Op Donderdag 26 Maart 2020, om 23:59, is die meerderheid onderwysers in Suid-Afrika se uitgangspunt oor onderwys onherroeplik verander. Die vierde revolusie in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel is bloedloos uitgevoer en onderwysers het hulle midde-in die era van e-onderrig of virtuele onderrig bevind. Hierdie omkeer of revolusie is so stil-stil deur ’n Trojaanse muis veroorsaak en onderwysers moes eensklaps hul hele benadering tot onderrig herbedink en herbeplan.
Die doel van hierdie artikel is om aan die taalonderwysers ondersteuning te bied met die beplanning en ontwerp vir ’n digitale les. ’n Suksesvolle e-les behoort steeds geskoei te word op die basiese pedagogiek wat reeds deel van die mondering van enige taalonderwyser is. Die grootste verandering is egter geleë in die wyse waarop die les aan die leerders oorgedra gaan word, want die tradisionele klaskamer het verander in ’n digitale klaskamer waar die klik van ’n “muis” elke handeling van die onderwyser beheer.
Kurrikulum speel steeds die deurslaggewende rol, en tegnologie is slegs die middel waardeur die les afgelewer word. Die onderwyser se rol is steeds dié van beplanner en ontwerper, maar as fasiliteerder neem die onderwyser beheer van die “muis” en nie andersom nie. Dit is selfs in die kuberklaskamer belangrik om voorbereid te wees, want dit skep selfvertroue en verminder stres by die onderwyser, en verder wek dit vertroue by die leerders.
Daarbenewens is dit ook belangrik om binne die skool se strategiese beleid ten opsigte van e-onderwys te handel en ook die skool se gekose leerbestuurstelsel (LBS) (byvoorbeeld Google-klaskamer) vir die aflewering van die onderrig te gebruik. Indien ’n LBS nie bestaan nie, is dit dalk die ideale tyd om met die skoolleiers te skakel en ’n besluit te neem ten einde ’n tussentydse afleweringsplatform daar te stel. Dit is ’n belangrike aspek hierdie, want leerders behoort hul lesse van dieselfde leerplatform af te ontvang ten einde verwarring te vermy. ’n Leerplatform is belangrik, want kommunikasie, lesse, leermateriaal en assessering kan vanaf so ’n platform geskied.
Ons het die volgende aanbeveling of plan vir taalonderwysers wanneer hulle met die herbeplanning en -ontwerp van hul lesse begin. Die bestaande lesbeplanning is die beginpunt vir herbeplanning en -ontwerp, want in die tradisionele beplanning is die leerdoelwitte van die KABV (Education 2011:9) reeds ingevoeg.
Ander faktore wat tydens die beplanning en ontwerp van ’n e-les in ag geneem behoort te word, is die diversiteit van die leerders (veral ten opsigte van internettoegang en databeskikbaarheid), die onderwyser se eie unieke onderrigstyl en die beskikbaarheid van gepaste hulpbronne en leermateriaal.
Ons wil daarom die volgende generiese plan ten opsigte van die herbeplanning en -ontwerp van ’n e-les aan die taalonderwysers voorhou en daardeur rigting gee, sodat die taalonderwyser meer in beheer van e-onderrig kan voel. Die kernuitgangspunt van hierdie voorgestelde plan is ’n leergesentreerde benadering waar die kernvaardigheid wat deur die leerder ontwikkel word, dié van selfgerigtheid is. Met ander woorde, leerders sowel as onderwysers ontwikkel die vaardigheid om in eie tyd, teen eie tempo en deur eie werkswyse e-leer en e-onderrig onderskeidelik tot uitvoering te bring.
Benewens al bogenoemde aspekte is dit belangrik dat wanneer die e-les beplan word, die toegewese daaglikse roostertyd steeds in ag te neem behoort te word, want leerders het ook ander vakke waarin hulle e-onderrig ontvang.
Die voorgestelde e-lesplan is geskoei op ʼn aangepaste templaat wat die Universiteit Stellenbosch se beginneronderwysers tydens die bouproses van hul onderrigvaardighede gebruik en die ontwerpbeginsels van Gagne, Briggs en Wager (1974:224) wat dit stel dat ’n effektiewe les uit drie fases bestaan, naamlik die verkenningsfase, die ontdekkingsfase of hoofdeel, en die samevatting of slot. Die taalonderwyser kan eers al die stappe gebruik en dalk later, soos ervaring in die ontwerp van e-lesse toeneem, sommige stappe weglaat.
Die volgende tabel is ’n skematiese uiteensetting van die beplanningsproses vir die skryf en aanbied van die bespiegelende opstel (taak 5) vir graad 11-leerders. Die les word in drie dele verdeel sodat dit makliker vir leerders is om te begryp, en verder is elke leseenheid geskoei op tradisionele 45-minute-klasperiodes.
|
Onderwerp en graad |
Die bespiegelende of refleksiewe opstel (taak 5); graad 11; lestema: grendeltyd. |
|
|
Doelwit van die les |
Skep, interpreteer en gaan verbeeldingryk om met verbale, visuele en geskrewe tekste. |
|
|
Motivering vir die onderwerp |
Die onderwerp stel leerders in staat om kreatief en krities te dink en te skryf (aangepaste KABV 2020:51). |
|
|
Vaardighede in terme van KABV |
Kommunikasievaardighede stel leerders in staat om gedagtes en idees samehangend te konstrueer en te kommunikeer. Skryf is sowel ’n manier van refleksie en leer as ’n medium van kommunikasie. |
|
|
21ste-eeuse vaardighede |
Leerders ontwikkel hul selfgerigte vaardighede deurdat hulle op eie tyd, teen eie tempo en op hul eie manier die opdragte uitvoer. Kreatiwiteit, vernuwing, kritiese denke word gestimuleer. |
|
|
Tegnologiese vaardighede |
Leerders sal in staat wees om op ’n LBS hulself te bestuur, te kommunikeer en werk in te dien. |
|
|
Verloop van die les |
Net soos in die tradisionele klaskamer gaan die e-les oor drie sessies of fases verloop ten einde die leerder nie kognitief te oorlaai nie. |
|
|
Les 1: verkenningsfase of inleiding (45 minute) |
Onderwyseraktiwiteit tydens beplanning, ontwerp en uitvoering |
Leerderaktiwiteit in Google- klaskamer/ander |
|
Verbind met leerder se voorkennis. |
Brondokumente: KABV; kwartaalbeplanning. Soek die nodige leermateriaal uit en plaas dit met duidelike instruksies in die klaskamer. Ontwerp van die riglyne om denke te rig – werkkaart. Ontwerp ’n vasleggingstoets (10 punte) met die hulp van Google Vorms. |
Leerders begin die aktiwiteit deur die ontleding van ’n voorbeeld- bespiegelende opstel; spesifieke riglynwerkkaart word gegee om hul denke te rig. Leerders beantwoord ’n kort vasleggingstoets oor die kenmerke van die opstel. |
|
Les 2: ontdekkingsfase of verkryging van nuwe kennis (45 minute) |
Onderwyseraktiwiteit tydens beplanning, ontwerp en uitvoering |
Leerderaktiwiteit in Google- klaskamer/ander |
|
Leerders ontdek verder self belangrike aspekte oor die bespiegelende opstel.
|
Plaas opdrag met die internetskakel van die Wolkskoollesing oor kreatiewe stelwerk in klaskamer; stel ’n gids oor die skryfproses van die bespiegelende opstel saam en plaas in die klaskamer; gebruik weer ’n vasleggingstoetsie (10 punte) vir kontrole van werk. |
Laat leerders die video van die Wolkskool oor kreatiewe stelwerk bestudeer en notas daaroor maak. Leerders lees ook die gids oor die skryf van ’n bespiegelende opstel deur. Doen vasleggingstoetsie. |
|
Les 3: uitvoering/ assessering en refleksie (45 minute) |
Onderwyseraktiwiteit tydens beplanning, ontwerp en uitvoering |
Leerderaktiwiteit in Google- klaskamer/ander |
|
Dit is tyd om buite die boks te dink – leerders leer verskeie nuwe vaardighede deur dié opdrag en die onderwyser moet hier ook eie tradisionele uitgangspunte oor assessering aanpas. Die onderwyser besin na afloop van die lesse oor watter aspekte suksesvol of onsuksesvol was, want daardeur vind ontwikkeling by die onderwyser plaas. |
Gebaseer op die leer en lesdoelwit; skep opdrag in Google-klaskamer deur die “create”-funksie en skep vir elke leerder sy/haar eie kopie sodat die skryfstuk in Google Docs ingedien word. Dit vergemaklik assessering, want die onderwyser kan die redigeer- en kommentaarfunksie van Google Docs gebruik om skryfwerk te evalueer. Plaas ook die gepaste assesseringsrubriek van die opstel in die klaskamer. |
Leerders doen ’n breinkaart deur byvoorbeeld Google Jamboard te gebruik, want hulle kan die onderwerp deur prente, foto’s en kleefnotatjies ontleed. Leerders gebruik dan hul kopie van Google Docs en skryf hul eie opstel en dien dit in. Opstelonderwerpe kan handel oor die werklikewêreldaspek van grendeltyd, byvoorbeeld:
|
Ons wil ten slotte beklemtoon dat wedersydse kommunikasie met en ondersteuning aan die leerders uiters belangrik is. Onderwysers behoort ook met hul eie vakhoof en vakspanne kontak te behou, want e-onderrig kan nie binne ’n vakuum geskied nie. Jy self kan met jou vakspan met die hulp van Zoom of Google Meet in verbinding bly. Lees ook gerus die artikel van Michele van der Merwe en Marné Pedro oor “Nasionale inperking: Só kan Afrikaansonnies aanlyn onderrig” wat ook deur LitNet gepubliseer is.
Met erkenning aan: Marié Grabe van Wolkskool.co.za vir die leermateriaal oor die skryf van ’n kreatiewe opstel.
Biblografie
Beetham, H en R Sharpe. 2013. Rethinking pedagogy for a digital age. Designing for 21st century learning. 2de uitgawe New York: Routledge.
Conole, G en M Oliver (reds). 2007. Contemporary perspectives in e-learning research. Themes, methods and impact on practice. Londen: Routledge.
Education, DOB. 2011. Kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring. Pretoria: Goverment Printing Works.
Gagne, R, L Biggs en W Wager. 1974. Principles of instructional design. 4de uitgawe Orlando: Harcourt Brace College Publishers.
Sharpe, R en M Oliver. 2007. Designing courses for e-learning. In Conole en Oliver (reds) (2017:41–51).
- Ria Taylor (Hoër Meisieskool Paarl) en Michele van der Merwe (Universiteit Stellenbosch)


