Good night, South Africa deur Jennifer Lindridge: ’n kinderboekresensie

  • 0

Titel: Good night, South Africa
Skrywer: Jennifer Lindridge
Uitgewer: Penguin Books
ISBN: 9780637009102

Die plaaslike kinderboekmark word dikwels oorskadu deur populêre ingevoerde titels, veral wanneer dit by prenteboeke en kartonboekies kom. Dink hier aan titels soos die Bluey-reekse, Peppa Pig, Winnie the Pooh of die gewilde Lottie-reeks wat ook in Afrikaans beskikbaar is en deur Zelda Bezuidenhout vertaal is. Dink ook aan die hoeveelheid boeke waarmee ons in die vorige eeu grootgeword het: Brakanjan, Dawie die Kabouter, Niklaas kind van Vlaandere, Nils Holgerson, Die Gestewelde Kat, Garfield – baie hiervan was TV-reekse, maar het ook boekweergawes gehad. Tog is dit geleen uit Europa en Amerika.

Good night, South Africa is beslis verfrissend en ’n pragtige boek vir Suid-Afrikaanse kinders, maar ook vir ouers, oumas en oupas en tannies en almal wat lief is vir ons land, ten spyte van die tekortkominge waaroor ons so maklik kla.

Jennifer Lindridge, skrywer, illustreerder en grafiese ontwerper, het reeds twee ander boeke gepubliseer: The Fuzz-Fuzz en Eleven dogs live with me. Sy het in 2021 hierdie boek met ’n spesifieke doel geskep toe sy hoor dat haar nephew gaan emigreer en Suid-Afrika verlaat. Lindridge kon identifiseer met hierdie seuntjie, omdat sy self as 10-jarige dogtertjie na Suid-Afrika verhuis het uit Atlanta in die VSA. Sy beskryf die ervaring om deel te word van Suid-Afrika as iets wat sy koester en graag met haar nephew, asook ander wou deel. Lindridge het nie net die teks behartig nie, maar ook die illustrasies. Sy bring haar agtergrond in grafiese ontwerp na vore met ’n ekologiese en natuurgefokusde benadering wat dadelik op die winkelrakke uitstaan. Die gelaagde drukwerk maak beslis ’n blywende indruk. Sy het ’n knus slaaptydstorie geskep wat soos ’n liefdesbrief aan Suid-Afrika lees, in al sy veelvuldigheid. Die boek word vergesel van ’n reeks produkte: speel- en geheuekaarte, ’n plakkerstel en poskaarte wat almal in dieselfde styl geïllustreer is.

Dit is interessant dat dit iemand wat nie hier gebore is nie, geneem het om die inisiatief te neem om ’n boek te skep wat op ’n speelse manier al die mooi van ons land saamneem in ’n prenteboek. Al is dit oorspronklik vir ’n jong seuntjie geskryf om te onthou waar hy vandaan kom. Die boek sinspeel dus op ’n dieper vlak met ’n behoefte om te behoort en om nie daardie geborgenheid te verloor nie. Dit is gepas vir beide die volwasse voorleser, sowel as die kinder-medeleser of aanskouer van mooi prente, al is dit om te luister na die mooi storie.

Alhoewel hierdie boek slegs in Engels beskikbaar is, behoort dit nie ’n struikelblok vir jong lesers of oortjies te wees nie. Die prente dra die teks. Selfs al kan jy nie lees nie, is die illustrasies genoeg om ’n heerlike gesprek aan te wakker oor Tafelberg, Agulhas se vuurtoring, die pers jakarandas en die Krugerwildtuin. Die boek is toeganklik en visueel aanloklik.

Visuele taal

Visuele geletterdheid is ’n vaardigheid wat kinders reeds op ’n baie jong ouderdom aanleer deur betekenis aan kleure, vorms en natuurlik prente te gee. Prenteboeke soos Good night, South Africa is dus ideaal hiervoor en nog te meer as ’n selflees- of saamleesboek.

Lindridge maak gebruik van ’n sagte, warm kleurpallet wat die oorgang van dag na nag oor verskillende Suid-Afrikaanse landskappe uitbeeld. Van die goudgeel van die bosveld tot die koel blou van die Kaapse kuslyn, word ’n visuele taal en ’n atmosfeer geskep.

Die teks self gebruik stylfigure en beeldspraak tot sy volste om die beskrywings so helder en beskrywend moontlik te maak. Dit bevorder weer die taalontwikkeling van die kind, sowel as die aanloklikheid wat die ritmiese aard daarvan bied. Kinders hou van taal wat kan sing en rym, want dit maak die ervaring van lees lekker. Soos die storie vorder en die son oor die land heen sak, vertraag die tempo van die woorde – ’n tegniek wat daarin slaag om die voorleesritueel voor slaaptyd te bestuur. Vir jong kinders bied die herkenbare elemente van hul eie land ’n gevoel van geborgenheid, trots en dat hul tuis behoort.

Dit sal nou wel onverantwoordelik wees om nie te noem dat sommige van die illustrasies in hul helderheid moontlik die lees van die teks kan benadeel nie. Dit is te verstane weens die medium van illustrasie, dat die elemente groot, helder en kontrasterend moet wees en beslis ’n beduidende indruk op die leser sal maak. Dit is net jammer dat die teks op sommige bladsye moeiliker is om te lees as gevolg van skrifgrootte, plasing op ’n besige agtergrond of dat die agtergrond self te besig is, met tekstuur op elke oppervlak. Dit het ook die potensiaal om ’n kind visueel te oorstimuleer, soos die Pretoria- of Gqeberha-bladsye. Dit is steeds besondere mooi illustrasies en wanneer dit in ag geneem word dat sy gelli-plaatdrukwerk gebruik het met plante en elemente uit haar eie tuin, is dit iets besonders.

Wat maak hierdie boek anders?

Wat hierdie publikasie onderskei van die deursnee prenteboek, is die manier waarop dit uitbrei na ’n tasbare speelervaring. Die meegaande geheuekaarte en plakkers stel kinders in staat om die karakters en diere uit die boek, ná die leeservaring, verder te verken. Daar is ook verdere inligting oor van die diere wat in die verhaal genoem word, wat dit ook ’n leerervaring kan maak. Die poskaarte bied ook sentimentele waarde vir gesinne wat ’n stukkie Suid-Afrika aan familie of vriende oorsee wil stuur. (Stuur mense nog poskaarte?)

Dit neem ons na ’n ander punt: Die uitbreiding na ’n volledige produkreeks plaas ’n publikasie soos Good night, South Africa stewig in ’n kategorie van ’n luukse geskenkstel. Vir die gemiddelde Suid-Afrikaanse huishouding op ’n streng begroting mag die totale pakket relatief duur wees. Alhoewel die speelkaarte waarskynlik ’n langer rakleeftyd sal hê, omdat ouer lesers lank na hulle die boek gelees het, nog die speletjie kan speel.

Good night, South Africa is ’n stylvolle, unieke en pragtige toevoeging tot die plaaslike kinderliteratuur. Lindridge slaag daarin om die ryke diversiteit van die land se natuur op ’n toeganklike manier vir kleuters te verpak. As ’n geskenkboek of as deel van ’n gesin se bedtydritueel, verdien dit beslis ’n plek op die boekrak. Elke biblioteek sal beslis ook hierby kan baat.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top