Gorman, Coel en Markle: verskillend en tog dieselfde

  • 5

Gevallestudie 1

Prins Harry en sy vrou Meghan voer gesamentlik ’n onderhoud met Oprah Winfrey, maar elke liewe berig wat ek daarna gelees het, positief en negatief, fokus op Markle se woorde. En Oprah se vrae en die wyse waarop sy die onderhoud hanteer het.

Die koninklike huis stel ondersoek in teen haar omdat sy na bewering paleiswerkers geboelie het. In reaksie kom Hollywood, so na aan ’n koningshuis as wat Amerika kan kom, ter verdediging van haar reputasie na vore. Dis seker heerlike entertainment, maar dis ook simptomaties van ’n groter probleem. ’n Swart vrou met opinies van haar eie moet verkieslik vinnig en effektief herinner word aan waar haar plek is. Markle is óf ’n aartsopportunis wat eiehandig die Britse koningshuis tot ’n val gaan bring óf sy gee voor dat sy meer hulpeloos is as wat sy werklik was. Selfmoordgedagtes? In ’n paleis, getroud met ’n rêrige-lewe-prins? Haai shame – kla met die glutenvrye, organiese suurdeegbrood onder die arm. Rassisme in die koningshuis? Nog nooit gesien nie.

Selfs terwyl Markle en haar man deur middel van waarskynlik die magtigste spreekbuis in die wêreld, Winfrey, hul weergawe vertel, word Markle se stem deur ongeloof stilgemaak. Die Britse poniekoerante se veldtog om haar te diskrediteer sal seer sekerlik hierdie week tot ’n fanatiese hoogtepunt opgesweep word.

Haar man se bydrae tot die onderhoud gaan feitlik ongesiens verby. Maar sy sal sekerlik die skuld kry vir elke woord wat uit sy mond kom, asof hy nie vanaf geboorte opgelei was in hoe om met die pers en die publiek om te gaan nie.

Word Markle onregverdig behandel deur die media? Om daai vraag te beantwoord, hoef ons niks verder te kyk as hoe ’n ander koninklike onlangs behandel is nie.

Prins Andrew word van pedofilie beskuldig – nie dat dit ooit in soveel woorde gestel word nie. Die Britse en Amerikaanse media berig die prins is ’n “close associate” van Jeffrey Epstein. Sy naam word genoem in regsdokumente waar beweer word dat hy op Epstein se privaat eiland tyd deurgebring het in die geselskap van minstens twee minderjarige meisies, maar waarskynlik soveel as nege. Daar word verder beweer hulle was gedwing  om seks met die prins te hê.

Word die prins gekruisig in die media? Natuurlik nie. Het Buckingham-paleis aangekondig dat hulle ondersoek instel teen hom, soos wat hulle nou met Markle doen? Nie tot op datum nie, terwyl hierdie beweringe tog veel ernstiger is en ’n groter klad op die naam van die koningshuis plaas.

Opmerklik is verder dat Markle feitlik deurgaans op haar nooiensvan  aangespreek word. In teenstelling is daar bitter min berigte waar Kate Middleton nie op haar titel aangespreek word nie.

Natuurlik word daar nooit prontuit gesê dat dit is omdat Markle swart is en daar weerstand teen die aanwesigheid van ’n swart koninklike is nie. Die naaste wat daaraan gekom word, is die bewering dat ’n koninklike kommer teenoor Harry uitgespreek het oor die toe nog ongebore Archie se velkleur. Dieselfde kommer bestaan seker oor die ongebore dogtertjie se velkleur, maar ten minste is hulle hierdie keer ’n oseaan verwyder van die koningshuis.

Gevallestudie 2

Amanda Gorman, ’n jong digter wat haar gedig tydens Joe Biden se inhuldiging voorgedra het, word gedompel in ’n bohaai oor die Nederlandse vertaling van “The hill we climb” en ander gedigte. Izak de Vries gee in sy Voertaal-stuk hieroor ’n volledige uiteensetting van die problematiek. Ingrid Glorie gee, in haar sensitiewe en insiggewende repliek, meer konteks vanuit die Nederlandse perspektief.

Oor die feite kan daar nie veel meer gesê word nie. Interpretasie, aan die ander kant, is so wyd soos die Heer se gena’. Drie basiese argumente word ten gunste van Rijneveld gemaak.

Eerstens word daar beweer dat hulle ook jonk bekendheid verwerf het en daarom kan identifiseer met Gorman se werk. Dit sou seker ’n geldige redenasie wees as Gorman geskryf het oor haar ervaring van vroeë roem, maar sy skryf juis nie daaroor nie. Sy skryf oor haar ervaring as swart en onderdruk.

Tweedens: In ’n argument wat hiermee verband hou, word verwys na Rijneveld se Booker-prys. Hulle is ’n bekroonde vertaler, en dus die regte persoon om Gorman te vertaal. Volgens Glorie het Rijneveld self gesê hulle Engels is nie watwonders nie, wat natuurlik op sigself vrae oor hul geskiktheid laat ontstaan.

In gevallestudie 3 brei ek meer uit oor toekennings, en ek sal dan terugkom na hierdie argument.

Die derde argument is dat Rijneveld identifiseer as niebinêr, en daarom met sensitiwiteit die werk kan vertaal van ’n kunstenaar wat oor haar ondervinding van vervreemding en diskriminasie skryf. Die basis van hierdie argument is dat een tipe buitestanderskap dieselfde is as enige ander tipe buitestanderskap. Dis natuurlik onsin. Om in Amerika, waar swart mense deur staatsmagte vermoor word net omdat hulle swart is en waar daar tans ondersoeke aan die gang is oor die betrokkenheid van polisiebeamptes by verregse organisasies, swart te wees, is bepaald nie dieselfde as om wit en niebinêr te wees in een van die mees verligte Europese nasies nie.

Natuurlik is enige gesprek oor vertaling meer kompleks as die kleur van die skepper van die oorspronklike werk en die kleur van die vertaler. Sover ek weet (en Glorie sien dit in haar stuk blykbaar dieselfde), het die swart aktivis wie se beswaar teen die keuse van Rijneveld as vertaler opspraak verwek het, nooit te kenne gegee dat wit vertalers nooit swart woordsmede mag vertaal nie.

Janice Deul was egter nie die eerste persoon wat kritiek gelewer het teen Rijneveld se aanstelling nie. Die aktivis Zaire Krieger het reeds dae vroeër getwiet en die name van ander, swart vertalers genoem wat volgens haar beter vertalings sou kon doen. Beide Deul en Krieger se kritiek was tweeledig: dat Gorman se werk heel eerste gesproke kuns eerder as geskrewe kuns is, en dat dit verkieslik deur ’n jong, swart persoon vertaal behoort te word. In die beriggewing word die kommentaar rondom die gesproke kuns feitlik verswyg, waarskynlik omdat dit minder sensasioneel is as om rassespanning op te blaas.

Rijneveld het nou in digkuns repliek gelewer op die kritiek. Heelparty meesal wit (en ja, dit is relevant) kommentators het kommentaar gelewer. Maar die een stem wat ek mis in hierdie hele furore, is dié van Gorman. Dis haar werk, maar haar stem word heeltemal stil geskree. Sy is gereduseer tot ’n randfiguur terwyl ander persoonlikhede vir en teen haar agiteer.

Gevallestudie 3

Michaela Coel is die skrywer, akteur en kreatiewe energie agter die briljante I may destroy you, waaroor ek al vantevore geskryf het. Dis die tipe werk wat ernstige oorweging vir toekennings op verskeie vlakke behoort te kry. Tog is Coel en haar skepping heeltemal geïgnoreer tydens die 2021-Golden Globes. Dis nie asof daar so ’n oorvloed ander gehalte-nominasies was dat die weglating verskoon kon word nie.

Terselfdertyd word in ’n ander kategorie ’n reeks soos Emily in Paris, wat ten beste as spookasem vir die siel beskryf kan word, in verskeie kategorieë benoem.

Na my mening is I may destroy you te onapologeties gesentreer rondom die swart ervaring, en rondom die wyse waarop ’n swart vrou agentskap oor haar seksualiteit neem, om bekroon te word. Coel se werk is ’n bedreiging.

Die Golden Globes word bepaal deur 87 wit joernaliste wat die Hollywood Foreign Press Association uitmaak. In 2021 is hierdie organisasie nog steeds uitsluitlik wit en hoofsaaklik manlik. En dit wys.

Sou Coel geïgnoreer word indien daar swart lede tot die HFPA toegelaat was? Waarskynlik nie. Hiermee probeer ek glad nie te kenne gee dat groter diversiteit noodwendig lei tot groter inklusiwiteit nie. Clarence Thomas is sprekende bewys van die teendeel. Maar die moontlikheid dat ander opinies en ander moontlikhede op die tafel kom, sou groter wees.

Dit plaas vraagtekens oor elke ander toekenning wat gemaak is: Is dit regtig op meriete gemaak, of is daar ander werke weggelaat wat net nie binne die wit keurders se gemaksone val nie, ongeag hoe briljant of verdienstelik dit mag wees? Dis ’n vraag wat nou baie relevant is met die Golden Globes, maar dit is ook die geval met elke ander toekenning. Hier beperk ek my tot die kreatiewe veld, maar natuurlik is dit ook in wetenskap, die regte en ander velde relevant. Word die heel bestes binne elke veld altyd beloon, of is dit die beste binne die bekende en gemaklike, binne die gemaksone van die beoordelaars wat beloon word?

TimesUp, dieselfde organisasie wat regsaksie in verskeie industrieë gebring het om groter insluiting en beskerming vir vroue in die Amerikaanse samelewing te beding, het nou die HFPA aangevat. Nie oor Coel spesifiek nie, maar oor die gebrek aan diversiteit in hul geledere. En die wyse waarop Coel geïgnoreer is, is deel van daardie gesprek.

Markle, Gorman en Coel is drie baie uiteenlopende vroue. Tog is hulle ook dieselfde. Al drie is swart, kreatief, uitgesproke en in verskillende opsigte besonders.

Hul grootste ooreenkoms is egter die wyse waarop al drie van hulle se stemme stilgemaak word. Al drie word te midde van intense blootstelling onsigbaar gemaak. Daar word namens al drie gepraat, maar feitlik niks met hulle nie.

Ons het so pas Internasionale Vrouedag gevier. Dalk sou dit meer betekenisvol wees indien ons ophou om vroue, maar veral swart vroue, hul stemme te ontneem.

  • 5

Kommentaar

  • Avatar
    Hans Richardt

    Markle is van geen belang werklik nie, net soos die Britse koningshuis en adellikes. Ek dink die prins word in die skande gesteek met politieke korrektheid van die VSA-media, en veral Oprah Winfrey.

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Natuurlik moet Prins Andrew dringend ondersoek word en indien dit waar is waarvan hy beskuldig word, hoort hy agter tralies. Meeste lesers behoort en sal Bettina hierin gelyk gee.

    Oor die onderhoud van Meghan Markle met Oprah sal daar egter verskillende menings wees. Die mens as subjektiewe wese beoordeel gebeure vanuit verskillende perspektiewe en invalshoeke. Dis 'n gegewe, ongeag - ook in hierdie geval.

    Bettina verteenwoordig in haar standpunt duidelik die groep wat Markle ondersteun en merendeels alles glo wat sy kwytraak. Indien ek verkeerd is, vra ek voortydig verskoning. Dan is daar die groep wat die koningshuis ten alle koste sal verdedig. Hulle is die monargiste in murg en been. Ook hulle is subjektief in hul beskouing van sake. Soos die ander groep, gaan dit in hierdie geval weer oor hoe húlle die wêreld sien en beoordeel. Enige ander standpunt word nie deur hulle verreken nie.

    Ekself het nie 'n belang by een van die twee groepe nie. Die koningshuis het 'n te lang geskiedenis van imperialistiese beleidsrigtings en onderdrukking om my enigsins opgewonde te maak. Dit skeel my min of die monargie voortbestaan of nie. Daar is natuurlik argumente beide kante toe. Dit geld ook vir Meghan Markle en Prins Harry. Hulle lewe, en wat hulle interesseer, is hulle saak. Al vir wie dit wel belangrik of interessant is, is vir prins(es)-jagters en sprokie-entoesiaste. Redes wat ek met die beste wil ter wêreld nie verstaan nie.

    Dit is daarom vanselfsprekend dat mense kant kies. Bettina het haar mening en motivering daaroor hierbo gegee en vanuit haar oogpunt, en dit baie goed gedoen. Die anderkant weer (sal) sê dat dit van die begin af duidelik was dat hierdie Amerikaanse TV-sepiester niks van die koningshuis se geskiedenis en konvensies verstaan en hoe dit deur Britse burgers beoordeel word nie. Sy was ook nooit van voorneme om opofferings te maak nie. In die proses, sê hulle, het sy Harry van sy familie vervreem en vandag is Harry niks anders as haar skoothondjie nie. Sy is volgens die groep 'n manjifieke manipuleerder. Vaardighede waarin sy goed as aktrise onderlê is.

    Vir haar gaan alles oor Meghan Markle. Haar geskille met haar pa, haar suster en die media is alles bewys daarvan, word gesê. Boonop word haar geloofwaardigheid ook betwyfel. Sy het deurgaans voorgegee dat sy uit die kollig wil kom. Tog skep sy geleenthede en hou perskonferensies vir publisiteitsdoeleindes. Meer nog, sy gebruik haar vriendinne om sulke geleenthede aan die media te lek. Nie juis iets wat geloofwaardigheid bevorder nie. In kort, Meghan wil die 'bruid op elke troue en die afgestorwene op elke begrafnis' wees.

    Dit bring mens by die Meghan-Oprah-onderhoud. Vir baie Britte (die meeste volgens 'n meningspeiling) is die eintlike vraag of mens iets anders van Meghan kon verwag, gesien teen die agtergrond van haar kort 'geskiedenis' met die 'Royals.' Natuurlik sou sy die martelaar en die rassekaart speel. Dis die soort van ding wat verkoop en mense met haar sal laat simpatiseer. Tog is die beskuldiging dat 'n lid van die koningshuis oor die velkleur van Archie sou bespiegel, steeds ongetoets.

    Vir diegene wat Bettina en Meghan Markle ondersteun, het Meghan nooit werklik 'n kans gestaan nie. Sy is 'n vrou in eie reg met menings van haar eie en sal haar nie laat inhibeer of intimideer nie. Iets wat teen die grein van die koningshuis gaan. Doen sy dit, sal die 'lang messe' uitgehaal word. Iets wat wel reeds gebeur het, word gesê. Sy is nooit as Amerikaner en 'anderskleurige' 'n kans gegee om werklik deel te word van die groter familie nie. Dit het haar erg geaffekteer. Anders as in Brittanje, lê die simpatie in Amerika by Meghan en Harry. Veral die beskuldiging oor Archie se velkleur voor sy geboorte, asook selfmoordgedagtes van Meghan, maak 'n simpatiserende indruk op die Amerikaners.

    Behalwe vir oordrewe publisiteit wat koerante verkoop, wonder mens wie vind nou eintlik baat by sulke nuus. (Behalwe Oprah, natuurlik, wat R107 miljoen vir die 2 ure se werk gekry het.) Die hele aangeleentheid het mense in kampe ingejaag en die media floreer. Nie dat dit hulle skuld is nie, maar dis nou ook nie juis 'n geval waar hulle dit te gou sal wil stop nie.

    Diskriminasie gaan nie net oor ras nie. Daar's 'n ongelooflike beheptheid daarmee. Coca-Cola se advertensie dat wit mense 'minder wit' moet wees, voel of mens jou hande in die lug wil gooi. Wat van ander vorme van diskriminasie? Mense wat hulle meerderwaardig ag omdat hulle meer geld as ander het of snobs is wat hulle neuse optrek vir ander wat nie in mooi huise soos hulle bly nie. Of diegene wat dink dat hulle kwalifikasie meer werd is as die van ander, en hulle gevolglik meer belangrik maak.

    Daar is so baie voorbeelde. Hierdie dinge is egter werklikhede wat nie sommer sal verdwyn nie. Mense assosieer met wie hulle wil en disassosieer met ander. Vryheid van assosiasie is selfs 'n aangeleentheid wat in Grondwette beskerm word. Dis mense se reg om dit te doen. Opsigself is dit nie 'n probleem nie. Die probleem is die gesindheid waarin en waarmee dit gedoen word. Net so is dit 'n probleem wanneer mense teen hulle sin gedwing word om iets te doen waaraan hulle nie 'n behoefte het nie. Mense is doodeenvoudig nie dieselfde nie. Almal het voor- en afkeure, of mense nou daarvan hou of nie.

    Vir alle praktiese doeleindes het die Oprah-Meghan Markle-onderhoud niks nuuts onthul nie. Dit het bloot idees en stereotipes bevestig. Die media is egter besig om hulle eie agendas te volg. Dit begin al hoe meer lyk na 'n 'Kardashians show', net bietjie meer gesofistikeerd en op minder steroids.

    Hoe en waar pas ons as individue in en hoe behoort mens na aangeleenthede soos dié te kyk? Daar's verseker nie kitsresepte nie. Die mees waarskynlike, haalbare en maklikste optrede en minste geforseerd, is om die beginsel van basiese ordentlikheid na te volg en redelik te wees. Om andersheid te erken en te respekteer bevorder ook groter verdraagsaamheid. Dit geld vir almal om ons, ook diegene met wie jy nie wil assosieer nie, op welke gronde ookal, of mense nou daarmee saamstem of nie.

  • Avatar
    Elsabe Pepler

    Gustaf Claasens, ek is regtig uiters beïndruk met jou kritiese ontleding van die sensasionele "onderhoud" (wat terloops volgens my in die genre van 'n "talk show" en nie 'n feitelike, joernalistieke onderhoud val nie). Oprah is 'n gekommersialiseerde kapitalis, na my mening, en goed vir haar.

    Maar ek dink aan een van my helde: Marshall McLuhan. "The medium is the message. And the medium is the massage." Ek beskou die media-golwe as veelseggend en interessant as die storie. Soos jy, voel ek dit is die ware storie. Meghan en Oprah is van verbygaande waarde. Dis nie rassisties nie; dis bloot hoe die nuusagenda werk.

    Voorspoed; voed die volk op met nog kritiese denke!

    Dankie vir hierdie absoluut-deurdagte, objektiewe en gebalanseerde kritiese denke. Almal van ons het 'n storie, uiteindelik. Van die prinsesse af tot die slawe. Sommige meer gepriviligeerd as ander om die regte kanale te koop. Maar uiteindelik bepaal ons belange ons argumente.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Ek hoop nie hierdie slagoffer-sindroom herleef weer in SA media nie, sodat ons moet "voetewas" omdat ons te wit gebore was...
    Dieselfde affêre het met Obama gebeur in SA media.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top