Grootbrak Boekeblaffees: ’n malle misverstand, piekniekpaniek, nuwe geliefdes en ’n blou oog of twee

  • 1

Die onlangse Grootbrak Boekeblaffees is deur Chanette Paul, Petronel Baard en Sidney Gilroy georganiseer.

Die hele ding spring weg op ’n paniekerige noot toe ek, as genooide skrywer, op die uitnodiging lees dat ons ’n piekniekmandjie moet saambring na die Saterdagaand se optrede.

Praat met ’n Kapenaar oor ’n piekniek, dan dink hulle outomaties aan ’n wynlandgoed en Woolies. My keel trek toe van angs. Gelukkig verseker Sidney my dat Hartenbos wel ’n fensie Woollies en Checkers het waar ek enigiets van vleisbolletjies tot ’n camembert kan koop.

Ek vertrek ’n week vroeër omdat ek eers Knysna wil besoek. Die rede? Die olifante is op my emmerskoplysie. Uiteindelik breek my droom aan en ek vertrek op ’n staptog saam met die olifante. My stapmaatolifant is ene Sally, die park se amptelike unicorn, vanweë die een slagtand waarmee sy gebore is. Ek merk op dat ons tweetjies ook die enigstes in die toergroep is wat lank in die tand is, maar nou ja.

Op my laaste dag in Knysna gryp misdaad se vingers na my in die vorm van ’n dief wat besluit om die goue vishangertjie om my nek te “vang”. Gelukkig ruk ek betyds weg en ontsnap met my handsak én vissie. Op pad na Grootbrak whatsApp ek vir Sidney oor my ontbering: “Ek is so pas gerob. Is darem net effens beseer.”

Sidney antwoord: “Vir wat sukkel jy so met hulle? Netnou kry jy hondsdolheid.”

Waddehel, Sidney. Maar ek sê niks nie.

Dit is eers die aand toe ons agter die blaf van die rob kom. Hy het die rower met ’n rob verwar oor my geraadbraakte Afrikaans.

Die Vrydagaand daag al wat leef en beef op.

“Jis, jy het vriendelike verkeerspersoneel, hoor,” sê wynmaker Rianco van Rooyen van die verhoog af aan die burgemeester, Dirk Kotze. “Daai ou wat my gevang het vir spoed het al die pad geglimlag toe hy die kaartjie uitgeskryf het.”

Die res van die aand verloop vlot. Daar is ’n knaagtafel (harvest table) deur Jackie Greef. Wyn, woorde en musiek word gepaar met die proe van ’n paar Robertson-wyne. Die musiek is deur Petronel Baard (saam met Schalk Maas), asook Riku en Jackie Lätti.

Jackie en Riku Lätti met Petronel Baard

Ek is net mooi in ’n romantiese bui gedrink toe Riku-hulle losbars met “I want you dead”:

I want to see your body hanging down from a string
I want to see your scull crushed like a ming
I want you dead, dead, dead!

Ek skrik net daar al die Robertson-wyn uit my bloedstroom weg.

Wat ons bring by die blou oog (of twee)

Die volgende oggend sit ons skaars by die skrywerstafel vir die dag se verrigtinge toe die nuus soos ‘n veldbrand deur die saal trek: Chanette het ingestap met twee potblou oë.

Nee, geen beskonke skrywer het haar geslaan nie. Sy het in die kombuis gegly en vermoedelik haar neus gebreek. Chanette is wel nie gemaak van eekhoringpoep nie; sy is aanmekaargetimmer met suiwer Afrikaanse woorde en Afrikanerbloed. Dus glimlag sy net, skuif haar strooihoed reg en gaan voort met die program. Ons f.. voort soos wat dit stoere Afrikaners betaam.

Hannes Visser en Daniël Lötter

Eerste is Hannes Visser met sy digbundel Tussen asem. In een asem gee die digbundel die toon aan vir die oggend met sy tema van verganklikheid – ’n tema wat skrywer Bets Smith en digter Stef Kruger ook aanraak. Dink mooi oor die titel. Jou eerste asem is die begin van jou laaste asem. Jou lewe? Tussen die asems deur.

So van asem gepraat, sy asem is die vorige aand weggeslaan, vertel Daniël Lötter my. Hy het nog so in die middel van die nag skelm aan ’n Cadbury’s wholenut geknibbel toe hoor hy hoe sy nuwe meisie (’n aanvallige tandarts) hom uit die donkerte toefluister: “Ek hoop jy gaan darem jou tande borsel.”

Sidney klim volgende op die verhoog, gewapen met 1 014 vrae oor Bets Smith se Pompeii en met die vaste oortuiging dat haar gladiatorkarakter al die lesers se harte vinniger sal laat klop. Wat wel die vroue in die gehoor opgewonde maak, is Sidney se kuitspiere. Boerboelbroekies, eat your heart out.

Op ’n boeknoot: Bets se heerlike roman verbind die geskiedenis van daardie tyd naatloos met die hede en dit het ’n Christelike inslag. En ter inligting: Bets grond al haar manlike karakters op haar man wat weet hoe om vroue sagkens te hanteer.

Stef Kruger en Riku Lätti

Volgende is Stef Kruger met sy gevlegte bokbaardstertjie en die bundel Ontrafel. Stef noem sy gedigte “skryfsels” en reken dat dit sy onderbewussyn is wat skryf en daarom ontrafel hy dit ná die tyd deur tussen die reëls te lees.

Toe kom Daniël aan die beurt met sy romans Douwenis en Waar die lammers nie suip nie – albei boeke waar die mens in die geskiedenis gesoek en lewend gemaak word. Volgens Daniël dra ons almal ’n mate van ’n seer geskiedenis en skuld saam met ons, en dit is waarop hy die lig laat val.

Middagete breek aan. Tussen monde vol boerewors skinder ons vir ’t vale. Wie is die aantreklike “Wolfie” wat saam met ’n baie bekende charismatiese skrywer daar opgedaag het? Is hy die rede waarom Chanette geval het? Of waarom die tonge om sekere vrae bly knoop?

Julio Agrella en Chanette Paul

Na middagete is die nimlike Julio Agrella aan die woord met Zeus van Wyngaardt en die labirinte van monsters.

Hy reken mense verbaas hom elke dag. “Ek is moeg vir mense. Die bogghers maak jou bitter.” Gelukkig is hy nog nie moeg vir skryf nie en oorweeg hy dalk ’n volgende Zeus, maar hy sal glo eers volgende week weet hoe hy daaroor voel.

Allen Grootboom en Daniël Lötter

Terwyl Daniël Lötter vir Allen Grootboom uitvra oor Die vuur huil, word die kringe om Chanette se oë blouer, Sidney se broek al hoe korter, Petronel nog meer glamorous en bly my wyn sak teen die spoed van lig.

Deur dit alles verduidelik Allen hoe hy as skrywer die fyn lyn tussen feite en fiksie moet trap. Hy sluit af met die storie van ’n man wat vir ’n mooie meisie sê: “Die Here het my vertel jy gaan my vrou word” en sy terugkap met: “Wel, die Here het my nog nie daarvan oortuig nie.”

Allen Grootboom, Sidney Gilroy en Erla Diedericks

Dan is dit ek en Sidney en Jagspinnekop. Deurgaans verwys Sidney heel ordentlik na my tyd op liefdesoekwebwerwe as “navorsing”. Nee, tog. Ek was daar om man te soek!

Toe is dit tyd vir aandkonsert hou. Ek word getref deur die spesiale manier waarop die skrywers (Daniël, Sidney en Lluyle Arendse) deur woordkuns hul weergawe van die omgewing se geskiedenis en spookstories met ons deel.

Dit is laat in die aand en my kop wemel met diep woorde en wyngedagtes toe ek uiteindelik vir Stef vastrek. Hy teken sy bundel vir my met sy naam en ’n blou hartjie. Ek staan hom so en kyk. Waar was al hierdie wonderlike diep, filosofiese mans toe ek jonk en hubaar was?

Toe onthou ek. Hulle was daar, orraait. In die Akker op Stellenbosch, soms selfs op my eie partytjies – gewoonlik uitgepass.

Deesdae is hulle blykbaar ouer, wyser en gryser. Beteken dit hulle is nou troumateriaal?

Dalk. Maar ek is te lank in die tand om te probeer uitvind.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top