdat die koningin deels argetipe, deels mens was. Ons oerbewussyn is tog dieselfde bedraad en konings, boemelaars en hekse bevolk die gees se grys areas. Koningin Elizabeth was inderdaad gedeeltelik mite, maar oorwegend ’n gewone mens van vlees en bloed wat gehuil het ná Prins Philip se dood ... en wat intens teleurgesteld was nadat Harry en Meghan weggedros het van hul koninklike pligte. Die antwoord op die vraag lê waarskynlik in die antropologie – en dit is presies dieselfde rede waarom die wêreld so gerou het na Lady Di se afsterwe. Moolman was só meegevoer deur die koningin se begrafnis dat hy selfs vir Koning Charles ’n tweede kans wou gee. Hy was wel ’n mummy’s boy wat vir Diana verneuk het, maar wraggies, hy het darem ’n mooi toespraak gemaak na sy ma se dood!
Ongelukkig het daar met die koningin se afsterwe ’n nuwe vyand in Moolman se visier verrys: die eerste minister, Liz Truss. Truss met haar liggewig politieke statuur en haar laer-middelklas Engelse uitspraak, kompleet soos ’n middle-school onderwyseres wat opdragte uitblaker. Ó néé. Wanneer sy ’n toespraak moet lewer, stap sy na die podium soos ’n deelnemer op Noot vir noot. En Moolman se argwaan het ’n nuwe naam (en gesig) gekry: Hy het sy eksvrou in Truss herken. En kan sy asseblief vir die wêreld ordentlik om verskoning vra vir die gemors wat sy veroorsaak het sodat ’n mens closure kan kry? Moolman, met sy inherente sin vir die absurde, het gemerk dat Truss se gesiggie nogal op dié van ’n toy pom trek. Kyk maar, sou hy verder tier: Wanneer sy praat, lig die spiere aan die een kant van haar mond in so ’n driehoek. Hoekom praat sy skewemond?
’n Dinsdag is nooit ’n goeie dag vir prof Moolman nie. Grumpy old men raak vreeslik vinnig geïrriteerd en wanneer die kompleks waar hy woon se tuindienste met hulle blaarblasers, grassnyers en randsnyers die stilte omskep in die geraas van ’n oorlogsone, gaan lê hy op sy bed met ’n kussing oor sy kop. Akademici ly immers almal aan verskillende grade van uitputting.
Dan is daar die beurtkrag. Wéér. Of steeds. En Miller het sy huis se elektriese apparate intiem leer ken, soos dit ’n kluisenaar betaam. Wanneer die krag aangaan, ruk die yskas eerste. Vervaard. Met ’n hoes, poep en knor word alles gewek tot ’n elektriese wederopstanding. Die aircon vat die langste: Daar verloop etlike sekondes voor die toestel ’n paar keer spookagtig ril. Die rekenaar reboot met ’n treurige gesuis; die tuimeldroër sal vol delirium verder rondomtaliedraai en die ketel op eie stoom verder kook.
..............
Dan is daar die beurtkrag. Wéér. Of steeds. En Miller het sy huis se elektriese apparate intiem leer ken, soos dit ’n kluisenaar betaam. Wanneer die krag aangaan, ruk die yskas eerste. Vervaard. Met ’n hoes, poep en knor word alles gewek tot ’n elektriese wederopstanding. Die aircon vat die langste: Daar verloop etlike sekondes voor die toestel ’n paar keer spookagtig ril. Die rekenaar reboot met ’n treurige gesuis; die tuimeldroër sal vol delirium verder rondomtaliedraai en die ketel op eie stoom verder kook.
...............
Om ’n grumpy old man te wees, het inderdaad sy uitdagings. Mans wat verby die middeljarekerf beweeg se testosteroonvlakke begin vinnig afneem. Dink ’n bietjie hoe voel die manlike 55+: Jy is waarskynlik geskei of perdalks ’n wewenaar ... of reeds jare lank getroud met ’n vrou waarin die mag van gewoonte, in stede van liefde, die pas aangee. Jou werksprofiel verander radikaal – jy nader aftree-ouderdom (of het reeds); jou vooruitsigte is skraal. Jy ly aan leënessiesindroom. Jou kinders het óf geëmigreer, óf hulle het getrou. Of hulle lê iewers in rehab. Dalk is hulle universiteits-drop-outs. Jou liggaam verander. Wég is daardie vitaliteit en viriliteit wat die jongmanne geniet; die bloeddruk- en boepensfase het onherroeplik aangebreek. ’n Six-pack verwys lankal nie meer na maagspiere nie; dit is ’n halfdosyn bier wat jy op ’n Saterdagoggend met jou duim uit die drankwinkel se koelkas haak wanneer die Springbokke speel. Maar oor die Bokke se wisselvallige spel wil Moolman nie eers praat nie. Jacques Nienaber, met sy swak Engels en wat al sy sinne begin met “ja, en” of “listen” is vinnig besig om boontoe te skuif op Miller se lys vyande.
Grumpy old men se drome verdwyn soos mis voor die son en ouderdomsvlekke, wat herinner aan die sproete op ’n foksterriër se maag, maak nou hul verskyning. Baie ouer mans het hul mag verloor en projekteer hierdie gevoel van magteloosheid op politici: Trump is my man! Brute manlike aggressie maak plek vir ’n magtelose geknor. En ja: Prof Moolman klim gereeld onder die spul Trump-ondersteuners op Facebook in en deel sy virtuele opstoppers uit. Ouer mans en hul politiek. Dit verklaar waarskynlik die talle bloedige Facebook-gevegte oor ideologiese kwessies, en aan die spits hiervan: die groot gevolg ouer manne. In hierdie politieke vetes hou Moolman president Biden se arm omhoog, kompleet soos Aäron Moses se arm gesteun het in die stryd teen Amalek. Moolman volg nou die Amerikaanse tussenverkiesings en verwag dat Trump weer eens gaan aankondig dat hy gaan terugkeer Withuis toe. Intussen het ons held ’n groot bewonderaar van die pasverkose senator en goth, John Fetterman, geword. Maar dis ’n storie vir ’n ander dag.
Soos baie mense in Suid-Afrika het Moolman geen smaak vir vaderlandspolitiek nie. Daar is niemand wat hom genoeg beïndruk om hom óf te volg óf kwaad genoeg te maak om hom nié te volg nie. Wie die good guys is en wie die bad guys is, is soos om ’n muntstuk in die lug op te gooi. Daarom droom hy hy bevind hom iewers in Amerika of Europa. Dit is die sielkundige behoud van talle Suid-Afrikaners: Hulle leef in ontkenning en verplaas die fokus na buitelandse politiek. Maar prof Moolman gaan sy vyande, soos Liz Truss, mis. Want op ’n wrang manier gee jou vyande sin aan jou bestaan. Vra die grumpy old men.


Kommentaar
Skitterend. Delicious corrective for all grumpy old men like me. Thanks for making my day! I shall frame this essay.
Briljant! Ek is 'n 61-jarige vrou en ek kan getuig dat mans bo 50 vol nonsense is. Dan raak hul nog bitsig ook.
Uitstekend! Ek dink jy ken my wederhelfde baie goed.
Uitstekend.
Brilliant geskryf. Ek sien myself ...