
Foto: Canva
Groenvyekonfyt
Shanétjie jaag op haar driewiel die ent sypaadjie van hulle huis af tot by die hoek, toe die twee mans in ’n ou Ford Marasdorp binnery en langs Groenie Greenwood se vulstasie stop in plaas van voor by die pompe. Sy hou op trap en hou hulle dop. Een kam sy hare, terwyl die ander een met die baard die stuurwiel bly vasklou.
Rocco en Wikus het eers laat vanoggend uit Gauteng weggetrek. Gisteraand het Wikus sy hele salaris op Blackjack verloor, daarna ’n klomp vodkas weggeslaan en na middernag op sy bed neergeval. Eers toe Rocco vanoggend die Ford se toeter buite blaas, het hy verdwaas wakker geskrik en sy goed in ’n tas begin gooi.
’n Hele ent ver op pad op die N1 het Rocco die kwessie rondom die petrolnaald aangeroer, maar dit was gou duidelik Wikus is platsak en na ’n onderonsie was Wikus dik vir Rocco, en Rocco tot by sy ore toe vol vir Wikus.
“Stupid,” brom Rocco elke nou en dan. Dat die pot die ketel nie kan verwyt dat hy swart is nie, is iets wat Wikus lank gelede by sy ma gehoor het, maar hy swyg liewers, anders moet hy weer vir stupid Rocco verduidelik wat dit beteken.
Wikus het gedink die petrol sou hulle tot by die volgende vulstasie op die N1 bring, maar dan was wegjaag sonder om te betaal al uitweg. ’n Veiliger plan moes vinnig uitgedink word.
“My ma het ’n niggie op Marasdorp,” het hy hardop gedink, maar Rocco het net sy oë gerol.
Marasdorp lê sommer naby die N1. Wikus se ma het destyds elke Desember-vakansie gekla dat sy pa net altyd verbyskiet Johannesburg toe en terug. Sy wou bitter graag vir nig Johanna weer gaan groet en ’n koppie koffie gaan drink. ’n Liewe mens! En kon sy groenvyekonfyt kook! Met die jolige pieknieks lank gelede saam met die jongklomp, was die lekkerste bederf in die piekniekmandjie die jong Johanna se tuisgemaakte groenvyekonfyt. “Antie Johanna”, “Marasdorp” en “groenvyekonfyt” het vandat Wikus ’n klein laaitie was, lieflik verstrengel geraak sonder dat hy ooit self ’n voet by haar aan huis gesit het.
“Stop!”
“Vir wat?” het Rocco gebrom.
“Op daai bordjie staan ‘Marasdorp 12 kilometer’. Vat daai afdraaipad!”
“Sê my, het jy ’n plan of nie?”
“Ek het jou mos gesê ek het familie daar!”
Rocco ry agteruit.
“Hulle noem daai ’n padpredikant,” het Wikus beduie.
“Wat?”
“Daai bordjie.”
“Ag, jy is deurmekaar, man!”
“Ek sê jou, draai hier af!”
Kort na die afdraai tref hulle sinkplaat. Tussen die gestamp deur kry Wikus darem sy plan verduidelik. ’n Verroeste geel bordjie verskyn met “2 myl” nog dofweg daarop leesbaar.
“Nog ’n padpredikant!” sê Rocco en albei bars uit van die lag. Wikus moes net “pasop!” skree of die Ford het in die sloot langs die pad beland.
Ds Langenhoven staan voor sy studeerkamervenster en sien die vyfjarige Shanétjie sorgeloos op haar driewiel rondrits. Maar wat as die sinkplaatpad oor nege maande geteer gaan word en toegang tot Marasdorp vir booswigte vergemaklik? Marasdorp het ’n ekonomiese inspuiting broodnodig, maar hy sal al wat ’n padtekenbordjie is, terugbuig N1 toe as dit sy Marasdorpers bedreig. Gelukkig is daar nog nege maande tyd om te besin.
Maar die Ford staan alreeds geparkeer langs Groenie se garage.
“Middag, oom!” roep Wikus na Tjaart wat langsaan onder ’n kar werk. Shanétjie luister met gespitste ore.
“Middag!” groet Tjaart toe hy onder die kar uitskuif.
“Waar woon mev Johanna du Plooy, oom?”
“Johanna, sê jy?”
“Ek het ’n pakkie hier vir haar.”
“Anna!” roep hy, en sy vrou verskyn by die agterdeur.
“Waar woon Johanna du Plooy?”
“Dis tog seker Joey wat langs Annetjie bly?”
“Hoe kom ek daar, antie?” vra Wikus.
Toe Wikus aanklop by die huisie met die kraak en drie groot vyebome voor, is Joey so verras om te hoor dat Wikus groete van sy ma af stuur, dat sy ’n nattigheid in haar oog moet wegpink, nogtans salig onbewus dat haar nig reeds 10 maande gelede die tydelike met die ewige verwissel het.
“Kom tog binne!” nooi sy.
“My pel wag in die kar. Ek gaan hom net gou sê, antie.”
“Nou maar laat hom ook binnekom!”
Die kuiertjie verloop gesellig. Wikus verneem dat hy kompleet nes sy ma lyk.
“My ma het altyd ... ek bedoel sy vertel nog altyd van antie se lekker groenvyekonfyt!”
“Haai, regtig! Ek is bly om dit te hoor,” sê Joey terwyl Rocco sit en grinnik. “Ek hou nog die Kerskaartjies wat jou ma elke jaar gestuur het in my spieëltafellaai, maar snaaks, laas Kersfees was daar niks.”
Terwyl sy koffie maak in die kombuis, staan Wikus langs haar en wag sy kans af. Rocco sluit solank die vertoonkas oop, haal ’n oop boksie ongebruikte goue lepeltjies daaruit en prop dit onder sy klere in.
“Waarheen is julle op pad?” vra Joey.
“Kaap toe, antie.”
“En petrol is so duur deesdae! Gelukkig ry ek deesdae nêrens meer nie, maar daar is nog al die ander lewenskoste ook.”
“Ai, ek moes van daardie vorms saamgebring het!”
“Watse vorms bedoel jy?”
“Nou is ek so spyt. Ek het by so ’n scheme aangesluit, net vir ’n bietjie ekstra geld. En toe ek weer sien, maak ek geld soos bossies. Ek koop wat ek wil en ry rond Kaap toe soos ek wil. As ek die vorms hier gehad het, het ek antie ook laat aansluit.”
“Moet ’n mens vooruit geld neersit?”
“Ja, maar dis niks teen wat jy op die ou end uitkry nie!”
“Nou maar, jy kan mos die vorms vir my pos as jy terug is. Ek het so ’n ou neseiertjie waaruit ek jou solank kan betaal.”
“Antie, dis nou ’n slim plan!”
“Hoeveel geld is dit?”
“Soveel as wat antie kan gee! Hoe meer, hoe beter!”
Rocco se kop verskyn oor Wikus se skouer.
“Oor en oor jou geldjies werd, antie!”
“Wag, dan gaan haal ek gou geld in die kamer. Ek is skoon opgewonde!”
Rocco lag so hartlik dat Wikus hom ’n vuil kyk moet gee.
“Ek sal so gou moontlik die vorms vir antie pos sodra ek terug is.”
Na die koffie en beskuit, en met die rol note veilig in Wikus se sak, maak die twee aanstaltes om te vertrek.
“Baie dankie dat julle kom inloer het. Hier is vir julle elkeen ’n flessie groenvyekonfyt. Dink maar aan die ou antie as julle daarvan eet!”
“Ons sal antie mos nooit vergeet nie!”
Eers toe hulle weg is, begin iets haar pla. Sy maak ’n venster oop vir vars lug en maak die koppies bymekaar. Dis toe dat haar oog val op die effens oop vertoonkasdeurtjie en met die vooroorbuk om dit toe te maak, sien sy haar boksie goue lepeltjies is skoonveld.
“Ry net!” sê Wikus toe hulle by die hoofstraat indraai. “Ons kan petrol gooi op die N1!”
“Hoekom lyk jy dan nou so groen om die kiewe?” vra Rocco en gee vet. “Jy het ons gered, man!”
“Bly tog stil!” pers dit deur Wikus se stywe lippe. “Sy moes nie die konfyt gegee het nie.”
“Daar was nog pottevol op die rakke! Wat worry jy nou oor simpele konfyt?”
Joey is die ene bewerasie toe sy vir Bossie by die polisiestasie bel en hoor dat sersant Modise met die vangwa uit is na ’n plaas toe, maar hom sal kontak. Sy bel vir Groenie by die garage.
Shanétjie hoor toe Groenie na die petrolpompe se kant toe roep of twee mans daar ingegooi het. Bossie kom stop ook daar op sy motorfiets.
“Soontoe, oom!” beduie Shanétjie in die sinkplaat se rigting. Bossie se motorfiets vertrek met ’n brul. So vinnig as wat sy die driewiel kan trap, jaag sy agterna. Waar die hoofstraat ophou en die sinkplaat begin, kies sy die gladde, uitgetrapte voetpaadjie aan die regterkant langs die sloot.
Vorentoe sien sy Bossie by sy motorfiets staan, besig om sy modderskerm met ’n klip te probeer reg kap. Vies gooi hy sy polisiepet in die stof neer. Jip, haar pa sê mos altyd oom Bossie moet stadig oor die klippe. Ongemerk glip sy agter die hoë kakiebosse aan die anderkant verby.
By die steil bult klim sy af, dra die driewiel deur die sloot en stoot dit padlangs tot heelbo. Onder in die duik sien sy die twee mans probeer om die Ford te stoot. Toe hulle haar en haar driewiel skielik afgeëts teen die blou lug gewaar, gaap hulle haar aan asof hulle ’n spook sien. Bossie verskyn ook te voet langs haar in die pad.
“Jou pa sal daai driewiel in die pakkamer moet toesluit,” sê Bossie kwaai. Tjaart en Groenie kom van agter af met ’n bakkie aangejaag, terwyl sersant Modise ewe haastig van voor af aankom, en Shanétjie woes beduie almal moet stop.
“Ons staan sonder petrol,” verduidelik Rocco toe die vangwa langs die Ford remme aanslaan.
“En my vulstasie se tenks is tjokvol!” sê Groenie vies.
“Ons geld is op, oom!”
“Waar’s jou hoed, konstabel?” vra die sersant.
“Doer anderkant die bult!” beduie Shanétjie, terwyl sy op haar driewiel se saal staan en by die Ford inloer.
“Dis mos tannie Joey se lepeltjies daai!”
“O so!” sê die sersant met opgetrekte wenkbroue.
Die twee moet hensop terwyl Bossie hulle deursoek. Sy neem haar kans waar om vir Rocco al die gesigte te trek wat sy by haar ouer broer geleer het.
“Hiermee kan jy rondom die aarde ry,” sê Bossie toe hy die rol note in Wikus se sak kry, hulle boei en agter in die vangwa stop.
Shanétjie pluk aan sersant Modise se mou. “Kyk, tannie Joey se groenvyekonfyt!”
Die aardigste tjankgeluid klink op van Wikus se kant af voordat hy in snikke uitbars.
“Kompleet soos ’n jakkals!” vertel Groenie agterna vir ds Langenhoven. “Jy sou kon sweer hy huil oor groenvyekonfyt!”

