Grendelgenades                 

  • 0

Renata Schoeman (Foto: verskaf)

“2020 … ’n Unieke jaar. COVID-19-regulasies het ’n bekende, veilige en stabiele wêreld omgekeer en in een van chaos, vreemdheid, ongemak en stres verander.”

2020 … ’n Unieke jaar. COVID-19-regulasies het ’n bekende, veilige en stabiele wêreld omgekeer en in een van chaos, vreemdheid, ongemak en stres verander. Inperkingsmaatreëls het reeds ’n enorme impak op alle fasette van ons lewe gehad – en gaan ons in die afsienbare toekoms steeds affekteer. Dit laat ons onseker en angstig. Ons moes spoedig aanpas die afgelope paar maande van grendeltyd. Van die huis af werk, die handhawing van fisieke afstand, die frustrerende dra van maskers (terwyl ons brille toewasem en sommiges snak na hulle asem), finansiële spanning, tegnologiese uitdagings, en die verlies van gesondheid – of selfs geliefdes – het nou alledaags geword.

Ten spyte van al die uitdagings is daar egter diegene wat glimlag en ons amper betigtigend laat stilstaan en fokus op die positiewe aspekte van die grendeltyd.

“Positiewes?” vra jy dalk. “Kan daar enigsins iets goed verrys uit hierdie chaotiese tyd met al sy uitdagings?”

Peck het reeds in 1978 gese: “The truth is that our finest moments are most likely to occur when we are feeling deeply uncomfortable, unhappy, or unfulfilled. For it is only in such moments, propelled by our discomfort, that we are likely to step out of our ruts and start searching for different ways or truer answers.”

So wat is van hierdie grendelgenades?

  1. Tyd
“Ewe skielik het ons tyd om asem te haal.”

Ewe skielik het ons tyd om asem te haal. Ons bespaar dalk kosbare minute en ure wat ons nie die verkeer hoef te trotseer nie, en in plaas van uitstappies gym toe, trek ons stapskoene aan en stap net uit by die voordeur vir ons daaglikse oefening, of ons doen oefeninge volgens aanlyn programme  in die gerief van ons huis.

Ons jaag nie ongeduldig van vergadering en afspraak na vergadering en afspraak nie. Ons maak vir ons ’n koppie tee in plaas van om êrens in ’n tou te moet staan. Ons begin ons dag dalk met stiltetyd op die stoep, of geniet die vroegoggend in ons tuin. Die grendeltyd het vir ons tyd geskep om weer dankbaar te staan vir tyd en dit te benut deur op dinge te fokus wat werklik saak maak. Ons begin nuwe stokperdjies – bak en brou, hekel … Ons investeer in ons huis – ons maak skoon, en ruk die tuin reg.

Die grendeltyd het ’n stiller, meer kontemplatiewe en spirituele tyd gebring. Dekades laas het ouers soveel (kwaliteit-) tyd met hulle kinders en gesinne deurgebring. Babas en kinders gaan definitief die vrugte pluk van hierdie kosbare tyd wat hulle met beide ouers kon deurbring en sal vir baie jare die saamweestyd koester. Maar ons het ook meer tyd spandeer met ons troeteldiere, en het dalk selfs ’n “oor-die-heining-kuier” met die bure gereël. Ons besef hoe belangrik sosiale bande is, en maak weer ’n doelgerigte poging om te “connect”.

  1. Produktiwiteit
“Natuurlik is daar uitdagings (soos kinders, troeteldiere, en skool) waaromheen  ons moet beplan, of wat ons moet akkommodeer, maar ons is in beheer van ons keuses – hoe ons tyd wil spandeer.”

Natuurlik is daar uitdagings (soos kinders, troeteldiere, en skool) waaromheen  ons moet beplan, of wat ons moet akkommodeer, maar ons is in beheer van ons keuses – hoe ons tyd wil spandeer. Ons is meer produktief, want ons kan beplan rondom tye van optimale fokus, of wanneer ons wil kreatief wees. Van ons konsentreer beter sonder die distraksies wat ons in die werksplek moet trotseer. Studies wys dat mense meer doelgerig gewerk het tydens die grendeltyd en dat produktiwiteit verbeter het. Werk-uit-die-huis is baie meer haalbaar as wat baie organisasies voorheen gedink het.

  1. Geld

Ons bespaar – nie net aan brandstof en vervoerkoste nie, maar ook aan onnodige uitgawes. Ons maak ons eie koffie en tee, en koop nie wegneemetes vir middagete nie. Ons gaan minder uit, en alhoewel baie besighede (bv restaurante) swaarkry, bespaar ons tog wel geld waar ons dalk voorheen “te maklik” spandeer het. Daar is nie rondstap in malls nie en ons spandeer nie op impulsiewe aankope nie (behalwe dié van ons wat mal is oor aanlyn inkopies). Oor die algemeen was daar minder geleenthede om te spandeer, en van ons, indien ons salaris nie beïnvloed is nie, kon dalk meer as gewoonlik spaar.

  1. Die natuur

Die omgewing baat definitief uit die afname in vervoer – vliegtuie vlieg nie, motors staan stil, en fabrieke staan toe. Natuurlik het dit ’n negatiewe impak op die ekonomie, maar ons kan amper Moeder Natuur ’n sug van verligting gee. Sy kry tyd om asem te haal. Koolstofemissies het afgeneem en die kwaliteit van lug het verbeter. Ons baat ook – heelwat minder respiratoriese infeksies, hooikoors, en ander probleme. En omdat ons weer tyd het vir asemhaal, het ons tyd om te luister na die natuur se stem.

  1. Gesondheid
“Tydens die eerste deel van grendeltyd was dit opmerklik hoeveel mense begin stap het.”

Tydens die eerste deel van grendeltyd was dit opmerklik hoeveel mense begin stap het. Honde wat in jare nie buite hulle erf se heining was nie, word skielik gretig aan ’n halsband rondgelei (of het die honde dalk hulle base vir drafstappies geneem?). Die aanlynoefeningmark floreer, en tuisgym-apparate is aangekoop. Mense is mos vreemd – as ons nie iets kan of mag doen nie, dan wil ons! Dit het grendeltyd gekos om baie sofasitters aktief te kry.

Verder eet ons gesonder. Ons maak tuis kos, of doen aanlyn aankope van tuisgekookte maaltye in plaas van gemorskos. Ons het dalk selfs ons eie groentetuin aan die gang gekry! En dan is daar natuurlik minder alkohol wat gevloei het ... en selfs diegene wat ophou rook het (indien hulle nie die swartmark ondersteun het nie).

Ons het minder laataandverpligtinge, en omdat alles ’n bietjie “rustiger” is (want ons is mos tuis), kom ons vroeër in die bed en het gesonder slaapgewoontes ontwikkel.

  1. Veerkragtigheid

Ja, grendeltyd het spanning gebring, maar spanning kan ’n sterk motiveringsfaktor wees in ons groei en ontwikkeling. Stres kan goed wees vir ons. Grendeltyd het ons meer veerkragtig gelaat (sien https://renataschoeman.co.za/are-you-surviving-or-thriving-building-your-resilience) – en ons kan toekomstige uitdagings beter hanteer.

“COVID-19 en alles daaromheen het ons lewens transformeer – en het die potensiaal om ons te transformeer.”

COVID-19 en alles daaromheen het ons lewens transformeer – en het die potensiaal om ons te transformeer. Dit is noodsaaklik dat ons verandering as deel van die lewe aanvaar en dat ons nie uitdagings as onoorkomelike probleme beskou nie. Behou perspektief, fokus op jou doelwitte, en sien om na jouself.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top