Groot afwagting: name van deelnemers aan die Kommadagga-slypskool binnekort bekend

  • 0

Paulet Huis

Daar heers groot afwagting oor wie die suksesvolle aansoekers gaan wees vir LitNet se Kommadagga-slypskool in samewerking met die Jakes Gerwel Stigting en Huisgenoot.

Dié aspirantskrywers sal van 14 Oktober tot 3 November by Paulet Huis, die Jakes Gerwel Stigting se tuiste vir skrywers in KwaNojoli (Somerset-Oos) in die Oos-Kaap, gehuisves word.

Daar was altesaam 50 aansoekers, van wie 45 baie goeie materiaal gelewer het. Onderhoude word tans gevoer met diegene op ’n kortlys, wat met groot moeite saamgestel is.

Die suksesvolle kandidate sal tydens die drie week lange verblyf onder leiding en mentorskap van Fourie Botha, voorheen uitgewer en nou voltydse digter en literêre agent, aan verskeie kort prosastukke werk.

Hierdie jaar se slypskool bied boonop die uitsonderlike geleentheid om Paulet Huis met die ikoniese skrywer Zoë Wicomb te deel. Dié gebore Suid-Afrikaner is ’n emeritus professor by Strathclyde-universiteit en die skrywer van onder meer You can’t get lost in Cape Town, David’s story, Playing in the light, The one that got away, October en Still life.

Terwyl die Jakes Gerwel Stigting in die Oos-Kaap die perfekte omgewing vir ’n storie bied, span LitNet en Huisgenoot saam om publikasiegeleenthede en blootstelling vir die skrywers te bied.

Fourie Botha sê oor die slypskool: “Om drie weke lank te kan fokus op jou skryfwerk in ’n omgewing soos dié is ’n voorreg. Om tyd in dieselfde huis as ’n skrywer soos Zoë Wicomb deur te bring, kan ’n nuwe skrywer se lewe verander.”

Die tuin

Die Jakes Gerwel Stigting bou voort op die ryk nalatenskap van wyle Jakes Gerwel, wat uitgestaan het as opvoeder, bevryder, beskermheer van die kunste en sakeman. Die naam van die Kommadagga-slypskool verwys na die Oos-Kaapse platteland waar Gerwel grootgeword het en na die gemeenskap wat die Stigting steeds eer en steun in nagedagtenis aan hom.

Lees meer oor die Jakes Gerwel Stigting by www.jgf.org.za.

  • Foto’s: Izak de Vries
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top